Maroela se geskenk aan jou is ʼn Kerstyd propvol goeie nuus

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Liewe Maroela-leser

Die jaar (en baie van ons en julle) is besig om sy laaste asem uit te blaas. Ietwat onwillig, want ek het lank laas so laat in die jaar nog soveel mense so hard sien werk. Hier in Maroela se kantore staan die rook behoorlik bokant die joernaliste se koppe soos hulle dink en skryf, en die res van die span hou die koffiepot op sy droesem soos hulle laaste projekte afhandel, administrasie op datum bring, vir oulaas advertensie-ooreenkomste vasmaak en reeds voorbereiding doen vir inisiatiewe wat in Januarie volgende jaar moet afskop.

Die afgelope jaar het dié van ons wat ons in die media bevind, behoorlik op ons tone gehou. Soms probeer ek aan die einde van ʼn jaar dink wat die opskrif sou wees as ons dié jaar in ʼn geskiedenisboek moes inskryf, oor tien jaar van nou af. ʼn Opskrif vir 2018? Ek weet nie. Dit was ʼn jaar van ontnugterings in mense op wie ons vertrou het; ʼn jaar waarin ons van talle bekendes afskeid moes neem; ʼn jaar waarin ons harte keer op keer gebreek het oor plaasaanvalle en -moorde (en die miskenning van die erns daarvan), en oor kinders wat siek was of gesterf het; ʼn jaar waarin die ekonomie gedruk het soos nog nooit tevore nie. Maroela Media deel ʼn voorportaal met Helpende Hand, en byna op ʼn daaglikse basis stap ek daar verby iemand wat letterlik hoed in die hand daar staan en hulp vra omdat hulle opsies opgeraak het. Soms parkeer dié mense buite die venster van my kantoor. Dan sien ek hoe die tannie haar haartjies regdruk in die kar se spieëltjie, en hoe die oom gespanne oor sy bolip vryf, voor hulle uit die op-gery-de motortjie klim en met hul trots in hul sak by Helpende Hand se voordeur instap.

Ek weet dis nie net in die Afrikaanse gemeenskap waar dinge só gaan nie. Ek sien dit in die desperaatheid in ʼn motorwasser se oë wanneer sy aanbied om my motor te was terwyl ek in die winkel is; in die gereeldheid waarmee ons tuinier vra vir ʼn ekstra werkie; in die moedeloosheid van ʼn vrou wat in ʼn 24 uur-geriefswinkel by ʼn petrolstasie vir my sê: “I’m not going home for Christmas. I have to work so I can look after my three year old son who lives with my mom. I miss him so much. Maybe, next year, things will start working out for me…” Dan wonder ek wat het met ons samelewing gebeur dat ons so gemaklik geraak het met die idee om Oukersaand in die middel van die nag te kan gaan brood of sigarette koop; soveel só dat ons nie twee keer dink oor die persoon wat agter daardie toonbank moet staan in plaas daarvan om by haar geliefdes te wees nie.

Maar nou dat ek myself amper in ʼn weemoed ingeskryf het, wil ek terugkom na die eintlike rede vir hierdie redakteursbrief.

Ná ʼn jaar vol moeilike nuus wat ons en baie van ons lesers met tye negatief gestem het, het ons as redaksie gesels oor wat ons kan doen om enersyds vir ons lesers ʼn positiewe Kerstyd te gee, en andersyds vir ons joernaliste ʼn blaaskans te gee van die negatiewe inligting waarmee hulle elke dag werk. Daarom het ons besluit: Ons geskenk aan jou vanjaar is ʼn goeienuus-feestyd. Van Vrydag, 21 Desember tot Sondag, 6 Januarie gaan ons dít wat ons kies om te publiseer, só kies dat dit jou opbeur, inspireer, moed gee en nuwe hoop laat kry. Ons inhoud gaan jou laat lag, jou kreatiwiteit stimuleer, jou met heimwee laat terugkyk na hoogtepunte van die afgelope jaar en jou laat droom oor wat moontlik is in hierdie wonderlike, hartseer land van ons. Ons gaan dus terughou met negatiewe nuus wat nie noodsaaklik is vir jou om te weet nie. Hiermee versaak ons nie ons verantwoordelikheid om jou ingelig te hou met dit wat in die land gebeur nie, maar ons gaan twee (en meer) keer dink voor ons stories oor misdaad, ongelukke en ander tragedies publiseer.

Ek vertrou dat jy hiermee ook sal verstaan dat ons nodig het om ons span joernaliste, wat vuisvoos is ná ʼn jaar se nuus, ʼn blaaskans te gee. Wees gerus dat daar wel steeds elke dag ʼn kernspan aan diens sal wees wat sal sorg dat jy niks mis wat noodsaaklik is vir jou om te weet nie.

As jy die Maroela Media-app gebruik, neem asseblief kennis dat daar minder beweging op die nuus-afdeling van die app gaan wees, terwyl daar meer stories op die ander afdelings gepubliseer sal word. Ons werk reeds weke lank baie hard aan doen-dit-self-artikels, inspirerende lewensverhale, stories vol humor en ander lekker nuus wat ons in die tyd tussen 21 Desember en 7 Januarie sal publiseer.

Nog ʼn groot besluit wat ons vir die feestyd geneem het, is om die kommentaar op die webwerf tydelik af te skakel. Van Vrydag, 21 Desember om 12:00 tot Maandagoggend, 7 Januarie om 08:00 sal dit nie vir jou moontlik wees om kommentaar te lewer op enige van die stories wat op Maroela gepubliseer word nie. Die rede is eenvoudig dat dit ʼn voltydse werk is vir ʼn Maroela-spanlid om alle kommentaar te modereer en navrae wat ons deur die kommentaar ontvang, te bestuur. Dié spanlid het ʼn blaaskans net so nodig soos die res van ons. Wees egter gerus dat jy steeds op Maroela se Facebook-blad, waar al ons stories in elk geval gedeel word, sal kan saamgesels, en ook dat jy van 7 Januarie af weer jou sê op Maroela se webblad sal kan kom sê.

Ons sal dit waardeer as jy hierdie redakteursbrief sal deel met jou vriende en op sosiale media, sodat getroue Maroela-lesers nie wonder waarom die nuus minder is as gewoonlik nie.

Indien jy gedurende hierdie tyd ʼn nuuswenk het, kan jy ʼn e-pos stuur aan [email protected]. Neem asseblief kennis dat dit dalk ʼn bietjie langer as gewoonlik gaan neem voor jou navraag of nuuswenk beantwoord word.

Laat ek ook sommer dankie sê vir ʼn jaar waarin ons geëerd was om jou, ons Maroela-leser tot diens te wees. Dankie dat ons kon deel in jou gelukkige en hartseer oomblikke, en dat jy ons vertrou het met jou stories en menings. Dankie dat jy deel is van die Maroela-gemeenskap – ʼn gemeenskap wat, sonder dat ons naïef is oor ons land en sy uitdagings, tog glo dat ons ʼn verskil kan en móét maak, hier waar ons geplant is.

Alle eer aan God wat Maroela Media vanjaar geseën het bo ons grootste verwagtinge.

Ek bid dat jy en jou geliefdes tydens hierdie Kerstyd nie net goeie nuus nie, maar ook die Goeie Nuus van Jesus Christus as Redder van die wêreld as ʼn geskenk van genade sal ontvang.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vaalseun ·

Jy en jou span het baie goed gevaar vanjaar, Susan. Baie dankie vir die hoë kwaliteit van julle nuusdekking en redigering. Dit verg harde werk, toewyding, insig en ‘n string ander verborge maar noodsaaklike eienskappe vir sukses in die media-veld.

Seënwense vir die Feesgety en ‘n baie suksesvolle 2019 vir jou, jou span en julle families.

Paul ·

Wonderlik, baie dankie, vir julle ook. Die nuwe jaar wag, maar na 2 Januarie sien mens weer die voorblaaie van die koerante raak, die realiteit skop in dan hou ons Kersfees en die vakansie se lekker soos ‘n kleinoot aan die hart.

Elke oggend daarna raak mens met ‘n lied in die hart wakker, die oë soek na die positiewe oor die land, sukkel om dit te vind, later trek jy aan, vol energie, maak reg vir die dag, dan slaan dit jou soos ‘n voorhamer, jy is werkloos.

Vaalseun ·

Paul, jy mag werkloos wees soos die Voortrekkers toe hulle in die Transgariep en Transvaal kom vestig het. Maar ek en jy het nog altyd net soos hulle en ons eie voorgeslagte ‘n roeping, take om te vervul, nood om te verlig, ‘n waarde en die plig om ‘n toekoms vir ons nageslag te skep.

Johan Oosthuizen ·

Susan, duisend dankies uit my hart uit. In ons afdraende wêreld met wiele wat afval is Maroela Media vashouplek, vastraplek en wegspringplek vir die pad vorentoe. Ons oë is gerig op ‘n wêreld, land, stad, dorp en huis waar elkeen van ons ‘n verskil kan maak. Ons geloofsoog sal nie verdof nie want ons weet aan Wie ons ons toevertrou het al wissel dan ook dag na dag. Ons ken die Rots op Wie ons bou.

Piet Snot ·

Dís nou ‘n mooi berig. Uitstekende plan Susan; ons het almal rus nodig.
En goeie nuus.

WILLEM ·

Baie dankie Susan en vir jou hele span, vir al die harde werk die afgelope jaar. Mag julle hele span ook ‘n rustige en geseende Kerstyd beleef. Baie dankie ook dat julle vir ons lesers ‘n seisoen van goeie nuus gaan bring – daar gebeur so baie goeie dinge in ons land, maar dit haal nie die nuus nie, Baie dankie. Seen wense!!

Hello ·

Willoe, dit is nie goeie nuus nie, dit is fopnuus dat malema gaan emigreer, hy het dan juis vanaf Zimbabwe na SA geimmigreer. Die goeie nuus is dat jy gaan emigreer en een van die dae dan het jy dubbele burgerskap nes malema!

Cornelia ·

Dankie vir u altyd bedagsame en sagte inspraak wat aan die lushof van ‘n goed beplande Lentetuin herinner. U inspireer met wysheid, lankmoedigheid, Geloof, bemoediging, stiltetye, humor en opregte meelewing. Bid u en gesin en u span almal ‘n Geseënde Christusfees toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.