Massamigrasie raak arm lande ook

Lede van die Verenigde Nasies se Vredesmag in Siprus (UNFICYP) doen patrollie langs die buffersone, wat die internasionaal erkende Republiek van Siprus en die wegbreek Turkse Republiek van Noord-Siprus (TRNC) skei. (Foto: Jewel SAMAD / AFP)

As ons van massamigrasie, die verandering van demografie en die omgewing praat, dink ons gewoonlik aan voorspoedige Wes- en Noord-Europese lande soos Duitsland, Frankryk, Nederland of Brittanje.

Hierdie tendens van massamigrasie raak egter ook arm lande aan die uithoeke van die Europese Unie (EU), soos Siprus. Alhoewel die groot en voorspoedige lande die voorkeurbestemmings is, bly ook talle migrante vashaak in die lande langs die pad – wat in vergelyking met hulle lande van herkoms steeds soos die paradys voel. Vir lande met ʼn klein bevolking, soos Siprus (of Griekeland of Masedonië) is die demografiese verandering nog veel sterker tasbaar. Reeds enkele duisende immigrante maak hier ʼn sigbare en tasbare verskil.

Siprus het slegs 1,2 miljoen inwoners. Na beraming is daar reeds sowat 50 000 onwettige immigrante woonagtig – die meeste afkomstig van Sirië en ander Arabiese state. In die hoofstad Nikosia het reeds bykans die helfte van die laerskoolkinders ʼn migrante-herkoms.

Siprus is ʼn eiland geografies op die grens tussen Europa en die Midde-Ooste geleë. Sirië is net oor die see, slegs sowat 170 km van Siprus af, wat beteken heelwat migrante kom per boot. Boonop is die noordelike derde van Siprus al sedert 1974 deur Turkye beset en word deur ʼn Turkse marionetteregering regeer. Die suidelike twee-derdes is die internasionaal erkende Republiek van Siprus wat veral deur Griekssprekende en ortodokse Sipriote bevolk word.

Van die noordelike, Turkse deel, kom al hoe meer immigrante die Republiek van Siprus binne. Die grens tussen die twee dele was amper soos dié tussen Oos- en Wes-Duitsland – onmoontlik om oor te steek, omdat die twee dele in vyandskap met mekaar verkeer het en hier ʼn gevriesde konflik al vir bykans 50 jaar heers. Sedert daar egter politieke ontspanning tussen die twee dele begin ontstaan het, is handel en toerisme heen en weer moontlik en dus is ook die grens nou makliker om oor te steek.

Nes Rusland en Wit-Rusland massamigrasie as wapen gebruik om hulle bure te destabiliseer, doen Turkye dieselfde via sy satellietstaat Noord-Siprus. Sou Siprus in die toekoms ʼn Moslem-meerderheid hê, is Turkye se ou droom om die eiland in te palm verwesenlik. Dinge word vererger deur die lae geboortesyfer van Griekse Sipriote, wat in lyn met Wes-Europa se gemiddeld van 1,3 kinders per vrou is.

Die Moslem-immigrasie lei, soos ook in ander Europese lande, tot verhoogde misdaad en die ontstaan van mafia-agtige netwerke deur veral Siriërs. Aangesien Siprus ʼn struktureel sagte staat met geen sterk instellings is nie, is dit besonder maklik vir die Siriese Mafia om veld te wen. Ook die Europese Unie (EU) se pro-migrante-beleid verhinder Siprus om doeltreffend op te tree. Hardhandige terugwysings van onwettige immigrante op die grens (“push-backs”) word verbied. Siprus is sterk afhanklik van die EU se fondse en kan dus nie skoor soek met dié magtige organisasie nie.

Siprus se kultuur en geskiedenis, wat deel is van die groter Griekse beskawing van die oostelike Middellandse See, strek 3 000 jaar terug. Oor die eeue heen kon hulle nog alle aanslae van vyande uit die Ooste, soos die Persiërs en later die Turke, ten spyte van langdurige besettings, weerstaan.

As Moslem-migrante (met geen behoefte om te assimileer nie) egter in die toekoms die meerderheid van die eiland uitmaak, is daardie lang geskiedenis iets van die verlede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marthinus W ·

Sebastiaan, verduidelik asb vir my hierdie sin, asof ek n 10-jarige is: “Nes Rusland en Wit-Rusland massamigrasie as wapen gebruik om hulle bure te destabiliseer,”

Duitsland voorspoedig? Hulle is in n resessie, industriee migreer na Amerika en China, en Rusland se ekonomie is nou groter as hulle s’n.

Pieter ·

Hello Marthinus, dis weer ek. Miskien kan ek hier help. Ek weet nie waar jy jou syfers kry nie maar in absolute terme is die ekonomie van Duitsland 4 keer groter as die van Rusland, met die Duitse ekonomiese veel meer divers as die Russiese een wat sterk afhanklik van olie is.

Dis ook redelik duidelik op die punt dat Belarus migrante invlieg van die midde-Ooste en hulle dan oor die grens druk in die EU in.

Pieter ·

Hello Marthinus daardie 0.3% resessie is vreeslik hoe gaan hulle ooit daaruit kom?

Pieter ·

Hello Marthinus, bietjie meer gelees en dis eintlik verstommend hoe ‘n land met so baie olie en dubbel die bevolking van Duitsland so arm is.

Treurwilger ·

‘n BBC -artikel deur Jessica Parker en Damien McGuinness getiteld, “German economy is in troubled waters” staaf Marthinus se stelling oor die Duitse ekonomie.

Treurwilger ·

Die EU se aggressiewe pro-migrante-beleid laat ‘n mens ernstig wonder oor hóé hulle Europa sien oor nog ‘n paar dekades?
Siprus en ander lande soos Hongarye word letterlik omtrent ‘afgepers’ om teen hulle sin in te val by reëls uit Brussels.
Dis verstommend om dop te hou.

Pieter ·

@Treurwilger, so kom ons kyk hy het ‘n leun vertel oor hoe groot die Russiese ekonomie is met die hoop dat niemand dit gaan sien nie, gepraat oor ‘n resessie sonder om te noem dat dit skaars bestaan, nog ‘n leun vertel wat se die land met die derde grootse ekonomie op aarde is nie voorspoedig nie en nou se jy vir my ek is verkeerd want die Duitse ekonomie het probleme?

Natuurlik het hulle ekonomie probleme jy kry nie ‘n Nobel prys om dit te bepaal nie, noem my een plek op die planeet sonder probleme. Daar is ‘n duisend vraagstukke en baie slim mense wat daaraan werk om dit op te los.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.