Mboweni: Beste wat die ANC kon bied, maar is dit genoeg?

piet-le-roux-2018-01

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga. Foto: Verskaf.

Vir die sesde keer in net meer as vier jaar het Suid-Afrika ʼn nuwe minister van finansies. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa die bedanking van Nhlanhla Nene aanvaar het, te midde van onthullings van Nene se kontak met die Gupta-familie en transaksies tussen sy seun en die Openbare Beleggingskorporasie, terwyl Nene voorsitter van laasgenoemde se direksie was.

Met al sy foute was Nene egter, wat finansies betref, ʼn bogemiddelde minister. Toegegee, sy eweknieë was nie van die hoogste gehalte nie, maar gedurende sy termyn was die staatskas se deur ʼn klein bietjie digter, selfs meer so as onder ʼn voorganger soos Pravin Gordhan.

Nou val die mantel om die skouers van Tito Mboweni, en die vraag is wat dit vir ons inhou.

Op ʼn positiewe noot wys heelparty ontleders op Mboweni se ervaring in die staatsdiens, veral sy termyn as goewerneur van die Reserwebank. Dit beteken dat hy ʼn redelike begrip van finansiële markte en staatsfinansies behoort te hê. Ook het hy in die verlede uitsprake gemaak soos dat hy van mening is dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens gesluit behoort te word.

Dit is waarskynlik om redes soos hierdie, sowel as die verligting dat daar ten minste nie weer ʼn onbevoegde buiteperd soos Des van Rooyen aangestel is nie, dat die rand kort ná die aanstelling met tot 50c teen die Amerikaanse dollar versterk het.

Aan die ander kant is daar ook ernstige vraagtekens oor Mboweni se geskiktheid. Hy is ʼn openlike ondersteuner van die Nasionale Demokratiese Revolusie. Net in die afgelope jaar het hy herhaaldelik, in toesprake en op sosiale media, radikale standpunte oor transformasie, die ekonomie en rasseverhoudinge ingeneem.

Byvoorbeeld, in April vanjaar het Mboweni gevra dat “ons leiers” onder meer vir die volgende moet sorg: 1) dat die staat 40% van alle mynmaatskappye besit; 2) dat ʼn staatsbank tot stand gebring word; en 3) dat ʼn staatsfonds (oftewel Sovereign Wealth Fund) geskep word. Al drie hierdie idees getuig van ʼn ingesteldheid van staatsinmenging by die mark.

Op die gebied van rasseverhoudinge is hy ewe ongenuanseerd. Sy uitlatings sluit in dat grond in Afrika aan Afrikane behoort, en uit die konteks was dit duidelik dat hy dit nie inklusief bedoel nie. Hy is ten gunste van grootskaalse naamsveranderinge. En ná ʼn onderonsie met ʼn wit persoon, al was daar nie op die oog af rede om te glo dat die onderonsie iets met ras te doen gehad het nie, het Mboweni op Twitter die bedekte dreigement gemaak: “We (bedoelende swart persone) might need to re-evaluate our non-racial stance.”

Waar laat dit ons? Waarskynlik met die gevolgtrekking dat Tito Mboweni die beste is wat die ANC die land kan bied. Dit is ʼn twyfelagtige eer, maar een waarop Mboweni hopelik kan verbeter. As hy daarin slaag om staatsbesteding drasties in te kort en staatskuld drasties te verminder, en as hy afsien van sy Radikale Ekonomiese Transformasie-standpunte, behoort hy ons lof te ontvang.

Maar tot dan? Wel, uitspraak voorbehou.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jerry ·

Ons hoop maar dat dit beter sal gaan met SA na Tito se aanstelling as die minister van finansies. Die markte reageer darem positief. Dit raak egter vir my meer en meer duidellik dat wit en swart Suid Afrikaners die onreg van die verlede herhaal en dat dit n aanduiding is dat iets besig is om lelik skeef te loop vir alle Suid Afrikaners. Wat Suid Afrikaners en meer spesifiek die leiers nie besef nie is dat die onregte van die verlede wat vervang is met die onregte van die hede, SA reeds so in n wentelbaan geplaas het dat Suid Afrikaners nie veel langer omdraaikanse gaan kry nie. Alles dui daarop dat die hoogwater gety van gewone burgers se wanhoop en wantroue in Suid Afrika se politieke leiers onkeerbaar die land inbeweeg. Dit is my beskeie mening dat slegs n wonderwerk SA van hier af vorentoe sal kan red en dat dit beslis nie gaan afhang van Tito of Piet nie!

Willem ·

Die welvaart van die ekomonie hang af of ons in die land met mekaar kan versoen.

Celtis Africana ·

Damnatio memoriae…
Gesamentlik en individueel…

Staak saam ·

Die reaksie van markte vertel ons baie oor n land, hierdie 50c versterking in die Rand is n desperate verfkwas.

In die Weste reageef die markte dadelik negatief net op gerugte van slegte nuus maar hier in die reenboog wereld waar ons ekonomie sukkel om kop bo water te hou in n see van slegte nuus reageer ons markte dadelik posetief op die geringste goeie nuus.
Dit wys ons hoe desperaat ons ekonomie is.
Die SA ekonomiese Titanic se kaptein in nou al 6 keer vervang maar sink gaan die Titanic sink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.