Mboweni se balanseertoertjie

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer die begrotingsrede in die parlement. (Skermskoot: eNCA)

Met sy onlangse begrotingstoespraak het die minister van finansies, Tito Mboweni, geen doekies omgedraai nie. Nóg meer as president Ramaphosa in sy onlangse Staatsrede het Mboweni – in welkome verskil met die Zuma-era – het hy laat blyk dat hy verstaan hoe ernstig dinge met die ekonomie en die finansies staan. Wat Mboweni in sy begrotingstoespraak gedoen het, is wat ʼn goeie dokter doen: wees eerlik met die pasiënt oor die erns van die siekte. Moenie die pasiënt met kalmeerpille en mooi praatjies valse gerustheid gee nie. Pleks daarvan is gesê: die siekte het vererger en ons moet opereer. Sukses is nie ’n uitgemaakte saak nie, maar sonder ’n operasie is die dood wel ’n uitgemaakte saak.

Die ekonomiese groei is glad nie na wense nie. Die uitgawes oorskry al vir jare die belastinginkomste en daardeur verhoog die skuldvlakke elke jaar. Dit beteken dat die regering ook al hoe meer op rente moet spandeer om die skuld te diens (van skuld delg is daar nie eens sprake nie). Die reusegemors is veral in die Zuma-era veroorsaak, oftewel verder vererger: Suid-Afrika leef al vir dekades bo sy vermoëns. Die vergrote staatsdiens kom al jare saam met die ANC-regering: dit is ʼn (onvolhoubare) manier van werkskepping en veral die skepping van ʼn lojale ondersteuningskorps in sleutelposisies.

Dat Mboweni die probleem van die oneffektiewe staatsdiens wat die begroting dreineer, pak, en dat hy die vermindering van poste en die vermindering van voordele in vooruitsig stel, is uiters noodsaaklik, maar ook besonder dapper in ’n verkiesingsjaar.

Die ander groot gat waarin die land se finansies val, is die staatsmaatskappye, by name Eskom, maar ook ander soos SAL en Denel. Pleks van ʼn bate vir die regering, is dit ’n groot las. Mboweni het ook geen twyfel gelaat dat hy dink sulke staatsmaatskappye hou nie tred met die tyd nie (hy het dit as iets beskryf wat hom aan die Sowjetunie-tydperk laat dink). Vir ʼn ANC-minister is dit ʼn merkwaardige uitspraak. Eskom is wel te belangrik om dit tot niet te laat gaan, want dan stort die ekonomie finaal in duie. Daar moes lankal planne vir private kragvoorsiening gewees het. Nou is die keuse slegs tussen Eskom met al sy gebreke en algehele duisternis. Daar is om hierdie rede ook oorbruggingsfinansiering vir Eskom begroot, wel met die voorwaarde om te herstruktureer en met die vermaning om die geld eendag terug te betaal. Of dit egter ooit sal gebeur, is ’n oop vraag. Om staatsdiensvakbonde en die Eskom-vakbonde soos NUM en Numsa so kort voor ’n verkiesing teen jou te hê, is geen aangename vooruitsig nie.

Daar is nog ’n reuse-uitgawepos elke jaar, naamlik die welsynstoelae en gratis basiese dienste. Om dit egter in verkiesingstyd te sny, sal te veel ammunisie vir die sosialiste binne en buite die ANC gee. Sonder sy lojale troepe van veral landelike armes wat van welsyn leef, sal die ANC die verkiesing nie kan wen nie.

Net soos Ramaphosa, verstaan ook Mboweni wat die probleem is en maak die regte geluide, maar bly nog steeds te veel van ’n ANC-politikus om drastiese ekonomiese en fiskale hervormings deur te voer. Die enigste ANC-minister van finansies wat iets wesentlik verstaan het, was Trevor Manuel wat matige belastingverlagings ingestel het en daarmee die ekonomiese oplewing van die vroeë 2000’s, in die eerste termyn van Thabo Mbeki, help bewerkstellig het. Mboweni, daarteenoor, is oninspirerend met dieselfde belastingverhogings wat jaar ná jaar gedoen word en net die krimpende klas van diegene wat die ekonomie aan die gang hou, meer uitmergel.

Behalwe vir die hoër belasting op brandstof, kom daar nog ’n koolstofbelasting by, wat as omgewingsbelasting verklaar word, maar wat direk na die staat vloei en nie na omgewingsbeskerming nie. Ook die gebruiklike sondebelasting op drank en tabakprodukte is, soos elke jaar, weer stewig verhoog. Niemand sal rook en drink as noodsaaklik ag nie, maar óf mense hou aan en word daardeur armer (en armes spandeer in verhouding juis meer op drank en sigarette) óf hulle gebruik dit minder en benadeel daardeur die kleinhandel. Net soos met die koolstof- en die suikerbelasting gaan dit nie werklik oor gedragsverandering nie, maar oor nog ’n manier om burgers meer te belas. BTW en inkomstebelasting is reeds te hoog en kon nie nog verder verhoog word nie. Indirek is die inkomstebelasting wel verhoog deurdat die belastingkerwe nie aangepas is by die inflasie nie en belastingbetalers dus nóg meer inkomstebelasting betaal en nóg minder besteebare inkomste oorhet.

Wat Suid-Afrika eerder moes gedoen het, maar wat natuurlik ondenkbaar is vir ʼn sosialistiese party soos die ANC, is drastiese belastingverlagings vir maatskappye en individue, sodat die staat deur ʼn groter produktiwiteit, beleggings en spandering uiteindelik meer belasting van ’n breër en meer welaf middelklas kan invorder, iets wat onlangs deur president Donald Trump (en in ander tye deur president Ronald Reagan) gedoen is.

Die staatsmaatskappye moes ook lankal verkoop geword het, toe hulle nog bates en nie laste was nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jerry ·

Hoe lank gaan dit nog vat voordat mense sal besef dat die ANC se plan is die teenoorgestelde van die goeie plan?

Farmer Brown ·

Gans en al te veel gate in die emer om enigsins water te kan dra.
Eskom moet gered word ten alle koste , daar gaan ons staats pensioenfonds ook.
Gaos is ons voorland met verkiesing om die draai , iets sal moet mee gee.
Ek besit nie ‘n Kristal bal nie maar selfs die blindes kan sien wat kom.

P G Slabbert ·

As die staat en semi staatsdiens gaan produktief raak , sal die werkloosheid koers seker 60 % bereik . So dis te betwyfel of daar van die suiers ontslae sal raak ,

Anoniem ·

Die groot gemors gaan kom as die regering nie meer geld geleen kan kry om alles te befonds nie, en bakhand by die IMF of China moet hou. Vir SA se part hoop ek dit draai by die IMF, want dan kan ons dalk nog uit hierdie finansiële gat klim.

Hendrik ·

Trump se manier van belastingverlaging help die armes en middelklas niks. Diegene wat voordeel daaruit trek is die groot aandeelhouers en eienaars van maatskappye. DIe maatskappybelasting wat Trump verlaag het, ise reguit na daardie groep se sakke toe, terwyl die arme middelklas ou byne geen verandering in sy belastinglas sien nie. Vra my – ek het gisteraand my belasting hier in St Louis gedoen.

Heinrich ·

Die ironie van die hele saak, veral wanneer ‘n mens Mboweni met ‘n dokter vergelyk wat ‘n siekte aanspreek, is dat die kliniek waaraan daardie dokter behoort, saam met sy ander dokters die siekte veroorsaak het, die medisyne verkwansel het en dan heldhaftig kan aanbied om die siekte weer reg te maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.