Mededingingsbeleid en die ANC: Gevaarlike maatjies?

geld-finansies-ekonomie

Foto: Stevepb/Pixabay.com

In sy onlangse besprekingsdokument oor ekonomiese transformasie het die ANC baie klem gelê op die noodsaak vir ʼn verskerpte toepassing van mededingingsregulasies. Die ANC is van mening dat sogenaamde monopolistiese strukture en praktyke opgebreek moet word. Die dokument stel die saak só:

strict enforcement of competition legislation aimed at stamping out monopolistic practices is required […] the ANC should mandate a detailed investigation into the underlying structure of the economy in order to recommend ways to reduce and remove barriers to entry and dismantle monopolistic and oligopolistic structures in certain key sectors.”

Wekroepe vir die robuuste toepassing van mededingingsregulasies is iets wat taamlik baie hoofstroom-ekonome in beginsel, met sekere kwalifisering en opwegings natuurlik, sal ondersteun. Dit is asof die stelling wat hierbo gemaak is, dat monopolistiese en oligopolistiese strukture en “hindernisse vir toetrede tot sleutelsektore” uitgewis moet word, net so uit ʼn sekere ekonomietekste, gehaal kan word.

ʼn Mens mag selfs wonder of ons nie hierdie spesifieke standpunt van die ANC, dat die mededingingslitigasie verskerp moet word, moet verwelkom nie. Wat is dan fout met ʼn ekonomiese beleid wat “monopolistiese en oligopolistiese strukture” wil opbreek om sogenaamde kompetisie en toegang tot markte te versterk?

Die hele punt van regeringsingrepe in die vorm van mededingingsbeleid – so word dit deur die voorstaanders daarvan regverdig – is om die “verbruiker se welstand te verhoog” deur belemmeringe tot kompetisie uit die weg te ruim. Het die ANC nou in voorstanders van robuuste kompetisie en kampioene van verbruikerswelstand ontaard? Gee die ANC nou ʼn kopknik na groter markvryheid?

Dat dit die geval is, is betwyfelbaar. Jakkals verander van hare maar nie van snare nie. Die ANC se breër ekonomiese standpunte was nog nooit laissez faire nie en die ANC verbind homself tans steeds openlik tot ʼn “gemengde ekonomie” met stewige regeringsingrepe. Die “ongebreidelde mark” word voordurend afgekeur.

Die huidige ekonomie is reeds deur vele ingrepe onder die ANC-regering beleër. Een voorbeeld hiervan is die wye omvang van staatsondernemings wat ondanks swak prestasie onder die ANC-regering bly voorbestaan.

Voor om en by die 1900’s het heelwat denkers oor die probleem van monopolie die oorsprong daarvan by regeringsvoorregte soos subsidies en gunstige wetgewing gesien. Vanuit dié beskouing sou staatsondernemings en die wetgewing wat hulle in stand hou die beginpunt wees om die monopolieprobleem te takel.

Sover gesien kan word is dit nie die ANC se plan nie. Noemenswaardige planne vir privatisering ontbreek steeds. Lippediens word moontlik aan deregulering van sekere sektore gegee. In dié opsig kan ware deregulering in die rigting van vryer markte verwelkom word, maar, gemeet aan die verlede was die ANC se DNS nog nooit om markte geheel en al uit te los nie.

Indien sulke planne vir deregulering oënskynlik aangekondig word, moet hulle eers versigtig bestudeer word. Volgens stellings op die ANC se webblad blyk dit dat sogenaamde “monopolistiese praktyke” in die private sektor en nie in die openbare sektor nie meestal in die visier is.

Hoe versoen ʼn mens dan uiteindelik die ANC se standpunte oor kompetisie met hul breër anti-laissez faire-houding? Die antwoord hierop is eenvoudig. Die ANC se opvatting oor kompetisie strook met sy grondliggende beginsels en plaaslike kompetisiebeleid, soos dit staan, kan maklik daarby aansluit.

Een van die plaaslike Kompetisiewet van 1998 se mikpunte is byvoorbeeld om eienaarskapbelang van swart mense (“voorheen benadeelde persone”) te bevorder. Gedeelte 2 van die wet stel die doelwit só:

“The purpose of this Act is to promote and maintain competition in the Republic in order – […] to promote a greater spread of ownership, in particular to increase the ownership stakes of historically disadvantaged persons.”

Die kernvraag is wat met “kompetisie” bedoel word en watter rol die “mark”, volgens die ANC, moet speel. ʼn Belangrike punt om hier te beklemtoon is dat die ANC nooit praat van “vrye kompetisie” nie, maar eerder van “regverdige kompetisie”.

Regverdige kompetisie beteken as’t ware kompetisie volgens die reëls en oorwegings wat die heersende beleidmakers bekragtig. Ietwat vereenvoudig, vrye kompetisie beteken dat almal wat aan ʼn mark wil deelneem nie deur arbitrêre wetgewing van deelname weerhou word nie. Niemand word verhinder nie, maar dit beteken wel nie dat almal die kapasiteit, begaafdheid of belangstellings sal hê om deel te neem nie.

Regverdige kompetisie kan maatreëls soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) maklik insluit, maar ʼn tradisionele opvatting oor vrye kompetisie in vrye markte kan dit nie so maklik regverdig nie.

Die ANC en meeste voorstanders van mededingingsingrepe is oortuig dat die mark slegs ʼn “redelik doeltreffende” manier is om hulpbronne toe te deel. Volgens dié denkrigting regverdig oënskynlike ondoeltreffendheid en markmislukkings mededingingsingrepe deur regerings.

Die ANC se beleidsdokumente skets verder ʼn prentjie van die mark as ʼn spreekwoordelike stuk gereedskap wat bestaan om die ANC se uitkomste te dien. Die uiteinde hiervan is ʼn ekonomie waarin private ondernemerskap om pragmatiese redes wel toelaat word, maar sterk volgens omvattende regulasies, wat mededingingsbeleid insluit, gedwing word om sekere uitkomste mee te bring.

Aan die ander kant glo die teenkant van sulke ingrepe by markte dat ʼn grootliks onbelemmerde mark, wat filosofies berus op mense se fundamentele vryhede as verbruikers sowel as produsente, die beste moontlike uitkomste gegewe beskikbare hulpbronne en vermoëns na vore sal bring. Dit is my mening ook.

ʼn Gematigde beskouing is miskien dat mededingingsingrepe, wanneer dit wel beoog word, om verskeie redes met groot omsigtigheid benader moet word. Selfs al word net ʼn gematigde beskouing aanvaar, kan die ANC se toekomstige benadering tot dié beleidsgebied steeds bevraagteken word.

Om dié punt te kan staaf vereis ʼn bietjie meer konteks oor die toepassing van mededingingsingrepe deur regerings oor die afgelope dekades. Hier kan besprekings vinnig baie tegnies raak, maar vir die doel van dié artikel moet daarop gelet word dat die omvang van mededingingslitigasie oor die jare in lande soos die VSA redelik verslap is.

Waar mededingingsbeleid in die verlede byvoorbeeld klem gelê het op goed soos “hindernisse vir marktoetrede” (gevestigde handelsmerke word soms as voorbeeld van so ʼn hindernis genoem), het die klem van hedendaagse mededingingslitigasie vernou. Tans word daar meestal op “sameswering” en “prysvasstellings”, en die regulering van samesmeltings van ondernemings gefokus.

Mededingingsbeleid het versag omdat daar besef is dat gedrag wat voorheen op die oog af vir reguleerders as anti-mededingende voorgekom het, eintlik ʼn rol kan speel om ondernemings se doeltreffendheid te verhoog waarby verbruikers uiteindelik kan baat.

Selfs sekere van die nieu-klassieke ekonome, by wie die teorie van “perfekte kompetisie” sy oorsprong het en waarop mededingingsingrepe hoofsaaklik berus word, bied geldige kritiek op die toepassing van mededingingsingrepe. Drie kategorieë van kritiek word soms geopper:

  • Groot maatskappye of selfs “monopolie-inkomstes” mag nodig wees vir grootskaalse navorsing en innovasie, wat toekomstige ekonomiese groei baat;
  • ʼn groot markaandeel is in baie gevalle ʼn beloning vir innovering en doeltreffendheid, eerder as ʼn gevolg van monopolistiese praktyke; en
  • potensiële kompeteerders speel ʼn groter rol as wat voorheen besef is om ondernemings te verhinder om monopolistiese pryse daar te stel.

Selfs al vat ons sameswering en prysvasstelling, oënskynlik die kwaadwilligste oortreding volgens kompetisiewette, is daar rede om te huiwer voordat regeringsamptenare maatskappye se deure laat afskop. Daar bestaan altyd ʼn moontlikheid dat dié wyd veroordeelde gedrag eintlik ʼn eerste stap kan wees na dieper samewerking tussen maatskappye wat uiteindelik doeltreffender en goedkoper produkte kan bevorder.

Al word doeltreffendheid tans nie as ʼn regtelike verdediging in sulke gevalle aanvaar nie, kan die moontlikheid van hoër toekomstige doeltreffendheid weens samewerking, selfs weens samewerking van dié aard, nie uitgeskakel word nie.

Dit word soms gesê dat sulke maatskappye die “eerbare” roete moet loop en formeel moet saamsmelt, maar sulke kritiek verloor die groot kostes en risiko’s verbonde aan samesmeltings uit die oog. ʼn Mens kan nie van redelike mense verwag om dadelik te trou nie, so ook nie van redelike maatskappye nie.

Verdere kritiek wat ter sprake kom word bondig genoem. Die eerste is dat regerings en mededingingsowerhede nooit perfekte kennis oor alle relevante markfaktore kan hê nie. In dié werklikheid, buite die teoretiese wêreld van “perfekte kompetisie”, is dit eerder ʼn geval van onvolmaakte mededingers en onvolmaakte reguleerders wat in die dinamiese werklikheid van markte werksaam is. Hier dra beleids- en ingrypingsfoute en oorregulering ook ʼn koste wat denkbare verliese in verbruikerswelstand kan meebring.

Baie word gemaak van sogenaamde mislukkings en tekorte van die vrye mark (die sogenaamde markmislukkings), maar ʼn ewewigtige beskouing moet minstens ook die kans op mislukkings van menslike reguleringsagentskappe en mistasting van beleidsingrepe (regeringsmislukkings) in dinamiese werklike markte in ag neem. Hieroor kan die ryk studieveld oor die ekonomie van openbare keuse besigtig word.

Wanneer die ANC se retoriek oor kompetisie beskou word, is dit redelik om te wonder of maatskappye in die private sektor die voordeel van die twyfel sal kry. Mededingingswetgewing versterk uiteraard ʼn regering se vermoë om by die ekonomie in te meng. Dit berus in wese op ʼn gedagte dat regeringsrade en burokratiese instellings beter ekonomiese uitkomstes as die mark kan meebring. Dit stel die vraag of verdere inmenging by en sentrale bestuur van die ekonomie ʼn werklik sinvolle oplossing vir SA se ekonomiese penarie is.

Daar sal nog baie water onder die brug moet deurloop vir die mededingingsbeleid om in geheel hersien te word. Afwykende menings betoog wel hiervoor en reken dat die sosiale koste van oorregulering en ingrypingsfoute die oënskynlike skade van monopoliegedrag in dinamiese vrye markte oortref. Tog gaan die bestaande konsensus moeilik omgekeer word.

Vir die plaaslike konteks is dit wel relevant, alles in ag geneem, dat ʼn matige en uiters omsigtige benadering tot mededingingsingrepe, eerder as ʼn hardhandige benadering gevolg word.

Gegewe die eise van radikale ekonomiese transformasie wat die ANC aan homself stel, en sy skerp anti-vryemark sentiment, kan ons wonder tot watter mate die ANC se invloed op die toepassing van mededingingsingrepe matigheid en omsigtigheid gaan bevorder.

Indien ANC-retoriek enige aanduiding is, is daar groot rede tot kommer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

John ·

Die skrywer probeer die ANC se griewe akademies ontleed en evauleer (soos dit hoort) maar die staat se onderrok hang ver uit vir almal om te sien en die koning loop aspris kaal vir die buitewereld om hom jammer te kry en te glo hy moet klere steel want hy kry bitter koud weens die onderdrukking deur die flukse ‘andere’… vandaar die 2 wyse manne se re is na die Weste om die storie … hierdie keer gekleed in duur snyerspakke … oor te gaan vertel in swak Engels (ok die samespanners en wit monopoliste se skuld). Die naaste beskrywing vir die voortgesette beleid is koekoekisme… maw, gryp ‘n klaar geboude nes en skop die eiers en kleintjies uit en die vorige nesbouers, moet nou dom word en kos aandra vir die nuwe vet pokkels met gratis skoling volgens ‘n glyskaal opgestel deur raadgewers wat met rubberbote in Natal aangeland het… en duidelik hierdie hogere geskrif oor pyn en lyding saamgestel het… die superbase van die plan…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.