Mededingingskommissie moet drasties hervorm of afgeskaf word

Deur Martin van Staden 

Martin van Staden.

Die Mededingingskommissie word uit sommige oorde in Suid-Afrika geprys. Soos met die lof wat aan sommige ander regeringsprogramme ook toegeswaai word, is hierdie lof ongelukkig dikwels gegrond op ʼn wanbegrip van hoe markte funksioneer.

Trouens, die kommissie is uiters vernietigend. Die Mededingingskommissie moet óf drasties hervorm óf afgeskaf word. Sodoende sal die openbare belang beter gedien word.

In 2014, toe ek nog op universiteit was, is ons geleer dat die Mededingingswet en die Mededingingskommissie een belangrike rol dien: om te verseker dat die mark vry bly van oorheersing deur groot firmas wat kleineres wil uitdruk. Die mark moet mededingend wees sodat dit verbruikers kan dien. Dit was egter selfs destyds ʼn onsinnige wanvoorstelling van die Suid-Afrikaanse mededingingsregbedeling, maar mededingingsreg het sedertdien selfs meer uit voeling met hierdie werklikheid geraak.

Watter voorwendsels hy ook al in die verlede gehad het om ʼn neutrale waarborger van markbillikheid te wees, is die Mededingingskommissie vandag besig om nog vinniger in ʼn dwingende toepasser van politieke markbevel te ontaard. Dit is geen verrassing dat politieke aktiviste van universiteitsdae dikwels hul tuiste as burokrate by hierdie staatsinstelling kan vind nie.

Hierdie politieke afdwinging is veral duidelik in konteks van die regering se maatskaplike hervorming rakende ras. Die onafhanklike sakegemeenskap, Sakeliga, het in kommentaar reeds in 2018 voorspel dat die kommissie so ʼn wending sou neem met die publikasie van die Mededinging-wysigingswetsontwerp.

Soos talle regeringskommissies uit die 1960’s en 1970’s, pas die Mededingingskommissie sy eie rasseformules toe om te bepaal of verskillende ekonomiese transaksies – soos sakesamesmeltings – wettig is. Die kommissie bemoei nie homself met die werklike stand van markmededinging nie, maar eerder met akademiese, ideologiese doelwitte wat deur die regerende party gestel en uitgedruk word in ʼn baie eng beskouing van die openbare belang.

Die kommissie se bestaan ​​kan met groot moeite moontlik regverdig word as hy homself beperk tot om die toetreebaarheid van markte te verseker, eerder as om arbitrêre formules en persentasies toe te pas om sogenaamde “markoorheersing” te bepaal of om “transformasie” te bewerkstellig.

Hierdie politieke formules is betekenisloos wanneer dit kom by die dien van die openbare belang. Trouens, ʼn firma mag dalk 100% van die mark “oorheers” as dit uit verbruikers se voorkeure voortspruit, hoewel dit baie onwaarskynlik is. Daar is niks verkeerd met so ʼn verskynsel nie, tensy daardie firma – of meer waarskynlik, die regering – sodanige oorheersing waarborg deur middel van dwang, wetgewing, regulering, of lisensiëring.

Inderdaad, ʼn veel meer redelike gebruik van die Mededingingskommissie sou wees om marktoetreebaarheid te verseker deur die monitering van regeringsinmenging in markprosesse.

Wanneer gevind word dat een of ander departement of staatsorgaan – soos die Poskantoor – voordeel trek uit ʼn buite-die-mark-waarborg, kan die kommissie die bevoegdheid kry om daardie entiteit te beveel om te staak, of selfs te ontbind, of om geprivatiseer te word.

Die Poskantoor onderneem tans hofaksie in ʼn poging om sy uitgediende monopolie op die aflewering van pakkies wat een kilogram of minder weeg weer in werking te stel. Die Mededingingskommissie het nie ʼn piep oor hierdie inisiatief gemaak nie, en ook nie, na my wete, aansoek gedoen om ʼn amicus curia (deskundige vriend van die hof) in die saak te wees om die hof na ʼn gepaste uitkoms te lei nie. Die kommissie draai ʼn blinde oog vir die werklike, skadelike monopolistiese en anti-mededingende verskynsels in die Suid-Afrikaanse ekonomie wat die gevolg is van regeringsgedrag.

Die uitgangspunt van die Mededingingskommissie se bestaan ​​– en van mededingings- of antitrustwetgewing in die algemeen – is fundamenteel gebrekkig. Vra enige Suid-Afrikaner of hulle aan enige private maatskappy kan dink wat werklik ʼn monopolie is, of waarlik op een of ander manier sy “oorheersing” in die mark “misbruik”, en jy sal sukkel om ʼn duidelike antwoord te kry. Ja, daar is groot maatskappye wat sekere markte (tydelik) oorheers, maar dit is grootliks te wyte aan verbruikers wat hul produkte of dienste bo ander verkies. Dit is nie omdat Coca-Cola sy posisie misbruik of ʼn monopolie het dat aspirant-koeldrank-entrepreneurs geneig is om te misluk nie, maar omdat verbruikers byna universeel die produkte van die Coca-Cola-maatskappy bo enigiets anders verkies.

Hierdie saak raak meer ingewikkeld wanneer duur regulasies uiteindelik nywerhede ten gunste van grootskaalse produksie vorm. Tog is deregulering nie op die kommissie se radar nie. Dit is eerder besig om ʼn hoogs dwingende hekwagter van beheer oor private ondernemings te wees.

Gegewe die geleentheid, sal die Mededingingskommissie waarskynlik fout vind met Coca-Cola se “oorheersing”. As hy dit doen, sal sy markinmenging slegs die Coca-Cola-maatskappy gebruik as ʼn surrogaat vir sy werklike stryd teen verbruikerskeuse en ekonomiese vryheid.

Die kommissie het onlangs aangekondig dat hy die stygende pryse van basiese voedselsoorte in Suid-Afrika gaan ondersoek, met verwysing na kommer oor die uitwerking daarvan op armes. Die kommissie sê daar is “rede om te glo dat daar markkenmerke kan bestaan ​​wat mededingendheid van die Suid-Afrikaanse varsproduktemark belemmer, verwring, of beperk”. Baie Suid-Afrikaners, gebuk onder prysinflasie en desperaat op soek na verligting, sal dalk so ʼn stap verwelkom.

Die probleem is egter dat ons reeds weet hoekom pryse die afgelope maande so skerp gestyg het. Regerings regoor die wêreld het Covid-19-inperkings van verskillende grade op hul – en die internasionale – ekonomieë afgedwing, wat voorsieningskettings ontwrig het, miljoene in werkloosheid gedompel het en (konserwatief) honderde duisende ondernemings gedwing het om te sluit. Dat die lewe as gevolg daarvan duurder sou word, was so duidelik soos daglig.

Soos met feitlik alle ander “marknavrae” wat die Mededingingskommissie onderneem, lê die werklike bron van die probleem nie by snordraaiende kapitaliste wat probeer om hul kliënte finansieel uit te wis nie, maar by een of ander vorm van staatsinmenging in die ekonomie.

Die kommissie sal baie beter doen om die effek van inperkings op die prys van voedsel te ondersoek, eerder as om ʼn roete te volg wat onvermydelik sal eindig met die oplê van boetes op ʼn sektor van die ekonomie wat reeds baie sukkel.

Die kommissie sal egter nie die hoë pad vat nie, maar die maklike pad. Hervorming van die kommissie is onwaarskynlik, gegewe hoe verskans goedvoelaktivisme in sy DNS geword het. Dit is waarskynlik nuttiger om eerder te pleit vir die totale afskaffing daarvan.

  • Martin van Staden is ʼn regsgenoot by die onafhanklike sakegemeenskap, Sakeliga. Hy is besig met ʼn doktorsgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marthinus

Hoekom is daar net een Mededingingskommissie? [grappie]

Darkwing Duck

Die oomblik wat enige instelling gepolitiseer word is daar ‘n probleem