Media se reaksie op AfriForum vs. Malema/EFF-hofsaak spreek boekdele

Julius Malema spreek sy ondersteuners buite die Johannesburgse hooggeregshof toe. (Foto: EFF/Twitter)

Hoewel die verwerplikste aspek van die AfriForum vs. EFF “Kill the Boer”-saak sekerlik baie dele van Julius Malema se ontstellende getuienis onder eed was, het die reaksie van die media en lede van die Suid-Afrikaanse rubriekskrywersgarde ʼn verbasend sterk tweede plek ingeneem.

AfriForum se regspan onder leiding van advokaat Mark Oppenheimer het fantastiese werk gedoen deur die ware militante, ekstremistiese Julius Malema – en sy gewelddadige aspirasies – aan Suid-Afrika en die wêreld te ontbloot. En tog, in plaas daarvan om die kollig helder op Malema se veragtelike opmerkings te laat skyn, het die media op enkele uitsonderings na verkies om van sy uitlatings soos “Ek sal eendag president wees of julle daarvan hou of nie” hulle hoofberig te maak. Die kommentaarklas, in wat net as ʼn gesamentlike verenigde front bestempel kan word, het oor mekaar geval asof op bevel, met hulle meningstukke flitsend soos bajonette, om AfriForum by te kom omdat hy na bewering eweneens ʼn randverskynsel en ewe laakbaar is as die EFF wat hy voor die hof gesleep het.

Stephen Grootes het aangevoer dat die EFF en AfriForum keersye van dieselfde munt is, dat albei ekstreem is en albei aan ʼn siniese poging deelneem om die land tot hulle eie voordeel te verdeel. Dis moeilik om te verstaan hoe verwronge jou ontledingsvermoë moet wees om ʼn prominente politikus wat verseg om te onderneem om nooit op die slagting van ʼn ganse rasgroep aan te dring nie, so ongeërg aan ʼn burgerregteorganisasie – wat die moed het om hom in die hof aan die kaak te stel in ʼn poging om ʼn einde aan sy haatspraak te maak – gelyk te stel. Die reaksie op die arme Pauli van Wyk se goedkeuring-twiet van Grootes se meningstuk het tot ʼn stortvloed van sterk steun vir AfriForum deur mense op sosiale media gelei wat die meningstuk aan flarde geskeur het.

Die volgende lid van die media wat na vore getree het om sy plig te doen deur AfriForum te beswadder, was Max du Preez. Du Preez se redenasie was dat AfriForum met hierdie saak bloot daarin geslaag het om die meeste swart en wit Suid-Afrikaners te dwing “om kant te kies”. Max, as jy regtig sukkel om kant te kies tussen ʼn party wat blatant verseg om te belowe dat hy nooit op die slagting van wit mense sal aandring nie, en ʼn party wat hom op die oppergesag van die reg beroep om sulke afstootlike haatspraak te voorkom, is jou morele kompas hopeloos verrot.

Nickolaus Bauer se keuse was ʼn korter twiet, pleks van ʼn swaar meningstuk, vir sy ligte kavallerie-aanval as deel van die anti-AfriForum-front. Sy aanslag was om my en my kollegas by AfriForum se motiewe op goedkoop en oppervlakkige wyse te beswadder as bloot ʼn siniese, selfsugtige geldmaakpoging. Chris Roper, in sy “preek” soos hy dit noem, het ewe vrolik in dieselfde formasie saamgedraf en dieselfde ongegronde, beledigende bewering gemaak. Ek het in ʼn plaasgemeenskap grootgeword. Ek ken mense wat deur afgryslike plaasaanvalle en plaasmoorde geraak is. Ek moes al ʼn angsbevange geliefde oor die foon probeer vertroos tydens ʼn gepoogde aanval op haar familie se plattelandse woning. Ek het al met getraumatiseerde slagoffers gepraat wat hierdie gruweldade oorleef het. Gedagtig hieraan, Nickolaus en Chris, verwerp ek julle oneerbiedige, aanstootlike bespiegeling oor ons motiewe hier by AfriForum met die minagting wat dit verdien.

Laastens, vanuit die yl lug, is ʼn aanval deur Piet Croucamp geloods wat skaamteloos en paternalisties witvoetjie soek oor Malema se indrukwekkende retoriek en sy “treffende” skets van die swart-wit-narratief in Suid-Afrika. Piet erken vanuit die staanspoor dat hy nie die laaste paar dae van die verhoor (seker die belangrikste dae in die hof) gevolg het nie en sy inligting vanaf sosiale media bekom het. Piet se selferkende versuim om behoorlik sy huiswerk te doen voordat hy ywerig sy portuurgoedgekeurde afleidings maak, word welverdiend beantwoord met my reaksie van “Geen verdere vrae nie, Edelagbare”.

ʼn Goue draad dwarsdeur al hierdie skryfsels is die bedrieglike argument dat die platform wat hierdie saak aan Malema gebied het groter steun vir sy party meebring. Eerstens was die mense wat werklik aan Malema ʼn gunstige en simpatieke platform gebied het om sy ding te doen, joernaliste en die media. Hulle het Malema se opmerking dat hy eendag president sal wees of die aanmerking dat AfriForum se advokaat soos Jan van Riebeeck lyk, hulle hoofberigte gemaak, in plaas van sy skokkende weiering om te belowe dat hy nooit op die slagting van wit mense sal aandring nie. Tweedens is ek van mening dat as hierdie joernaliste en kommentators verantwoordelik opgetree het deur objektief oor hierdie saak te berig, veral oor Malema se onverdedigbare uitlatings, hierdie hofsaak inderdaad tot ʼn groter afname in steun vir die EFF en Malema kon gelei het.

Dit moes die maklikste ding denkbaar gewees het vir enige redelike persoon om Malema se aanstootlike uitlatings te verdoem en AfriForum, wat dit aan die lig gebring het, te loof. Maar in plaas daarvan is ons met duisende woorde in uitasem berigte gebombardeer wat blatant valse gelykstellings voorhou, of die rubriekskrywer se skynbare vermoë toon om gedagtes te lees wat AfriForum se motiewe betref. As jy reken AfriForum en die EFF is uit dieselfde hout gesny, waarom pas jy dan klaarblyklik verskillende standaarde op ons toe? Dit lyk of die media bang is hulle bars in vlamme uit as hulle selfs net iets effens gunstigs oor AfriForum sê, as hulle vir Julius Malema die veroordeling gee wat hy verdien, of as hulle ʼn week laat verbygaan sonder om hulle versmading van AfriForum te kenne te gee. Hanlon se reël lui dat ʼn mens nie iets aan kwaadwilligheid moet toeskryf as dit genoegsaam deur onnoselheid verklaar kan word nie. As jy egter die EFF en AfriForum ná die ontstellende getuienis in hierdie verhoor steeds as twee kante van dieselfde munt beskryf, moet jy verwag dat mense jou beslis as kwaadwillig sal beskou.

Karin Morrow het dit bondig saamgevat deur te sê AfriForum se vernaamste “misdaad”, in die oë van sy kritici, is blykbaar dat die organisasie hoofsaaklik wit en Afrikaans is. Die onbetwisbare feit bly staan dat die AfriForum vs. EFF/Malema-verhoor aan alle ordentlike mense ʼn gulde geleentheid gebied het om gesamentlik Malema en sy bondgenote te veroordeel as selferkende militante ekstremiste wat haatlike, gewelddadige, rassistiese retoriek voortbring. Dit is tragies dat hierdie geleentheid verspil is deur baie mense wat klaarblyklik meer daaroor begaan is om tog net nie in die openbaar gesien te word dat hulle selfs net gedeeltelik aan AfriForum se kant is nie, eerder as om die onverdedigbare te verwerp.

Wat dekking van die werklike nuus oor die verhoor betref, is daar ʼn straaltjie hoop uit die groeiende alternatiewemedia-ekostelsel. Alternatiewemediaplatforms en persoonlikhede soos die ManPatria-podsending, Sihle Ngobese (Big Daddy Liberty), Roman Cabanac (Morning Shot), Renaldo Gouws, Chris Wyatt, Joe Emilio en andere het uitstekende en broodnodige dekking van hierdie saak verskaf, asook stewige ontleding van die dele wat werklik betekenisvol en relevant is. Ek haal my hoed vir hulle af.

Te oordeel aan die oorweldigend negatiewe reaksie op die verwronge, bevooroordeelde anti-AfriForum-meningstukke en mediadekking (of gebrek daaraan) is dit duidelik dat baie mense siek en sat is daarvoor dat AfriForum deurgaans in die media wanvoorgestel, belaster en beswadder word in hoofsaaklik dieselfde klein kringetjie mense. Die oorweldigende ondersteuning en positiewe terugvoer vir AfriForum vanuit die algemene publiek van alle rasse en gemeenskappe ná hierdie saak, is omvangryk en geweldig inspirerend. Dankie van AfriForum aan al julle goeie, ordentlike mense daarbuite. Vir mense soos julle sal AfriForum sy vingers stompies baklei. Hierdie hofsaak was sowel opwindend as veeleisend vir ons span. Daar is egter min dinge wat ʼn vuur in ons borskas so laat brand soos om werklike, gewetenlose boosheid trompop te loop en die hele kaboedel op hul neus te laat kyk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Groen Ghoen ·

Bly onwrikbaar op koers, Afriforum. Dit wat julle bereik spreek vanself. Wat kan mense soos Du Preez en Croucamp toon behalwe media artikels? Het hulle al ooit bygedra om een slaggat te herstel, of slagoffers van ‘n plaasaanval bygestaan? Sien Malema vir dit wat hy is: ‘n Opportunisitiese gewetenlose rassis. Sien ook vir diegene wat vir Afriforum kritiseer as verstokte eensydige kritikasters.

Fran ·

Oor Du Preez en Kopdok Croukamp is daar min te sê behalwe dat hulle so verlig is dat hulle eintlik niks beteken nie. Ek luister en lees nie meer wat hulle sê nie want hulle lewe in hulle eie verligte, revolusionêre planeet. Pateties.

Manie ·

Daai 2 is so verlig, dat load shedding hulle nie eers pla nie.

Robert Sydney ·

Ek het al baie gewonder hoeveel steun het Vrye Weekblad, du Preez, Croucamp ens onder hulle teiken gehoor, Afrikaanssprekendes ? Ek kan ook net meld dat hulle geen geregverdigde kritiek op hulle opinies duld nie. Nadat hulle ‘n artikel gepubliseer het waarin hulle die inkompetensie en korruptheid van die regering gekritiseer het, het ek hulle (baie beleefd en sonder kru taal) daaraan herinner het dat hulle vir jare lank hard gewerk het om die nuwe SA te kry, is ek summier verban om enige verdere kommentaar te lewer op enige van hulle publikasies.

Suzette ·

Julle doen uitstekend Afriforum!! AS julle nie vir ons opkom en help veg nie, daar is niemand anders nie. Julle doen dit seker reeds – maar maak hierdie uitsprake wyd bekend – ook oorsee (vir wat dit werd mag wees). Dis nodig dat almal moet sien dat die anc nie so onskuldig is as wat hulle probeer verkondig nie – eff en anc is vir my voëls van eenderse vere.

B-Man ·

Die enigste debietorder wat waarlik vir my iets beteken is my lidmaatskapfooie by AfriForum en Solidariteit. Wys my enige ander burgerregteorganisasie en/of vakbond wat so baie vir sy lede doen!

piet ·

Maar ons weet mos nou almal Malema is ‘n rassis en se net wat hy wil. Geen verrassing nie, hy sal nie stilbly nie en dis selfs bewys in die hof. Hy het weereens die platform gebruik en hy het weereens daarin geslaag. Malema was goed voorbereid en het geweet wat hy wil se en het ook nie geskroom om dit te se nie. Ons sal maar moet sien of hierdie aksie enigsins iets gaan bereik. Die gevaar is dat indien daar nie teen Malema beslis gaan word nie gaan hy nog meer irritasie veroorsaak en nog meer arrogant wees.

Dries ·

Waneer Max of Kopdoek kommentaar op RSG lewer, kan ek nie vinnig genoeg van stasie verander nie.

Philip ·

In ons eie geledere is daar n hele klompie slapsakke wat meer gevaarlik is solank hulle net die nodige platvorm kan kry om hulle verbale diaree ontslae te kan raak. In die elke dag se omgang met die publiek vermy hulle gewoonlik die geselskap / ontrek of is vreeslik beskeie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.