Medici in krisis

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Deur Paul Maritz, koördineerder vir Solidariteit Jeug

Vir elke 1 000 mense in Suid-Afrika is daar 0,82 mediese dokters. Sou ons dit vergelyk met Oostenryk se 5,2 of Switserland se 4,2, dan besef ons dadelik dat Suid-Afrika minder dokters het as voorste wêreldlande – lande en statistieke wat ons sekerlik wil naboots as ons op daardie vlak van ontwikkeling wil uitkom.

Die vraag wat ʼn mens sekerlik moet vra, is waarom die departement van gesondheid so verskriklik erg sukkel om plasings van dokters gedoen te kry. As ons so ʼn groot behoefte het, en as ons gedurig hoor hoe groot die tekort is, waarom geniet hierdie proses nie ʼn groter prioriteit nie? Verlede week het Solidariteit Jeug, die jeugvleuel van Solidariteit, tientalle klagtes ontvang wat presies dieselfde inhoud bevat het: Die ICSP (internskap en gemeenskapsdiensplasing)-stelsel waarvolgens finalejaar- mediese studente verlede jaar aansoek gedoen het, toon aan dat die student by hospitaal X in provinsie Y geplaas is. Die pas afgestudeerde student pak dan al sy of haar besittings, en gaan begin ʼn nuwe lewe daar. Sodra hulle egter daar aankom, besef die student vinnig dat daar geen werkkontrak vir hom of haar is nie, wat beteken dat geen werk gedoen mag word nie.

Dit is sekerlik nie die manier hoe enige mens hul loopbaan wil begin nie – veral nie iemand wat oor so ʼn skaars vaardigheid beskik nie. Op hierdie punt moet genoem word dat hierdie dokter oor vaardighede beskik wat internasionale waarde het, en wat aansienlik meer monetêre waarde in ander lande het. Die redelike persoon sou dink dat hierdie jong dokters juis ordentlik hanteer sal word, en tog word hulle aan hierdie omstandighede blootgestel. Sommige sou dink dit is sinneloos, selfs roekeloos.

Die Junior Doktersvereniging van Suid-Afrika (Judasa) het op 10 Januarie ʼn verklaring uitgereik waarin hulle noem dat hulle tevrede is met die proses se verloop, en tog sal plasings eers op 15 Januarie afgehandel wees, nadat daar eintlik van dokters verwag is om reeds op 2 Januarie reeds te begin werk het. Dit is verstommend om te dink hoe hierdie proses as goed of effektief beskryf kan word.

As ʼn verdere kinkel in die kabel word daar glo nou daarna gekyk om afgestudeerde studente se internskaptydperk van twee jaar na een jaar te verminder. Alhoewel hierdie besluit verskeie voordele inhou, en deur Solidariteit se Gilde vir Mediese Praktisyns verwelkom word, toon die blote feit dat so ʼn stap oorweeg word, hoe ondeurdag die hele proses in hierdie stadium is, en verloop.

As Suid-Afrika werklik op pad wil wees na eerstewêreldstatus, behoort ons alles in ons vermoë te doen om hooggekwalifiseerdes van die begin af welkom en gewaardeerd te laat voel – en dit is nie wat tans gebeur nie!

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

schalk ·

En daaglikse is die syfer meer negatief. Dit is die een beroep wat nie sommer afgekeur word in ander lande nie. Skokkend en negatiewe manier wat nuwe beroepslui hulle loopbane moet begin.

Anoniem ·

Die probleem is nie dat daar te min poste is nie, maar wel dat daar te min geld is om al die salarisse te betaal. Daar is dalk 20 vakante poste, maar net geld vir 14 salarisse. Dus word 14 dokters aangestel om 20 se werk te doen – vandaar die verskriklike werkslas waaronder hulle gebuk gaan.

Dis dan seker nie verbasend dat sommige dokters besluit om na rustiger weivelde uit te wyk nie. Wat my wel verbaas, is dat navorsing van ‘n paar jaar gelede bevind het dat meer swart dokters Suid-Afrika verlaat as wit dokters.

Spike ·

Hoe gouer ons besef dat ons in ñ comrades en kader land bly, hoe gouer sal ons sulke agterstevoorgeit verstaan. Hierdie mense kannie rasioneel redeneer nie

My kind ·

Hoekom is daar bv by Tuks net plek vir 300 mediese studente. Dan word slegs n paar van ons kinders gekeur, jy kan dit tel op een hand. Ons lees elke dag dat daar n tekort is aan mediese personeel. Ons kinders het 7 onderskeiding maar word nie gekeur vir medies agv jou ras. Hoekom nie op n meriete stelsel keuring gee – top 300 aansoeke word gekeur, ongeag jou identiteit. En so werk die prosesse by elke universiteit in SA? Daar is eenvoudig net nie n toekoms vir ons kinders wat medies wil studeer nie.

Student ·

@My kind Daar is net plek vir 300 mediese studente by Tuks omdat daar ook net soveel plek is in die hospitaal om te leer. Pasiente word klaar gepla deur groepe wat groot is en dokters nog meer gepla. Ons werk net in Steve Biko, Kalafong en Tembisa. Is dit redelik om te verwag dat 40 studente om een pasient se bed moet staan en niks te hoor wat gese word nie? Sal jy wil he dat 15 studente in jou teater staan as jy geopereer word net om iets te kan leer? Nee, want jy kry privaat sorg en dit is nie toepaslik op jou lewe nie. Ongeag wie die plekke kry om medisyne te studeer, almal werk hard. Almal verdien hulle plek. Kyk gerus na Anoniem se kommentaar om te sien wat ons probleem is.

alwyn burger ·

SA ,Switserland en Oostenryk. Ons moet appels vergelyk met appels. SA sal nooit wêreldstatus bereik nie. Die naaste wat ons aan wêreldstatus was , was met die Anglo-Boere Oorlog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.