Mediumtermynbegroting 2018: Dit gaan alles oor die skuld

russell-lamberti

Russell Lamberti is die hoofstrateeg van die beleggingsadviesfirma ETM Analytics en skrywer van die boek ‘When money destroys nations’. Foto: Reint Dykema.

Deur Russell Lamberti, Hoofstrateeg: ETM Macro Advisors

Terwyl die markte en maatskappye gereed maak vir Tito Mboweni, die nuwe minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsrede vandeesweek, koester hulle die hoop dat president Ramaphosa se nuwe man in dié pos Suid-Afrika se fiskale lotgevalle kan verbeter. Natuurlik is dit wensdenkery, want die regering se begroting is die netto resultaat van ’n hele staatstelsel waarvan Mboweni net ’n deeltjie is en wat ook in ʼn groot mate deur die breër wêreldekonomie beïnvloed word.

Die regering het sedert 2008 nog elke jaar ’n begrotingstekort van meer as R100 miljard opgeloop, en dit maak nie saak wie die minister van finansies was nie. Trevor Manuel het tekorte opgeloop, Pravin Gordhan het tekorte opgeloop, Nhlanhla Nene het tekorte opgeloop, Des van Rooyen het selfs vir ’n naweek tekorte opgeloop… En toe het Pravin Gordhan wéér tekorte opgeloop, waarna Malusi Gigaba tekorte opgeloop het, en toe was dit Nene se beurt om die tekort-tradisie voort te sit. Ten spyte van faksiegeskille in die ANC is daar een ding waaroor die party ten volle kan saamstem, en dit is tekortbesteding. Tito Mboweni se taak, as hy werklik hervorming wil bevorder, is om sy posisie te gebruik om te werk vir aansienlike tekortvermindering tot minder as R100 miljard op pad na gebalanseerde begrotings.

Mboweni gaan vandeesweek vooruitskattings van inkomste en besteding voorhou. As sy planne nie ’n geloofwaardige beweging na ’n tekort van minder as R100 miljard toon nie, sal ons weet hoe ernstig die ANC sy groeiende skuldprobleem beskou.

Mboweni: Tot die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) verbind

Ofskoon die begroting oor baie meer as een minister van finansies gaan, is die begrotingsproses en kommunikasie oor die begrotingsproses onderworpe aan persepsies en die skep van ’n geloofwaardige narratief. Daar sal van Mboweni verwag word om met retoriek vorendag te kom wat veronderstel is om “beleggers se vrese te besweer”. Mboweni is ’n vertroude openbare figuur omdat hy minister van arbeid en president van die Reserwebank was in ’n tyd voordat die volle gevolge van ANC-styl sosialisme duidelik geword het soos dit onder die SAKP-geleide makro- en mikro-ekonomiese beleid tydens Zuma se administrasie gebeur het.

Mboweni word geassosieer met ’n skoner, minder korrupte ANC van die 1990’s en vroeë 2000’s.

Daar moet egter onthou word dat Mboweni in die eerste en laaste plek ’n ANC-man is met ’n verklaarde verbintenis tot die nasionale demokratiese rewolusie (NDR). Die NDR was en is nou al baie dekades lank die ANC se metastrategie – ’n Sowjet-gemodelleerde strategie van die skep van totale staatsbeheer oor die ekonomie en hefbome van sosiale beleid.

Mboweni bepleit 40% nasionalisering van myne bo en behalwe die drakoniese staatsbeheer wat reeds in daardie sektor geld, met “vrydraende” mynaandele wat aan ’n “soewereine welvaartsfonds” gesedeer word. Hy is ook ’n voorstander van die skep van ’n staatsbank om dit vir die staat moontlik te maak om nog meer spaargeld van die privaat sektor na sy planne en projekte te kanaliseer. Albei planne sal die staat in staat stel om ontsaglike finansiële mag te verkry.

Hy is ook baie duidelik dat sy ideaal vir ’n staatsbank behels dat dit ’n volwaardige banklisensie moet kry wat die bank in staat sal stel om nie net deposito’s te neem nie, maar ook lenings teen minimale reserwerugsteun uit te reik om krediet te verskaf. Dit sal die potensiaal hê om nadelige inflasie en hoog-laag-sakesiklusse te skep.

Ons weet ook uit sy verskeie openbare twiets oor grond dat Mboweni die siening steun dat die staat in werklikheid alle grond moet besit en beheer, en dit toeken soos hy goedvind. Dit is nogal ’n ontstellende siening, om dit sag te stel, wat hom breedweg in Julius Malema se EFF-kamp plaas.

En Mboweni het openlik getwiet dat fiskale beleid gebruik moet word “om die ekonomie strategies te transformeer”.

’n Ekonomie wat dood belas word

In die lig hiervan wonder ’n mens wat dit alles vir belastingbeleid sal beteken. Dit is moeilik om te sien dat dit laer belastings beteken, hoewel Mboweni verlede week in ’n onderhoud gesê het hy is ten gunste van ’n spesiale belastingbedeling vir maatskappye in die finansiële sektor wat in die middestad van Johannesburg bedrywig is – maar nie in Sandton nie! Ons kan maar net raai hoekom die bevordering van finansiële dienste in Johannesburg se middestad ’n prioriteit moet wees.

Hy het verlede week ook gesê die staat se salarisrekening is te groot. Natuurlik is dit so. Hy het gesê die verkleining van die openbare sektor se betaalstaat sal lei tot “besparings” wat na openbare werke-projekte gekanaliseer kan word. Dit sal in sekere kringe verwelkom word, maar dit laat steeds groot vraagtekens oor sy siening van die begrotingstekort, en dit ignoreer ook die ontsaglike geldverkwisting, korrupsie en valse ekonomiese voordele wat met openbare werke en “infrastruktuur-projekte” gepaardgaan. Miskien sal sy mediumtermynbegrotingsrede groter duidelikheid bring, maar ons betwyfel dit.

Een faktor wat tans in die minister van finansies se guns tel, is dat belastinginkomste in 2018 groei ten spyte van aaklige ekonomiese toestande. Of dalk moet ons dit anders stel: BTW en ander belastingverhogings in Februarie werk blykbaar baie goed vir die staat, maar minder goed vir die privaat sektor.

In die grafiek hier onder stem belastinginkomste (dik donkergrys streep) ooreen met die begrote voorspellings van Februarie 2018 (dun groen streep) en beweeg dit stewig bo die swak 2015-2018-tendens (dun blou streep). Hierdie stygende belastinginvordering sukkel natuurlik om tred te hou met die toenemende besteding (dik ligblou streep), en dit is nie duidelik hoe volhoubaar die groei in belastinginkomste van hierdie omvang is nie, gesien die swak plaaslike ekonomie en verlangsamende wêreldgroei. En dan is daar ook nog berigte oor die SAID se e-filing-stelsel wat deur potensiële ineenstorting in die gesig gestaar word, en wat die indiening van belastingopgawes kan belemmer en nadelige gevolge vir inkomste-invordering kan hê.

russell-lamberti-2018-10-24

Grafika: Verskaf.

Die punt is dat Mboweni in vandeesweek se mediumtermyn-begroting met taamlik lewendige groei in inkomste by die graderingsagentskappe kan spog. ’n Begrotingstekort van nagenoeg 3% van die BBP, wat na verwagting in die komende jare tot effens laer as dié syfer sal daal, sal die beleggingsgemeenskap waarskynlik op die kort termyn tevrede stel. Wat regtig saak maak, is wanneer en hoe daardie voorspellings mettertyd werklikheid sal word.

Waarop om te fokus

Mboweni se eerste begroting sal dus waarskynlik sonder ’n groot bohaai verbygaan. Hy sal ’n paar stories vertel wat positief ingeklee kan word vanuit die perspektief van die ministerie van finansies: stygende belasting, vordering met die regruk van die SAID, en kosmetiese vordering om verrotte staatsbeheerde entiteite reg te ruk.

Ondanks sy klaarblyklike staatsgerigte en sosialistiese sienings is Mboweni gekonfyt in die gebruik van retoriek om die verskillende belanghebbendes in die sake- en beleggingsgemeenskap wat hy aan sy kant moet hou, te paai. Hy is sterk geskoei op die lees van die “tegnokratiese sosialis”. Met ander woorde, Mboweni is deel van die opponerende “hervormingsgroep” wat met die Zuma-administrasie se openlike staatsplundering bots. Vir hierdie faksie, gelei deur die nuwe president Ramaphosa, en Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, is die Zuma-era ’n aaklige diskreditering van die NDR en ’n bedreiging vir die legitimiteit daarvan. Die plan is om die NDR weer “op koers” te kry deur die staatsorgane wat deur plundering en onbekwaamheid onder Zuma verniel is, reg te ruk. Maar die NDR beoog steeds ’n pad na toenemende sosialistiese staatsbeheer oor die Suid-Afrikaanse samelewing en die ekonomie.

Waarna moet ons oplet in vandeesweek se mediumtermynbegroting?

  • Is daar enige duidelike erkenning van die ondraaglikheid van die begrotingstekort, en ’n geloofwaardige, beduidende plan om dit in die volgende fiskale jaar ten minste tot minder as R100 miljard te verminder?
  • Gaan daar verdere belastingverhogings of belastingverligting wees? (Die minister sal nie duidelike belastingvoorstelle maak nie, maar kan verwys na belastingbeleid vir Februarie 2019.)
  • Is daar ’n konserwatiewe waardering van huidige groei in belastinginkomste en ’n erkenning dat plaaslike en internasionale ekonomiese kragte kan meebring dat inkomstevoorspellings vir 2019 en 2020 te optimisties kan wees?
  • Word enige mate van privatisering van staatsbeheerde entiteite beoog?
  • Algemeen: Van kernbelang vir die mediumtermynbegroting is of die Ramaphosa-administrasie ’n sinvolle begeerte het om die grootte en omvang van die staat fundamenteel te verminder.

Elke minister van finansies – van Trevor Manuel tot Malusi Gigaba – het die staat as die alfa en omega van ekonomiese en sosiale lewe beskou, en hulle het dit in die begroting self tot uiting laat kom. Ja, Mboweni het net ’n paar dae gehad om hom in sy nuwe pos in te grawe, maar die “Nuwe Daeraad”-administrasie het al agt maande gehad. As hulle nie ’n mediumtermynbegroting kan formuleer wat op die bevryding van die privaat sektor, verligting van die belastinglas en betekenisvolle verkleining van die begrotingstekort gemik is nie, sal ons weet dat hervorming ’n blote illusie is.

  • Hierdie artikel word met die vergunning van Sakeliga geplaas.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers, Sakenuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Eish ·

Uitsonderlik goed beredeneerde en feitlik verifieerbare finansiële artikel! Mnr. Lamberti mag maar…

Jerry ·

Na aanleiding van die VBS plundering het realiteit ingeskop met Tito wat reeds aangedui het dat hy nie meer die ideaal koester vir n staatsbank nie. CR en Tito het nou hulle goeie intensies duidellik gemaak en nou gaan dit afhang van die opposisie of hulle saam gaan trek om die wa deur die drif te trek of nie. CR het die NDR vir eers gehalt, vandaar die besluit om die staatsdiens te verklein. Opposisie partye moet nou druk opsit dat sekere staatsbeheerde entiteite soos SAA geprivatiseer word. Skole, Hospitale, Eskom en Munisiepaliteite moet gereinig word van onbevoegde kaders wat geplunder het sodat dienslewering drasties kan verbeter. Produksie en uitvoere in die vervaardigingsektor, mynbou en landbou moet verhoog en indien dit kan gebeur, dan is daar tog hoop vir n effense herstel in die ekonomie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.