Mediumtermynbegroting: Staatsbesteding word nie genoeg ingeperk nie

geld ekonomie suid-afrika

Argrieffoto.

Die vakbond Solidariteit het vandag, na afloop van die mediumtermynbegrotingstoespraak, gesê die begroting het nie ver genoeg gegaan om staatsbesteding daadwerklik oor die medium termyn in te perk nie en voldoende markgerigte hervormings is ook nie aangekondig nie.

Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, is die regering se fiskale beweegruimte onder groot druk. “Die inperkings in die groei van staatsbesteding in die begrote vooruitskattings is onvoldoende om fiskale veerkragtigheid genoeg te ondersteun. Indien laer belastinginkomstes realiseer as waarvoor daar tans oor die medium termyn begroot word, sal die begrotingstekorte en skuldvlakke net verder vergroot. Sou ekonomiese skokke soortgelyk aan dié van 2007-2008 oor die medium termyn voorkom, kan begrotingstekorte die hoogte inskiet,” het Van Onselen gesê.

Hy het gesê onverwagte stygings in staatsskuld en begrotingstekorte sal die Suid-Afrikaanse regering se kredietgradering en by implikasie dié van die land, op die glybaan na rommelstatus laat versnel.

“Die enigste volhoubare uitweg is om die begroting se beweegruimte te verbreed deur staatsbesteding in te perk en markgerigte hervormings, soos die grootskaalse privatisering van staatsbeheerde instellings en ʼn afskaling van inmengingsmaatreëls, te onderneem,” het Van Onselen verduidelik.

“Hoër belastings is nie ʼn volhoubare oplossing nie, aangesien dit bloot die privaatsektor en ekonomiese groei verder sal belemmer,” het Van Onselen bygevoeg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Morne ·

Ag nee wil nie eers daar koop hulle so is. Ondervind deesdae ander probleme met Pick n Pay ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.