Meer op die spel as net Afrikaanse skole

Sewe instansies beywer nou hulself vir 'n kongres om Christelike onderwys te bevorder. Argieffoto.

Sewe instansies beywer nou hulself vir ‘n kongres om Christelike onderwys te bevorder. Argieffoto.

Deur Christoff van Wyk

Die geboorte van ons eerste kind was ʼn gebeurtenis wat ek nooit sal kan vergeet nie. As sorgvrye jong getroudes het ons skaars geweet wat om te verwag en was boonop amper te laat by die hospitaal. Skaars ʼn uur ná ons aankoms is sy gebore, ʼn ware klein wonderwerkie.

Die verantwoordelikheid wat jy in daardie oomblik skielik soveel meer intens beleef as jy daardie bondeltjie vashou, is onbeskryflik. Dan volg die ure en ure se grootmaak en opoffering. Voed, bad, speel, leer, troos, opvoed, tug, liefhê tot jou hart wil breek en dan nog meer. Elke dag, oor en oor.

Stadigaan, sonder dat jy dit bewustelik besef, stap die tyd aan en word hulle groter en ouer en raak die keuses wat jy vir hulle moet maak al hoe meer gewigtig. Soos ons keuse oor in watter land om te woon. Engeland, waar ons kinders gebore is en waar ons almal burgerskap het, of om terug te keer na Suid-Afrika.

Ons besluit was om eerder terug te keer na Suid-Afrika omdat ons graag ons kinders wou grootmaak met dieselfde waardes en geleenthede wat ons gehad het. Hegte familiebande met oupas, oumas, niggies, neefs, ooms en tannies. Afrikaanse kerke, skole en universiteite. Ons kinders sou as Afrikaners in Suid-Afrika grootword, want dit is ons plék. Daar is geen ander plek ter wêreld waar jy jou Afrikanerskap waarlik kan uitleef as in Suid-Afrika nie. Baie kan van my verskil, maar ek het eerstehands ervaar hoe vinnig jou Afrikanerskap verwater in ʼn ander land. Eers jou taal dan jou kultuur en binne ʼn geslag of twee neem jy die nuwe land se identiteit totaal aan. Dit was nie vir ons aanvaarbaar nie.

Ons oudste is tans in graad R. Ons moes onlangs aansoek doen vir graad een plasing vir volgende jaar. Die laerskool waar ons vir haar aansoek gedoen het en waar sy tans ook reeds graad R bywoon is ʼn staatsskool. ʼn Staatskool wat nog enkelmedium Afrikaans is en onbeskaamd Christelik. Te midde van al die agterbakse politiekery van die LUR, Panyasa Lesufi, met sy aanlynregistrasiestelsel, moes ons ook die naweek verneem van die grondwetlike hof se uitspraak rakende skoolbeheerliggame se mag om toelatingsbeleid te bepaal.

In ʼn neutedop het die grondwetlike hof die appèlhof se beslissing gehandhaaf wat beslis het dat die Gautengse onderwysdepartement die mag het om voedingsgebiede vir skole te bepaal asook om leerlinge te plaas in sekere skole wat nie tot kapasiteit vol is nie, ongeag die beheerliggaam se toelatingsbeleid. Die grondwetlike hof het dus nou nog ʼn skans vir die staat uit die weg geruim om sodoende te verseker dat die staat totale beheer kry oor skole in Suid-Afrika. Die volgende skans wat bykans reeds plat is, is skole se taalbeleid. As ʼn skool wat tans Afrikaans enkelmedium is, nie vol genoeg is nie, na die mening van die LUR, kan hy nou enige leerling wat nog nie geholpe is by ʼn skool nie, daar plaas. As die leerling dan Engels is, gaan die skool heel waarskynlik gedwing word om die kind te akkommodeer deur dubbelmedium- of parallelmedium-onderrig te implementeer. Statistieke wys dat dit gemiddeld vyf jaar neem vandat ʼn skool dubbel- of parallelmedium word, totdat dit volkome Engels is.

Indien daar nog twyfel is oor die LUR se motiewe met hierdie hofuitsprake kan daar eenvoudig gekyk word na sy Twitter-boodskap in 2015: “In a landmark case today, the Supreme Court of Appeal has instructed Afrikaans only schools to open up for all races! We won against racism.”

Die hof se uitspraak het nêrens iets genoem van Afrikaans nie, maar dis duidelik hoe Lesufi die uitspraak interpreteer en heel moontlik, teen wil en dank sal implementeer. Daar behoort dus geen twyfel meer te wees nie dat hy hierdie uitspraak en die mag wat dit hom gee, sal gebruik om enkelmedium Afrikaanse staatskole te teiken en te vernietig.  Indien dit die geval is, sal Afrikaanse enkelmedium staatskole onder soveel druk kom dat die meerderheid eenvoudig sal verengels of bloot toemaak.

Die mening is nou dat private Afrikaanse skole die weg vorentoe is en dit is definitief deel van die oplossing. Maar, die feit bly staan dat elke tree wat Afrikaanse mense en ook Afrikaners agteruit gee om die staat sy sin te gee, ʼn tree nader is aan totale oorheersing. Wanneer dit eers gebeur sal private skole ook nie meer ʼn antwoord wees nie.

Wat staan my en baie ouers soos ek dus te doen? Dit is van kritieke belang dat jou begrondingsgedagte vanwaar daar aksie geneem word, reg moet wees. Ons moet duidelik besef dat ons ʼn verantwoordelikheid het teenoor ons kinders. Hierdie verantwoordelikheid strek veel verder as net om te sorg dat my kind fisiek versorg is. Plek, taal en kultuur is nie iets wat ek gekies het nie en ek glo dat hierdie elemente, wat alles daaraan meewerk om my identiteit te vorm, Godgegewe geskenke is. Daarom kom ek nie van niks af nie en is ek ook nie op pad na niks nie, maar lewe ek ook met ʼn doel en ʼn roeping wat spesifiek uitgeleef moet word binne my bepaalde gemeenskap. Hierdie sienswyse is vir my kosbaar en dit is iets wat ek aan my kinders wil oordra. Die enigste manier om dit te kan doen, is om die vryheid en ruimte te hê waarbinne hierdie waardes, nie net in die privaatheid van ons huise nie, maar ook in die openbaar, uitgeleef kan word.

Lesufi en sy kaders glo nie hierin nie. Hy is deel van ʼn staat wat glo in mag wat uit gemeenskappe se hand geneem moet word en gesentreer moet word in ʼn sentrum wat ver bo die gewone gemeenskap verhewe is. Vanuit hierdie sentrum wil hy die stukke soos op ʼn skaakbord skuif na sy goeddunke en indien hy weerstand kry, wek dit onmiddellik vrees vir magsverlies en moet hy dan meer mag inwin om die weerstand te verbreek en dit uit die weg te ruim.

Die uiteindelike doel is om van bo af, uit hierdie sentrum, sy ideologie op die totale samelewing af te forseer. ʼn Ideologie waarin die staat bepaal hoe sy onderdane behoort te lyk (ras), waar hulle moet bly (eiendomsreg) en skoolgaan, hoe hulle moet dink (indoktrinasie) en wat hulle mag doen (fisieke beheer). ʼn Ideologie waar daar nie plek is vir veelheid of andersheid of teenstand nie.

Indien ons hierdie ideologie wil teenstaan, ter wille van ons en ons kinders se toekoms, is die enigste ware teenvoeter, sterk, gelowige gemeenskappe waaruit magtige tusseninstellings soos skole, kerke en ander burgerlike instellings kan groei en gevoed kan word. Daarom is ek betrokke en sal ek ook in die toekoms meer betrokke raak by my kinders se skool, die beheerliggaam, organisasies soos Fedsas, FAK, AfriForum, Solidariteit, die kerk en nog vele meer. My hoop en vertroue is lankal nie meer in die staat om die regte ding te doen nie. In geloof en met vertroue plaas ek my hoop op God en leef ek met alles tot my beskikking, sonder vrees vir my en my kinders se toekoms, sy plan uit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JC ·

Ai, dis ‘n oulike artikel!
ONS GEE NIE EEN TREE TERUG NIE, NIE EEN NIE!

Leendert van Oostrum ·

Oor twintig-dertig jaar gaan ons bly wees dat die Afrikaners gedwing is om die laaste krip waaruit hulle nog vreet te verlaat.

Want die voer is giftig – of dit met ‘n Afrikaanse lepeltjie gevoer word of nie.

Theuns ·

Ek hou van jou kommentaar Christoff. Flip Buys se kommentaar het ook betreking vanoggend. Met die eerste oog opslag sien ek ook dat deur die Privaat Skole en Universiteite te inisieer kry die Afrikaanse gemeenskappe ‘n dubbele straf . Belasting eerstens en tweedens privaat en ouers se bydraes. Dit beteken hoe moeliker dit vir die Afrikaner word hoe meer sal hy moet betaal. En uiteindelik word die ritereerende gemeenstap in ‘n situasie gedwing waar dit vir hulle onkostigbaar word en boonop alles wat jy sien en hoor Engels is. Daar moet ‘n ander uitweg wees. Ek stel voor dat ons ons belasting weerhou en dan sal jy sien hoe kom die regering aangehardloop om mooi te praat. Ons, Afrikaners moet ,as dit nodig, is ‘n Nuwe Afrikaanse Party stig en hoop almal stem vir hom! Die Party moet ook in die parlement so aggresief soos die EFF wees. Ons het genoegsame leiers in AfriForum, Solidariteit, en ander Instansies om die wa deur die drif te trek!

Pieter ·

Theuns, al sou elke enkele stemgeregtigde Afrikaner vir so ‘n party stem sou dit steeds minder as helfte van die EFF se huidige steun oplewer. Afrikanergetalle is te min om ooit ‘n invloed te kan uitoefen in die huidige politieke bestel. Die realiteit is verder dat ons getalle in verhouding besig is om teen ‘n verstommende tempo te krimp.

Die enigste verantwoordelike uitweg vir Afrikaners om nou te neem is om te beding vir onafhanklikheid (op munisipale vlak en hopelik uiteindelik staatkundig) sodat ons kinders nie verswelg word deur ‘n onverdraagsame meerderheidsregering nie. Hiervoor het ons ‘n bevrydingsorganisasie nodig, nie ‘n politieke party nie.

Die dag wat Afrikaners in erns begin om die verskillende moontlikhede van onafhanklikheid te debatteer sal ek juig, want al is dit ‘n uiterse moeilike pad om te stap is dit die enigste een wat Afrikaners ‘n kans bied op langtermyn oorlewing.

Rupert Ashford ·

100% korrek Pieter. Ek dink daar is ‘n groot klomp van die spul wat Engeland toe is om met hulle girlfriends te gaan speel na hulle klaargeswot het en wat teruggekom het wat hulleself vandag skop. Hoewel Engeland sy eie probleme het. Emigrasie is nie kinderspeletjies nie en staatkundige onafhanklikheid sal oor die ANC se dooie liggaam aan ons toegestaan word.

Pieter ·

Rupert. Ek het groot respek vir Afrikaners wat uit die buiteland terugkeer. Die vraag wat Afrikaners hulleself moet afvra is: “Hoe sou Afrikaners te werk moet gaan om uiteindelik onafhanklik te wees. Staatkundige onafhanklikheid is nie iets wat die ANC aan ons moet toestaan nie – dit sal uiteinde van ‘n proses wees waarvan die buitelyne reeds duidelik omstippel word in die internasionale reg. Die enkele groot element wat klaarblyklik nog afwesig is is Afrikaners se wil om die moeilike pad na onafhanklikheid aan te durf.

Theuns ·

Ek kry ook nie antwoorde op die OOREENKOMS wat tussen die partye gesluit is op die sogenaamde Vredes Onderhandeling van 1994 nie . (TRC) Selfs die Konstitunele Hof verbreek die ooreenkomste. Bv Lesufi vs Fedsas? Wat het geword van FW se wigte en teenwigte? Ou Roelf Meyer en Leon Wessels is ook doodstil terwyl hulle rus in hul gewaande vreugde vir die vrede wat hulle bewerstellig het! Dit was VERRAAD!

Johann Marx ·

Wil die blanke Suid Afrikaner Afrikaanspratertjies tog nie maar net vir EEN oomblik UIT die boks dink nie? Almal gaan nou tekere oor HOE Afrikaanse skole voorgeskryf gaan word om volksvreemde leerders toe te laat…en dan in Engels sal moet klas gee!! Al wat die Afrikaanssprekende moet doen is om hulle kinders by “Engelse Skole” in te skryf, en AAN TE DRING op dubbel medium onderrig in AFRIKAANS!! Die grondwet is tog daar vir almal van ons. As mense hulle kinders by Afrikaanse Skole kan inskryf in AANDRING op Engelse onderrig, kan ons mos ook kinders by Engelse Skole inskryf, en AANDRING op Afrikaanse onderrig!!! Dit sal net een kwartaal van chaos wees…..dan sal die “rulers” sien wat hulle mee opgeskeep sit…en hulle’t dit aan hulleself gedoen!

Henry ·

Johann
Afgesien van die tuisonderrig opsie en privaat skole, is jou oplossing mynsinsiens die logiese antwoord.

Ek het hierdie moontlikheid oor jare heen aan verskeie Afrikaners voorgestel, waaronder heelwat piete en pietinne wat ou hande in die onderwysberoep is. Almal stem saam, soos jy en ek, dat dit waarskynlik die mees doeltreffende en werkbare antwoord sal wees.

Probleem lê egter by die feit dat ouers nie bereid is om hul kinders na ‘n Engelse skool te stuur en in die proses hul kind se moedertaal skoolopleiding in gevaar stel, as deel van ‘n operasie wat moontlik jare kan duur.
Is ‘n moeilike ene…

Ethel ·

Ons is nou amper n jaar deel vd tuisonderrig korps. Doen bietjie navorsing daaroor en kyk hoe die getal tuisskolers gegroei en presteer het in S.A. neem dan verantwoordelikheid vir die kinders wat God jou gegee het….hulle is te kosbaar om te verkoop v n sosiale stand, ‘beter motor of n groot huis….

Rakker ·

Dis jammer, sodra hierdie mense faal en NIKS produktief SELF kan opbou nie, maar letterlik eerder afbrand, dan wil hul DIT wat nog huidiglik werk, oorneem en ook in chaos dompel. Hul KAN net nie die land opbou nie! Breek ALLES letterlik en figuurlik AF. Dis jammer om te sien, maar dis realiteit.

Adrian ·

Dit is duidelik , die afrikaner is die doring in die vlees van die kommunistiese gesonde anc. Druk die afrikaner uit dan word die hele land kommunisties die res van die bevolking is maar slap en aanvaar als. Die universiteite eerste dan skole dan kerke en so wurm hulself in tot hul jou beheer

Skatymir ·

Wat sê ons afrikaanse leiers van die situasie – FF+ en Afriforum. Is daar nie ‘n plan B nie? Ons kon tog met ‘n stok aanvoel dat dit sou gebeur. Wat het geword van “Doen jou ieie ding?”

Kyk bietjie mooi na die Suid Afrikaanse vlag as die swart en die goud pyl terug getrek word bly die vierkleur oor, is dit toevallig? En wat bly oor as die pyl geskiet word. Ek wonder maar net.
Kyk na vandag se Pretoria News voorblad – “Afrikaans must fall” grafiti by UP. Jare terug was daar ook in dieselfde trant ‘n “Verwoerd must go!” meme, en wat het toe gebeur? Wie is agter hierdie slagspreke want dit het dieselfde trant en dit kom van lankal af.

Rupert Ashford ·

Daar is ‘n plan en ‘n plek. Sy naam is Orania maar meeste Afrikaners is nog te grand daarvoor. Sal eers wil trek wanneer dit te laat is. As Orania kan groei tot iets merkwaardig met se 1 miljoen inwoners kan die selfbeskikking ding ook aangepak word.

johann brits ·

Alhoewel baie se houding jeens Orania nog negatief is,bied hulle tog ‘n alternatief waarna sommige moet kyk,deeglik moet ondersoek-1000 ekstra mense kan hulle saak ongelooflik sterk.Ek besef almal kan nie,maar moenie dat trots jou weerhou om moontlik daar ‘n verskil te maak nie.Kyk net,gaan kuier,oorweeg net.

jaco ·

watter standaard het tuisonderrig? jou kind kan mos die boeke en internet oophou as hy eksamen moet skryf? wie gaan check?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.