Meesterplan vir klein besighede: Nutteloos, onnodig en buite minister se magte

Deur Gary Moore

Gary Moore

Die minister van kleinsakeontwikkeling het in Mei vanjaar ʼn kennisgewing in die Staatskoerant geplaas waarin die publiek uitgenooi word om kommentaar te lewer op ʼn konsep vir ʼn “meestersplan” vir kleinsakeontwikkeling. Die tydperk waarin kommentaar op die konsepplan gelewer kon word, het nou verstryk.

Luidens die kennisgewing beoog die minister om die finale meestersplan in die Staatskoerant te publiseer, as ʼn strategie of beleid om kleinsakeondernemings te steun en te ontwikkel ingevolge die Nasionale Kleinsakewet van 1996.

Die Wet omskryf ʼn kleinsakeonderneming as ʼn eienaarbestuurde sakeonderneming wat in een van 11 ekonomiese sektore bedrywig is en die hoeveelheid werknemers en jaarlikse omset het wat hom as ʼn mikro-, klein- of middelslagonderneming (KMMO) in sy sektor kategoriseer.

Vreemd genoeg is die konsepplan eerder gefikseer op hoe om dié ondernemings so ver te kry om as belastingbetalers te registreer en sodoende “formeel” te word, as op hoe om hulle te ondersteun en te ontwikkel.

Die meestersplan praat van die aansporing (“incentivising”) van informele KMMO’s om aan die vereistes van belasting- en indiensnemingsadministrasie te voldoen. Die siening is dat deelname aan die “formele ekonomie” beteken om “vir belasting geregistreer” te wees, en dat die voorsiening van “formele indiensneming” die “indiening van ʼn IRP5-vorm” (werknemersbelastingsertifikaat) beteken, maar dat dit nie gewens is om formalisering te “forseer” nie.

Vir die minister van kleinsakeontwikkeling om te wil probeer om kleinsakeondernemings so ver te kry om aan belastingwette te voldoen, is nutteloos en onnodig en sy oorskry daarmee haar magte.

Kom ons begin by hoekom dit nutteloos is om kleinsakeondernemings te probeer oorhaal om aan belastingwette te voldoen.

Die meestersplan sê oorweging moet geskenk word aan nuwe benaderings om die registrasie van mense wat vir hulself werk en die alleeneienaars van sakeondernemings is moontlik te maak, op ʼn manier wat erkenning gee aan hul ondernemende bedrywighede.

Die meestersplan beveel aan dat ʼn proses ingestel word waarvolgens alleenhandelaars en entrepreneurs in eie diens hul bedryf of onderneming by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) kan registreer, nie om ʼn maatskappy te vorm nie, maar bloot om te laat aanteken dat hulle in die aangewese bedryf sake doen.

Met respek gesê, dit is naïef om te dink, soos die minister klaarblyklik doen, dat ongeregistreerde kleinskaalse entrepreneurs en vennootskappe in groot getalle by die CIPC sal registreer.

Trouens, die meestersplan erken dat rolspelers in die informele ekonomie die departement se voorgestelde registrasieproses met reg sal beskou as ʼn manier om hulle te dwing om belasting te betaal, en dat hulle gevolglik nie die departement se uitnodiging om te registreer sal aanvaar nie.

Sou dit onder die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se aandag kom dat ʼn kleinsakeonderneming wel geregistreer het soos die meestersplan voorstel, maar nie vir belastingdoeleindes geregistreer het nie, kan die SAID self daardie kleinsakeonderneming vir belasting registreer.

Die belastingadministrasiewet van 2011 bepaal dat waar iemand verplig is om ingevolge ʼn belastingwet by die SAID te registreer maar nalaat om dit te doen, die SAID daardie persoon vir een of meer soorte belasting kan registreer, soos onder die omstandighede van toepassing is.

Al trekpleister wat ongeregistreerdes in die versoeking sal bring om te registreer, is finansiële aansporings wat in KMMO’s se oë minstens gelykstaande is met die waarskynlike belastinglas asook ander laste en nadele wat hulle sal aantrek as hulle by die owerhede sou registreer.

Tweedens is dit onnodig om kleinsakeondernemings te probeer oorhaal om aan belastingwette te voldoen. Dit is onnodig om nuwe maatreëls te wil instel wat die registrasie van alleeneienaarondernemings vereis.  Die bestaande belastingwette vereis reeds van oningelyfde alleenhandelaars om te registreer.

Luidens die Wet op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens van 1997 is die doeltreffende invordering van belastinginkomste ʼn doelwit van die SAID, en moet die SAID, ten einde dié doelwit te behaal, die wydste moontlike toepassing van die belastingwette, waaronder die Inkomstebelastingwet en die Wet op Werkloosheidsversekeringbydraes, verseker.

Ingevolge die Inkomstebelastingwet van 1962 moet die kommissaris van die SAID jaarliks bekendmaak wie belastingopgawes moet indien. Dié jaarlikse kennisgewings van die kommissaris het nog altyd vereis dat elke natuurlike persoon wat in die jaar van aanslag “ʼn bedryf beoefen het”, ʼn opgawe moet indien.

Dit beteken elke natuurlike persoon wat ʼn bedryf beoefen het, ongeag wat sy of haar omset was, moet ʼn inkomstebelastingopgawe indien. Die Inkomstebelastingwet vereis dat elke persoon wat aanspreeklikheid vir die indien van ʼn opgawe oploop, as ʼn belastingbetaler geregistreer moet wees.

Die meestersplan is daarop gerig om die administratiewe voldoening aan indiensnemingsvereistes te verbeter.

Maar die wetgewing oor indiensneming vereis reeds dat alle klein werkgewers moet registreer. Die Wet op Werkloosheidsversekeringbydraes van 2002 skryf voor dat ʼn “werkgewer” (te wete “enige persoon” wat onder die verpligting verkeer om aan iemand ʼn salaris, loon of ander vergoeding te betaal) by die kommissaris van die SAID aansoek om registrasie moet doen.

Laastens, om te probeer om kleinsakeondernemings so ver te kry om aan belastingwetgewing te voldoen, val nie binne die magte van die minister van kleinsakeontwikkeling nie.

Die Nasionale Kleinsakewet omskryf die steunstrategie vir kleinsakeondernemings as die beleid oor die ondersteuning van kleinsake, soos die minister dit in die Staatskoerant afkondig, en wat onder meer ook die beleid omvat wat uiteengesit is in die Witskrif oor die Nasionale Strategie vir die Ontwikkeling en Bevordering van Kleinsakeondernemings, wat in 1995 in die Staatskoerant gepubliseer is.

Dit beteken die minister van kleinsakeontwikkeling kan slegs ʼn beleid (of strategie, of meestersplan, noem dit wat jy wil) vir die “ondersteuning”, “ontwikkeling” of “bevordering” van kleinsake afkondig.

ʼn Beleid wat kleinsakeondernemings aanspoor om as belastingbetalers te registreer, is nie ʼn beleid vir die ondersteuning, ontwikkeling of bevordering van kleinsakeondernemings nie, en kan na regte nie as sodanige beleid beskryf word nie.

  • Gary Moore is ʼn senior konsultant by die Vryemarkstigting. Hy het 30 jaar lank in Johannesburg as ʼn prokureur gepraktiseer. Hy is die skrywer van gepubliseerde artikels en monografieë oor die oppergesag van die reg, die regsgeldigheid van staatsoptrede, die betekenis van statutêre wette en wette wat kleinsake beïnvloed. Menings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is dié van die skrywer en word nie noodwendig deur die lede van die Stigting gedeel nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.