Meidag, ʼn dag om te vermy

werkersdag-mynbou-graffiti-frankryk

Foto: Djedj/Pixabay.com

Gister was Werkersdag, ook bekend as Meidag. Op die oog af klink dit reg om die mense wat hard werk om die brood vir hul gesinne te verdien, met ʼn vakansiedag te eer. Dit is immers wêreldwyd een van die algemeenste vakansiedae.

Dit is egter nie die werknemers wat gevier word nie, en nog minder werkende mense in die algemeen, wat ook selfstandige ondernemers insluit – dit is ʼn dag vir die werkers; meer spesifiek die proletariaat (oftewel die onderste laag van die samelewing).

Werkersdag soos dit op 1 Mei gevier word, het sy oorsprong in die VSA. Op 1 Mei 1884 het daar ʼn groot staking van vakbonde in Chicago begin vir die 8-uur-werksdag en beter werksomstandighede. Die staking het eers vreedsaam verloop, maar meer en meer botsings met die veiligheidsmagte het later plaasgevind. Op 4 Mei het ʼn anargis ʼn bom op die polisie, wat die staking wou opbreek, gegooi. Verskeie polisiemanne en ook burgerlikes is gedood deur die bom en die skietery wat daarna uitgebreek het. Verskeie anargiste, meesal Duitse immigrante, wat iets met die aanslag te doen gehad het, is daarna in hegtenis geneem. Hulle het doodstraf of lewenslange tronkstraf gekry, maar die eintlike skuldige – die een wat die bom gegooi het – kon nie geïdentifiseer word nie.

In 1904 het lede van die Sosialistiese Internasionale Organisasie tydens die Internasionale Sosialistiese Kongres in Amsterdam gevra dat 1 Mei voortaan as Werkersdag gevier moet word. Alle sosialistiese partye en vakbonde moes dan betoog vir die 8-uur-werksweek, vir die eise van die proletariaat as klas, en vir wêreldvrede.

Werkersdag was van die begin af ʼn uitsluitlik sosialistiese feesdag en het spesifiek gegaan oor die werkersklas en die Marxistiese idee van die uiteindelike oorwinning van die proletariaat oor die bourgeoisie (burgery). Dit het nooit gegaan oor ʼn waardering vir werk en werkende mense nie. Die eise van die vakbonde was wel grootliks legitiem en is vandag in die meeste lande vanselfsprekend, maar die sosialistiese partye en die linkse vakbondbewegings kan nie losgemaak word van die groter politieke eise en linkse utopieë (droombeelde) wat hulle gehad het nie.

In kommunistiese lande was (en is) 1 Mei altyd ʼn dag van magsvertoon teenoor die vyand, naamlik Westerse kapitalisme. In Westerse lande vind daar gewoonlik op 1 Mei gewelddadige betogings en ʼn orgie van vernietiging plaas. Dit word deur verlinkses gepleeg en sonder altyd een of ander sondebok uit. Tans word daar in Frankryk teen die Front National-party betoog, en in Duitsland teen die “regses”. Met werkersregte en werksomstandighede het dit niks meer te make nie en die meeste betogers is misleide kinders van burgerlikes wat nog nooit met hul hande gewerk het nie. Die hoofsaak is egter om jou haat op alles wat jou pla uit te druk. Die belastingbetaler moet dan vir die skade betaal.

In Suid-Afrika is Werkersdag sedert die magsoorname deur die ANC ook ʼn vakansiedag en word daar op dié dag die rol van die sosialistiese vakbonde, by name Cosatu, by die oorwinning oor die NP-bewind gevier. Dit bly egter nie by die terugwaartse kyk nie, want elke keer is daar eise vir ʼn verdere radikale transformasie van die ekonomie, met onteiening en nasionalisering in die naam van gelykheid.

Afrikanervakbonde soos Solidariteit en sy voorloper Mynwerkersunie het om goeie rede nie 1 Mei gevier nie. “Mei-dag is nie my dag nie” was destyds die leuse. Dit is ook reg so, want Afrikanerwerkers het hul werk slegs as ʼn deel van hul identiteit beskou, en waarskynlik nie as ʼn besonder prominente een nie. Eerder as om in die eerste plek werkers te wees, was en is hulle Afrikaners, Christene en gesinsmense. Die sosialistiese beweging wil juis werkers as klas skei van alle ander bindings soos volk, godsdiens, land, familie ensovoorts. Dit gaan ook nie net oor die regte van werkers nie, maar oor utopiese ideale soos wêreldvrede asook die oorwinning oor en vernietiging van kapitalisme en rassisme (of wat daarvoor aangesien word). Boonop is 1 Mei gebore uit geweldpleging. Destyds was die simpatie van die Amerikaanse bevolking veral aan die kant van die polisie, wat die openbare orde verdedig het en ʼn moontlike anargistiese magsgreep verhoed het.

Behalwe as jou sentimente by die sosialiste lê, behoort Werkersdag 1 Mei jou koud te laat.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

SARIE VAN HEERDEN ·

Maroela, dankie dat julle die inligting rakende Meidag met ons gedeel het.

John ·

Ons kan eerder ‘n dag vir werkloses begin… dit sal wereldwyd aanklank vind. Diegene wat werk dink nooit aan die res nie.

Therese van Schalkwyk ·

Interessant en insiggewend oor ‘n dag waaraan enige beskaafde mens hom beslis nie hoef te steur nie; veral na die lees van hierdie puik stuk en ook onlangse gebeure in Frankryk.

Die televisiebeelde van ses brandende Franse polisiemanne op Meidag in Parys spook nog steeds. Die man op wie se helmet ‘n “Molotov Cocktail” volgens berigte ontplof het, was heeltemal in vlamme gehul en ernstig beseer.

Dan sê hierdie nikswerd betogende skobbejakke Marine Le Pen “represents hatred and racism, that’s why we’re opposing her”. Die ironie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.