Meloni slaag eerste toets as nuwe eerste minister

Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni (Foto: Diego Ravier / Hans Lucas / Hans Lucas via AFP)

Die nuwe Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni, wat sedert Oktober 2022 in die tuig is, het haar eerste toets by die kiesers geslaag deur oorwinnings vir haar sentrum-regse alliansie in twee belangrike streeksverkiesings te behaal.

In die streek Lombardeie, rondom die ekonomiese kragsentrum Milan, het die sittende premier Attilio Fontana met 54% duidelik gewen teenoor die kandidaat van die sentrum-linkse blok met 34%. In die streek Latium, rondom die hoofstad Rome, het die sentrum-regse kandidaat Francesco Rocca met 50% teenoor die sentrum-linkse kandidaat met 35% gewen.

Die deelname aan beide verkiesings was egter besonder laag, wat die oorwinning effens in perspektief plaas.

Anders as in die geval van die welvarende Lombardeie, wat ʼn vestiging van die sentrum-regses is en reeds lank deur die Lega beheer word, is die arm Latiumvan deur die sentrum-linkse blok afgevat. Ook in nasionale meningspeilings styg die steun vir Meloni se Fratelli d’Italia (FdI) steeds, terwyl die steun vir die ander twee vennote in die sentrum-regse alliansie, Lega en Forza Italia (FI), stagneer. Nogtans hou die alliansie tans, want sonder die FdI sou Lega en FI in die politieke woestyn beland.

Dit was vir Lega ook belangrik dat Lombardeie steeds in hulle hande is. As ʼn kleiner party binne ʼn alliansie/ koalisie óf baie swak óf baie goed vaar in streeksverkiesings, is daar altyd die gevaar dat hulle weens desperaatheid of weens selfoorskatting die alliansie verbreek. Matteo Salvini, leier van Lega en Silvio Berlusconi, leier van FI, het beide hulle politieke hoogtepunte oorskry en besef dat hulle posisies as junior-vennote binne Meloni se regering die beste is wat hulle tans kan hê.

Vir die grootste party binne die sentrum-linkse blok, die Demokratiese Party (Partido Democratico, PD), was die hernude neerlaag in die streeksverkiesings, relatief kort na die nasionale verkiesing, ʼn gevoelige hou. Die sentrum-regse blok beheer nou 15 van Italië se 20 streke. Vir die PD lê nou ʼn tyd van struwelinge oor beleid en oor ʼn nuwe leierskap voor. Die sentrum-linkse blok kon ook nog nie daarin slaag om die links-liberale 5 Sterre Beweging deel van die alliansie te maak nie, en die linkse stem sal dus verdeel bly.

Vir Meloni was dit ʼn belangrike toets nadat sy onder groot internasionale vrees en kritiek weens haar “fascistiese” en EU-kritiese beleid haar pos as eerste minister betree het. Sy het egter van meet af pragmaties en versigtig opgetree en te veel omstrede besluite vermy. Internasionaal het sy geen drastiese beleidsverandering gemaak nie. Sy staan byvoorbeeld wat die sanksies teen Rusland en steun vir Oekraïne betref vierkantig agter die standpunt van die Europese Unie (EU) en die Nood-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), ietwat in teenstelling met haar twee alliansievennote Salvini en Berlusconi, wat eerder pro-Rusland is.

Ook wat die beleid teenoor die streke betref het Meloni, van wie weens haar party se sentralistiese en nasionalistiese tendense verwag is dat sy die outonomie van byvoorbeeld Suid-Tirool sal inkort, die bestaande status bevestig. Haar ekonomiese beleid en haar begroting is pragmaties en verskil min van haar voorganger. Die inflasie en skuldvlakke het effens gedaal, wat die ekonomiese druk op die land se burgers verlig.

Meloni het wel ʼn ommekeer bewerkstellig wat die vlugtelingspolitiek betref: vir internasionale reddingskepe wat onwettige immigrante naby die Noord-Afrika kus oplaai en na Europa vervoer, word dit nou moeiliker om Italiaanse hawens binne te gaan. Ook het sy haar gewig gebruik om die EU-vlugtelingspolitiek meer in die rigting van afweer pleks van innooi te druk.

Sy het ook met verskeie Noord-Afrika lande ooreenkomste gesluit om vlugtelinge terug te neem en om te help met die patrollering van die kus. Haar doelwit is om die asielaansoeke in enkele sentrale aanloopplekke in Noord-Afrika te hanteer, want as die migrante eers Europese bodem betree het, is dit moeilik, duur en tydrowend om hulle terug te stuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter9 ·

Giorgia Meloni die beste wat nog met Italie en Europa kon gebeur het – hou haar maar dop !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.