Meneer die President, dis tyd om die ligte aan te sit

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Geagte president Ramaphosa

Ras, plundering, magsbeheptheid, en ons sit in die donker.

Dit is 22:03 en ons krag is so pas weer af. Dit is die negende keer hierdie week. Ek skarrel rond om lig in die kinders se kamer te kry. Twee skryf môre toets. Ek het hierdie week my hekmotor- en alarmbatterye vervang. Alles beurtkragskade.

So sit ek en sukkel saam met miljoene ander mense van Suid-Afrika. Ondernemings ly skade en ek sien hoe die donkerte werk en welvaart steel. Hierdie donker oomblikke diskrimineer nie.

Eskom voorspel boonop nog dubbel soveel beurtkrag vir die res van die jaar as wat ons tot en met April beleef het. Hierdie donkerte is hier om te bly.

Meneer die President, ons is kwaad. Suid-Afrika is kwaad.

Ek weet presies waaroor ek kwaad is. My gesin sit in die donker as gevolg van u regering se obsessie met ras, staatsplundering en ʼn ideologie van sentralisering of magsbeheptheid.

Die gevolge hiervan is in my huis; in die plek waar ek moet veilig wees.

Ek wil vandag eerlik praat. Die heilige koeie wat ons krag eet, moet geslag word.

Kom ons begin sommer met die olifant in die kamer – ras sit ons ligte af.

Eskom was al in die 1990’s aangewys as een van die drie top regstellendeaksiemaatskappye en hulle was trots daarop.

Die eerste rassehofsaak wat Solidariteit gewen het, was teen Eskom.

In 2000 het Eskom sy rasprogram versnel en is daar sogenaamde plekmaakstrategieë vir werkers aangebied. R1,8 miljard, in vandag se terme, is uitbetaal om van wit mense ontslae te raak.

Vanaf 1994 tot 2002 het meer as 10 000 wit mense Eskom verlaat.

Dit was net te veel, te vinnig. Top vaardighede en institusionele geheue is weggejaag met min agting vir die jare diens wat die mense ingesit het om die ligte aan te hou.

Nog so onlangs soos 2017 wou Eskom van nog 1 308 wit kundiges ontslae raak.

Die bestuursvermoë en operasionele kennis van Eskom het ingeplof.

En ons sit in die donker.

Dit stop natuurlik nie daar nie. Buiten vir die rasbehepte personeelbeleid het Eskom se swartbemagtigingsbeleid tot verdere absurditeite gelei.

Kusile lê in die middel van steenkoolvelde. Dis immers een van die redes vir sy ligging. Steenkool kan met vervoerbande na die kragstasie geneem word. Maar, o nee, die myne in die omgewing voldoen nie aan die vereistes vir swart bemagtiging nie. Nou moet die steenkool ten duurste, teen ʼn premie, per vragmotor aangery word. Reusepremies moet in aankoopprosesse betaal word, ook vir swart bemagtiging.

Meneer die President. Ons moet dit noem wat dit is. Dis eenvoudig korrupsie en diefstal onder die dekmantel van swart bemagtiging.

En ons sit in die donker.

Hierdie korrupsie het sistemies geraak.

Volgens ʼn ondersoek van Boumans en die Spesiale Ondersoekeenheid is daar rooi vlae by kontrakte ter waarde van R178 miljard. Dit is R178 duisend miljoen! Dit is meer as wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens en al ons howe per jaar kos.

Sedert 2018 is 110 kriminele klagte deur Eskom gelê. ʼn Verdere 60 klagte is by die Spesiale Ondersoekeenheid en die Nasionale Vervolgingsgesag gelê. Brian Molefe vat by Eskom se pensioenfonds; hy het nog nie terugbetaal nie en ʼn strafregtelike klag is aanhangig gemaak, maar hy word nie vervolg nie.

Die korrupsie, diefstal en wanbestuur is tot op kragstasievlak. By Tutuka het R1,3 miljard se onderdele verdwyn. Ek herhaal, R1,3 duisend miljoen se onderdele verdwyn en word afgeskryf.

Sunday Times berig oor ʼn gewone mop wat vloere was, wat vir R200 000 aangekoop is. Dieselfde het met gebottelde water en vele ander aankope gebeur.

En ons sit in die donker.

Meneer Ramaphosa, op 10 Junie 2021 kondig u aan dat privaat kragopwekkers 100 MW krag privaat kan opwek en verkoop. ʼn Lisensie is nie eers nodig nie; slegs ʼn permit. Binne drie maande gaan die eerste permitte uitgereik word, het u gesê, en ons wag nog steeds.

Kommentators het u geloof vir die dapper besluit. Hulle het gesê dit is die einde van beurtkrag. Die land het ʼn sug van verligting geslaak. Deregulering van krag gaan ons red van die duisternis. Soos soveel ander goed moet die regering terugtree en gemeenskappe en die privaat sektor toelaat om die probleem op te los.

Die regering se ideologie van sentralisering is die probleem. Meneer Ramaphosa, u kan die kragkrisis vinnig oplos. Die antwoord is in die regering se hande. Die regering se obsessie om alles uit die Uniegebou te beheer, maak u aankondiging onmoontlik. Regulasies maak deregulering onmoontlik.

Daar is tot vandag toe nie een permit uitgereik nie.

En ons is sit in die donker.

Die antwoord is om weg te doen met ras, om plunderaars te vervolg en om krag te dereguleer.

Watter kleur die hand is wat die ligte aanhou, maak nie vir die duisende besighede wat vou en huishoudings wat sukkel saak nie.

Hierdie kwessies is die groot struikelblokke om ons ligte weer aan te sit. Al hierdie struikelblokke kan voor die deur van die regering gelê word.

Dis tyd dat die land en sy mense voor die party, sy ideologie en gulsigheid geplaas moet word.

Terwyl die ligte in die Uniegebou en ministerswonings nooit afgaan nie, sit my gesin saam met miljoene ander in die donker en die regering beheer die skakelaar.

U is die staatshoof, u staan tussen ligte aan en ligte af in ons land.
U staan tussen ligte aan en ligte af vir kinders wat moet leer.
U staan tussen ligte aan en ligte af vir hulle wat moet werk.
U staan tussen ligte aan en af in my huis.
U is die simbool van die gebrek aan wil van die regering.

Meneer Ramaphosa, u kan die kragkrisis vinnig oplos. Die antwoord is in die regering se hande.

Staan op en sit die ligte aan.

Groete
Dirk Hermann
Bestuurshoof: Solidariteit

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Watsenaam ·

Ai Mnr. Herman, Ons edele die president lees nie eens hierdie berig nie. Wat nog te se DOEN, iets om die saak op te los nie. Ons weet dat sommige van die parlementeriers nie eers verstaan wat hulle lees, of verstaan wat van hulle verwag word nie. Al wat hulle ken is….. los dit maar daar. Ek dink nie ons kan wag tot die volgende verkiesing om hulle uit te gooi nie, (dit sal nie gebeur nie). Die enigste manier om hulle uit die stoelle te dwing is radikale gedrag. Hy, die agbare hoof, edele skelm, luister net dood eenvoudig nie na enige iemand behalwe sy kaders nie. Praat en pleit help nie, hulle in die parlement teer op ander se swaarkry, dit gee hulle die gevoel van mag. Intussen bly die krag af en die land in sy mag.

Groen Ghoen ·

Ramaphosa kan nie die ligte aansit nie… want die krag is alweer af. Daar is nie krag nie want Eskom het beurtdonkerte ingestel. Daar is beurtkrag want die steenkool is nat/herstelwerk/en so gaan die sirkel aan jaar na jaar na jaar

Hendrik ·

Elektrisiteit is ‘n noodsaaklikheid vir industrie, hospitale en ander bedrywe maar dit is tyd dat ons as gemeenskappe ook inspring en ons gemeenskap bekragtig. Soos Kallie Kriel ook al gese het dat ons gaan nie meer vra of ons iets kan doen nie maar ons gaan dit doen. Dit is tyd dat gemeenskappe soos bv. Kleinfontein wat ‘n solar aanleg het vergroot word en krag verskaf aan die omliggende gebiede.

Kokerboom ·

Dirk, vertaal in Engels en stuur vir “our people’s President” en versoek terugvoer

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Uitstekende artikel wat ook in Engels moet verskyn.

In die ANC se kommunistiese National Democratic Society, ook voortaan bekend as eMzansibabwe, is elektrisiteit nie belangrik nie. Wat belangriker is, is POLITICAL POWER and MONEY POWER, of anders gestel: CORRUPTION. Suid-Afrika se grootste probleem is die kanker-pandemie sedert 1994 bekend as “gierigheid”. Tragies.

Heinrich ·

Goeie skrywe, maar gemors op die “agbare” president. Hy is steeds die kop van die monster wat die land plunder.

Harley Davidson ·

Beywer julle om die weskaap afgestig te kry van Suid-Afrika en daar sal lig aan die einde van die tonnel wees praat help niks die ANC verstaan net afbreek en anargie.

Janine ·

Ek wil nie in die Kaap gaan bly nie, dankie. Die weer sal my na selfmoord dryf binne die eerste 6 maande. Ek soek son en see. Nie yswater nie.

Smiley ·

Ek hoor op die plaaslike radiostasie Ramaphosa kom Sondag Bloemfontein toe om te help slaggate toegooi. Eks jammer vir die res van julle maar hy gaan so lank hier besig wees ek twyfel of hy gaan tyd he om aan Eskom aandag te gee.

Pieter ·

Dirk – trots om deel te wees van jou beweging – waar sou SA se “mense” nie gewees het sonder jou en jou span nie. Hou so voort. Respek.

annie ·

… enigiemand wat droom oor die afstig van die Wes-Kaap, droom. Ons sal eerder nog in Suid-Amerika dalk weer ‘n staanplekkie kan koop as om die geskiedenis te verander. Waarop baseer die mense hul teorie dat soiets moontlik kon wees? Of is dit braaivleisvuur-polemiek? Ná ‘n skeutjie KWV?

piet ·

Raak tog net ontslae van die ruiter en sy ander wit handlanger ook. Net so useless soos al die ander probleme wat genoem word.

Schalk ·

Puik opgesom, maar helaas dit val op dowe ore. As dit van CR afhang sal die standaarde bly sak want sy kabinet put groot voordeel daaruit. Die ANC speel die rassekaart maar tegnologie in sosiale media wys hul plundering uit en die stemvolk gaan iewers agterkom dat die koek opge-eet is en net die groot pense mense het daaruit gebaat.
‘n Ware leier sal sy onbekwaamheid erken en homself met sterker mense versterk wat die ware woorde sal spreek en die dade uitvoer wat nodig is. Die onbekwaamheid van die uitgediende verlepte politieke ideologie is duidelik sigbaar in die land se verval en gly na onder. Ras en geslag gaan nie die kriteria vir sukses bepaal nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.