Meneer die president, gee asseblief ons Stem terug

dr-danie-langner-fak

Dr. Danie Langner van die FAK. Foto: Fak.org.za

President Ramaphosa se stelling in die parlement op 24 Mei 2108, dat “Die Stem” nie ’n simbool van Afrikaneridentiteit is nie, maar ’n simbool van diskriminasie, verdrukking en ellende roep om ’n antwoord.

Met die eerste oogopslag staan die president se stelling in skrille kontras met staatsmanskap van president Mandela wat in die voorwoord van die Nasionale Simbole van Suid-Afrika skryf dat “Die Stem”, “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, die landsvlag en landswapen “die manifestasie is van ’n begeerte om nasionale konsensus te bereik.”

Van die eertydse konsensus oor simbole en identiteit het vandag min oorgebly. Suid-Afrikaners het goeie rede om bekommerd te wees oor die rasseklimaat van disrespek en polarisasie wat die fyn nate van sosiale kohesie vinnig lostorring. In die konteks het die sing van “Die Stem” vir baie Afrikaners ’n proteslied teen die minagting, miskenning en marginalisering van kulturele identiteit en geskiedenis geword. Deur “Die Stem” as deel van Afrikaners se kultuurhistoriese identiteit te ontken of om die kompleksiteit van geskiedenis te vervlak tot ’n eensydige meesterverhaal, bied geen oplossing om anderkant die impasse van die huidige klimaat en giftige debatte te tree nie.

Dit kan nie ontken word dat die bodem waaruit “Die Stem” ontstaan het, Afrikaners se identiteit gevorm het nie. Toe die woorde van “Die Stem” op die wintersaand van 31 Mei 1918 uit die digpen van Langenhoven gevloei het, het hy met die heroïese gedig aan Afrikaners, wat besig was om op te staan uit die ashope van die Anglo-Boereoorlog; wat verwond en verdeel was na die Rebellie; wat kultureel minderwaardig teenoor die meerderwaardigheid van Britse imperialisme gevoel het, ’n nuwe Stem gegee.

Die skepper en meester van die eerste Afrikaanse woordelys en spelreëls het met “Die Stem” Afrikaners se liefde vir die ewige gebergtes en ver verlate vlaktes van Afrika in die fynste taal vertolk.

Met dié gedig het Langenhoven bevestig Afrikaners hoort hier. Ons is van Afrika.

In ons wil en werk en handel,

Van ons wieg tot aan ons graf.

Deel geen ander land ons liefde,

Trek geen ander trou ons af.

Met dié gedig het Langenhoven Afrikaners herinner aan die grootse vryheidsdaad uit hul verlede toe hulle met die kreun van ossewa teen Britse kolonialisme opgestaan het.

Met die vierde strofe van “Die Stem” het Langenhoven in die woorde van DJ Opperman aan die Afrikaanse volk ’n gebed gegee.

“Poësie” word deur NP van Wyk Louw beskryf as “ ’n knooppunt van vele kragte, die roerlose punt tussen vele spannings: van tydsgebeure en tydeloosheid, van intellek en drif, van eensaamheid en werking na buite, van ’n absolute skoonheid en die stof van die daaglikse taal; so dan is dit die knooppunt van ’n eie persoonlikheid se strewe en ’n volk se bestaan.”

Geen wonder dat die gedig en die note wat ML de Villiers daaraan toegevoeg het, dadelik by die breë publiek byval gevind het nie.

Op ’n ligter noot moet ons toegee dat Langenhoven self baie nederig oor “Die Stem” geoordeel het. Op 2 Junie 1918 ontvang Sarah Goldblatt ’n brief waarin hy skryf: “Hierbij stuur ik jou ’n gesangetjie wat ik geskrijf het met musiek wat ik daarbij gekomponeer het – harmonie en al. Jij sal dink dit beteken maar bliksems min – maar ons moet maar sukkel tot ons eendag ’n volkslied het. Laat hom maar so verskijn dan kan iemand daar beter musiek bijset, en als hij die het dan weer iemand anders daar beter woorde bijset.”

Afrikaners het vandag as kultuurgemeenskap ’n historiese taak om met groot wysheid en deernisvolle sensitiwiteit ons eie kultuurhistoriese erfenis en simbole in beskerming te neem en te koester.

Juis omdat “Die Stem” deel van ons kultuurhistoriese identiteit en erfenis is, mag Afrikaners nie op ’n arrogante of onverskillige wyse ons doof hou vir die president se waarskuwing dat “Die Stem” steeds vir baie landgenote ’n simbool van diskriminasie, verdrukking en ellende is nie. Ons kan maar net dink hoe Afrikaners in 1918 gevoel het oor “God save the Queen” en “Rule Britannia”.

As Afrikaners “Die Stem” slegs sing om een of ander politieke stelling te maak, is ons nie net mede-aanspreeklik vir ’n klimaat van onverdraagsaamheid en rassekonflik nie, maar plaas ons die toekoms van “Die Stem” op ernstige risiko.

Die vraag aan president Ramaphosa is nie of “Die Stem” tot vergetelheid verban moet word nie, maar hoe kan Suid-Afrikaners op ’n verantwoordelike wyse anderkant die engtes van die politieke debat mekaar se kulturele identiteit en kultuurhistoriese erfenis akkommodeer?

In antwoord hierop is die FAK se versoek aan president Ramaphosa eenvoudig. Meneer die president, gee asseblief ons Stem terug.

Die FAK se versoek is gesetel in die oortuiging dat ’n voorspoedige, regverdige en vreedsame Suid-Afrika steeds moontlik is as daar ’n gees van wedersydse respek en skeppende samewerking tussen al die gemeenskappe van ons land, tot voordeel van almal is. Tot op 11 Junie 1957 het die outeursreg van “Die Stem van Suid-Afrika” aan die FAK as koördinerende kultuurorganisasie behoort. Daarna is die outeursreg oorgedra aan die Suid-Afrikaanse regering. Deur die outeursreg van die volledige “Die Stem” aan die FAK terug te skenk, bevestig u op ’n simboliese wyse die status van “Die Stem” as ’n Afrikaner-kultuurlied.

Op dié wyse lig ons “Die Stem” uit die politieke bokskryt, sodat “Die Stem” as ’n kultuurlied soos ander Afrikanerkultuurliedere in die FAK-Sangbundels gekoester, gesing en bewaar kan word.

So ʼn simboliese daad van staatmanskap het geen impak op die kopiereg van die Nasionale Lied of die plek van “Die Stem” se paar reëls daarin nie.

Die paar Afrikaanse reëls van “Die Stem” wat steeds saam met ander tale deel van ons nasionale lied is, is nie net die gevolg van konsensus nie, maar ook ’n simbool van die ruimteskeppende land wat Suid-Afrika vir al sy gemeenskappe kan wees. Terselfdertyd is dit ’n herinnering aan die uitdagings wat ’n veelkantige demokrasie aan alle Suid-Afrikaners stel en die staatsmanskap wat dit van almal verg om die huidige verskille te oorkom.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

Wil ons nog sterf vir SA… of beter nog leef en sterf in SA? Die FAK is nou multikultureel en nie meer ‘n Afrikaner-organisasie nie. Die Stem is uitsluitlik Afrikanergerig en geen organisasie of wie ook al kan hierdie waarheid draai met ‘n slinkse kinkel nie. Waarheid is waarheid. Afrikaans is nie ‘n pas na ever-green-grasperke nie. Die rysmiere floreer daaronder. Om ‘n Afrikaaanse plaashoed op te sit en in ‘n Afrikaner-miskoek te trap vir die plaas-effek en geur en die Stem oor die werf te bulder, maak van niemand ‘n Boer nie. Dit is amper soos grondonteiening net baaaaie… Lees meer »

Paul

Ek het dit daardie tyd onderaan ‘n artikel gevra, en ek vra dit nou weer hier; “Wat ‘n arrogansie het CR om my te vertel wie en wat ek is nie, om my Afrikaneridentiteit te wil definieer.” Hy het maar geen reg daartoe nie.

Pietman

Baie maklik om ‘n kultuur te onderdruk en vernietig. Jy sê net hul taal , liedere , standbeelde en geskiedenis is ‘n simbool van vedrukking en moet verdwyn. Moet die afrikaner dan aandring dat die britse vlag en engelse taal moet verdwyn? EK het nie ‘n saak wat ander affronteer nie. Dis my kultuur en niemand anders het segenskap daaroor nie.

Ou Vlakvark van Geliefde Suid-Afrika

Geagte dr Langner, baie dankie vir hierdie opbouende skrywe.
Welke volk of nasie is heiliger as heilig of heiliger as enige ander volk of nasie? Geen . Welke volk of nasie se geskiedenis is vlekloos, wit soos melk? Geen.
Geduld, verdraagsaamheid en vergewensgesindheid is kenmerke van ‘n mens met integriteit en geestelike volwassenheid. Mag ons rolmodelle vir ons jeug probeer wees.

Annamarie Olivier

Ja asseblief gee ons ons Stem terug. Of miskien net ‘n plek waar ons dit in vrede kan sing en ons eie vlae wapper.