Meneer die president, gee asseblief ons Stem terug

dr-danie-langner-fak

Dr. Danie Langner van die FAK. Foto: Fak.org.za

President Ramaphosa se stelling in die parlement op 24 Mei 2108, dat “Die Stem” nie ’n simbool van Afrikaneridentiteit is nie, maar ’n simbool van diskriminasie, verdrukking en ellende roep om ’n antwoord.

Met die eerste oogopslag staan die president se stelling in skrille kontras met staatsmanskap van president Mandela wat in die voorwoord van die Nasionale Simbole van Suid-Afrika skryf dat “Die Stem”, “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, die landsvlag en landswapen “die manifestasie is van ’n begeerte om nasionale konsensus te bereik.”

Van die eertydse konsensus oor simbole en identiteit het vandag min oorgebly. Suid-Afrikaners het goeie rede om bekommerd te wees oor die rasseklimaat van disrespek en polarisasie wat die fyn nate van sosiale kohesie vinnig lostorring. In die konteks het die sing van “Die Stem” vir baie Afrikaners ’n proteslied teen die minagting, miskenning en marginalisering van kulturele identiteit en geskiedenis geword. Deur “Die Stem” as deel van Afrikaners se kultuurhistoriese identiteit te ontken of om die kompleksiteit van geskiedenis te vervlak tot ’n eensydige meesterverhaal, bied geen oplossing om anderkant die impasse van die huidige klimaat en giftige debatte te tree nie.

Dit kan nie ontken word dat die bodem waaruit “Die Stem” ontstaan het, Afrikaners se identiteit gevorm het nie. Toe die woorde van “Die Stem” op die wintersaand van 31 Mei 1918 uit die digpen van Langenhoven gevloei het, het hy met die heroïese gedig aan Afrikaners, wat besig was om op te staan uit die ashope van die Anglo-Boereoorlog; wat verwond en verdeel was na die Rebellie; wat kultureel minderwaardig teenoor die meerderwaardigheid van Britse imperialisme gevoel het, ’n nuwe Stem gegee.

Die skepper en meester van die eerste Afrikaanse woordelys en spelreëls het met “Die Stem” Afrikaners se liefde vir die ewige gebergtes en ver verlate vlaktes van Afrika in die fynste taal vertolk.

Met dié gedig het Langenhoven bevestig Afrikaners hoort hier. Ons is van Afrika.

In ons wil en werk en handel,

Van ons wieg tot aan ons graf.

Deel geen ander land ons liefde,

Trek geen ander trou ons af.

Met dié gedig het Langenhoven Afrikaners herinner aan die grootse vryheidsdaad uit hul verlede toe hulle met die kreun van ossewa teen Britse kolonialisme opgestaan het.

Met die vierde strofe van “Die Stem” het Langenhoven in die woorde van DJ Opperman aan die Afrikaanse volk ’n gebed gegee.

“Poësie” word deur NP van Wyk Louw beskryf as “ ’n knooppunt van vele kragte, die roerlose punt tussen vele spannings: van tydsgebeure en tydeloosheid, van intellek en drif, van eensaamheid en werking na buite, van ’n absolute skoonheid en die stof van die daaglikse taal; so dan is dit die knooppunt van ’n eie persoonlikheid se strewe en ’n volk se bestaan.”

Geen wonder dat die gedig en die note wat ML de Villiers daaraan toegevoeg het, dadelik by die breë publiek byval gevind het nie.

Op ’n ligter noot moet ons toegee dat Langenhoven self baie nederig oor “Die Stem” geoordeel het. Op 2 Junie 1918 ontvang Sarah Goldblatt ’n brief waarin hy skryf: “Hierbij stuur ik jou ’n gesangetjie wat ik geskrijf het met musiek wat ik daarbij gekomponeer het – harmonie en al. Jij sal dink dit beteken maar bliksems min – maar ons moet maar sukkel tot ons eendag ’n volkslied het. Laat hom maar so verskijn dan kan iemand daar beter musiek bijset, en als hij die het dan weer iemand anders daar beter woorde bijset.”

Afrikaners het vandag as kultuurgemeenskap ’n historiese taak om met groot wysheid en deernisvolle sensitiwiteit ons eie kultuurhistoriese erfenis en simbole in beskerming te neem en te koester.

Juis omdat “Die Stem” deel van ons kultuurhistoriese identiteit en erfenis is, mag Afrikaners nie op ’n arrogante of onverskillige wyse ons doof hou vir die president se waarskuwing dat “Die Stem” steeds vir baie landgenote ’n simbool van diskriminasie, verdrukking en ellende is nie. Ons kan maar net dink hoe Afrikaners in 1918 gevoel het oor “God save the Queen” en “Rule Britannia”.

As Afrikaners “Die Stem” slegs sing om een of ander politieke stelling te maak, is ons nie net mede-aanspreeklik vir ’n klimaat van onverdraagsaamheid en rassekonflik nie, maar plaas ons die toekoms van “Die Stem” op ernstige risiko.

Die vraag aan president Ramaphosa is nie of “Die Stem” tot vergetelheid verban moet word nie, maar hoe kan Suid-Afrikaners op ’n verantwoordelike wyse anderkant die engtes van die politieke debat mekaar se kulturele identiteit en kultuurhistoriese erfenis akkommodeer?

In antwoord hierop is die FAK se versoek aan president Ramaphosa eenvoudig. Meneer die president, gee asseblief ons Stem terug.

Die FAK se versoek is gesetel in die oortuiging dat ’n voorspoedige, regverdige en vreedsame Suid-Afrika steeds moontlik is as daar ’n gees van wedersydse respek en skeppende samewerking tussen al die gemeenskappe van ons land, tot voordeel van almal is. Tot op 11 Junie 1957 het die outeursreg van “Die Stem van Suid-Afrika” aan die FAK as koördinerende kultuurorganisasie behoort. Daarna is die outeursreg oorgedra aan die Suid-Afrikaanse regering. Deur die outeursreg van die volledige “Die Stem” aan die FAK terug te skenk, bevestig u op ’n simboliese wyse die status van “Die Stem” as ’n Afrikaner-kultuurlied.

Op dié wyse lig ons “Die Stem” uit die politieke bokskryt, sodat “Die Stem” as ’n kultuurlied soos ander Afrikanerkultuurliedere in die FAK-Sangbundels gekoester, gesing en bewaar kan word.

So ʼn simboliese daad van staatmanskap het geen impak op die kopiereg van die Nasionale Lied of die plek van “Die Stem” se paar reëls daarin nie.

Die paar Afrikaanse reëls van “Die Stem” wat steeds saam met ander tale deel van ons nasionale lied is, is nie net die gevolg van konsensus nie, maar ook ’n simbool van die ruimteskeppende land wat Suid-Afrika vir al sy gemeenskappe kan wees. Terselfdertyd is dit ’n herinnering aan die uitdagings wat ’n veelkantige demokrasie aan alle Suid-Afrikaners stel en die staatsmanskap wat dit van almal verg om die huidige verskille te oorkom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

John ·

Wil ons nog sterf vir SA… of beter nog leef en sterf in SA? Die FAK is nou multikultureel en nie meer ‘n Afrikaner-organisasie nie. Die Stem is uitsluitlik Afrikanergerig en geen organisasie of wie ook al kan hierdie waarheid draai met ‘n slinkse kinkel nie. Waarheid is waarheid. Afrikaans is nie ‘n pas na ever-green-grasperke nie. Die rysmiere floreer daaronder. Om ‘n Afrikaaanse plaashoed op te sit en in ‘n Afrikaner-miskoek te trap vir die plaas-effek en geur en die Stem oor die werf te bulder, maak van niemand ‘n Boer nie. Dit is amper soos grondonteiening net baaaaie erger.

Fanie ·

John, jy blaf by die verkeerde boom. Jy verwar die FAK met ‘n ander organisasie.

Paul ·

Ek het dit daardie tyd onderaan ‘n artikel gevra, en ek vra dit nou weer hier; “Wat ‘n arrogansie het CR om my te vertel wie en wat ek is nie, om my Afrikaneridentiteit te wil definieer.” Hy het maar geen reg daartoe nie.

Pietman ·

Baie maklik om ‘n kultuur te onderdruk en vernietig. Jy sê net hul taal , liedere , standbeelde en geskiedenis is ‘n simbool van vedrukking en moet verdwyn. Moet die afrikaner dan aandring dat die britse vlag en engelse taal moet verdwyn? EK het nie ‘n saak wat ander affronteer nie. Dis my kultuur en niemand anders het segenskap daaroor nie.

Ou Vlakvark van Geliefde Suid-Afrika ·

Geagte dr Langner, baie dankie vir hierdie opbouende skrywe.
Welke volk of nasie is heiliger as heilig of heiliger as enige ander volk of nasie? Geen . Welke volk of nasie se geskiedenis is vlekloos, wit soos melk? Geen.
Geduld, verdraagsaamheid en vergewensgesindheid is kenmerke van ‘n mens met integriteit en geestelike volwassenheid. Mag ons rolmodelle vir ons jeug probeer wees.

Annamarie Olivier ·

Ja asseblief gee ons ons Stem terug. Of miskien net ‘n plek waar ons dit in vrede kan sing en ons eie vlae wapper.

Willem ·

En daar eien Ramaphosa hom die reg toe om die Afrikaner te beduie dat Die Stem nie ‘n simbool van sy identiteit is nie. Wie gee hom daardie reg om besluite oor my simbole te neem??

Moeg ·

Ek is moeg daarvoor om te moet verklaar, regverdig, mooi praat dat ons ook ‘n plek in die land het. Ek is moeg vir liberalemagswoorde soos inklusief, meerderheidsregte, oopmaak, weggee, terugstaan.

B-man ·

CR beplan om lank president te wees as hy teen 2108 nog uitsprake wil maak.

Kannaland ·

Jip. Jy ken mos Afrika leiers en hulle neiging om te klou aan mag.

Vrotti ·

Did you know, Helmut Lotti earns R100mil per year from the Nkosi Sikelele through copyright claims.

Jerry ·

Dr. Danie, dankie dat u, u kennis mbt die ontstaan en die belangrikheid van die “stem” vir die Afrikaner met ons deel. Die positiewe ingesteldheid waarmee u die probleem ontleed en aanspreek, spreek boekdele van u as persoon se goeie intensies. Ek is oortuig daarvan dat die president na u sal luister, al is dit net omrede u die woord “asseblief” gebruik. Die president is ook n persoon met goeie intensies en goeie maniere en het ook nie tyd vir hoogmoedige en arrogante mense en hulle eng gesette beginsels en menings nie. Die president is oop vir dialoog, dit het hy gewys met die AB en die meer gematigde Afrikaner organisasies. So n dialoog, so vertrou ek, tussen u en die president, sou dit plaasvind, sal n baie interresante uitkoms tot gevolg he en baie skeptiese mense se oe oopmaak.

Liberaal ·

Dialoog is belangrik want ons moet daaroor praat en onsself oopmaak om ons eiendom, regte in die werksplek en lewensruimte af te gee. Ons liberales kan mos net emmigreer. Ek weet nie wat die gaan doen wat te oud, nie goed gekwalifiseerd of finansieel bedeeld is nie maar hulle verskein nie eers op die liberale agenda nie so, kom ons praat met die regering, gee ons eiendom oor en vertrek na die buiteland met n glimlag en voelgoed hart.

Gert ·

Danie Langer is natuurlik heeltemaal reg dat dit Boere is wie teen Britse kolonialisme geveg het. Bietjie tong in die kies wonder ek of die Openbare Beskermer eens daarvan weet? Weet die regeerders van die dag dat die land onder die Afrikaner ‘n republiek, buite Britse heerskappy geword het? Wat ons vandag sien is ‘n vertrapping van ons kultuur en taal, en ons eiendomsreg kom ook nou onder skoot.

Ons kan ons regte uitleef, en self daaroor besluit, wanneer ons oor ons eie grondgebied regeer. Dit is realisties, en is nodig vir oorlewing in ‘n sisteem wat al meer vyandig word.

HB ·

Namibie se politieke leiers het net na onafhanklikheid die beleid gevolg van “die verlede is die verlede kom ons werk aan die toekoms” en die blankes en die afrikaners uitgelos. Geen gekrap in die verlede ens. nie met die gevolg dat ons as Namibiers kon groei ongeag ras of kleur. Daar was geen openlike minagting, miskenning of marginalisering van kulturele identiteit deur die regeerders nie en nou gee ons om vir mekaar as Namibiers. Goeie lesse hier te leer.

CG ·

Dr. Danie. Goeie idee! Mooi geskryf! Dankie dat u ook een van ons stemme is.

JC ·

Die grootsheid van “Die Stem” en die kosbaarheid daarvan vir ons volk word pragtig geillustreer deur die feit dat dit selfs opgeneem is in die links-liberale skrywe Andre P. Brink, se Groot Verseboek. Dit spreek boekdele oor die belang en onmisbaarheid daarvan, te wete dat die prag daarvan, en grondliggendheid aan die Afrikaner-boere volk, ALLE ideologiese grense oorskry en as samebindende faktor werk.

Jordaan ·

Ons kan herhinner word aan hoe Afrikaners gevoel het oor “God Save the Queen”, maar is dit ooit verban soos wat nou skynbaar die ANC se begeerte tov die Stem (en die vlag) is?

Willem ·

Die Afrikaner is van nature nie ‘n mens met ‘n minderwaardige gevoel wat ander vertrap nie.

Francois ·

Nee wat Danie, ons het nie CR nodig om ons identiteit vir ons te definieer nie. Hy betree nou n baie gevaarlike terrein . Indien hy hierdie land verantwoordelik wil bestuur dan moet hy nie gemeenskappe teen mekaar opstel nie.

Mike ·

Haal die Stem uit nkosi uit niemand het toestemming verleen om dit daarin te plaas nie.

hermit ·

Vrotti, interesting seeing that it was originally composed in 1897 – any reference of your source might lend some credence.
(note to admin – I rather take exception to your ‘jong’ reference)

humor ·

Ag vir die ou grote is dit die maklikste manier om stemme te wen. Knyp net die Afrikaner en gebruik die woord rassisme en sidaar hoe kom die stemme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.