Mengelmoesies, die dood van Afrikaans

Prof. Hans du Plessis. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Weet jy nog van lord Charles Somerset se aanslag op Afrikaans teen die eeuwending aan die begin van die negentiende eeu? Onthou jy C.P. Hoogenhout se moedelose versugting oor Engels, alles Engels teen die vorige eeuwending en die afdwing van Engels deur lord Milner pas ná die Anglo-Boereoorlog?

Verstaan jy dat ons nou weer op ʼn eeuwending sit, dalk daarop sit en slaap? Weer is Afrikaans in die spervuur, hierdie keer met ʼn klomp politieke bagasie op die taal se rug.

Afrikaans het die twee lords oorleef, maar of sy die ANC se fyn beplande marginalisering van moedertale gaan oorleef, is ʼn ope vraag. Hoofsaaklik omdat die oorlewing van inheemse tale hierdie keer op volkome selfsorg aangewese is. Daar is nie meer ʼn simpatieke regering wat kan help nie, ons sal onsself moet help.

Ek dink ek hoor Hoogenhout praat asof hy die huidige gesprek aan die afluister is:

Engels! Engels! Alles Engels!
Engels wat jy sien en hoor;
sonder skole, sonder kerke,
word elke moedertaal vermoor.

Ons is weer op ʼn eeuwending, maar dié keer is daar ʼn virus by waaronder die strategie soos onder ʼn maatemmer verberg word. Engelse eentaligheid het ongesiens, welgehoord, die enigste amptelike taal van die koronagesprek in Suid-Afrika geword.

Natuurlik hoor ek al klaar weer die ou, ou verhaal dat ons weer oor Afrikaans kerm terwyl daar belangriker goed is om ons oor te bekommer. Ek weet, maar sou ons gewone sterflinge nie dalk die belangriker dinge beter kon verstaan het as ons die dieper debat elkeen in ons eie moedertaal kon volg nie? Van een ding is ek oortuig en dit is dat Afrikaanse jongmense vandag ʼn oplossing in Engels kan verskaf omdat die probleem kleintyd in Afrikaans aan hulle verduidelik is. Dis dié dat Deon Meyer wêreldberoemd geraak het en dat Nasa Japie van Zyl opgeraap het, al is albei in Afrikaans opgelei.

Of Afrikaans – of enige van ons inheemse tale – die ANC-aanslag gaan oorleef, is die vraag, want so onder ons ore het Engels die enigste de facto amptelike taal geword.

Maar dit is nie vandag my eintlike probleem nie, want as die magtige Empaaier Afrikaans nie kon onderkry nie, sal ʼn ANC-regering dit seker ook nie regkry nie. Behalwe natuurlik met die hulp van die moedertaalsprekers van Afrikaans. Dit geld natuurlik ook die moedertaalsprekers van al die ander inheemse tale, maar ek kan net oor Afrikaans praat.

Afrikaans se toekoms word in die eerste plek deur sy eie mense bedreig. Soos dat Afrikaanse kinders glo Engelse skole moet bywoon om in ʼn demokratiese Suid-Afrika en in ʼn geglobaliseerde wêreld te kan oorleef! Alle skole moet mos nou skielik Engels wees. Seker dié dat Leonardo da Vinci en Goethe en Leo Tolstoy in Engelse skole was …

Dit is die beledigende Afrikaanse radio- en televisie-adverteerders wat dit benede die waardigheid van Afrikaanses beskou om die slotslagspreuk uit Engels te laat vertaal en dit eerder skaamteloos net so in Engels gee. Die hele advertensie op ʼn Afrikaanse radiostasie of televisiekanaal is in Afrikaans, maar die trefsin is Engels – dan is die kopieskrywer in baie gevalle nog boonop Afrikaans! En die ergste is dat die Afrikaanse koper dit sonder meer aanvaar en sowaar sodanige adverteerders bly ondersteun.

Maar Afrikaans se grootste probleem is die spul mengelmoesies wat nie ordentlike Afrikaans of Engels kan praat nie en dan die twee meng ten einde hul intellektuele onvermoë te verbloem. Nou praat ek nie van die bona fide-variëteitsprekers van Afrikaans, soos tieners of die gebruikers van verskillende omgangsvariëteite nie. Ek praat van vrot uitvoerende kunstenaars en predikers wat nie eintlik ʼn boodskap het nie. Hulle is tog só bang iemand dink hulle is dalk uit huis uit Afrikaans!

Dit wil vir my lyk of Afrikaans die toets van oorlewing aan die dop is noudat moedertale in Suid-Afrika vir hulself moet sorg. Op die vyfde eeuwending sedert die eerste Afrikaanse woord.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Hans Du Plessis

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaun

Inderdaad: dit is die vrot uitvoerende kunstenaars en predikante wat die taal óók verkrag. Daarby moet ons wel ook daardie vrot uitvoerende kunstenaars, predikante, joernaliste en sportsterre se aanhangers wat hulle swak Afrikaans duld en na-aap ook oor die kole haal. Jou woordeskat en taalgebruik is losweg die beste aanduiding van jou intelligensie en selftrots. ‘n Mens wat moeite doen met sy woordkeuse en taalgebruik is iemand wat ook trots is op sy produk, uitsette en werk.

Pieter Rubeus

Afrikaans is ‘n taal wat deur baie gepraat en geskryf word. Ek ken ontsaglik baie mense, beide wit, swart, kleurlinge, indiers, portugese in Suid Afrika wat die ons mooi taal praat. Afrikaans sal bly al wens ander dit weg. Ons taal is baie mooier as enige ander taal.

Dr Leunis

….die Afrikaner dat hy geen spreektaal van sy eie gehad het nie, en/of in sy eie skrywe nie. Na die oorlog het die Afrikaner, die Boervolk se taal (Boers) hernoem na Afrikaans, om sodoende voor te gee dat dit sy eie taal is. So het die Afrikaner ook die Boervolk se geskiedenis herskryf, en homself die begunstigde daarvan gemaak,
om uiteindelik die Boere se Vaderland te kan eis (in ’n
potjiekos-beskawing).
Ten slotte moet die Boervolk sy Moedertaal terug neem, siende dat ons nie meer energie oor het, om Afrikanergroeperings met kultuur te dra nie. Hulle
kan met trots en ons seën, Engels bevorder.