Mengeltaal en fopnuus oor Afrikaans

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof van internasionale skakeling. Foto: Reint Dykema.

Op 11 April 2018 het Kraal Uitgewers ’n gesprek oor Grensoorlogpublikasies aangebied. Die sprekers was dr. Leopold Scholtz en Louis Lubbe. ’n Lewendige gesprek uit die gehoor het op hul bydraes gevolg. Van die deelnemers hieraan was senior offisiere wat in die Suid-Afrikaanse polisiediens en -weermag gedien het.

Dit was ’n baie interessante byeenkoms. Nie alleen het die vertellinge oor die oorlog my geboei nie, maar deurgaans ook die taalgebruik. Hoewel almal oor baie tegniese aspekte van oorlogvoering en wapentuig gepraat het, was dit vir ’n leek soos ek verstaanbaar en verder sonder uitsondering in suiwer Afrikaans.

Deesdae is dit mode om suiwer Afrikaans as stokkerig en onverstaanbaar te probeer uitmaak. Die ingooi van ’n Engelse woord of drie in ’n sin is kastig veronderstel om die gesprek meer eietyds, ontspanne en toeganklik te maak.

Ál wat hierdeur bereik word, is dat die spreker ʼn slegte indruk maak.

’n Ervare spreker is iemand wat kleurryke taal só gebruik, dat dit altyd vloeiend en interessant klink. Hy of sy is verder in staat om die gehoor te lees, en nie te hoogdrawend of neerbuigend met hulle te praat nie. ’n Boeiende onderwerp of aantreklike spreker is op die lang duur nie genoeg om ’n luisteraar se aandag te behou nie. Die luisteraar wil tuis en gerespekteer voel, en die gebruik van suiwer, kleurvolle en verstaanbare taal is presies wat daarvoor nodig is.

Die spreker wat tale meng, ’n gehoor soos ’n kleuterskool behandel of so ver bo hulle kennisvlak praat, dat hulle nie ’n woord verstaan nie, mors almal se tyd.

Mengeltaal dui eweneens op disrespek vir die toehoorders en skep die indruk van ’n spreker wat te lui, of nog erger, te dom is om samehangend oor sy of haar spesialisgebied in een taal te kan praat.

Deesdae word ons toegegooi deur Engels en baie Suid-Afrikaners werk ook nog in ʼn omgewing wat eentalig (Engels) is. Afrikaanssprekendes is in die bevoorregte posisie dat ons redelik twee- of meertalig is. Ons moet moeite doen om hierdie voordeel te behou en verder uit te bou deur te oefen om steeds Afrikaans, Engels en selfs meer tale vlot te praat – beide in ’n sosiale én professionele omgewing. Veeltaligheid is ’n gesogte vaardigheid in die internasionale werkomgewing.

Instellings soos AfriForum en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bied byvoorbeeld gereeld simposia en konferensies aan waaraan sprekers in Afrikaans kan deelneem. LitNet en Maroela Media gee aan skrywers ’n platform waar bydraes in Afrikaans gepubliseer kan word. Dit is die soort geleenthede wat ons moet aangryp en skep.

Verder moet ons waak teen fopnuus oor Afrikaans. Van die belaglikste voorbeelde hiervan waarmee ek onlangs te make gehad het, sluit die volgende in:

In ’n radiogesprek vir matrikulante is hulle deur ’n sogenaamde kenner aangeraai om nooit ’n CV in Afrikaans op te stel nie. Dit sou volgens haar “onprofessioneel” lyk. Ek kan matrikulante verseker dat AfriForum, asook verskeie ander instellings en selfs beursfondse juis ’n CV gaan oorweeg omdat dit in Afrikaans opgestel is.

Wanneer ons by AfriForum besluit om werksaansoekers vir ’n onderhoud te nooi, moet ons bewyse sien dat die persoon moeite gedoen het om vas te stel wie die instelling is by wie hy/sy die aansoek indien; of die aansoeker ons doelstellings respekteer, ons werkskultuur verstaan en naatloos daarby sal inskakel. ’n Engelse CV bewys die teendeel.

Dit sal ewe onvanpas wees om ’n Afrikaanse CV by ’n Engelse maatskappy of organisasie in te dien. Die professionele aansoeker doen navorsing oor die taalvoorkeur van die moontlike werkgewer en dien die CV dienooreenkomstig in;

’n Erger voorbeeld wat al meer gereeld by ons aangemeld word, is diensverskaffers wat besluit om eentalig diens te verskaf (waarskynlik om koste of moeite te bespaar), maar dan oneerlik oor hul besluit is en hul kliënte inlig dat “die wet” eentalige Engelse dienslewering vereis. Een eiendomsbestuursagentskap met wie ons onlangs te make gehad het, het selfs bygevoeg dat “die wet” vereis dat alle Suid-Afrikaners Engels moet kan praat. Mense wat nie daagliks op hierdie terrein werk nie, laat hulle maklik intimideer om te glo dat sulke wette inderdaad bestaan.

’n Suid-Afrikaanse besigheid of diensverskaffer kan self kies in watter taal diens gelewer sal word. Net so kan die klant of kliënt self besluit van wie se diens gebruik gemaak sal word, of nie. Beide word egter volgens die Wet op Verbruikersbeskerming verplig om seker te maak dat kommunikasie in ’n taal geskied wat beide verstaan.

AfriForum beveel dus aan: vra Afrikaanse diens en as dit nie gelewer kan word nie, soek ’n ander diensverskaffer. Indien vae bewerings gemaak word oor nuwe wette wat eentaligheid verpligtend maak, moet dit ook nie sondermeer glo nie – vind eerder eers uit of daar enige waarheid in die bewering steek;

Verlede week het ons van ’n nasionale beleggingsmaatskappy verneem wat kliënte inlig dat hul testamente nou in Engels opgestel gaan word. Die besigheid se besluit word met ’n gruwelike verduideliking in swak Engels gemotiveer: “… the decision was spurred from an order made by our courts to eradicate the Afrikaans language from our judiciary systems, this means any legal document will now be required to be drafted in English”.  Dit is ook nie waar nie. Die taal van hofrekord mag tans net Engels wees – die geldigheid van die besluit word nog betwis – maar dit beteken hoegenaamd nie dat die besluit ook op alle regsdokumente van toepassing sal wees nie. Sou ’n testament dus byvoorbeeld in ’n hofgeding betwis word, kan dit, indien nodig, professioneel vertaal word. Dieselfde geld vir enige kontrak of ander dokument.

Wéér word kliënte verkeerd geadviseer aan die hand van ’n besigheidsbesluit waarvoor die besigheid self nie verantwoordelikheid wil aanvaar nie. Dat gelas is dat Afrikaans uitgewis (eradicate) moet word, is eweneens ’n aanvegbare stelling – as dit inderdaad ooit was wat die skrywer van die brief bedoel het. Daar is natuurlik die moontlikheid dat sy nie die betekenis van die woord reg verstaan het nie.

As dit by taalsake kom, is die beste aksieplan om so ver as moontlik te hou by die taal wat jy die beste ken en verstaan. Afrikaanssprekendes moet tans versigtig wees en vreemde uitsprake oor veranderde taalbeleide of wette bevraagteken voor dit aanvaar word. Dit mag jou nie alleen moeite bespaar nie, maar kan jou ook teen uitbuiting beskerm.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

koos ·

Baie geluk met hierdie opbouende artikel oor die gebruik van Afrikaans .
Dit is goed om te hoor dat Afrikaans by genoemde geleentheid suiwer aangebied was!
Geluk.

waco ·

Afrikaans is n pragtige taal. Ons moet veral ons jeug aanmoedig om dit suiwer te praat en trots wees op ons taal. Ek dink ons moet dit as modegier vestig en dalk sal die res volg. Dit is veral swaar op die oor as ouer mense probeer bybly by die jeug en hulle taal meng met woorde soos “awesome en great” ens. Eintlik is hulle pateties.

Vermeendes ·

Afrikaans is sekerlik die mooiste taal indien die reg gebruik word maar Afrikaans is besig om agter te bly, hy stagneer. Afrikaans word lankal nie meer ontwikkel nie, Hollands het geen eie woord vir computer nie maar ons het die woord rekenaar aanvaar, maar dan het ons ook geen woord vir windows in rekenaars nie. Die lekkerste eie woord wat wel spontaan aanvaar en so lekker omskrywend is bakkies blad vir face book.
Al is ons taal onder druk rus die onus op ons wat dit gebruik om self nuwe woorde te ontwikkel op n speelse manier en ons moet ophou om ons sterre wat ons taal so vervleg te volg, dit is ook onfelukkig so dat die suiwer gebruik van n taal ook die teken is van n goeie intelek en die vermenging van n taal laer intelek.
So as jy wil slim klink praat n suiwer laat.
Klink en nou baie slim?

Marius ·

n Mooi gedagte vir n mooi taal… Maar afrikaans sterf nie, sy vrek soos n dier: rukkend en hortend. Spelling gaan vir die varke, afrikaanse musiek is n grap. Ons nasie is aan die kwyn… Daar is regtig bitterlik min hoop oor. Ek is elke dag meer oortuig daarvan dat my die feet dat my kinders in n afrikaanse skool is, kort sifting en dwaas van my is want ook ons gaan een van die dae moet op pak en terug keer na die spreekwoordelike kos potte van Egipte… Ons is in hierdie land nie meer welkom of aanvaarbaar nie. Besef dit, en beweeg aan. Ten minste sal jy eendag in n ander land kan oud word voor jy dood word, en terug dink aan die goeie ou dae…

JoeV ·

Jong Afrikaans sprekendes het dit nie onbewustelik in hulle om die kultuur en taal te onderhou nie. Hulle is van kleins af geleer in publieke skole en in die media om sleg te voel oor hulle herkoms. Tekens op facebook en ander pleke dui dat daar darem ‘n ommeswaai “wil” plaasvind onder hulle, maar nou het die bloedjies nie ‘n vorm van “gesag” om na te kyk vir rigting en raad nie. Ons het nie verkose verteenwoordiging nie.
Ons sit ook met die media huise (DSTV se Afrikanse kanaal) wat hulle daarop roem om die wonderlike moderne Afrikaans in hulle flieks en reekse te bevorder, natuurlik tot hulle eie nadeel in die langduur want hulle wis hulle eie basis van bestaan uit!
Sien by die werk daar is jonges wat met moeite Afrikaans probeer reg praat, maar hulle het al so verval dat dit vir hulle kwalik moontlik is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.