Mening: Sportminister moet eerder doen as dreig

Minister Nathi Mthethwa. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

Asof die pandemie en sy gepaardgaande probleme nie genoeg is nie, het Suid-Afrikaanse sport nou ook die uitdaging van die minister van sport Nathi Mthethwa se uitlatings en dreigemente.

Mthethwa kan veel eerder sy gebrek aan kennis van Suid-Afrika se sportsituasie toesmeer deur te doen wat ook deur so baie van sy voorgangers nagelaat is: ontwikkeling. Dit sluit baie nou aan by die onlangse raad van Steve Diamond, direkteur van rugby by die Sale Sharks, aan die minister.

Dit is by dié voorste Premierliga-klub waar sewe Springbokke onder aanvoering van die oudkaptein van die Blou Bulle, Jono Ross, onder skoot is omdat hulle nie in ooreenstemming met die BLM-emosie voor wedstryde kniel nie.

“Ek meen politici moet nie betrokke raak nie, hulle maak meestal ʼn gemors daarvan wanneer hulle dit doen,” het Diamond oor die aangeleentheid gesê.

Dit laat jou nadink oor wat Mthethwa en sy departement nou eintlik doen om sport aan die massas te verskaf. Voortgesette vingerwys na die finansieel sukkelende sportorganisasies, sonder dat die regering toetree en ʼn bydrae lewer, is onaanvaarbaar.

Daar is letterlik honderde duisende swart skolespelers in afgeleë plattelandse streke waar daar weinig tot geen voorsiening vir afrigting en ontwikkeling in enige sporte gemaak word nie. Daar is nie ordentlike of selfs naastenby voldoende netbalbane, kolfnette, krieket-, rugby-, sokker- of hokkievelde nie; en afrigters in dié gebiede is vir hul opleiding van die nasionale sportunies se karige fondse en personeel afhanklik. En dít is eenvoudig óf nie daar nie óf te min.

Makazole Mapimpi. (AP Photo/Christophe Ena)

Op internasionale vlak in rugby, krieket, hokkie, netbal en veral atletiek – en ook vele ander sporte – is daar genoeg voorbeelde van die baie swart talent wat daar is en net ontgin moet word. Dink maar aan Makazole Mapimpi, wat sy kans gekry het toe hy by Grens as klubspeler en amateur gekies is toe dié unie bankrot gespeel het.

Nou is die minister en sy ewe onbekwame voorgangers se klag, onder meer, dat daar nie genoeg vir ontwikkeling gedoen word nie en swart sportsterre net via die voormalige Model-C-skole deurbreek (soos Siya Kolisi en Lukhanyo Am, Trevor Nyakane en Bongi Mbonambi en vele ander rugbyspelers); die legendariese voormalige kaptein van die nasionale vroue-hokkiespan Marsha (Marescia) Cox wat 347 toetse gespeel het en drie keer (in 2007, 2009 en 2010) vir die Internasionale Hokkiefederasie se Wêreldspan gekies is; en sommer baie, baie ander.

Maar weet Mthethwa dat die huidige nasionale vrouehokkie- en -netbalkapteins, onderskeidelik Sulette Damons en Bongiwe Msomi, se kinderspore in swart gebiede lê? Eersgenoemde kon toe darem wel deur haar huishulpmoeder se werkgewer op Union Hoër in Graaff-Reinet hokkie leer speel. En drie van die vier swart spelers in die nasionale netbalspan kom uit swart gebiede. Doen tog ook iets om meer súlke spelers te vind, Minister! Moenie net vinger wys vir die onderskeie sportliggame wat nie die tyd, mannekrag of fondse het om in plekke spelers te gaan soek en te ontwikkel terwyl dit elders van talent wemel nie.

Krieket in die ministeriële spervuur

Kom ons vergeet maar van die lughoue wat Mthethwa benewens die Black Lives Matter (BLM) na rugby mik. Dis oor krieket wat hy éintlik boos is. Dit gaan klaarblyklik daaroor dat daar te veel wit gesigte aan die stuurkant van die krieketboot is.

Pleks van aksie is daar van Mthethwa se kant eenvoudig net ʼn onkundige geneul en nou ook dreigemente, onder meer, dat die regering sal inmeng as transformasie nie vinnig genoeg geskied nie. Hierdie dreigement is die minister se bydrae gegrond op klaarblyklike oningeligtheid oor die transformasievordering wat daar deur Krieket Suid-Afrika (KSA) gemaak is. Word sy dreigement uitgevoer, is daar die moontlikheid van die KSA se skorsing uit die Internasionale Krieketraad.

Toegegee, sake by KSA ís deurmekaar. Maar dit kom al ʼn baie, baie lang pad. Die één ding waarvan die organisasie egter nie beskuldig kan of behoort te word nie, is Mthethwa se bewerings van die oorwegende getal wit gesigte in KSA. Hoe bring die minister die kloutjie by die oor? Net 13% van die voltydse KSA-werknemerstal van 64 is wit. Van die 12 raadslede (voor bedankings en tugmaatreëls) was net drie wit. Dis nou twee uit tien ná die bedanking van prof. Steve Cornelius.

Thabang Moroe. (Foto: Twitter)

Terloops, die verhoudingsgetalle van swart tot wit sou nóg meer oorheersend gewees het as dit nie was dat die KSA se bedryfshoof, Naasei Appiah, afgedank is, dat die president Chris Nenzani uit die bloute bedank het ná hy maande lank geweier het om dit te doen en Thabang Moroe, die uitvoerende hoof, steeds geskors is nie.

Boonop word die (heeltemal foutiewe) verhouding van swart teenoor wit op die bestuur wat die minister so verkeerdelik omkrap, verder weerlê deur dít wat op die veld aangaan.

Temba Bavuma, ʼn gereelde lid van die Proteas wat sy kolf die praatwerk laat doen, is uitgesproke oor dié situasie. Hy het in Februarie laat blyk hoe ongemaklik hy is wanneer sy naam in transformasie-praatjies ter sprake kom. Hy speel krieket omdat hy lief is vir die spel, sê Bavuma. As transformasie die skuld kry wanneer swart spelers sukkel, moet transformasie se sukses ook erken word wanneer die swart spelers goed vaar, meen hy.

Manne soos die kleine Bavuma, Vernon Philander, Hashim Amla, Kagiso Rabada, Lungo Ngidi, Keshav Maharaj, Andile Phehlukwayo en Imran Tahir is spelers wat gereeld volgens die vereistes van bepaalde wedstryde hul kans gekry en dit goed gebruik het en hul plekke in die span dubbel en dwars verdien.

Net soos hy oor die situasie op administratiewe vlak skeeftrap, wonder ʼn mens of minister Nathi Mthethwa hoegenaamd weet dat daar deurgaans in plaaslike wedstryde ses swart spelers op franchise- en provinsiale vlak in spanne moet wees? En ook dat die Proteas, geoordeel op ʼn seisoen-gemiddelde, ses uit die 11 spelers vir wedstryde moet hê? Weet hy hoe getransformeer ons nasionale spanne is?

Die volgende, geoordeel aan die verhouding tussen wit en swart spelers, is ʼn bewys dat daar reeds groot spronge met kriekettransformasie gemaak is:

  • Vir die drie krieketreekse – toetse, eendagwedstryde en 20 boulbeurte – verlede jaar in Indië was 15 van die 29 Suid-Afrikaanse spelers swart: Temba Bavuma, Zubayr Hamza, Keshav Maharaj, Senuram Muthusamy, Lungi Ngidi, Vernon Philander, Junior Dala, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Dane Piedt, Kagiso Rabada, Beuran Hendricks, Andile Phehlukwayo, Lutho Sipamla, Tabraiz Shamsi.
  • In Januarie vanjaar was net ses van die spelergroep van 15 vir die eendaagse wedstryde teen Engeland wit spelers;
  • Vir die Wêreldbeker-toernooi in Engeland was agt van die aanvanklik gekose 15 spelers wit, maar ná die vervanging van Dale Steyn (beseer) deur Beuran Hendricks, was die wit spelers se sewe in die minderheid

Só kan jy met die nasionale krieketspanne aangaan. Ook met die rugby, waar die Junior Springbokke verlede jaar minder wit spelers as spelers van kleur ingesluit het.

Rugby-onsekerheid

Álles is seker nie nét die pandemie se skuld nie, maar dit wemel van die probleme oor die ganse rugbywêreld. Aanstaande jaar se finansieel broodnodige toer van die Britse en Ierse Leeus is alles behalwe ʼn voldonge feit. Amper daar, maar …

Daar is steeds ook onsekerheid oor wanneer, waar en wie rugby sal en mag speel en daarmee saam ook die onvermydelike wag-en-sien-benadering oor ons eie en ook oorsese rugbykompetisies – insluitende uitsluitsel oor toetsrugby.

Bloot uit die oogpunt van rugby se voortbestaan in Suid-Afrika is die uitsluitsel oor aanstaande jaar se Leeus-toer sekerlik die belangrikste. Daar is einde verlede jaar nog by monde van SA Rugby se president, Mark Alexander, gesê 37 000 Leeus-ondersteuners word vir die korste toer nóg na Suid-Afrika verwag. Daar is ook geprojekteer dat die belastingvoordeel vir die regering sowat R450 miljoen sou beloop en dat 13 000 tydelike poste geskep sou word.

Jurie Roux. (Foto: Twitter)

Nieu-Seeland Rugby het ná die Leeus se 2017-toer ʼn rekordwins van sowat R208 miljoen getoon. SA Rugby en die unieke formule van samewerking met die Britse en Ierse leeus vir die 2021-toer sal heel waarskynlik aansienlik groter winste as die Kiwi’s s’n tot gevolg hê, mits alles natuurlik volgens plan verloop. Verlede week het die SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, egter gesê die Leeus se toer kan uit ʼn kommersiële oogpunt afgestel word indien toeskouers nie wedstryde mag bywoon en mense nie na Suid-Afrika mag reis nie.

Die syfers wat deur Alexander genoem is, het waarskynlik al aansienlik verminder. Oorsese besoekers sal nie sommer hul geld waag op ʼn toer wat onbepaald in die weegskaal is nie – en hoe later die finale groen lig gegee (kan) word, hoe groter sal dié effek wees. Vir Suid-Afrikaanse rugby sal dit ʼn uiters gevoelige slag wees. Met die pandemie se invloed is dit vir SA Rugby nóg belangriker dat die aanvanklike geprojekteerde syfers behaal word ná die kortknip van die 2020-Superrugby en die afstel van die drie Julie-toetse en die Rugbykampioenskap wat boonop in die weegskaal is.

Daar sal sekerlik ʼn afsnydatum vir ʼn finale besluit oor die toer kom… maar tot dan is dit vir SA Rugby ʼn tyd van onsekerheid.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Hy weet nie hoe om te ontwikkel nie!

#Tsek Nathi Mthethwa tsek

SomeOne

hy weet nie wat om hom aangaan nie

Kokerboom

Sy hoofdoelwit is politieke gewin.
Sportontwikkeling lê baie laag op sy prioriteitslys en ver verwyder van sy kapasiteit

JohanR

Minister moet eerder net Voertsak!

Gerhard

Ja, Politiek werk nie in Sport nie, ons sien dit nou al 26 Jaar. Maar wat ek graag sal wil sien is hulle dreigement van Hulle gaan ingryp……Ek wil sien wat hulle gaan doen om in te gryp, wat gaan hulle doen…..As al die wit manne nou omdraai en erens anders gaan speel……..wat gaan hulle doen. Ek lag my al klaar n papie vir die spul. Hulle gaan net Internationale Gatte van hulle self maak.