Mening: Vrystaatrugby en die voelbêk met die houtbeen

Dit is vanjaar presies 50 jaar gelede dat die uwe saam met sy ouers en broer en suster Blikore geword het. Dit was ook daardie jaar wat die Vrystaatse rugbyspan skielik weer ’n gerekende Curriebekerbond geword het, en die sprankel hardlooprugby wat die span opgedis het en van baie nie-Vrystaatse rugbyliefhebbers hul tweede keusespan geword het.

Benewens ’n aantal bestaande sterre soos Joggie Jansen, Jan Schlebush, Johan Kleingeld en Pikkie du Toit het die Vrystaat ook spelers soos Rampie Stander en Jackie Snyman ryker geword. Keer op keer hierna het die Vrystaat geraak-raak aan die Curriebeker, tot die span in 1976 die Curriebeker teen die WP hoog kon hou. Sedertdien het die Cheetahs al verskeie kere so gemaak, en is hulle ook die huidige Curriebekerkampioenspan.

Ruan Pienaar. Foto: Cheetahs Rugby/Facebook

Ook ander bekers en trofees het met gereelde tussenposes in die Wit Tornado’s – later Cheetahs – se glaskas beland. Die maer jare is hoofsaaklik gekenmerk deur wedstryde waar die Cheetahs die skopsiekte opgedoen het, en verskeie van die span se skoppe onder hul eie pale afgerond is, nadat dit in van die opponente se beste aanvallers se keelgate afgeskop is. Die kwiksilwer Kennedy Tsimba het hierin ’n groot rol gespeel. Daardie jaar was vir die uwe ’n goeie jaar. Nie alleen het die Cheetahs weer ʼn keer huis toe gebring nie, maar daardie jaar was ek ook redakteur van die Cheetahnuus, en dit was regtig lekker om oor die opwindende rugby wat die Cheetahs toe opgedis het te kon skryf. Danksy die vlam wat Tsimba aangesteek het, is ek met ’n derde plek vir landswye sportskrywing beloon.

Die besluit om die Vrystaat, die huidige Curriebekerkampioene, uit die Pro-14, wat nou Pro-16 word, weg te laat is nou besig om opslae te maak. Op 5 Oktober vanjaar het Die Burger en Volksblad in hul gedeelde hoofartikel goed mond teenoor die land se rugbybase uitgespoel. Onder meer word geskryf dat die rugbybase se ongepoetste optrede teenoor ’n senior joernalis die vermoede versterk dat die Cheetahs in die raadsale met ’n dolk in die rug gesteek is.

Maar meriete staan al lank tru as ander faktore, wat meestal met geld te make het, ook deel van die konkoksie word wat bepaal wie vir die hoogste eer mag meeding. Ander spanne is al by verstek gepromoveer, en ander gerelegeer – laasgenoemde met die effek om daardeur te verseker dat so ’n span baie lank in die dog box moet ry.

Foto: Cheetahs/Twitter

Ook die Vrystaat het lang tye nie veel op die speelveld vermag nie. ’n Ooglopende verklaring was dat die Vrystaat, veral na dit in verskeie unies opgesny is en eintlik net uit Bloemfontein bestaan het, maar min ligaspelers gehad om uit te kies. Die WP, Noord-Transvaal en Transvaal was die spanne met sowat drie tot vier keer soveel spelers, en veral die WP was besonder talryk na die drie provinsiale unies hul rassesamestelling afgeskud het en kon saamsmelt.

Alles was ook nie op ’n goue skinkbord aangedra nie. Nie net het spanne per trein na hul wegwedstryde gery nie, maar spanne kon nie gedurende wedstryde beseerde spelers met reserwes vervang nie. By geleentheid het die Vrystaat so teen die WP gaan speel, en hulle ry tot op Nuweland se stasie. Omdat reserwes in elk geval nie speelkans sou kry nie, ry net die 15 manne wat gekies was saam. Maar daar is soveel pret en jolyt op die trein, dat een speler die volgende dag met ’n stokstywe been afklim. Ek kan nie onthou of daar ooit gesê is watter posisie hy gespeel het nie, maar iets van slot flikker iewers diep in my kop.

Uiteindelik is besluit hy moet maar saam met die heelagter daar agterlangs karring. Dalk hardloop daar darem ’n WP-speler per ongeluk in hom vas. Hy probeer sy bes, maar puur verniet. Die WP ransel die Vrystaat af. Met die afstap van die veld af, klink ’n stem baie hard van die Suidpawiljoen af: “Haai kêppie, waa kry julle daai voelbêk met die houtbeen?”

Af dae, en af seisoene, of sommer ’n rits afseisoene het uiteraard ook voorgekom. Wie sal daai spotprent ooit kan vergeet van Thys Lourens, Noord-Transvaal se kaptein, wat sou gesê het: “Noord-Transvaal het vanjaar amper niks in die Curriebeker uitgerig nie, maar watch ons volgende jaar in die Sport Pienaar.”

Natal was egter destyds in tamatiestraat. Jaar na jaar het Noord-Vrystaat die promosie-relegasiewedstryd teen Natal gewen. Tot die rugbygrootbaas Louis Luyt Natal by verstek gepromoveer het, en Noord-Vrystaat gerelegeer het. Van toe af is spottend gevra waar Natal se spelers tuisgaan as hulle in Bloemfontein kom speel. By hul ouerhuise natuurlik.

Argieffoto.

Ook ander spanne het ruim in die Vrystaat kom oes. By geleentheid het die WP die Vrystaat in Bloemfontein met ’n 15-tal kom aandurf met 14 van die span wat voorheen bande met die Vrystaat gehad het. Die gelapte Cheetahs (wat toe met ’n ongekende aantal beserings gesit het) het nogtans die WP druipstert huis toe gestuur.

Die Cheetahs is ook voorheen uit die Superreeks geboender, en nou uit die Pro-reeks na die span grootliks self die moeite gedoen het om daar ’n nessie te skrop – iets wat met die seisoen-verskille en sopnat winters, en vreemde vertolkings van reëls deur skeidsregters van die Noordelike Halfrond nie maklik was nie.

Ongelukkig is die Vrystaat wat groei en algemene welvaart betref in vergelyking met groot dele van die land besig om agteruit te boer. Dit word by die dag duideliker dat swak provinsiale regering, boonop erg korrupsiedeurdrenk is – sodat geld vir die ontwikkeling van ’n melkplaasprojek vir ’n Gupta-troue miljoene rande opgedok het. So iets benadeel ook die borgskap-potensiaal van hedendaagse spanne, en beteken dat spanne in meer welvarende dele na hartelus die Vrystaat jaarliks die span kan leeg koop.

Die Cheetahs hou nog die kaarte teen die bors oor die opsie om hof toe te gaan om die nasionale rugbybase tot orde te roep en te bind tot ’n bestaande, bindende kontrak, wat geïgnoreer is asof dit nie bestaan nie. Die saak word eers met vennote en aandeelhouers bespreek. Ondersteuners wat bereid is om ’n bydrae te maak sal ’n groot verskil te maak om die nasionale rugbybase van arrogansie te genees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Daar is ‘n tyd om te kom en een om te gaan en nuwe jong vars bloed ‘n kans te gee. Daai tyd vir die Cheetahs is nou. Asseblief. Daar is ooms wat soos ou bulhonde vasbyt. Dit is Cheetahs hierdie wat moet oorleef nie groot ego’s nie. Glo tog, daar is ander mense wat ook iets van rugby weet. En hulle is in julle midde.

annie ·

Wolf, wat laat jou dink dat ek ‘n vrou is? Hou maar aan om die som op dieselfde manier te tackle en julle sal dieselfde antwoord kry. Terloops my huisie is die een van steen.

Frans ·

Dit is nie ‘n uitgemaakte saak dat al vier uitverkore spanne beter as die Cheetahs in die Pro 16 gaan vaar nie.Dit gaan ‘n groot gemors afgee as die Cheetahs in die huidige Superrugbyreeks, gevolg deur die Curriebeker beter as een van die 4 presteer. Dit is veral die Leeus en Sharks wat besig is met spanbou
wat hul rieme kan styfloop teen die Cheetahs,

Die Bulle en Stormers se pakke lyk tans voorlangs te sterk vir die res.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.