Menseregte tot die derde mag

Argieffoto.

Deur Christo Pretorius

Op 26 Junie, die vooraand van die Organisasie van Nie-Verteenwoordigde Nasies en Volkere (Unrepresented Nations and Peoples Organization, UNPO) se 13de algemene vergadering, het verskeie akademici, politici en ander rolspelers aan ʼn inleidende konferensie deelgeneem wat op derdegenerasieregte fokus.

Hierdie konferensie – Die deel van perspektiewe oor die regte van nie-verteenwoordigdes –  word onder meer deur die navorsingsinstituut Third Generation Project ondersteun en volgens dié instituut moet die onderskeiding van regtegenerasies teruggespoor word na die Tsjeggiese juris, Karel Vasak.

In 1977 het Vasak in die Unesco Courier aangevoer dat kollektiewe regte van individuele regte onderskei moet word en dat sekere regte nie van groepe of gemeenskappe vervreem mag word nie, waaronder die reg tot selfbeskikking sowel as die erkenning van individue se deelwees aan sosiale groepe.

Voorts hou derdegenerasieregte daarmee rekening dat mense sosiaal verankerde wesens is, dat hulle gemeenskappe vorm en saamstreef na en werk vir gedeelde ideale.

Die erkenning en bevordering van derdegenerasieregte is ʼn normale ontwikkeling van eerstegenerasieregte – individuele regte wat op burgerlike  en politieke regte fokus – en tweedegenerasieregte: individuele regte wat op sosiale en ekonomiese regte fokus.

Trouens, eerstegenerasieregte wat op die denke van John Locke gebaseer is, is beperk tot die vorige eeu se politieke, sosiale en ekonomiese omstandighede. In die 21ste eeu geld egter ander werklikhede.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfrontplus-party, het tydens die derde paneelbespreking van die UNPO-konferensie – Die mag van voorspraak ter bevordering van politieke verandering – betoog vir die niegewelddadige bevordering van minderheidsgemeenskappe se kollektiewe regte.

Hy het onder meer na die Franse skrywer Alexis de Tocqueville verwys wat minderhede se dilemma so opgesom het: “Van die minderheid word verwag om deel van die meerderheid te word, maar hulle kan dit net doen as hulle bereid is om dinge wat vir hulle belangrik is prys te gee en dit veroorsaak konflik tussen hulle en die meerderheid.”

Vir state is minderheidsgemeenskappe problematies en die beste “oplossing van die probleem” is om die minderheid te assimileer, te akkultureer of te absorbeer.

Die vraag bly, hoe reageer minderheidsgemeenskappe op die maklike uitweg wat meerderheidsregerings voorstaan?

Vir Afrikaners word kollektiewe en gekoördineerde optrede al hoe dringender.

Die vernietiging van kulturele erfenis soos die Bloemfonteinse Raadsaal is simbool van vernietiging en ondermyning wat Afrikaners as gemeenskap op ander terreine ervaar.

Enkelmedium-Afrikaanse skole word eweneens gedemoniseer en in stryd met nasionale en internasionale handveste geviktimiseer.

Ondanks die huidige staat se onderskrywing van die Grondwet sowel as internasionale en streeksverdrae, waaronder die Afrika-unie se handves vir mense- en gemeenskapsregte, word Afrikaners in die openbaar en in politieke raadsale se regte op eiendom, kultuur, taal en ander gemeenskaplikhede geïgnoreer of gedemoniseer.

Die noodsaak om deur gekoördineerde pogings ʼn positiewe politieke verandering vir minderheidsgemeenskappe te bewerk vereis toenemend mobilisering van hulpbronne, die identifisering van kwessies en strydpunte, die organisering van strukture en meganismes en die instelling van volhoubare strategieë.

Met ander woorde: Die bevordering en instelling van menseregte tot die derde mag.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MCH ·

Dis die regte stap om die kwessies internasionaal te dryf op die beskikbare forums soos tans gedoen word deur politici gemeld asook Burgerregte organisasies. Internasionale bewusmaking is meesal n katalisator wat addisionele stuwing aan die totale poging verleen. Dat dit n bloedige stryd gaan afgee, is n gegewe. Die minderheidsgroepe is individueel net te klein om te verwag dat n politieke oplossing moontlik is. Die eise op die staatskas deur die meerderheid, staatskaping en die algehele verval van die samelewing dra net te veel gewig om wesenlike aandag aan menseregte tot die derde mag te gee. Verder dra uiterste antagonisme en openlike vyandigheid, veral teenoor blankes, nie by tot n onderhandelingsatmosfeer oor die kwessie nie en dis hoogs onwaarskynlik dat n wesenlike politieke toegewing ooit sal realiseer. Ons is hoogstens aangewese op eie inisiatief en bronne om n meer leefbare omgewing te skep vir minderhede. Die howe was tot dusver n instrument tot die bereiking van die doel, maar groot onsekerheid hang maar hieroor in die lig van onlangse berriggewing. Die Afrikaanssprekende in die geval, het geen ander keuse nie, dan om die middele tot sy beskikking self aan te wend om die oorlewing van sy taal, kultuur en ekonomiese relevantheid self te bepaal. Bykans dieselfde modus operandi as wat die Jode gevolg het in die lande waarheen hul die wêreldoor geïmmigreer het. Die taal, godsdiens, kultuur en samehorigheid het altyd behoue gebly te midde van erge diskriminasie. Miskien het dit tyd geword om by hul te leer.

Nico K ·

Die probleem bly dat ‘n minderheid totaal oorgegee is aan die wil van die meerderheidsregering. As die Verenigde Nasies nie sulke regte gaan erken en dit afdwing nie bly daar groot probleme vir minderhede. Ek weet daar word probeer om ons saak bekend maak deur ONPO, maar hulle het nie die mag om iets vir ons te doen nie.

JC ·

Baie goed, dankie Christo.
Kom ons bou; kom ons gaan oor tot die realisering van selfbeskikking, voor dit te laat is, en niks meer te redde is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.