Menseregtedag: SA’ners het mekaar leer aanvaar

Argieffoto

Argieffoto

Ons kyk al weer terug na die meer as twintig jaar van demokrasie in Suid-Afrika. Tog is ons, ten spyte van al die verwagtinge, tans meer verdeeld as wat ons in 1994 verwag het.

Hierdie Menseregtedag, 21 Maart, word op die president se versoek aan die bestryding van rassisme gewy. Vir die ATKV is rassisme onaanvaarbaar, en as organisasie strewe ons daarna om menswaardigheid en respek vir mekaar op alle terreine te vestig.

Tydens ʼn onlangse parlementêre gesprek oor rassisme, het dit gou duidelik geword dat die gesprek eerder oor party-politieke agendas gaan as oor die erkenning en beskerming van en respek vir menseregte. Die president se aankondiging in die lig van die onthullinge rondom die Gupta-familie maak ook die oproep tot die bestryding van rassisme ‘n holklinkende simbaal.

Maar daar is lig in hierdie skynbaar donker tonnel: Die meerderheid Suid-Afrikaners het mekaar leer aanvaar en gaan heel gemaklik met mekaar om. Dit is op hierdie sterk middelgrond wat die ATKV wil fokus. Uit ervaring weet ons dat daar meer as voldoende geleenthede binne die uitgebreide ruimtes van taal en kultuur bestaan om mekaar se hande te vat in waardigheid en gelykheid en met respek vir mekaar.

Dit verstom ons by die ATKV soms hoeveel swart mense, wie tradisioneel as anti-Afrikaans afgemaak word, eintlik volledig tuis is in die taal. Die omgekeerde is ook waar: talle Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners is ook redelik tuis in ‘n Afrikataal of twee. Dit is hier waar ‘n taal-en kultuurorganisasie soos ons mekaar as doodgewone mense vind en omarm. Ons kan nie net verwag dat ons taal gepraat en begryp moet word nie. Ons moet ook uitreik na ons landgenote en hulle tale.

Binne die ruimtes van taal is daar natuurlik ook verskillende kulture. Om mekaar se kulture te verstaan, is iets anders as om mekaar se party-politieke filosofieë en opinies te verstaan. Ons as Suid-Afrikaners moet leer om mekaar se kulture te probeer verstaan.

Dit is dan dat ons kulturele diplomasie begin bedryf en sterk fondasies begin lê vir wedersydse begrip, ubuntu, en doodgewone medemenslikheid. Deur begrip vir mekaar se kultuur kom ons ook uit by menseregte, die fundamentele regte van elke mens waarsonder volwaardige ontwikkeling net nie kan plaasvind nie. Ons hoef nie menseregte in mekaar se kele te probeer afdruk nie. By die ATKV is dit ons ervaring dat, deur ‘n bietjie meer tyd te spandeer om na ander te luister en begrip te toon, dit moontlik is om jou eie taal en kultuur met trots en opregtheid te kan koester.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danny Titus

Danny Titus is Uitvoerende direkteur: Kultuur by die ATKV.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarie

Solank daar diskriminerende wette teen sekere groepe is, sal rassisme gedy. Deur Engels as die Alfa en Omega te beskou word daar teen die meerderheid van landsburgers gediskrimineer en taalrassisme gepleeg. Dit verhoed dat mense ten volle kan ontwikkel en hulle uitleef. Daar sal daadwerklik gewerk moet word om alle landstale te ontwikkel. Ongelukkig is dit sprekers van ‘n taal wat dit moet bevorder en dit lyk nie of die wil by sprekers van ander Afrikatale as Afrikaans bestaan nie. Selfs sommige Afrikaanssprekendes sal liewer hulle kinders in geradbraakte Engels grootmaak en so hulle denkvermoë tot gemiddeldheid reduseer. Miskien moet… Lees meer »

John

Die ANC het in hul moue lekker gelag (dalk nog?) vir die destydse Afrikaner-onderhandelaars, want die opskrif van die onderhandelinge het gelees: Ons kapituleer. Daar word nou van ons verwag om soos die verloorders op te tree. Onderdanig. Om ons nou hees te skree: ‘Dit was ‘n fout. Gee terug my land,’ Is doelloos. Ons moet nou mooi ‘smile’ en alles gee. Dis mos wat ons beloof het? Miskien moet Solidariteit gaan kersopsteek by die Jode wat vir ‘n duisend jaar en meer, die hond in die storie was. Hoe het hulle en hul taal oorleef? Een ding weet ek,… Lees meer »