Menswaardigheid, lojaliteit teenoor nasie eerste prioriteit

Christo van der Rheede reageer op Piet le Roux se vraagstelling, Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms.

1. Wat was jou verwagtinge van ʼn nuwe Suid-Afrika in 1990?

Voordat ek hierdie vraag beantwoord, laat my toe om die volgende te skets: As kind, student en later as onderwysers het ek vele traumatiese belewenisse gedurende die jare van Apartheid ervaar. Op Piketberg waar ons maandeliks inkopies gaan doen het, was daar ‘n kafee wat die heerlikse roomys verkoop het. Bruin mense moes egter hul aankope deur ‘n klein venstertjie doen, terwyl wit mense die kafee kon binnegaan. My pa het dit as uiters vernederend ervaar en het ons verbied om daar te gaan koop. Dieselfde reël het egter ook by die Wimpy op Malmesbury gegeld waar ek my hoërskoolloopbaan voltooi het.

By instellings soos die poskantoor op die dorp was daar ook twee verskillende ingange, een vir wit en een vir bruin. Aangesien ons dikwels van posdienste gebruik gemaak het, moes ons die aparte ingang vir bruines benut.  Die rye was lank en die kamertjie was bedompig. Dikwels is mense ook onbeskof behandel. Dít terwyl wit mense toegang tot die mees vriendelike en gehaltediens in ‘n ruim kamer gehad het.  Op die sendingstasie Goedverwacht waar ek grootgeword het was daar ook ‘n sendingwinkel waarvan die eienaar van Duitse afkoms was. Ons moes hom aanspreek as ‘Master’.

Hierdie ervaringe het ‘n sterk bewuswording van menswaardigheid in my ontketen. Gevolglik het dit my as hoërskoolleerling en later student op kollege gemotiveer om die apartheidstelsel uit te daag. As lid van ons hoërskool se studenteraad en later as hoofstudent van die onderwyskollege waar ek musiek studeer het, het ek ‘n sleutelrol gespeel om my medeleerlinge en studente te mobiliseer om die stelsel teen te staan en betrokke te raak by allerlei studente-aksies in die hoop dat Apartheid tot ‘n val sou kom.

Die onderhandelinge tussen die ANC en NP-regering sedert 1990 was daarom soos manna uit die hemel.  Ons droom vir ‘n verenigde en demokratiese Suid-Afrika kon uiteindelik bewaarheid word. Met die eerste verkiesing in 1994 het ek ook as monitor tydens die eerste nasionale verkiesing diens gedoen. Dit was ‘n uiters emosionele en trotse ervaring en dit lê nog vars in die geheue. As monitor moes ek en my span bestaande uit bruin, wit en swart vrywilligers saam met die polisie die stemlokale beveilig. My standplaas was in Kuilsrivier en deur die nag was daar saambesin, gedebateer en saam gesing oor ‘n nuwe Suid-Afrika waarin elke mens se menswaardigheid op elke terrein van ons samelewing gerespekteer sou word en waarin ons ongeag ons kulturele verskille en belange sou hande vat om gelyke geleenthede vir al ons mense te skep.

2. Hoe oordeel jy oor wat toe in der waarheid plaasgevind het in die 22 jaar sedert 1990 en 2012?

My aanvanklike drome oor Suid-Afrika is effens gedemper, want ek het baie meer van diegene wat die land sedert 1994 beheer verwag. Dit behels die voorsiening van kwaliteitonderwys, gehalte regerings- en munisipale dienste, die skep van ‘n instaatstellende omgewing waarin die landbou, die ekonomie, ons navorsings- en opvoedkundige instellings, ons veiligheidsdienste, ons mediese dienste verder kon ontwikkel en die ontwikkeling van‘n weldeurdagte strategie ons amptelike tale en verbandhoudende kulturele lewe te laat gedy. Om in die doel te slaag het ons immers ‘n ongelooflike Nasionale Grondwet beding – ‘n stewige grondwetlike fondament bestaan dus. Dis egter nie al nie, Suid-Afrika is ook gesëen met ‘n funksionerende infrastruktuur, ‘n mededingende ekonomie, hoë vlak kundigheid en sosiale instellings.

Ongelukkig het emosionele politiekery en ondeurdagte beplanning, swak leierskap, gebrekkige kundigheid en korrupsie ‘n verswakking in dié verband teweeggebring in plaas daarvan dat dit versterking en uitbreiding van instellings tot gevolg gehad het ten einde in die primêre behoeftes van al ons land se mense te kon voorsien en wat hulle menswaardigheid vooropstel.

‘n Uiters tragiese voorbeeld wat ek voorhou is dié van hoogs produktiese en winsgewende plase wat aan bepaalde gemeenskappe oorhandig is en wat heeltemal verval het. Nie net het dít tot ekonomiese inploffing en werkloosheid gelei nie, maar dit het ook die menswaardigheid van diegene aan wie die plase toevertrou is geweldige geknou. Laasgenoemde aspek was ‘n sentrale beweegrede vir ons stryd teen Apartheid en dit loop ook soos ‘n goue draad deur ons Nasionale Grondwet. Ander voorbeelde wat ek ook hiermee verband hou is die swak gehalte onderwys en gebrekkige munisipale dienste wat veral opgedis word aan diegene wat deur Apartheid benadeel is.

Dit beroof baie Suid-Afrikaners van hul menswaardigheid omdat swak skoolopleiding hulle nie die nodige vaardighede gee om tot die arbeidsmark toe te tree nie en hulle in ‘n oorlewingstryd in plakkerskampe vasvang met geen vooruitsigte op ‘n vaste werk en vooruitgang nie. Geen wonder baie wend hulle tot misdaad en allerlei ander ongewenste praktyke nie!

3. Wat is vandag jou vooruitsigte vir Suid-Afrika?

Ek bly positief oor Suid-Afrika ongeag die prentjie wat ek vooraf geskilder het en ek glo dat die Suid-Afrikaanse burgery (veral die ‘stille meerderheid’ wat die droom van ‘n verenigde en demokratiese Suid-Afrika waarin menswaardigheid vooropgestel word koester en wat hulle elke dag afsloof om Suid-Afrika op welke terrein te dien) nie sal toelaat dat ons land sal ondergaan nie. Daarby gesê is ek ook van mening dat Suid-Afrika se probleem nie soseer ideologies is nie, maar dat dit eerder verband hou met ‘n reeks faktore wat menswaardigheid en alles wat daarmee verband hou voortdurend kompromiteer. Dit behels ondermeer gebrekkige kundigheid, selfsug, apatie, blote luiheid en misplaaste fokus – dis allermins wat ons Nasionale Grondwet in die vooruitsig stel.

Die ‘stille meerderheid’ het dus ‘n groot taak voorhande en dit is om ons regering voortdurend tot verantwoording te roep wat die Nasionale Grondwet se aandrang op menswaardigheid aanbetref. Wat dit aanbetref is ek egter van mening dat ons soms ons grootste vyand is, veral wat ons onvermoë aanbetref om hande oor grense heen te vat en saam te staan. Die geneigdheid om op etnisiteit terug te val en vanuit daardie beskutte ruimte eksklusief te opereer verswak ons stryd teen diegene wat geen ooghare het vir die bevordering van ons Nasionale Grondwet en die herstel van elke Suid-Afrikaner se menswaardigheid het nie. Hulle het net een agenda en dit is eiebelang en selfverryking.

Ek wil egter in my verwysing na ons onvermoë om verby etnisiteit te kom beklemtoon dat ek nié die uitlewing van ‘n bepaalde kulturele identiteit en assosiasie binne bepaalde kulturele verband ontken nié, ons bly immers in Suid-Afrika. Terselftertyd kan ons egter nie ons interafhanklik en lotsgebondenheid ontken nie. As Suid-Afrikaners is ons aangewese op mekaar, so was dit in die verlede en so sal dit ook in die toekoms wees.  Ons deel in mekaar se suksesse, mislukkings, pyn en lyding, dit bind dit ons en maak van ons ‘n NASIE. Teenoor laasgenoemde moet ons dus lojaal bly, want die stand daarvan bly ons almal se primêre verantwoordelikheid en ook ons eerste prioriteit. Die volgende aanhaling van Mark Twain som dit treffend op:

“No country can be well governed unless its citizens, as a body, keep religiously before their minds that they are the guardians of the Law and that Congress is only the machinery for its execution, nothing more.”

Ons sal dus ernstig moet nadink oor wat ons as die ‘stille meerderheid’ te doen staan wat ons verantwoordelikhede teenoor Suid-Afrika as nasiestaat en die welsyn van al sy mense aanbetref. Dit behels egter slegs die een deel van ons verantwoordelikheid. Wat die ander deel aanbetref moet ons ook ernstig nadink oor wat ons te doen staan ten einde ons regerende party en amptenary tot verantwoording te roep wat die belyning van hul doen en late aanbetref met die sentrale tema van ons Nasionale Grondwet, naamlik die herstel en uitbou van elke Suid-Afrikaner se MENSWAARDIGHEID.

Want slaag ons hierin lê daar ‘n blink toekoms voor vir ‘n ieder en elk.

*Hierdie bydrae maak deel uit van ‘n nuwe gesprekreeks op Die Groot Debat, “1990 tot 2012: Die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms in oënskou“. Stuur vir ons jou bydrae na [email protected].

Lees ook Flip Buys en Charl-Pierre Naudé se bydraes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Christo van der Rheede

Christo van der Rheede is die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemsbok ·

Die beklemtoning van die beskerming van die lot van die nasie is vir my interessant.

Natuurlik het ek niks teen samewerking nie. Samewerking kan die beste in mense uitbring wanneer dit tot wedersydse voordeel lei (en nie tot voordeel van slegs sekeres is nie).

Maar tot redelik onlangs was Namibië ook deel van “ons” en hulle vaar redelik goed aan sonder “ons”.

Die punt is dat daar diegene is wat saam kan en moet werk en diegene wat volstrek nie daarin wil deel nie. Niemand moet gedwing word nie (dis ook ‘n aantasting van menswaardigheid, soos die wyse waarop die aanvaarding van die Belhar beleidenis afgedwing word) en wanneer die gronde vir samewerking nie genoeg is sodat die betrokke partye beide voordeel daaruit kan kry nie, is dit in daardie gevalle wel beter vir die partye om self hul heil uit te werk. Dit beteken egter nie dat daar nie weer in die toekoms ruimte vir samewerking sal wees nie. Geen breuk tussen mense blyk oor die lange duur werklik finaal te wees nie.

Ek is egter eens met die laakbaarheid van Afrikaners, ook my voorgeslagte, se optrede om toe te laat dat mense vir hul arbeid uitgebuit word, maar dan op grond van hul velkleur in ‘n minderwaardige ry moet staan vir dieselfde diens of produk.

Voor 1994 het Afrikaners ander mense se lewenskrag geneem in ruil vir ‘n paar honderd rand per week, sodat hulle kan sit en niks doen (tensy “orders” gee en bierpense kweek as iets doen sou tel). Net jammer dit gebeur steeds vandag. In hierdie opsig was en bly ek teleurgesteld in my volksgenote. Al wat sedert 1994 onder Afrikaners verander het, is die hoogte van ons veiligheidsheinings, maar die gemoed is nog wat dit was, al stem hul DA. Soos Christo skryf: ons verdien die leiers wat ons kry (wanneer ons niks doen nie).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.