Merkel op koers na vierde termyn

angela merkel 3

Angela Merkel, kanselier van Duitsland. Argieffoto.

Die afgelope 60 jaar het die Christelik-Demokratiese Unie (CDU) van Angela Merkel net vir ʼn periode van vyf jaar ’n regering in die deelstaat Noordryn-Wesfale gelei. Dié deelstaat, waar ʼn vyfde van die Duitse kiesers woon, was nog altyd die hartland van die Sosiaal-Demokratiese Party. Tydens die onlangse verkiesing in Noordryn-Wesfale het die Christelik-Demokratiese Unie egter eerste geëindig. Daar het vanjaar in drie Duitse deelstate verkiesings plaasgevind en in al drie het die CDU gewen. In twee van die drie het hulle die sosialiste uit die top-posisie geskop.

Merkel, voorsitter van die CDU en sedert 2005 bondskanselier van Duitsland, het met dié oorwinning in Noordryn-Wesfale haar greep op beheer van Duitsland verder versterk. Toe Merkel ’n paar maande gelede aangekondig het dat sy haarself vir ’n vierde termyn as bondskanselier beskikbaar gaan stel, het politieke kommentators wyd bespiegel dat sy moontlik besig is om haar hand te oorspeel.

Die toestroming van vlugtelinge na Duitsland die afgelope twee jaar het ernstige druk op Merkel en haar oopgrensebeleid geplaas. Met byna twee miljoen aankomelinge, meestal Moslems uit Derde Wêreldlande soos Sirië, Afganistan, Irak en talle Afrika-lande, het die Duitse regering groot druk ervaar om huisvesting, maatskaplike en ander dienste aan almal te lewer. Kulturele botsings en ’n toename in misdaad deur vlugtelinge het die vraag laat ontstaan of die einde van Merkel se politieke loopbaan in sig was.

Op 24 Januarie vanjaar het Martin Schulz aangekondig dat hy homself beskikbaar gaan stel om die Sosiaal-Demokratiese Party se kandidaat vir bondskanselier te wees. Schulz was die afgelope vyf jaar president van die Europese Parlement en is redelik gewild in Duitsland. Binne weke het Schulz sê party begin voorloop in peilings en was daar nog meer rede om te glo dat Merkel se rakleeftyd verby is.

Vandag, vier maande voor die Duitse federale verkiesing, lyk dinge egter heel anders. Ná drie deelstaatoorwinnings loop die CDU gemaklik voor in peilings en is Merkel weer baie gewild. Die sosialiste aan haar linkerkant sowel as die populistiese Alternatief vir Duitsland aan haar regterkant het wesenlike steun verloor.

Hoe kry Merkel dit reg? Eerstens moet belangrike ekonomiese gegewens nie onderskat word nie. Die Duitse ekonomie is tans baie sterk met hoër as verwagte ekonomiese groei en laer as verwagte werkloosheid. Syfers wat verlede week bekend gemaak is, toon dat die regering se belastinginkomste oor die volgende vyf jaar sowat €54 miljard meer as verwag gaan wees. Merkel en haar regering het dus heelwat beweegruimte om belasting te verlaag en besteding te verhoog.

Die afgelope paar maande het Merkel ook stelselmatig strenger teen immigrante begin optree. Talle asielsoekers se aansoeke is afgekeur en hulle is na hul lande van herkoms teruggestuur. Minder vlugtelinge word ontvang en Merkel doen alles in haar vermoë om ’n ooreenkoms met Turkye, waarvolgens die Turke die meeste vlugtelinge teen ’n prys huisves, in stand te hou.

Terwyl Merkel en haar Christelik-Demokrate spog oor hul ekonomiese sukses en beloftes oor laer belasting, infrastruktuurontwikkeling en beter veiligheid maak, het die ander partye min om aan Duitse kiesers te bied. Die vraag is nie meer of Merkel in September gaan wen nie, maar eerder hoe ver sy gaan wen.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leendert ·

Ja, sy kon darem sien sy het aangejaag en kon aanpas, al was dit onder enorme druk, As Trump ook maar net tot sy sinne kon kom, sou die wêreld ook ‘n beter plek kon raak. Ek dink hy is die teleurstelling van die eeu.

John ·

Hitler sou baie trots gewees het op hierdie tiran van ‘n tan en nogal onder die dekmantel van Christenskap… dalk verlangs familie van ‘n induna wat ook gereeld ‘preek’. Die Duitsers wil maak of die Nazi’s ‘n wrede invalsmag uit die ruimte was en die gewone Duitsers niks geweet het nie en maar net soos in Noord-Korea moes meedoen… te lekker die onskuld. Duitsland het soos die ANC in SA, Europa sonder moeite weer oorgevat en Rusland na die buitenste ruimte verban. Maar Europa was nog altyd lamsakkig en hul museums en beursies lustig gevul met Jode se eiendom, kunswerke en geld toe laasgenoemde uitgewis is. Kyk hoe hop die eens vaal en vet oujongnooi op-en-af oordat Trump die nuwe geldmaak-modewoord, ‘aardverwarming’, afskiet…. ‘mind you’…

William ·

Die gesig van die Nuwe Wereld Orde.
Verwoes jou eie nasie en identiteit sodat die manne met geld die wereld teuels kan oorneem.

Moslems sal NOOIT duitsers word nie–hulle sal nooit integreer nie-hulle wil hulle geloof of andere afdwing.
As hulle regtig mense getalle vir duitsland gesoek het , hoekom hulle nie Suid Afrikaners wat n nuwe bestaan wil begin daarheen geneem nie?..
Ek is seker ons het BAIE meer om by te dra..

Loeis ·

Kom ons hoop jy is verkeerd oor haar soos jy met jou voorspelling oor Clinton was, Jaco.

En kom ons hoop ‘n alternatief wat beter as Merkel is wen in hierdie geval.

Henry ·

Of Merkel wen of nie, is tog nie van enige belang vir ons oorlewendes in hierdie droewe land nie.
Waarom kekkel ons nie eerder oor e posse en wat ookal tussen die Guptas en al die korrupte lede van die regime wat hierdie wondserlike staat binne die bestek van 20 jaar oor die Rommel afgrond gestoot het nie?
Is dit te na aan die huis???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.