Merkel se opvolgers staan gereed

Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Vir 20 jaar word die Christen-Demokratiese Unie (CDU), Duitsland se grootste, tradisioneel sentrum-regse, maar nou eerder sentrum-linkse party, deur vroue gelei: Van 2000 tot 2018 deur Angela Merkel, en daarna deur Annegret Kramp-Karrenbauer.

Kramp-Karrenbauer het onlangs, na aanleiding van die Thuringië-debakel en veel kritiek teen haar swak leierskap, handdoek ingegooi en haar bedanking in die nabye toekoms aangekondig.

Intussen loop die kandidate vir die CDU-leierskap (almal mans), wat dan ook met groot waarskynlikheid bondskanselier sal word, hulle warm.

Norbert Röttgen. Foto: (Michael Kappeler/dpa via AP)

Heel onverwags het Norbert Röttgen uit die bloute eerste sy kandidaatskap aangekondig. Hy was vroeër minister van omgewingsake in Merkel se kabinet, maar het ná ’n reeks blapse en ’n verpletterende neerlaag in ’n premiersverkiesing terug getree na die tweede ry. Hy is tans die CDU se deskundige vir buitelandse sake en het ’n eerder nugtere, saaklike aard. Sy kanse om die leier te word, is eerder gering, maar sy strategie is om homself as middelgrond teenoor die ander twee aanspraakmakers, wat die linker- en regterkant van die CDU verteenwoordig, te bemark. Hy het ook genoeg afstand tot Merkel om nie as haar handperd te geld nie, trouens, Merkel het hom op vernederende wyse afgedank. Hy is egter deurentyd in die party betrokke en het hom met kritiek teruggehou.

Armin Laschet regs) saam met Annegret Kramp-Karrenbauer (links) en Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Die volgende een wat sy hoed in die ring gegooi het, sonder dat enige iemand verbaas was, was Armin Laschet. Hy is tans premier van die magtige deelstaat Noordryn-Wesfale, en ook een van die adjunkleiers van die party, twee faktore, wat aan hom ’n beduidende invloed gee. Laschet het ’n heel ander persoonlikheid en agtergrond as Merkel: hier die besadigde, onemosionele, gedistansieerde en flegmatiese Noord-Oos-Duitse protestant sonder kinders, daar die emosionele, geslepe, Rynlandse katoliek en omgeemens met drie kinders. Wat hul politiek betref, is daar egter min verskil.

Nes Merkel behoort Laschet tot die linkervleuel van die CDU en sal hy Merkel se koers voortsit. Trouens, Laschet is vol lof vir die Merkel-era en het selfs haar grootste fout, die onbeheerde instroming van vlugtelinge, nog geprys as iets wat heeltemal reg was. Hy het ook een van sy moontlike teenstanders, die minister van gesondheid, Jens Spahn, as sy spanmaat aangewys. Spahn het in 2018 teen Kramp-Karrenbauer gestaan en is wyd bekend en staan veral nou, met die koronavirus, in die middelpunt van die media-aandag. Laschet se voor- en nadeel is sy noue assosiasie met Merkel: hy staan vir die voortsetting van dit wat die CDU sterk steun laat verloor het na regs, ten koste van die najaag van die Zeitgeist, en hy sal waarskynlik nie verlore vertroue kan terugwen nie.

Aan die anderkant het hy die Merkel-netwerk, wat oor die jare opgebou is en ook tot Kramp-Karrenbauer se oorwinning teen Friedrich Merz en Jens Spahn in 2018 bygedra het, agter hom. Hy is ook polities so aanpasbaar, dat met hom koalisies met enige party (behalwe die regse AfD) moontlik is en die CDU se opsies om die mag te behou dus groter word. Laschet het redelik goeie kanse om die leier te word, maar dit sal beteken dat die CDU op lang termyn sal verdwyn.

Friedrich Merz. Foto: (Michael Kappeler/dpa via AP)

Laaste, maar nie die minste nie, is daar Friedrich Merz. Ook sý kandidaatskap is algemeen verwag. Hy het tans geen amp binne die CDU nie en was jare gelede hoofsweep. Ook hy is uit Noordryn-Wesfale afkomstig soos sy twee teenstanders. Hy straal selfvertroue, eerlikheid en bekwaamheid uit, maar kom soms arrogant oor. Merz is openlik krities teenoor Merkel en wil die CDU weer teruglei na sy konserwatief-burgerlike oorsprong. Na jare lange ervaring in die besigheidswêreld is hy ook iemand met goeie bande met die ondernemers, tradisioneel ʼn steunpilaar van die CDU. Hy staan ook vir konsekwente wetstoepassing en grensbeheer en sowel afgrensing na verregs en verlinks.

Op grondvlak is hy gewild, maar word skepties bekyk deur meeste ampsdraers binne die CDU. Hy is ’n goeie spreker en sy grootste bate is sy afstand tot Merkel en dat hy oortuigend vir ’n nuwe begin en koersverandering staan. As iemand die verlore steun van die AfD kan terugwen, dan is dit Merz, maar dit maak hom weer verdag by die media, wat enigiemand regs van Merkel reeds as potensiële “gevaar vir die demokrasie” sien. Ook Merz het redelik goeie kanse om leier te word en dit sal neerkom op ’n tweestryd tussen hom en Laschet. As Röttgen uitval, kan sy steun egter beslissend wees na die een of ander kant toe.

Dan is daar nog die leier van die CDU se meer konserwatiewe Baierse sustersparty CSU, Markus Söder. Hy het herhaaldelik bevestig dat hy nie belangstel in die kanselierskap nie, maar sy party se steun vir een van die kandidate sal nogal beslissend wees. Hy het nog geen aanduidings gegee waar sy voorkeur lê nie.

Die leierskapverkiesing deur die party se afgevaardigdes vind in April plaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Angela Merkel kom uit kommunistiese Oos-Duitsland en ‘n kommunis sweer nooit kommunisme af nie. Onder haar leierskap het Duitsland hul grense oopgegooi en sit hulle vandag met die immigrante gemors. Die wiel is egter vinnig besig om te draai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.