Met die blink kant bo, lyk alles anders

onderstebo-wereldkaart

Foto: Verskaf.

’n Marokkaanse gesegde lui: “My land is my land, al word ek daar onregverdig behandel.”

Ek was nie van plan om op my meningstuk “Die emigrasievraagstuk en die prys van ’n siel” uit te brei nie, maar nadat ek Mariska Rabie se reaksie (“My kind se siel is nogal duur”) asook verskeie ander warm, koue en lou kommentare gelees het, moet ek egter ’n paar punte opklaar.

Wat my verstom, is die groot hoeveelheid Suid-Afrikaanse emigrante wat my meningstuk verkeerdelik as ‘n aanval op hul keuse gelees het. Die giftigheid van sommige van die kommentare het my heel onkant gevang. Ek weet nie genoeg van sielkunde om te begryp hoe my persoonlike rasionalisering om in Suid-Afrika te bly vir sóveel mense gelees het soos ’n aanval op en ’n minagting van hul redes vir emigrasie nie.

Ek het bloot my persoonlike redes uiteengesit waarom ek as jong Suid-Afrikaner nog steeds aan hierdie Afrika-vasteland verknog is, waar my siel gevorm en betower is. Daardie sielepyn, wat Mariska self erken sy tans verduur, en sielswroeging wat ek sal ervaar as ek my hier moet ontwortel en van my land en my mense moet losskeur, is myns insiens ’n té groot eksistensiële prys om te betaal. Die Afrikaanse skrywer Jan Rabie het gesê: ” ’n Mens moet probeer, want dis beter vir jou om teen die hele wêreld te stry, as teen jou eie gewete.”

Ek het dit spesifiek in my inleidingsparagraaf duidelik gemaak dat ek nie emigrante vir hul keuse kan verkwalik nie. Nêrens maak ek die stelling dat emigrasie die de facto- “maklike” keuse is, of dat mense nie hul lot in hul hande mag neem en trek, of dat emigrante “ruggraatloos” is, soos Mariska foutiewelik beweer en impliseer nie.

Ek ontmoet net eenvoudig te veel mense wat moedeloos voel, nie noodwendig weens ons land se vooruitsigte nie, maar eerder omdat hulle te min mense teëkom wat hul vasbeslote en onwrikbare passie vir Suid-Afrika en hul kultuur deel, asook hul bereidheid om te werk en te sukkel vir hul toekoms hier. My bemoedigende boodskap aan hulle was dus: “Moenie bekommerd wees nie; hier is ten minste nóg ’n jongmens wat jul siele en ‘malligheid’ verstaan en wat saam aan ons land en ons nasate se toekoms hier gaan help bou.”

Ek is terdeë bewus van die oorweldigende struikelblokke wat ons land in die gesig staar. Ek ontken dit geensins nie; trouens, my inleiding lys ’n aantal hiervan. Die harde werklikheid is egter dat, terwyl daar mense is wat oor finansiële vermoëns en vaardighede beskik om te emigreer, miljoene ander nie oor hierdie luukshede beskik nie. Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gaan daar ongeveer 0,7% Afrikaners in 2020 emigreer. Dit beteken dat 99,3% van die Afrikaners wat nog hier is nie volgende jaar landuit gaan nie. Boonop het die Solidariteit Navorsingsinstituut onlangs ’n verslag gepubliseer wat wys dat die natuurlike aanwas van Afrikaners tans groter is as hul emigrasiekoers. Daarom glo ek dat diegene wat besluit het om in Suid-Afrika te bly ’n belangrike, eksistensiële plig het om, soos ons voorouers, te veg en te bou vir ’n beter toekoms vir die miljoene wie se lewens, siele en lotsbestemming hier aan die suidpunt van Afrika vasgeanker is. Ek kan dus ongelukkig nie met Mariska saamstem dat daar vir “wit Afrikaanse kinders geen toekoms” in Suid-Afrika is nie.

“Elke gesin wat emigreer het sy of haar eie redes,” sê Mariska. Natuurlik; dit is juis waarom ek my meningstuk ingelei het met die stelling dat sulke keuses ’n kwessie van persoonlike perspektief is. My vraag aan jou, Mariska, is egter: Moes ek eerder my persoonlike redes teen emigrasie vir myself gehou het? Ek het die behoefte gevoel om dit te deel, om diegene wat deur “naïewe gekke” soos ek verwar word, te help verstaan hoekom ons dink soos ons dink, asook om moed te skep vir die toekoms. Dít was die kern van my meningstuk. Al wat ek vra is dieselfde begrip vir my redes om nie te emigreer nie, as wat ek het vir iemand se besluit om dit wel te doen.

My beroep op Afrikaners in die buiteland is om as ambassadeurs van ons kultuur en ons oorlewingstryd op te tree. Julle kan ’n groot bydrae tot ons sukses maak. Daar is geen universele regte keuse as dit by emigrasie kom nie. Dit hang af van elke persoon se persoonlike perspektief, lewensuitkyk, finansiële posisie en lewensfilosofie. Beide stereotipes van die lafhartige emigrant en die waansinnige bittereinder is oorvereenvoudigde weergawes van ʼn uiters komplekse werklikheid waarmee Suid-Afrikaners gekonfronteer word.

God het aan my ’n roeping gegee in hierdie land, bykans 13 500 kilometer ver van Amsterdam, van waar my voorsate in 1688 met ’n houtskip gekom het. Elke dag dank ek Hom vir hierdie besonderse geleentheid om hier in Afrika ’n verskil in ander mense se lewens te kan maak, deur te veg en te bou vir ’n blinker toekoms. Tog moet ek erken, sommige mense mag glo jy is bietjie van lotjie getik om die uitdaging te aanvaar om die wêreld te probeer verander … veral as Suid-Afrika jou wêreld is.

Mariska, sterkte daar aan die bokant van die aardbol. Dink maar aan ons hier aan die onderkant wat, afhangende van jou perspektief, vir sommige van ons ook soos die bokant lyk en voel, al sien baie dit as die onderstebokant.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oom Charles ·

Hallo Ernst en Mariska,

Vir albei van julle en vir almal wat soos julle dink, net ‘n kort opsomming: “Dis moeilik, maar dis moontlik.”

Daar is selfs binne families, gesinne en ongelukkig ook huwelike soms bitter meningsverskille oor ‘om te bly of koers te kry’.

Met die aantal jare nou reeds op my kerfstok, BLY ek – min mense van my ouderdom kan enigsins elders in elk geval ‘n nuwe begin maak. Ek wil almal bemoedig wat dieselfde hetsy uit vrye keuse of noodgedwonge doen en besluit het om hulle toekoms hier te maak werk met die hulp en genade wat ons almal nodig het.

En vir diegene wie hul heil elders gaan soek – baie voorspoed en sukses in julle nuwe tuiste en mag elkeen van julle drome waar word.

Dis moeilik, maar dis moontlik.

SUSAN ·

Meneer sommige word deur omstandighede gedwing om uitkoms iewers in ander land te soek. my dogter het goeie werk hier gehad, maar moes drie weke van maand in ander provinsies werk. jaag maandag oggend vyf uur na lughawe. donderdagaand jaag na lughawe om sesuur vlug te haal. vlug met ses tot agtuur vertraag, land omtrent tweeuur na op lughawe, ry huistoe deur redelike gevaarlike gebied en one as ouers le wakker met: senou dit of senou dat gebeur met ons kind. wat van die wat ansoeke indien , jammer ons is verplig om sekeres in te neem. hoe lyk die ketting winkels se personeel nie eers by kasregisters ‘n wit gesig. jy is gelukkig om by solidariteit te werk seker van agt tot vyf. my kind werk nou in land waar dit nog redelik veilig is, verlang na familie en vriende, nou hoef ons nie meer so te wroeg en te wonder wanneer gaan daardie bose dag aanbreek dat ons dalk nooit weer ons kind se stem sal hoor nie.

Jerry ·

God het aan alle Afrikaners n roeping gegee, diegene wie hulle roepings in SA volbring het, emigreer. Diegene wat hulle roepings in SA nog moet volbring, sal bly. Dit is so eenvoudig soos dit. Dat diegene wat bly vorentoe gehelp kan word deur diegene wat gly en visa versa, is opsigself n roeping van sy eie. N verdeelde volk van wie sommiges bly en sommiges gly is n volk wat nie vernietig sal word nie, maar sal oorleef. Uiteindeling is dit ons roeping om sodoende toe te sien dat die nageslagte van ons volk oor die uithoeke van die wereld oorleef, voortleef om mekaar te help om te leef en te laat leef! Daar is nie n reg of n verkeerd oor bly of gly nie, dit is alles deel van God se plan. God is ons Leidsman, hy lei ons na waar ons ookal mag gaan en dit is goed en dit is reg en dit is genoeg! God is ons gewete, of ons bly of gly!

Sideliner Opinions ·

Die boodskap wat ons almal uit hierdie gesprek moet saamneem is dat baie van ons voor uiters moeilike keuses gestel word weens die huidige toedrag van sake in ons land, terwyl nog meer van ons geen keuse het nie. Ons almal gaan deur ‘n moeilike tyd. Wanneer dit met jou swaar gaan, hier of elders, is negatiwiteit die laaste ding wat jy kan bekostig. Moedverloor se vlakte gaan jou oorlewingsvlam blus en jou veggees laat taan. Daarom moet ons almal, waar ons ons ookal bevind, mekaar bemoedig en ondersteun om sodoende ons ondersteuningsnetwerk in stand te hou. Ons gaan mekaar se begrip en ondersteuning nog baie benodig in die toekoms. Maak dus jou keuse as jy kan en maak daarna die beste daarvan. Ons kan nog steeds vir mekaar baie beteken al deel ons nie meer dieselfde grongebied nie. In ons gedagtes en gebede kan ons ons samesyn sinvol en ondersteunend van mekaar maak, ongeag die afstande wat ons skei. Dankie vir hierdie uiters sensitiewe gesprek, wat hoewel dit soms pynlik kan wees, tog nodig is om vrede te maak met ons keuses en of omstandighede.

Hoopvol ·

Mense wat dink hiers enigsins n toekoms of hoop in SA vir die blanke Afrianer is in deniel.
Tensy natuurlik, as elkeen van ons begin kindes kry teen n spoed en die meerderheid word-

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.