Met gemeenskapsbetrokkenheid kan erfenis ’n feniks wees

Die geskende graf van genl. De la Rey (Foto: FAK)

Die naweek het oorgeloop van tragiese nuus op die terrein van erfenis.

Aan die een kant het Johan Wolfaardt, museumkundige en kultuurhistorikus van formaat, op sosiale media berig dat generaal Koos de la Rey se graf in Lichtenburg gevandaliseer is en sy borsbeeld wat daarop was, nog vermis word.

Aan die ander kant sien ons die droewige gesig van Mostert se Meule en die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad wat in rook en as opgegaan het.

Soveel geskiedenis, erfenis en herinneringe wat verlore gegaan het … baie daarvan waarskynlik vir altyd.

Wat die situasie nog meer tragies maak, is dat hierdie insidente natuurlik nie uniek is nie. Brande alleen het in die onlangse verlede groot skade aan kultuurskatte soos Lydenburg se Voortrekkerskool (2017), vele historiese geboue in Wuppertal (2018), Redelinghuys se Nederduitse Gereformeerde Kerk (2019), Burgersdorp se Nederduitse Gereformeerde Kerk (2020), Potchefstroom se stasiegebou (2020) en Coligny se Nederduitsch Hervormde Kerk (2020) aangerig.

Die lys is waarskynlik nog langer, maar hierdie is die insidente waaraan ek nou vinnig kan dink. Oorsake wissel van kortsluitings en swak instandhouding tot brandstigting en weersomstandighede wat wegholbrande aanhelp. Wat ook al die oorsaak mag wees en wie ook al aanspreeklik gehou word, die uitkoms is ewe vernietigend.

Met vandalisme is die oorsake ook uiteenlopend – van opportunistiese diewe wat wins uit geplunderde metaal probeer maak tot grafrowers en natuurlik mense met politieke motiewe. Tydens ’n onlangse konferensie oor die behoud al dan nie van monumente wat vanuit België aanlyn aangebied is, het ek ons ervaring in Suid-Afrika met, onder meer, vandale en politieke aktiviste met die ander deelnemers van Europa, Brittanje, Suid- en Noord-Amerika gedeel. Helaas het hulle almal soortgelyke verhale uit hul eie onderskeie bodems gehad.

In 2016 het Fatou Bensouda, die aanklaer van die Internasionale Strafhof (ISH) in Den Haag, tydens ’n saak oor erfenisvernietiging verklaar:

“Vandag se verhoor is inderdaad histories. En dit is des te meer histories gesien in die lig van die vernietigende woede wat ons era kenmerk, waarin die mensdom se gesamentlike erfenis onderwerp word aan herhaaldelike en beplande vernietiging deur enkelinge en groepe wat hulleself ten doel stel om die verteenwoordiging van enige wêreld wat van hulle s’n verskil, uit te wis deur die fisieke manifestasies daarvan wat aan die hart van gemeenskappe lê te verdelg. Die verskille en waardes van hierdie gemeenskappe word sodoende eenvoudig ontken en uitgewis.”

Alana Bailey.

Met vandalisme en brandstigting is daar doelbewuste vernietiging, maar ewe fataal is die skade wat deur blote nalatigheid veroorsaak word. So het die 19de eeuse smidswinkel wat deel van die gebouekompleks op die terrein van die President Pretorius-museum in Potchefstroom is, op 29 Oktober 2020 in duie gestort. Die munisipaliteit is vooraf herhaaldelik oor die risiko dat dit mag gebeur, gewaarsku, maar het niks gedoen om die skade te voorkom nie. Gevolglik kan die versekeringseis ook nie uitbetaal word nie. En dit is maar net een voorbeeld.

Kan ons ons erfenis, en meer spesifiek hierdie kultuurskatte wat so deurloop, soos figuurlik gesproke fenikse uit die as laat opstaan? Natuurlik, maar dan is daar heelwat wat ons moet doen om sukses te verseker.

In die eerste plek moet ’n mens betrokke raak in jou gemeenskap of by die kultuurhulpbron wat jou aan die hart gryp – of verkieslik sommer op beide terreine! Enigeen kan oog hou sodat alarm betyds gemaak kan word as daar skade aangerig word. So was AfriForum se buurtwag in Kimberley betrokke by die inhegtenisneming van mense wat die senotaaf ter herdenking aan die gesneuweldes van die Eerste Wêreldoorlog beskadig het en danksy hulle kon die monument se bronsplate gered word.

Vrywillige arbeid is gewoonlik ook baie welkom – kyk byvoorbeeld net hoe Bethlehem se vrywilligers hulle museum versterk en uitbou, terwyl gemeenskapslede in Volksrust en Bloemfontein hulle historiese begraafplase van ’n kant af skoonmaak.

Mense wat deur omstandighede verhoed word om tyd af te staan, kan wondere met donasies verrig. Danksy lede se bydraes kon AfriForum byvoorbeeld die herbedrading van Totiushuismuseum in Potchefstroom borg en sodoende voorkom dat dit ook weens ’n kortsluiting deur vlamme verteer word.

’n Goeie idee waarby gemeenskappe ook oor die algemeen kan baat, is om ’n brandbestrydingskursus soos dié van Forum Sekuriteit by te woon. Sou die ergste dan gebeur, is die opgeleides paraat en kan erger skade, beserings en selfs lewensverlies voorkom word.

Met ’n betrokke, kundige en waaksame gemeenskap wat verantwoordelikheid vir ons erfenis neem, kan dit inderdaad soos die legendariese vuurvoël pragtig en kragtig uit die as herrys. Niemand is té oud, té jonk of té onmagtig om iets by te dra nie en die naweek se gebeure herinner dat dit nooit te laat is om te begin nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Nee wat Elana, groot geld en tyd aan die verlede is dwaas. Die Bybel sè duidelik wat belangrik is. Die toekoms van ons geloof en die jeug is nou prioriteit. Geskiedenis is geskiedenis en om ‘n kind deur ‘n ou begraafplaas of museum te neem bloot interessant. Afrikaners bestaan nie meer nie. Laat ons dit nou maar erken. Afrikaans is aan’t wankel, uitrafel, verpand aan geslaglose neo-agers. Wanneer ‘n tsoenami dreig help dit nie om ‘n beeld van ‘n dooie te gaan red terwyl jou kind verdrink nie.