Met verkiesing agter die rug, is dit skouer aan die wiel

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Ek glo die president wanneer hy sê dat hy die land wil herstel; ek betwyfel nie sy opregtheid nie.

Die uitdagings wat die president in die gesig staar, ten einde te bereik wat hy in die vooruitsig stel, moenie onderskat word nie. Binne die konteks van die gebroke Suid-Afrika wat hy geërf het, blyk dit dat sy taak bonatuurlike vermoëns gaan vereis. Hy sal nie sy doelwitte oornag kan bereik nie. Beide hy en alle Suid-Afrikaners sal geduld moet toon. Dit gaan langer neem om Suid-Afrika te herstel as wat dit geneem het om dit te verwoes. Dit is verál die geval wanneer dié wat voordeel trek uit Suid-Afrika se ondergang, alles in hul vermoë sal doen om die president se inisiatiewe te ontspoor – dit sluit in die inisiatiewe van diegene wat sy hande sterk.

Dit is vanselfsprekend dat die taak om Suid-Afrika weer op koers te plaas, nie net die plig is van die president, politiese leiers en amptenare wat sy visie ondersteun nie. Dit is ook die plig van elke Suid-Afrikaner. Ongeag vir wie jy gestem het op 8 Mei 2019, daar rus ʼn verantwoordelikheid op jou om by te dra tot Suid-Afrika se sukses.

Alle Suid-Afrikaners beskik oor die konstitusionele reg (dalk selfs die konstitusionele verpligting) om te stem ooreenkomstig jou gewete, of selfs emosie. Geen Suid-Afrikaner het egter die reg om Suid-Afrika te saboteer deur wat ons doen, nalaat om te doen, of deur wat ons sê nie.

Ons onderskat dikwels die verwoestende gevolge wat ons afbrekende woorde het – wat radikaal verskil van opbouende kritiek – nie net op onsself nie, maar op almal om ons. Dit vergiftig en verlam.

“Daar is lewe en dood in die mag van die tong en dié wat dit beoefen, sal die vrug daarvan smaak.” Hierdie is ʼn onafwendbare, universele waarheid. Negatiwiteit beloon nie. Nóóit!

Ons woorde het die mag om op te bou, te motiveer, te inspireer, te bemoedig om deur te druk en aan te hou, selfs teen alle verwagtinge in. Óf dit kan ontmoedig, verlam en uiteindelik verwoes. Watter voordeel lê in die verlammende gevolg van blatante, of selfs subtiele, negatiwiteit binne die konteks van oplossings, herstel en uiteindelike voorspoed?

Met verwysing na hierdie spesifieke konteks, staan daar in Ester 4:14: “… en wie weet of jy nie met die oog op ‘n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geroep is nie?

Dit mag dalk net die geval wees dat president Ramaphosa, juis op hierdie oomblik in ons geskiedenis, geroep is vir hierdie taak. Dit is nie vir my om te sê nie, maar ek is geïnspireer om hom ten volle te ondersteun tot die beste van my vermoëns – om sodoende my bydrae te maak tot Suid-Afrika se sukses.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard Papenfus

Gerhard Papenfus is die uitvoerende hoof van NEASA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Gert ·

Na my wete is hy steeds van plan om onskuldige wittes se grond op ‘n onregmatige wyse te vat, so hy het nie my ondersteuning nie.

Boerboel ·

Ek stem saam Gert, Wat van die koruptes, wat gaan hy aan hulle doen ?

Essa ·

Dankie Gerhard vir die positiewe ingesteldheid waarmee jy lewe en skryf. Natuurlik is daar nie ‘n tower formule nie, en is geen leier volmaak nie, maar ek het hoop vir herstel met president Ramaphosa daar.

Pieter du plessis ·

Ek hoop hy begin om die diskriminerende wette teen minderhede gebaseer op velkleur te stop sodat die speelvak vir almal gelyk is.

Haan ·

Hoor julle? Ons moet net HARDER probeer handjies vat… Wat n naïewe skryfstuk

Frank ·

Lekker om só ‘n positiewe brief te lees… God is tóg ten volle in beheer.

Therese van Schalkwyk ·

Dit moet wonderlik wees om soos Gerhard Papenfus te glo in president Ramaphosa se opregtheid om die land te herstel. Waarom nou eers na hóéveel mosies van wantroue?
Die feit is dat géén “herstel” nodig sou wees as Ramaphosa nie sienderoë die astronomiese korrupsie toegelaat het as adjunk-president in die Zuma-kabinet nie.

As daar enige waarheid in steek dat Ramaphosa die kat eers goed uit die boom kyk, dra hy geensins Suid-Afrika se belange op die hart nie, slegs sy eie.

honourable member ·

Netso. Hulle sal moet begin werk aan al die beloftes vir die massas. Hulle het mos nou die stemme gekry so die massas soek wat belowe is. Sterkte met daai een mr president. Geen oorsese land sal in hierdie land bele nie aangesien jou mense elke dag afbrand en verwoes. So ek wil nou graag sien waar al die werksgeleenthede gaan vandaan kom.

Genieve ·

Dit kan positief wees as hy net nie weer die skelms aanstel nie.

Dries du Toit ·

Hoe ondersteun jy n man as jy sit sonder grond, eiendom ,menseregte, werk en baie baie meer wat reeds weg geneem is van jou deur sy organisasie.. indien jy hom ondersteun veg jy die organisasies wat vir jare lank teen al hierdie ongeregtighede veg. Moenie domastrant en naief wees nie

Chris Ws ·

Dieselfde party wat vir 25 regeer het en die land totaal afgebreek het is steeds in die stoel.Nou moet mens positief dink en glo dat daardie selfde regerende party nou 180 grade gaan omdraai en dinge wat deur HULLE opgevoeter is gaan begin regruk?Ek wil dit sien!

Ryno ·

Lol.. kom ons begin sommer met n 120mil party vir geen rede terwyl mense swaarkry en alle deptm in hul glory is.. reriggg

Cathy ·

Baie dankie vir die positiewe brief. Dit verwoord wat ek voel. Negatiewe kommentaar wys tog net wat regtig fout is in die land. Ons mense se houdings. Kom ons kyk bietjie verby die kleur en ondersteun die wat probeer.

Boer-in-die-Wind ·

Nog ‘n punt. Groot besigheid (lees oa NEASA lede) het die blanke minderheid (lees middelklas) lankal vir die krokodil gevoer in die hoop krokodil kom nie by hulle uit nie. So raai wat, julle is op julle eie.

emily ·

AG ASB Hy het geen beheer oor enige situasie in die land nie, kyk maar na die misdaad. Wat wil hy nou maak.

Dries du Toit ·

Gerhardt se hy glo CR as hy se hy wil die land reg ruk. Wat bedoel hy by “regruk”. Regruk is n relatiewe begrip. Regruk kan beteken dat alle grond in “our people” se hande of selfs die staat se hande kan wees. Regruk kan wees dat blankes so gereduseer word dat daar geen meer weerstand teen hulle vergrype en korrupte aktiwiteite sal wees nie. Dan kan hulle ongestoord voortgaan met hulle Bossasa tipe omkopery en geen stoornis van ondersoekende joernaliste ervaar nie. Geen Charl Pauw of Pieter-Louise Myburghs publikasies meer nie. Geen meer druk van blankes dat hy korruptes waarmee hy lang pad geloop het nie in sy kabinet aanstel nie. Aag kom nou word wakker Gerhardt

Tiger ·

Ek is baie positief oor wat Cyril Ramaphosa gese het hy wil doen vir die land.So veel so dat ek 100% positief is daar gaan dadels van kom.Mens hoef net te kyk waar is Evkom , Transnet,Denel en al die munisipaliteite nou om net ‘n paar te noem en dit te danke and die regering van die afgelope 25 jaar.Almal het sterk gestaan tydens die anc se oorname.Vandag is hulle bankrot en Nou wil hy dinge kom regruk?Ek lag van positiwieteit glo my!.

Bokkie Roets ·

Hoe de dinges moet mens positief bly as jy stadig soos n padda in n pot gekook word?.

Louwtjie ·

Dankie vir jou brief. Bly jy staan by God se woord. SA se mense se tonge is vlymskerp. Ons moet luister na God se woord en weet hoe bekommer ons as dit God se land is. Hy is in beheer van alles. Ek se dankie Here vir ons mooi land. Dankie Here vir vrede, dankie Here dat ons vir mekaar sal lief wees en dankie Here vir ons beskerming. Ek glo en vetrou U is in beheer. Ek bid ook vir elke familie of persoon in hierdie land wat leed angedoen is, ek bid dat U vir hulle vertroosing sal bring en dat U hulle die krag sal gee om te vergewe. Ek bid ook vir ons President en leiers want U vra vir my om vir my leiers te bid. En ons hier in Suid Afrika wil U eer. Dankie vir mense soos Gerhard wat weet… dat U sê ” season your tongue with grace”
As ons almal mekaar deur Jesus se oë kan sien sal hierdie n beter plek wees..

Dirk ·

Die skrywer se sentiment bevestig dat die ANC se misleidingsplan steeds effektief is!

Dries du Toit ·

Dit is reg Louwtjie bid. Ons bid saam. Die Here sal ons deur hierdie woestyn ly. Die Afrikaner se geskiedenis bewys dat al was ons teen n oormag vyande gestel het hy ons uiteindelik gered. Oppas jy net dat jy nie jou vertroue in Cyryl Ramaphosa hoër ag as in ons liewe Vader nie. Die Here se vir ons baie duidelik dat die wat hulle vertroue in die mens stel vervliek sal wees

Farmer Brown ·

Gerhard , ek wil saamstem met jou.
Ons gesin praat van posetiewe woorde wat in die heelal gesaai moet word.
Negatiewe woorde gaan gepaard met ‘n brill wat net die lelik kan raaksien.
Wees realisties oor die ANC se tekortkominge , sien dit eerder as geleenthede om self ‘n verskil te kan maak.
Die jeug stroom uit die land uit, swem saam met die stroom, hulle gaan beter mense as ons wees want ten minste gaan hulle nie soos ons sit en kla met ‘n witbrood onder die arm nie.
Kry dit in julle koppe dat die Afrikaner kla gans en al te veel , dis hoekom niemand van ons hou nie .

Ander Gert ·

Gerhard, jy noem dat jy nie Cyril se opregtheid betwyfel nie.

Het jy vergeet dat hierdie dieselfde Cyril is wie as adjunk onder Zuma gedien het? Dit was nou tydens staatskaping, en alles wat daarmee saam gegaan het. Maar jy reken die man is opreg?

Is jy bewus daarvan dat dit hierdie dieselfde Cyril is onder wie se leiding die proses in plek is om die handves van regte in die grondwet te verander? Maar jy reken die man is opreg?

Hy is. Net nie op die manier wat jy dink hy is nie.

TTh ·

Ek dink die meeste kiesers in SA besef nie wat besig is om te gebeur nie. Ramaposa se bedoeling met skouer aan die wiel beteken:
>Volstoom vorentoe met ekonomiese transformasie = inpalming van maksimum mag
>Grondwetverandering = inpalming van alle moontlike bates in SA
>Nasionalisering van die vloei van geld (banke, groot besighede en instellings)
>Beheerde gaos, voortgesette plaasmoorde en misdaad ten einde die minderheidsgroepe maksimum te ondermyn en te ontmoedig tot enige teenkanting
Die publiek gaan dit nie stop nie, nie met protesaksies nie, nie met al die gepratery nie en sekerlik nie met sosiale media nie. Al die kerke en mediagroepe sal niks kan doen om dit te stop nie. Die ANC is SA se grootste vyand en verwoester maar die publiek is reeds in onderdanigheid gedwing en die groot besigheide is reeds so besmet met BEE en restellende aksie dat almal keer vir verlies aan inkomste en eie voortbestaan. SA staan op die rand van die afgrond met ‘n mes teen die keel en dit terwyl die kwynende leierskap in ons geledere na verkeerde en onwerkbare spookasem oplossings soek. SA het volskaalse ingryping nodig van buite (maksimum optrede) wat die ANC kan verwyder (regime change) en die publiek tot sinne kan dryf as dit nog moontlik is.

Dirk ·

Skouer aan die wiel beteken dat diegene wat het gaan moet harder werk vir diegene wat nie het nie. SA gaan oor die volgende 5 jaar in n welsynstaat omskep word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.