Met watter bril moet ʼn mens na die verlede kyk?

Die foto van Anchen Dreyer, DA-LP, wat by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad geneem is. Foto: Phillip Bruwer

Die foto van Anchen Dreyer, DA-LP, wat by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad geneem is. Foto: Phillip Bruwer

Die DA-LP Anchen Dreyer is ’n rassis. Hoe weet ʼn mens dit? Sy het jou waaragtig waar (sluk) langs ʼn foto van pres. Paul Kruger geposeer.

En daardie nimmer volprese kenner van die geskiedenis, Moloto Mohlapo – wat in sy vrye tyd, wanneer hy nie rassiste soos Dreyer uitruik nie, die ANC se parlementêre woordvoerder is – weet wat die waarheid oor Kruger is: Hy was ʼn “genadelose en bloeddorstige rassis uit die koloniale era” wat oor “massamoorde, marteling en die wrede verwoesting van swart gemeenskappe” in verskeie dele van Suid-Afrika geheers het.

Mohlapo het ook ʼn verstommende nuwe insig na vore gebring: Die Anglo-Boereoorlog se doel was “swart onderwerping, slawerny en koloniale plundering”. Snaaks, toe ek my doktorale proefskrif oor genl. Christiaan de Wet geskryf het, was ek onder die indruk dit het oor Afrikaner-vryheid gegaan.

Iemand wat nog méér van die geskiedenis weet, is Stone Sizani, hoofsweep van die ANC se parlementêre koukus. Hy het op televisie onthul (snak) dat Paul Kruger net so erg was as die Nazi-diktator Adolf Hitler!

As ʼn mens nie moes lag vir soveel onkunde nie, sou jy kon huil. Die probleem is dat dié soort uitlatings in die maatskaplike kruitvat wat in Suid-Afrika bestaan, gevaarlik kan wees.

Maar kom ons kyk eers na dié hantering van die geskiedenis. (Ek is trouens bly dat selfs Max du Preez nou pleit vir ʼn genuanseerde houding teenoor die verlede nadat hy jare lank ʼn swart-wit-benadering gevolg het. Al moes hy dit weer gaan bederf met ʼn onsmaaklike aanval op die makers van die dokumentêre prent Tainted Heroes, waarin die ANC se eie kriminele verlede aan die kaak gestel word.)

Die vraag is: Hoe moet ʼn mens die verlede benader? Doen jy dit met die politieke en morele maatstawe wat vandag geld?

In 1995 was ek, saam met ander joernaliste uit verskeie lande, ʼn gas van die Turkse regering. Ons het ’n Middeleeuse gestig besoek, waar geestesiekes aangehou is in omstandighede waarin ek nie graag self sou wou leef nie.

Tog het die bestuur van die gestig, volgens die insigte van die tyd, dinge gedoen om die geestelike pyn van die pasiënte te verlig. Daar was pype waardeur musiek na die selle gelei is. Hulle is elke dag op ’n binneplaas toegelaat om met ’n bal te speel (tot hulle mekaar aangeval het, dan is hulle weer toegesluit).

’n Duitse tannie wat ook in die geselskap was, was besonder geskok. Hoe kan jy mense, mal ofte nie, in sulke onmenslike omstandighede aanhou?

Ek het haar geantwoord met die argument dat mense in dieselfde tyd in Europa in aansienlik erger omstandighede vasgeketting was, maar sy wou nie byt nie. Sy het met ’n bril van 1995 na die 15de eeu gekyk.

Dit het haar ongetwyfeld moreel meerderwaardig laat voel. Maar dit was wel ʼn onhistoriese benadering, waardeur sy toegelaat het dat die hede soos ʼn filter tussen haar en die verlede staan, pleks van om die verlede kragtens sy eie voorwaardes vir homself te laat spreek.

Ja, as jy met ʼn bril van 2016 na Paul Kruger kyk, kan jy seker sê hy was ’n rassis. Maar watter witte, waar dan ook ter wêreld, was dit destyds nié?

Europa en die Europese kultuur het destyds die wêreld oorheers. Polities, ekonomies en kultureel. Die aantal Europeërs wat die swart kultuur nié as minderwaardig beskou het nie, kon op die vingers van jou een hand getel word. Die mense wás toe maar so.

Volgens die norme van die tyd – en dis die maatstaf wat moet geld – was Kruger merkwaardig verlig. Hy het swart stamhoofde en hul kultuur met respek benader, al is dit waar dat hulle hul eers aan wit heerskappy moes onderwerp, en al is dit soms hardhandig afgedwing.

Maar wag – wat hoor ek daar? Hoor ek dat Stone Sizani of Moloto Mohlapo negatiewe goed oor Shaka, Dingane of Mzilikazi se massamoorde sê?

As jy hulle met die bril van 2016 benader, was hulle immers massamoordenaars en basta. Selfs gemeet aan die insigte van die tyd (gewapende konflikte het voorheen meestal nie groot bloedvergieting beteken nie) was hulle magsbelus en wreed.

Maar ekskuus, nee, ek het my seker verbeel. Inteendeel, verreweg die meeste mense – sekerlik die Zoeloes en Ndebeles in Zimbabwe – beskou die drie konings as helde.

Dis begryplik. Veral Shaka en Mzilikazi was die skeppers van nasies wat meer was as die verbrokkelde familiegroepe wat hulle vooraf gegaan het.

Dis dieselfde as die Franse wat Napoleon as ʼn held vereer, of die Italianers wat Giuseppe Garibaldi op ʼn voetstuk plaas. Mense het helde nodig. Dis deel van hul identiteit, en daarvoor moet jy respek hê.

Behalwe klaarblyklik as jy ʼn ANC-woordvoerder is. Dan mag jy maar die Afrikaners se ganse geskiedenis, van Jan van Riebeeck tot by FW de Klerk, minagtend kriminaliseer.

Nou kom ek terug by die gevaarlikheid hiervan.

Kyk, die belangrikste rede waarom die ANC dit doen, is omdat hy in die moeilikheid is. Sy buitensporige magsmisbruik, korrupsie en onbekwaamheid beteken dat sy steun onder die kiesers stadig maar seker verbrokkel.

In sulke omstandighede is daar ʼn middel waarna ʼn party maklik gryp: Fabriseer ʼn vyand, ʼn bedreiging. In dié geval lê dit voor die hand – wit rassisme.

Ja, natuurlik is wit rassisme ʼn feit. So ook swart rassisme. Maar laasgenoemde pas die ANC nie, en dus word dit massief onderspeel.

Die gevaar is dat kan gebeur wat in Zimbabwe gebeur het. Ook daar het Kameraad Bob se steun om soortgelyke redes begin verbrokkel; ook daar is die wittes as sondebok aangewys.

Die res, om ’n suiwer Anglisisme te gebruik, is geskiedenis. Dat Zimbabwe in die proses totaal verniel is, is irrelevant. Kameraad Bob en sy kornuite is steeds met vet beursies aan die bewind. Dat die gewone mense krepeer van ellende – nou ja, as hulle nie pap het nie, kan hulle tog koek eet, nie waar nie?

Die ANC speel ʼn gevaarlike speletjie. Die sentrale elemente van die skikking van 1994 was demokrasie, beperkte owerheidsmag, wedersydse respek en versoening.

Daar is genoeg ordentlike en verstandige mense in die ANC. Kan hulle die heethoofde nie tot orde roep nie? Wíl hulle dan die land voor hul oë tot niet sien gaan?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Francois ·

Dankie, Dr. Scholtz, vir (soos altyd) ‘n ewewigtige bydrae oor ‘n kwessie ten opsigte waarvan die ANC regime (soos altyd) ‘n totale gebrek aan ewewigtigheid openbaar. Jou versugting dat ordentlike en verstandige mense in die regime na vore moet kom om redelikheid en rasionaliteit oor sake soos die hantering van die Suid -Afrikaanse geskiedenis te bewerkstellig, sal ongelukkig na my mening onbeantwoord bly. Indien daar hoegenaamd nog ordentlikes en verstandiges in die regime oor is, is hulle waarskynlik te yl gesaai om enigsins die ANC se intellektuele bankrotskap te stuit.

Trots Afrikaans ·

Soos die Duitsers in die 1930’s is die lede in die ANC te bang om uitspraak te lewer teen hul leiers want dan mag hul verwyder word of selfs verdwyn. Hulle gly maar stil saam met die massas in die hoop op eie finansiele gewin, net soos die lede van die NATZI party. So ook sal geskiedenis homself dan herhaal.

Dis jammer, maar onvermydelik.

So, ek dink alle Afrikaners moet ‘n foto van hulself saam met Oom Paul op die net plaas. Bietjie pret voor terwyl ons wag vir die slag ….

Therese van Schalkwyk ·

Skitterende stuk!

Die skrywer is heeltemal reg, “die ANC speel ‘n gevaarlike speletjie”. Feit is, enige redelik intelligente persoon het hierdie gedrag verwag van die sg. “vryheidsvegter”-regering die oomblik wanneer hulle by die stembus bedreig word. Geen verrassing dus hier nie, veral met Zimbabwe as voorbeeld.

Wat wel tot in die diepste wese teleurstel en grief, is die reaksie uit Afrikaanse rubriekskrywer-geledere. Max du Preez en Pieter du Toit van Netwerk24-faam het dit eenvoudig nie in hulle om gebalanseerde opinies oor Afrikaner-sake, en die plek van die Afrikaner in post-apartheid SA, te gee nie. Met die lees van Du Toit se stuk oor Solidariteit se “Tainted Heroes”-film, het die besef deurgedring: met sulke ‘vriende’ het die Afrikaner nie eers vyande nodig nie. Wonder wat is mnr. Beukman se mening hieroor?

Dirk Breytenbach ·

Onse Max het volgens sy eie erkenning kommentaar op die rolprent gelewer sonder om dit te sien. Sy kommentaar is besonder verdoemend en ek word al hoe meer oortuig daarvan dat ons eie mense (van ons spesifieke bevolkingsgroep) ons grootste vyand is. Ons teenstanders hoef niks te doen om ons af te kraak en verdag te maak nie, ons doen dit sommer self.

Truth-Seeker ·

Enige iets wit deesdae is rasisties. Die ANC sal tog so bly wees as ons almal net kan verdwyn, want dan kan hulle SA in ‘n regte Zimbabwe verander en dan bak hand staan by die wereld.
Therese jy is reg, die dat Max se “die Tainted Heroes is net so erg”, is belaglik. Dit is geskiedenis, maar ek het nou al geleer met Max, hy is net soos die ANC deur dat hy kies wat is belangrike geskiedenis en wat is nie. Dit is all good wanneer die ANC verwys na Oom Paul as ‘n Nazi wat swart mense vermoor het links en reg, en weereens het die ANC geen bewyse van dit nie, maar ongelukkig is die meerderheid swart mense verblind deur net alles te glo wat uit die ANC propoganda masjien se mond uitkom.
Maar wanneer ons probeer wys dat nie alles net maanskyn en rose is / was onder die ANC nie, en dat hulle wel terroriste was en het ook ander onderdruk en vermoor, dan is dit mos nie die regte geskiedenis onder die nuwe Suid Afrika nie.

TTh ·

… wat van ‘n foto saam met Dr Verwoerd, die beste staatsman in die wereld ooit !!!

Dirk Breytenbach ·

Nou loop jy op dun ys, ons eie mense sal jou eerste verguis om die aandag van hulle af te lei (en hulself te verontskuldig) en daarna sal die meerderheid se moraliteit brigade jou vergruis. Sosiale media is ‘n baie gevaarlike plek en alles word huidiglik verdraai om die rassisme agendas te bedryf. Moet asb. nie in die hande van die radikale speel op hierdie kritieke tydstip in ons geskiedenis nie. Daar is meer effektiewe kanale en burgerlike organisasies waar ons ons energie tot voordeel van almal kan aanwend. Moenie in die verkiesing slagyster van die opposisie en “witmens vloekers” trap nie. Ignoreer hulle want hulle sal hulself spoedig uitwis deur hulle verdeel en heers beleid.

Loeis ·

Voor 2014 se verkiesing het Anchen Dreyer in ‘n radio onderhoud ontken dat die DA swart bevoordeling steun. Helen Zille het dit kort daarna duidelik gemaak dat die DA wel swart bevoordeling steun. Is dit nie ook rasgedrewe nie? Maar Dreyer het gevra dat dieselfde mense wie deur daardie beleid benadeel word vir hulle moet stem.

Scholtz raak ‘n belangrike punt aan wanneer hy na mense se onkunde verwys, en hoe dit uitgebuit word. Kennsi is mag, en solank dit mense dit nie het nie, word hulle gemanipuleer. Dit sluit aan by my punt hierbo.

Wat Max du Preez se kommentaar oor Tainted Heroes aanbetref moet mens dit maar vat van wie dit kom: sy kommentaar is eenvoudig nie waardig om van kennis te neem nie.

Grotman ·

As die geagte ANC en EFF ens dan so n probleem met wit het sal hulle van nou af net bruin brood, bruin suiker moet gebruik. Geen melk want dis wit, geen tande pasta want dit maak wit. Hulle gaan moet toitoi oor wit wolke en n aansoek moet bring dat wolke se kleur verande ens… Ek gee op!

Sarel Strydom ·

Die problem mense nie soseer die minister met sy arrogansie nie, maar dit is wat kinders en jong mense geleer word. Dit is die verdraaide geskiedenis wat veroorsaak dat daar so baie geweld oner die jin mense voorkom. Hulle mikpunt,’n geslag van Rassehaat

Theresa ·

Moloto los ons helde uit. Gaan kyk na alle “helde”en maak ‘n ingeligte vergelyking. Jy wek haat aan. Gee jy om om asb al die feite van die ontslape Mnr Mandela feitelik korrek in tydlyn aan te bied vir die hele land en wêreld om te lees, asb. Of is dit nou weer anders. Ek dink dis geklik om in moeilike wêreldstye so onsmaaklik oor ander mense se oud-leiers en spog-figure los te trek. a nee a.

Theresa ·

O ja, en los vir Anschen uit om te staan langs wie sy wil. Dis haar mensereg. Mens noem die bohaai en reaksie teenoor haar “petty”.

Dirk T ·

Aan Dirk Breytenbach
Dit is baie wyse woorde. Alhoewel ek ‘n voorstander is van goed deurdenkte vryheid van spraak, is dit nie die tyd om onverantwoordelike dinge te sê nie.

Dirk Breytenbach ·

Dankie, vryheid van spraak, die reg van assosiasie en die reg om met respek behandel word staan voor in die grondwet maar word ge-ignoreer deur haat saaiers en heethoofde. Kom ons staan een tree terug wanneer dit kom by veragtelike politieke retoriek en onverdraagsaamheid en bou eerder vir onsself en diegene om ons ‘n beter land waar almal kan floreer. Politiek, leef in die verlede en rassehaat is nie ons prioriteite nie maar wel vreedsame naasbestaan en ontwikkeling van menslike kapitaal sodat almal ‘n plekkie in die son sal kry.

DPJ ·

ANC het ‘n munisepale verkiesing om te wen en niks gaan hulle doelwit laat afwyk nie. Selfs so ‘n gemoedtiveerde artikel nie. Dankie in elkgeval met die goeie artikel

Ouboet ·

Natuurlik wil die ANC die land vernietig. Dit is mos die doel van ‘n kommunistiese rewolusie. Niemand besit iets behalwe die staat nie of iemand soos Bob en sy vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.