Met watter krag pak ons 2023 aan?

Bennie van Zyl (Foto: TLU SA)

Met die begin van die nuwe jaar word Suid-Afrika telkens met die ANC se verjaarsdagvieringe gebombardeer. Wat vir ons as gewone Suid-Afrikaners van die ANC se feesvieringe belangrik is, is hulle standpuntvoordrag wat telkens daar gelewer word. Die koers en rigting waarin die ANC hul energie gaan projekteer word breedweg hierin uitgestippel. Of dit werklik in die praktyk so realiseer, is natuurlik ʼn ope vraag.

Jaar na jaar word dieselfde beloftes gemaak met die uitsluitlike doel om die kiesers te oortuig dat daar vir hulle ʼn beter lewe in die ANC gesetel lê. Dit wat egter jaar na jaar in die praktyk ervaar word, is ʼn agteruitgang van die land se kapasiteit en vermoë, juis as gevolg van die ANC se beleidsrigting.

Die kern van hul beloftes is in hul transformasiebeleid gevestig. Vir bykans 30 jaar transformeer hulle Suid-Afrika. Daarin sien ons in die praktyk aspekte soos kaderontplooiing, selfverryking, SEB, onrealistiese beleidsrigtings, byvoorbeeld onteiening sonder vergoeding, wat uiters negatief deur die markte geëvalueer word. Hierdie aspekte en vele meer het Suid-Afrika waar dit vandag is, naamlik ingepresteer in rommelstatus, met nie naastenby voldoende ekonomiese groei wat stabiliteit kan bewerkstellig nie.

Die gevolge van die ANC-beleid skep inderdaad ʼn teelaarde vir onrus en ons sal in 2023 gewis heelparty stakings en onluste oor dienslewering sien. Dit is verstommend dat mense vir die ANC stem om net die volgende dag teen hulle te betoog. Dit sê baie van ons land se kiesers wat inderdaad stem dat hulle en hul kinders se toekoms hul ontneem moet word met ʼn beleid wat geen positiewe uitkoms kan verskaf nie, maar dit word steeds ondersteun!

Die Wêreld Ekonomiese Forum het pas in ʼn verslag hul kommer uitgespreek dat Suid-Afrika kwesbaar is vir nog onluste met redes soos die moontlikheid van die ineenstorting van die staat, ineenstorting van dienslewering en openbare infrastruktuur, lewenskostekrisis en die werkloosheidskrisis.

Die beloftes wat hulle deur al die jare aan hulle ondersteuners gemaak het, het dieselfde gebly en tog versleg dinge jaarliks. Werkloosheid en die gepaardgaande armoede is nou reeds ʼn kenmerk van ons land. In stede daarvan dat die regte dinge gedoen word om ekonomiese groei te verkry, wat weer op sy beurt geleenthede vir mense kan help skep, blyk dit dat hul oplossing is om net meer maatskaplike toelae uit te deel.

Soos wat die vrae gevra moet word oor die beloftes van beter dienslewering, meer werksgeleenthede, beter infrastruktuur, bekamping van misdaad en die algemene stelling van ʼn beter lewe vir elk, naamlik “wie gaan dit doen?”, moet die vraag “waar gaan die geld vandaan kom?” ook gevra word. Met die beleid van kaderontplooiing is die kapasiteit om na die positiewe te streef oor ʼn tydperk vernietig. Weinig het oorgebly wat nog “getransformeer” kan word!

Hierdie is ons werklikheid indien ons gaan skik en ons maar net aanvaar wat die ANC genereer.

Vir Christene wat elke dag leef met die wete dat ons ʼn kultuuropdrag uit die Woord ontvang het, naamlik om te bewaak en te bewerk, kom daar ʼn heerlike verantwoordelikheid na vore. Ons weet dat ons taak om vir die toekoms te skep iets is wat kultureel in ons lewens en wêreldbeskouing ingebed is.

Daar gaan in 2023 baie geleenthede wees waar ons onsself beter kan toerus om wel ʼn positiewe en konstruktiewe verskil te maak. Diegene wat geleenthede gaan aangryp en na uitnemendheid streef, is diegene wat aan die einde van jaar positief en met dankbaarheid kan terugkyk oor wat alles in daardie jaar vermag is.

Daarom mag ons nie toelaat dat die ANC se mislukkende beleid en die toepassing daarvan ons toekomsverwagting van ons steel nie. Ons kan maklik ʼn persepsie ontwikkel dat dit wat die ANC in denke en toepassing genereer ook maar die land se denke en toepassing moet wees. Daar is egter gewis ʼn beter lewe wat ons kan ontgin en uitleef – reeds nou al tydens die ANC se regering, maar ook daarna.

Wanneer ons dan vir mekaar vra met watter krag ons 2023 gaan aanpak, kan daar op velerlei maniere na die vraag gekyk word. Eerstens sal die meeste van ons se gedagtes noodwendig aan ʼn falende Eskom dink en billikgewys wonder hoe kragvoorsiening in 2023 gaan ontsluit. Dat daar gewis aan hierdie soort krag heelwat aandag gegee sal moet word om oplossings te kry ten einde meer stabiele krag te kan ervaar, veral vir besighede om produktief te kan wees, is ʼn gegewe. Dit is dán wanneer daar groot waardering is vir inisiatiewe van verskeie rolspelers wat reeds oor tyd begin het om alternatiewe moontlikhede te help ontgin waarop ons almal kan kapitaliseer. Son SA is ook besig met die moontlikheid om vroeg in Maart ʼn konferensie aan te bied wat ook verdere moontlikhede kan help ontsluit. Hierdie soort krag is noodsaaklik om ons ekonomie te laat funksioneer en dit is belangrik dat elkeen sal besef dat ons almal skouer aan hierdie wiel sal moet sit, omdat die regering se inmenging met sy kaderontplooiing en SEB vierkantig in die pad van moontlike sukses vir Eskom staan.

 

Dit is egter noodsaaklik om ook vir ʼn oomblik stil te staan by ʼn ander soort krag wat dalk méér belangrik is vir die jaar wat voorlê. Dit is ons inherente krag, ons geesteskrag, ons geloofskrag. Om te verseker dat ons oor hierdie krag beskik, moet ons onsself met die wapentoerusting van God toerus.

 

Só ʼn mondering sal ons die beste vir enige stryd toerus. Hieruit sal ons die krag vind om te volhard, ons sal die nodige wysheid ontvang om die regte besluite te neem en dan, die belangrikste, om telkens vir enige sukses die eer aan God te gee. Dit is dán wanneer ons die kultuuropdrag wat ons daagliks uitleef, naamlik om te bewaak en te bewerk, die regte inhoud gee. Mag ons in 2023 oplossings vir ons kragprobleme vind deur met die regte inherente krag die jaar aan te pak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Dankie, Bennie. Dit is ook goed om jou weer op die been te sien, veral waar jy Sondag weer vir die eerste keer in kerk was. Sterkte weereens aan jou en Elmie. En sterkte vir die pad voorentoe en jou werk.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Puik artikel. Dankie. Bennie van Zyl: “Dit is verstommend dat mense vir die ANC stem om net die volgende dag teen hulle te betoog”. Hierdie ANC ondersteuners het nie die agtergrondkennis en insig om die verbandskap tussen die regeringsleiers en die ANC-leierskap raak te sien nie. En dít maak van die “Suid-Afrikaanse demokrasie” ‘n sirkus en klug. Ons is in wese maar net nog ‘n kommunistiese staat onder die rookskerm van “sosialisme” en met die arm om die blase van die mede-kamerade in Rusland, Iran, China, Kuba, Noord-Korea en ander Mafia-state. Daarom dat die ANC nie openlik Rusland en China en Iran aanspreek oor menseregte-vergrype nie. Tragies. So, hoe los ons die probleem op? Ontslaaf kiesers van die ANC-slawejuk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Rusland is sedert die val van die USSR nie kommunisties nie. Russe kan grond koop op die ope mark en begin boer. Opbrengste word verkoop in ope markte, soms deur korporasies. En boere moet natuurlik belasting betaal. Daar is reeds aktiewe SA graanboere in Rusland wat grond by ander boere of die staat huur, en mag dit na ‘n paar jaar koop. Russe besit huise en besighede, en buitelanders kan besighede daar begin of daarin belê. Openbare onderwys is gratis en toegang tot mediese dienste word deur ‘n NGV skema hanteer.

annie ·

Mnr Van Zyl, jy praat vanuit ‘n konsentrasiekamp. Dit is waar is sit uit eie toedoen. Daar is net Een wat ons kan bevry; ‘n sleutel het. Ons kan nie self nie. Jy sal vir nog drie dekades elke dag hierdie selfde postiewe brief skryf, maar sonder hulp en bevryding van Bowe, is dit wensdenkery. Om die Roomse Kerk se ideoigie van ‘verskil-maak’ aan te hang ná die reformasie is om ander te dien ipv van ons Vader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.