Met wie om te praat en met wie om saam te werk

Dr. Theuns Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerkstigting. Foto: Ethlife.ethz.ch

Die konteks

Tydens ʼn onlangse RSG-gesprek tussen Kallie Kriel van AfriForum en Pieter du Toit van Huffington Post Suid-Afrika, was dit duidelik dat die twee here oor sekere sake sterk van mekaar verskil – en dat dit nie lyk of hulle (ten spyte van die beste pogings van die onderhoudvoerder Anita Visser) gou oor die meeste goed gaan saamstem nie. In ʼn grondwetlike demokrasie is dit nie vreemd of verkeerd nie. Die vraag wat wel by my opgekom het, is met wie mens behoort te praat en met wie nie? En met wie behoort mens saam te werk en met wie nie?

In ons lewendige en gesonde grondwetlike demokrasie is daar ʼn verskeidenheid van politieke, gemeenskaps- en burgerregte-organisasies, met verskillende doelwitte, gehore, magsbasisse en metodes. Baie van hulle wil nie met van die ander praat nie (en dis hul grondwetlike reg), maar sommige wil selfs verhoed dat ander in die openbaar hul standpunte stel. Dink maar aan die Rhodes Must Fall-, die Black First- en Land First-bewegings wat van mening is dat wit Suid-Afrikaners ten minste oor sekere sake moet stilbly en in die hoek sit. Dit herinner aan sommige wit Suid-Afrikaners wat in die apartheidsdae geglo en gesê het dat swart Suid-Afrikaners gesien, maar nie gehoor moet word nie.

Hoe behoort Suid-Afrikaners, Afrikaanses en Afrikaners die saak van gesprek en samewerking te hanteer?

Met wie praat mens?

Gesprek en debat is so oud soos die berge. Jesus Christus het met almal gepraat, selfs op ʼn slag met die duiwel! Gesprek is ʼn manier om jou sienings te deel en oor te dra. Dit is egter ook ʼn manier om ander se standpunte te hoor en beter te verstaan. Dit hoef nie altyd met konsensus te eindig nie. ʼn beter begrip vir die ander (al stem jy nie saam nie) is nog altyd beter as om uit onkunde of onbegrip oorlogdromme te slaan.

Myns insiens mag mens nooit sê, “Ek weier om met dié en dié te praat nie”. Dit kan net die situasie en moontlike misverstande vererger. Daar mag in sekere omstandighede ʼn raamwerk of selfs voorwaardes vir die gesprek wees, maar mens kan nooit in beginsel sê, “Ek weier vir altyd om met X te praat nie”. Indien dit waar en reg sou wees, sou die Evangelie nooit verder as 12 Jode met baarde gekom het nie!

Dit volg logies dat mens ook nie ʼn ander persoon die reg om sy/haar standpunt te huldig en in die openbaar te stel, mag ontneem of misgun nie. ʼn Mens kan dus nie sê dat iemand nie ʼn politieke standpunt of kritiek op die huidige regering mag hê “omdat jy deel was van die grondwetlike onderhandelings” nie. Of, “omdat jy wit is, mag jy nie praat oor die regte of foute van swart mense nie”.

In beginsel moet mens dus bereid wees om alle mense te hoor en met hulle te praat en die reg uitoefen om jou mening te lig. Dis Bybels en dis grondwetlik – art 15 waarborg vryheid van godsdiens, gewete, denke en standpunt, en art 16 waarborg vryheid van spraak. Hierdie beginsel geld vir alle sake – ook emosiebelaaide onderwerpe soos misdaad, plaasmoorde, apartheid en grondonteiening.

Die manier van gesprekvoer is ook belangrik. Die grootste probleem is  dat gespreksgenote soms by mekaar verbypraat – omdat hulle nie regtig die ander se standpunt “hoor” en verstaan (of wil verstaan) nie. Hulle diskrediteer die ander party byvoorbaat. ʼn Vraag waarop die antwoord goeie perspektief kan gee, is of organisasie A binne of buite die Grondwet optree. Indien die organisasie wel binne die Grondwet optree, kan jou kritiek nie allesvernietigend wees nie. ʼn Mens mag dalk nie met Orania saamstem of daar wil bly nie, maar hulle tree binne die grondwetlike raamwerk op. Daarvoor moet daar begrip en verdraagsaamheid wees.

Ons politiek en ekonomie kan nooit oorvereenvoudig en eendimensioneel gemaak word nie. Selfs groepe met wie ek verskil, sal ʼn waarheidsmoment in hul standpunte hê of iets konstruktiefs doen. Niemand kan byvoorbeeld ontken dat die EFF ons demokrasie verbreed het nie, of dat hulle ʼn rol gespeel het om van Zuma ontslae te raak nie. Net so kan niemand ontken dat AfriForum op plaaslike vlak, soms in vennootskap met plaaslike owerhede, goeie werk ten opsigte van watervoorsiening, riolering en slaggate vir alle Suid-Afrikaners doen nie. As sulke werk in gesprekke erken word, kan gesprekke meer konstruktief wees en vordering gemaak word.

Die oorkoepelende riglyn is dat die grondwetlike regte van denke en vryheid van spraak uitgeoefen moet word in lyn met ander grondwetlike waardes, soos respek, waardigheid en gelykheid voor die reg.

Met wie werk mens saam?

Die vraag oor met wie mens behoort saam te werk, is moeiliker om te beantwoord. Gewoonlik sal jy saamwerk met mense en organisasies met wie jy ʼn visie en waardes en doelwitte deel. Maar dit het ook al in die politiek gebeur dat groepe wat in beginsel en doelwit ver van mekaar af is, saamwerk teen ʼn gemeenskaplike vyand – die voorbeeld van die reeks nieregeringsorganisasies wat teen Zuma saamgestaan het, is ʼn goeie voorbeeld. Dan is my vyand se vyand my vriend.

In ʼn grondwetlike demokrasie kan jy kies met wie jy wil saamwerk – niemand kan jou dwing nie. Jy kan nie gedwing word om met iemand saam te werk nie, maar jy ook nie van samewerking deur ʼn derde party weerhou word nie. En tog vind mens in vandag se oordrewe politieke korrektheid baie keer die verskynsel van “skuld deur assosiasie”. Dit beteken dat as jy met organisasie X saamwerk (of selfs net aan ʼn konferensie deelneem wat hulle gereël het), jy vir altyd met ʼn sekere kwas geverf word – rassisties, marxisties, sosialisties, reaksionêr en regs. En dis gewoon nie waar dat as jy met ʼn sekere doel saam met ʼn sekere organisasie werk, jy al die doelwitte en waardes van daardie organisasie deel nie. Dis nog minder waar as jy met hulle praat of aan hul konferensie deelneem. Hier kom die onverdraagsaamheid van individue en groepe sterk na vore.

Die belangrikste riglyn is dat mens in beginsel moet kan saamwerk met alle mense en organisasies wat die Grondwet aanvaar en ondersteun. Dis die primêre skeidslyn. Daarbinne (soos met alle aanvaarde SA politieke partye) kan mens verskil, maar kan jy nie teenstaanders geheel en al diskrediteer as links, regs, sosialisties, reaksionêr of rassisties nie. As sulke individue en organisasies wel met sulke bedoelings optree en praat, behoort jy hulle by die SA Menseregtekommissie of soortrgelyke organisasies te verkla – want dan oortree hulle die Grondwet en die waardes daarvan.

Kortom, miskien moet ons weer ʼn slag vra – “wat en waar is die skeidslyn om te praat en om saam te werk?” Die antwoord op beide sal aanvaarding van die Grondwet en sy waardes wees. En dit sal ook die manier van gesprek en samewerking definieer. Dan sal ons mekaar minder verskree, verketter en etiketteer – en dalk vordering maak om ons komplekse probleme te begin oplos.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Fanie ·

Uitstekende stuk met nugtere oordeel! Baie dankie Dr Theuns! My enigste vrees is die botsende vertolkings oor grondwetlike waardes. Regter Moegoeng sê dit beteken ‘radikale transformasie’ en die ontneming van Afrikaners se grondwetlike kulturele regte, terwyl u juis die ternoorgestelde bedoel?

Thinus Erasmus ·

Waarom is debat nodig? Debat om probleem op te los of om iemand te beledig of verkleineer?
Daar moet sekere reels en beginsels wees waarop debat of samesprekings gegrond is. Soos bv. om mekaar se standpunt of argument te erken en probeer verstaan.
Ek het geluister na die program waarna die skrywer verwys maar beskou dit nie as goeie voorbeeld van positiewe konstruktiewe debat nie want:
Die aanbieder wys sommer heel aan die begin dat Kallie asb. nie standpunte mag stel nie, maar net haar vrae beantwoord.
Die aanbieder maak stellings en vra tot 3 vrae aan Kallie, en gee hom dan net geleentheid om een te antwoord.
Pieter aan die anderkant beskuldig Kallie en Afriforum dat hulle gedurigdeur mense etiketteer maar in effek doen hy dit self heeltyd.
Ek luister gereeld na RSG se gesprekke en debatte, en deurgans word dit swak hanteer.
As ‘n gas konserwatief is, of Afrikaner belange bevorder, word hulle altyd aangeval, hul standpunte as rassisties of irrasioneel afgemaak, hul word beskuldig van taktiek waarvan hul juis die slagoffers is, baie neerhalend en selfs beledigend na hulle verwys.
IS DIT WARE DEBAT?
Talle kere word hul onderbreek en nooit sal die aanbieders optree nie, en hier wil ek graag Max du Preez en Piet Crouwcamp uitsonder wat graag die gesprek oorneem en uiters beledigend teenoor wit Afrikaner gaste in die besonder is.
Afrikaners wil saamwerk en saampraat, MAAR ons wil vir ‘n slag ook oor ons eie voortbestaan praat! Of het ons geen regte nie?

Henry ·

Dankie Thinus Erasmus!
Jy beskryf daardie onderhoud en veral die onderhoudvoerder se bekende eenogige en aanmatigende aanslag, netsoos dit gebeur het.
Kallie het Afriforum se standpunte tsv provokasie uitstekend, beheersd en op beskaafde wyse gestel.

Eish ·

Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.
MATTHÉÜS 4:10‭-‬11

Dit is seker ook belangrik om die uiteinde van die gesprek tussen Jesus en die duiwel te ontleed, ten einde die gesprekvoering te beoordeel. Na die gesprek het die duiwel nog steeds met sy probleem gesit. Inteendeel, vir hom was die uiteinde van die gesprek sodanig, dat hy Jesus aleen gelos het. Geen verdere diskussie nie punt.

Soortgelyke paralelle kan getrek word tov gesprekvoering in die verlede met die meerderheidsregering wat die huidige tweedeklasburgerskap van Afrikaansprekende Kaukasiërs tot gevolg gehad het.

Ons is bewus van waarop die politieke landskap afstuur. Soos Kallie Kriel tereg gesê het, die publiek is nie dom nie.

Gesprekvoering, egter, binnelands, het sy duiwelsoomblik bereik. Soos n Paulus dus, gaan ons na die buiteland om die evangelie van die werklikheid te verkondig.

Boela ·

“Gesonde grondwetlike demokrasie.” Wat jy waar kry? Grondwetlike regte van Afrikaners en Afrikaanssprekendes, soos byvoorbeeld op moedertaalonderrig op universiteitsvlak, word vertrap in ‘n uiters swak uitspraak van die hoofregter in die grondwethof. ‘n Blanke vrou wat die k-woord gebruik het kry tronkstraf, maar ‘n swart majoor wat geweld teenoor blankes goedgepraat het word slegs afgedank. Die Stem word verfoei, maar “Kill the Boer” word opgehemel. Plaasmoorde word afgemaak as ‘n misdaadprobleem, maar renosterstropery kry spesiale bestrydingseenhede. “Gesonde grondwetlike demokrasie.” Wat jy waar kry?

Hendrik ·

Die mees omgrondwettige wettige grondwet in die wereld volgens Prof Koos Malan.

DomTom ·

Om met die duiwel te praat, moet jy jou storie ken… Veral as hy geneig is om in skaapsklere na jou toe te kom.. Nee wag nou… Sê liewer as jy met Wolf en of Jakkals moet praat…. Die een verskeur en die ander is ..e… nouia… hoe sal ‘n mens dit sagkens kan stel… Spyt oor die verlede en begerig om nog ‘n kans te kry … om dalk net weer te swig en ‘n sielsverandering te ondergaan…

Oor die geldigheid en aanvaarbaarheid van die Grondwet word per meerderheidstem besluit. Dus kan dit nouliks as primêre skeidslyn gebruik word.

Arak ·

In hierdie land kan jy mos vreeslik maklik met iemand praat, maar jy moet net ongelooflik versigtig wees wat jy sê, want vryheid van spraak (Artikel 16) is nie op jou as wit mens, van toepassing nie. Verder is Artikel 15 eintlik ook nie op jou van toepassing nie, want sou jy werklik na die gemors kyk wat die nuwe Suid-Afrika is, en jou denke nie heeltemal saamstem met die propaganda wat dag vir dat vir jou opgedis word nie, mag jy dalk net ‘n vreeslike boete kry of in die tronk eindig. Dan verwys ons nie eers na die nuwe drakoniese wetgewing wat die staat probeer invoer om te voorkom dat jou denke afwyk van hulle evangelie nie. So, jammer, maar die grondwet is eintlik maar net ‘n papier en nie van veel waarde vir jou as wit mens nie.

Jerry ·

Dr. Theuns ek deel u standppunt dat n mens in beginsel moet kan gesprek voer en saamwerk met alle groepe en organisasies wat die grondwet ondersteun. Dus moet ek myself verstout deur te se dat dit feitelik dan heeltemal onmoontlik sal wees om met die EFF en Afri-Forum gesprek te voer, laat staan nog, mee saam te werk.

Baie gepraat al ·

Hoeveel keer moet ons nog met die polisie, regering oor plaasmoorde praat? Wat het daarvan gekom? Wat het gekom van die gepraat vir ons regte na 1994?

Koos1 ·

Hoeveel keer het ek al vir Cyril Ramaphosa gehoor sê “our people”. Ek wil graag weet wie dit is? Sluit dit alle SA bugers in? Hy is “after all” die president van die land en het ‘n eed onderneem. Dit beteken mos hy is my president ook. As dit kom by die regstelling van die verlede en meer spesifiek die grond kwessie praat hy heeltyd van “our People”. Sluit dit dan nou my in of uit? Wil hy grond vat en aan ALLE SA burgers gee of net aan die wat voorheen benadeel word? Ek weet wat die antwoord is, maar hier is nou ‘n duidelike voorbeeld met wie om te praat en met wie om saam te werk!

Johann van der Linde ·

Johann,
Dankie Theuns vir ‘n ewewigtige siening.

Hennie ·

Is dit wasragtig die enigste plek waar hierdie man n werk kan kry? Ek bedel eerder by n begrafplaashek voor ek vir die Flat Wheel de Klerk uitverkoping stigting werk!

Haan ·

Vanwaar die aanname dat die apostels alma Jode was? Dalk n verborge bewondering vir die Jode? Dalk daarom wat u by die de Klerk stigting gaan werk het nadat u die PUK op so oneerbare wyse geknou het? Ons sal nooit weet nie

Casper Labuschagne ·

Daar is wel ‘n groep met wie ‘n mens glad nie kan praat nie, en dit is diegene wat hoegenaamd nie bereid is om na jou te luister nie. En is Suid Afrika is daar tans ‘n groot asook sterk groeiende groep wat hoegenaamd nie bereid is om te luister as Afrikaners hul saak wil stel nie. Boonop sluit daardie groep wat nie wil luister nie net linkse swart nasionaliste soos die EFF in nie, maar net sowel verligte- asook progressiewe Afrikaanssprekendes. En synde beide Pieter du Toit en Max du Preez my op Twitter bloot geblok het omdat ek op ‘n dag met Afriforum saamgestem het, is hulle duidelik deel van die groep wat nie bereid is om te luister na my kant van die saak nie.

Casper Labuschagne ·

“die aanvaarding van die grondwet en sy waardes” is juis waar die probleem lê.

Eerstens het ek ‘n sterk vermoede dat die vertolking en toepassing van die grondwet hemelsbreed verskil tussen 1994 en 2018 vir sowel die konstitusionele hof en die regerende party. Dit is asof die grondwet destyds in ‘n heel ander sin opgestel is as wat dit nou in die heersende tydsgees vertolk word. Dit kom ook voor asof die grondwet die regerende party geensins belemmer om bloot op te tree soos hulle wil nie.

Tweedens is heelwat van die beskerming wat die grondwet van 1994 aan minderheidsregte voorsien het nou deur of die konstitusionele hof se uitsprake, of die regering se vertolking daarvan wat gevolglik beleid bepaal, of deur ander regsuitsprake, ongedaan gemaak. Inteendeel heersende regeringsbeleid druis telkemale in teen die grondwetlike beskerming en minderhede kan die saak voer tot by die grondwetlike hof, maar verloor telkemale hul saak. Die punt is bereik waar dit voorkom dat dit hopeloos is om tot die grondwetlike hof te wend vir die beskerming van minderheidsregte sou die staat die teenparty wees. Minderhede word nie meer effektief deur die grondwet beskerm nie en nadat die grondwet verander word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, is of landuit vlug of assimilasie by die meerderheid die enigste effektiewe toekomstige opsies vir minderhede.

En so word die regering se standpunt effektief, “Ons sal praat, maar net solank julle ons nie opponeer nie, want daar is alreeds besluit.”

Wat help praat dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.