Met wie om te praat en met wie om saam te werk

Dr. Theuns Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerkstigting. Foto: Ethlife.ethz.ch

Deur dr. Theuns Eloff 

Die konteks

Tydens ʼn onlangse RSG-gesprek tussen Kallie Kriel van AfriForum en Pieter du Toit van Huffington Post Suid-Afrika, was dit duidelik dat die twee here oor sekere sake sterk van mekaar verskil – en dat dit nie lyk of hulle (ten spyte van die beste pogings van die onderhoudvoerder Anita Visser) gou oor die meeste goed gaan saamstem nie. In ʼn grondwetlike demokrasie is dit nie vreemd of verkeerd nie. Die vraag wat wel by my opgekom het, is met wie mens behoort te praat en met wie nie? En met wie behoort mens saam te werk en met wie nie?

In ons lewendige en gesonde grondwetlike demokrasie is daar ʼn verskeidenheid van politieke, gemeenskaps- en burgerregte-organisasies, met verskillende doelwitte, gehore, magsbasisse en metodes. Baie van hulle wil nie met van die ander praat nie (en dis hul grondwetlike reg), maar sommige wil selfs verhoed dat ander in die openbaar hul standpunte stel. Dink maar aan die Rhodes Must Fall-, die Black First- en Land First-bewegings wat van mening is dat wit Suid-Afrikaners ten minste oor sekere sake moet stilbly en in die hoek sit. Dit herinner aan sommige wit Suid-Afrikaners wat in die apartheidsdae geglo en gesê het dat swart Suid-Afrikaners gesien, maar nie gehoor moet word nie.

Hoe behoort Suid-Afrikaners, Afrikaanses en Afrikaners die saak van gesprek en samewerking te hanteer?

Met wie praat mens?

Gesprek en debat is so oud soos die berge. Jesus Christus het met almal gepraat, selfs op ʼn slag met die duiwel! Gesprek is ʼn manier om jou sienings te deel en oor te dra. Dit is egter ook ʼn manier om ander se standpunte te hoor en beter te verstaan. Dit hoef nie altyd met konsensus te eindig nie. ʼn beter begrip vir die ander (al stem jy nie saam nie) is nog altyd beter as om uit onkunde of onbegrip oorlogdromme te slaan.

Myns insiens mag mens nooit sê, “Ek weier om met dié en dié te praat nie”. Dit kan net die situasie en moontlike misverstande vererger. Daar mag in sekere omstandighede ʼn raamwerk of selfs voorwaardes vir die gesprek wees, maar mens kan nooit in beginsel sê, “Ek weier vir altyd om met X te praat nie”. Indien dit waar en reg sou wees, sou die Evangelie nooit verder as 12 Jode met baarde gekom het nie!

Dit volg logies dat mens ook nie ʼn ander persoon die reg om sy/haar standpunt te huldig en in die openbaar te stel, mag ontneem of misgun nie. ʼn Mens kan dus nie sê dat iemand nie ʼn politieke standpunt of kritiek op die huidige regering mag hê “omdat jy deel was van die grondwetlike onderhandelings” nie. Of, “omdat jy wit is, mag jy nie praat oor die regte of foute van swart mense nie”.

In beginsel moet mens dus bereid wees om alle mense te hoor en met hulle te praat en die reg uitoefen om jou mening te lig. Dis Bybels en dis grondwetlik – art 15 waarborg vryheid van godsdiens, gewete, denke en standpunt, en art 16 waarborg vryheid van spraak. Hierdie beginsel geld vir alle sake – ook emosiebelaaide onderwerpe soos misdaad, plaasmoorde, apartheid en grondonteiening.

Die manier van gesprekvoer is ook belangrik. Die grootste probleem is  dat gespreksgenote soms by mekaar verbypraat – omdat hulle nie regtig die ander se standpunt “hoor” en verstaan (of wil verstaan) nie. Hulle diskrediteer die ander party byvoorbaat. ʼn Vraag waarop die antwoord goeie perspektief kan gee, is of organisasie A binne of buite die Grondwet optree. Indien die organisasie wel binne die Grondwet optree, kan jou kritiek nie allesvernietigend wees nie. ʼn Mens mag dalk nie met Orania saamstem of daar wil bly nie, maar hulle tree binne die grondwetlike raamwerk op. Daarvoor moet daar begrip en verdraagsaamheid wees.

Ons politiek en ekonomie kan nooit oorvereenvoudig en eendimensioneel gemaak word nie. Selfs groepe met wie ek verskil, sal ʼn waarheidsmoment in hul standpunte hê of iets konstruktiefs doen. Niemand kan byvoorbeeld ontken dat die EFF ons demokrasie verbreed het nie, of dat hulle ʼn rol gespeel het om van Zuma ontslae te raak nie. Net so kan niemand ontken dat AfriForum op plaaslike vlak, soms in vennootskap met plaaslike owerhede, goeie werk ten opsigte van watervoorsiening, riolering en slaggate vir alle Suid-Afrikaners doen nie. As sulke werk in gesprekke erken word, kan gesprekke meer konstruktief wees en vordering gemaak word.

Die oorkoepelende riglyn is dat die grondwetlike regte van denke en vryheid van spraak uitgeoefen moet word in lyn met ander grondwetlike waardes, soos respek, waardigheid en gelykheid voor die reg.

Met wie werk mens saam?

Die vraag oor met wie mens behoort saam te werk, is moeiliker om te beantwoord. Gewoonlik sal jy saamwerk met mense en organisasies met wie jy ʼn visie en waardes en doelwitte deel. Maar dit het ook al in die politiek gebeur dat groepe wat in beginsel en doelwit ver van mekaar af is, saamwerk teen ʼn gemeenskaplike vyand – die voorbeeld van die reeks nieregeringsorganisasies wat teen Zuma saamgestaan het, is ʼn goeie voorbeeld. Dan is my vyand se vyand my vriend.

In ʼn grondwetlike demokrasie kan jy kies met wie jy wil saamwerk – niemand kan jou dwing nie. Jy kan nie gedwing word om met iemand saam te werk nie, maar jy ook nie van samewerking deur ʼn derde party weerhou word nie. En tog vind mens in vandag se oordrewe politieke korrektheid baie keer die verskynsel van “skuld deur assosiasie”. Dit beteken dat as jy met organisasie X saamwerk (of selfs net aan ʼn konferensie deelneem wat hulle gereël het), jy vir altyd met ʼn sekere kwas geverf word – rassisties, marxisties, sosialisties, reaksionêr en regs. En dis gewoon nie waar dat as jy met ʼn sekere doel saam met ʼn sekere organisasie werk, jy al die doelwitte en waardes van daardie organisasie deel nie. Dis nog minder waar as jy met hulle praat of aan hul konferensie deelneem. Hier kom die onverdraagsaamheid van individue en groepe sterk na vore.

Die belangrikste riglyn is dat mens in beginsel moet kan saamwerk met alle mense en organisasies wat die Grondwet aanvaar en ondersteun. Dis die primêre skeidslyn. Daarbinne (soos met alle aanvaarde SA politieke partye) kan mens verskil, maar kan jy nie teenstaanders geheel en al diskrediteer as links, regs, sosialisties, reaksionêr of rassisties nie. As sulke individue en organisasies wel met sulke bedoelings optree en praat, behoort jy hulle by die SA Menseregtekommissie of soortrgelyke organisasies te verkla – want dan oortree hulle die Grondwet en die waardes daarvan.

Kortom, miskien moet ons weer ʼn slag vra – “wat en waar is die skeidslyn om te praat en om saam te werk?” Die antwoord op beide sal aanvaarding van die Grondwet en sy waardes wees. En dit sal ook die manier van gesprek en samewerking definieer. Dan sal ons mekaar minder verskree, verketter en etiketteer – en dalk vordering maak om ons komplekse probleme te begin oplos.

  • Dr. Theuns Eloff is die uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fanie

Uitstekende stuk met nugtere oordeel! Baie dankie Dr Theuns! My enigste vrees is die botsende vertolkings oor grondwetlike waardes. Regter Moegoeng sê dit beteken ‘radikale transformasie’ en die ontneming van Afrikaners se grondwetlike kulturele regte, terwyl u juis die ternoorgestelde bedoel?

Thinus Erasmus

Waarom is debat nodig? Debat om probleem op te los of om iemand te beledig of verkleineer? Daar moet sekere reels en beginsels wees waarop debat of samesprekings gegrond is. Soos bv. om mekaar se standpunt of argument te erken en probeer verstaan. Ek het geluister na die program waarna die skrywer verwys maar beskou dit nie as goeie voorbeeld van positiewe konstruktiewe debat nie want: Die aanbieder wys sommer heel aan die begin dat Kallie asb. nie standpunte mag stel nie, maar net haar vrae beantwoord. Die aanbieder maak stellings en vra tot 3 vrae aan Kallie, en gee… Lees meer »

Eish

Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien. MATTHÉÜS 4:10‭-‬11 Dit is seker ook belangrik om die uiteinde van die gesprek tussen Jesus en die duiwel te ontleed, ten einde die gesprekvoering te beoordeel. Na die gesprek het die duiwel nog steeds met sy probleem gesit. Inteendeel, vir hom was die uiteinde van die gesprek sodanig, dat hy Jesus aleen gelos het. Geen verdere diskussie nie punt. Soortgelyke paralelle kan… Lees meer »

Boela

“Gesonde grondwetlike demokrasie.” Wat jy waar kry? Grondwetlike regte van Afrikaners en Afrikaanssprekendes, soos byvoorbeeld op moedertaalonderrig op universiteitsvlak, word vertrap in ‘n uiters swak uitspraak van die hoofregter in die grondwethof. ‘n Blanke vrou wat die k-woord gebruik het kry tronkstraf, maar ‘n swart majoor wat geweld teenoor blankes goedgepraat het word slegs afgedank. Die Stem word verfoei, maar “Kill the Boer” word opgehemel. Plaasmoorde word afgemaak as ‘n misdaadprobleem, maar renosterstropery kry spesiale bestrydingseenhede. “Gesonde grondwetlike demokrasie.” Wat jy waar kry?

DomTom

Om met die duiwel te praat, moet jy jou storie ken… Veral as hy geneig is om in skaapsklere na jou toe te kom.. Nee wag nou… Sê liewer as jy met Wolf en of Jakkals moet praat…. Die een verskeur en die ander is ..e… nouia… hoe sal ‘n mens dit sagkens kan stel… Spyt oor die verlede en begerig om nog ‘n kans te kry … om dalk net weer te swig en ‘n sielsverandering te ondergaan…

Oor die geldigheid en aanvaarbaarheid van die Grondwet word per meerderheidstem besluit. Dus kan dit nouliks as primêre skeidslyn gebruik word.