Metaalbedryf se nywerheidsreuse in hul eie wip gevang

staalbedryf seifsa

Foto: Hera.org.nz

Gerhard Papenfus

Ondanks hul kernrol kan klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) hulle maar staal vir ’n opdraande stryd in Suid-Afrika indien die land se ekonomie enige kans het op groei.

Wat gesentraliseerde kollektiewe bedinging betref, is die Wet op Arbeidsverhoudinge (WAV) stilletjies, sorgvuldig en opsetlik so opgestel dat groot sakeondernemings en groot vakbonde (binne bedingingsraadstrukture) kan saamspan om lone en diensvoorwaardes te bepaal én om daardie besluite dan kragtens ’n volslae ondemokratiese bepaling in die WAV op KMMO’s deur die hele Suid-Afrika af te dwing.

Hoewel 90% van ondernemings in die metaal- en ingenieursbedryf in die KMMO-kategorie val, wis die bepalings oor die verlenging van ooreenkomste in die WAV bykans alle invloed uit wat KMMO’s dalk nog gehad het om hulself teen hierdie vyandige arbeidsreëlings te beskerm.

Sekere groot werkgewers wat die staalprys beheer, bepaal ook die lone van die bedryf – nie net vir hulself nie, maar ook vir mikrowerkgewers in die mees afgeleë gebiede van Suid-Afrika. Jare lank gaan nie net KMMO’s nie, maar die hele land, gebuk onder hierdie ongrondwetlike las.

Veral KMMO’s in die metaal- en ingenieursbedryf bevind hulle konstant in die spreekwoordelike perfekte storm – ’n onvriendelike Arbeidswet wat KMMO’s van bedingingsmagte stroop, onderhandelaars wat gewoon nie kan ‘nee’ sê vir vakbonde wat hulle (deur geweld en intimidasie) grootmeneer hou nie en ’n bevooroordeelde onderhandelingsraad (MEIBC) sekretariaat met ’n skokkende bestuursgeskiedenis.

Deur onderhandelinge binne hierdie algeheel partydige model het die metaal- en ingenieursbedryf Suid-Afrika se duurste arbeidsbedeling geword – ten minste 30% duurder as die tweede duurste gesentraliseerde struktuur vir kollektiewe bedinging in die land. Dat KMMO’s ten gronde gaan onder die juk van hierdie brutaal ondemokratiese bedeling en dat honderde duisende werksgeleenthede reeds daarmee heen is en duisende potensiële werkers enige vooruitsig op ’n werk ontneem is, het nóg die ‘reuse van die metaal- en ingenieursbedryf’ nóg die ‘magtige’ vakbonde gepla – in elk geval nie so dat jy dit sou agterkom nie.

Die bedeling in die metaal- en ingenieursbedryf skryf voor dat tensy ’n produk dit regverdig om ’n laag geskoolde en onervare werker, hetsy in Gauteng of in die verste uithoek van Suid-Afrika, R108 000,00 per jaar (koste vir die maatskappy) te betaal, wat onbepaald aanhou om teen 10% te eskaleer, dit meer kostedoeltreffend sal wees om daardie produk eerder in te voer. Die vernaamste gevolg van hierdie benadering het die land se grootste uitdaging geword: werkloosheid.

Die stelsel het nog altyd die ‘reuse’ en die vakbonde begunstig: Dit het kortsigtige en kortstondige ‘arbeidsvrede’ gekoop (sosio-ekonomiese onstabiliteit op lang termyn was nog altyd onafwendbaar), KMMO’s aan bande gelê en as ’n reddingsboei vir vakbonde gedien.

Dít was natuurlik totdat die bordjies in die internasionale arena verhang is. Weens die onbelemmerde en ongereguleerde invoer van Chinese staal, wat vererger is deur die verlangsaming in die Chinese ekonomie, is die Suid-Afrikaanse mark uiteindelik toegegooi onder goedkoop staal. Skielik het die ‘reuse’ die onbekostigbare en onbuigsame arbeidsbedeling, wat dekades lank verwoesting onder KMMO’s gesaai het, aan eie bas gevoel. Meteens was dit vir hulle onmoontlik om die eise van ’n drasties veranderende omgewing vernuftig te manipuleer en te hanteer.

Wat hierná sou volg, is verstommend. Die einste rolspelers wat die metaal- en ingenieursbedryf onbekostigbaar gemaak het – die reuse, hulle onderhandelaars en NUMSA – het nou bakhand om hulp voor die regering kom staan – vir hulself! Dit is hoogs onwaarskynlik dat hulle sal erken hoeveel skade hulle die bedryf aangedoen het óf sal verduidelik waarom hulle dit die mees onbekostigbare bedryf in Suid-Afrika gemaak het om in sake te doen.

Die werksverlieskrisis is niks nuuts nie – dis immers reeds jare lank ’n bloedbad weens die arbeidsomgewing wat geskep is; die gevolg van voortdurende oorgawe aan onrealistiese vakbondeise. Die ‘reuse’ het vermoedelik ook nie gebieg oor hul dekade lange selfsugtige optrede nie – oor hoe hulle, met ’n onregverdige voorsprong weens ’n ondemokratiese arbeidsbedeling, ooreenkomste beding het om húlle te pas, sonder om vir ’n oomblik aan die lot van KMMO’s te dink.

Dit wat China nou aan hulle doen, is presies wat hulle dekades lank aan KMMO’s gedoen het. China is hoegenaamd nie begaan oor die probleme wat hy vir die ‘reuse’ skep nie, nes die ‘reuse’ hoegenaamd nie begaan was oor die gevolge wat hulle ooreenkomste met vakbonde vir KMMO’s sou inhou nie. China is nou vir hulle wat hulle vir Suid-Afrika se KMMO’s was.

As bondgenote het die ‘reuse’ en die groot vakbonde nooit ’n vinger verroer om iets aan die voortdurende werksverlies in die bedryf te doen nie. Die werksverliese wat hierdie groot spelers nou verwag, is bra onbeduidend vergeleke met wat oor dekades in die metaal- en ingenieursbedryf landswyd plaasgevind het (hoewel nie eens die verlies van ’n enkele werksgeleentheid werklik as onbeduidend afgemaak kan word nie). In 2014 het die algemene sekretaris van die bedingingsraad vir die metaal- en ingenieursbedryf (MEIBC) erken dat die bedryf reeds 700 000 werksgeleenthede kwyt is.

Indien die regering enige vorm van bystand oorweeg, smeek ons hulle om nie enige reddingsplan te oorweeg sonder om dieselfde voordele, regte en beskerming aan KMMO’s te verleen nie. Geen bystand moet verleen word tensy daar terselfdertyd verseker word dat die jare lange onvanpaste oorheersing van die ‘reuse’ in die metaal- en ingenieursbedryf beëindig word en die belange van KMMO’s in alle opsigte deel uitmaak van enige oplossing vir die bedryf nie.

Die maatreëls waaroor die regering ooreengekom het en wat op 24 Augustus 2015 aangekondig is, ondervang slegs die kwessies van vyf groot, primêre staalprodusente. Dit is van nul en gener waarde vir die 11 000 ander ondernemings in die bedryf en doen bepaald niks om die uitdagings van KMMO’s die hoof te bied nie. Inteendeel, dit sal die staalprys vir vervaardigers weer laat styg. En so word ’n ou gevestigde praktyk in die metaal- en ingenieursbedryf voortgesit: Die primêre staalprodusente sien om na hul eie belange, sonder om enigsins ag te slaan op die belange van die vervaardigers laer af in die nywerheidsketting.

Ons doen ’n beroep op die regering om ’n volskaalse ondersoek van stapel te stuur na die koste om sake te doen in Suid-Afrika vergeleke met mededingende wêreldspelers (veral China), veral wat elektrisiteit, arbeid en administratiewe rompslomp betref en om hierdie uitdagings in vennootskap met ALLE rolspelers aan te pak.

Die uitdagings van die metaal- en ingenieursbedryf, trouens ook van alle ander bedrywe, is enorm. Hoewel daar niks goeds te sê is oor sekere nyweraars se bydrae tot die krisis in die metaal- en ingenieursbedryf nie, lê die langtermynoplossing beslis nie in vyandigheid tussen die groot en klein rolspelers nie, maar in ’n benadering waar almal in ag geneem word en ons die uitdagings van Suid-Afrika as ’n verenigde front die hoof bied.

  • Hierdie meningstuk is geskryf deur Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die National Employers’ Association of South Africa (Neasa). Besoek Neasa se webwerf vir meer inligting.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae