Mianmar: ‘Vervolging van Rohingyas is misdaad teen die mensdom’

bagan-mianmar-burma

Foto: Judithscharnowski/Pixabay.com

Yanghee Lee, ʼn top-amptenaar vir menseregte van die Verenigde Nasies (VN), het gesê dat “misdade teen die mensdom” deur veiligheidsmagte in Mianmar (voorheen bekend as Burma) gepleeg word.

Lee sal ook die menseregtekommissie in Genève vra vir ʼn kommissie van ondersoek. Dié kommissie ondersoek ernstige menseregteskendings. Dit sal ʼn verleentheid wees vir Mianmar, wat vir dekades een van die muishonde van die wêreld was, maar sedert sy demokratisering ʼn soortgelyke ontwikkeling tot “baken van hoop” as Suid-Afrika in die 1990’s ondergaan het.

Die demokrasie-ikoon en minister van buitelandse sake, Aung San Suu Kyi, het gereageer soos die ou militêre bewind tevore gereageer het: Sy het ʼn onderhoud geweier en gesê die aantygings is oordrewe en dat die konflik met die Rohingyas, lede van ʼn Moslem-minderheid in die land, ʼn interne saak is. In die verlede, toe Mianmar deur die militêre diktator Than Shwe geregeer is, is alles wat gebeur het, hoe grusaam ook al, eweneens as huishoudelike sake, wat niks met die buiteland te doen het nie, afgemaak.

Lee het nie die wandade van die soldate en polisie self aanskou nie, maar onderhoude met vlugtelinge uit Mianmar in die buurland Bangladesj, gevoer. Hoewel die vlugtelinge moontlik kan oordryf, is daar genoegsaam bewyse dat die veiligheidsmagte buite verhouding optree en dat hulle besig is met ʼn veldtog van etniese suiwering. Dié bewerings word ook gestaaf deur lugfoto’s wat wys hoe hele Rohingya-dorpe uitgewis is.

Sowat 70 000 Rohingyas is sedert Oktober verlede jaar deur die weermag en polisie uit Mianmar na Bangladesj verdryf, talle is gedood of verkrag en andersins mishandel in die proses. Die veldtog teen die Rohingyas was in reaksie op ʼn terreuraanval deur militante Moslems hoewel die Rohingyas al voor die aanval vervolg is. Die regering beskou dié minderheidsgroep nie as inheems nie, maar as onwettige immigrante van Bangladesj ondanks die feit dat hulle al geslagte lank in Mianmar woon.

Hoewel die veiligheidsmagte in Mianmar tradisioneel besonder magtig is en amper ʼn staat binne die staat vorm en ook aansienlike outonomie van die staatsgesag het, word vingers eweneens na die burgerlike regering gewys wat so iets toelaat en die weermag met fluweelhandskoene hanteer. ʼn Woordvoerder vir die regerende Nasionale Liga vir Demokrasie (NLD) het gesê dat die regering geen effektiewe houvas op die weermag het nie en dat daar dringender probleme is as die Rohingya-konflik.

Die nuwe, demokraties verkose regering is ʼn bietjie meer as ʼn jaar aan bewind en het natuurlik heelwat om in te haal ná dekades van militêre bewind. Nogtans is dit duidelik dat ook die NLD in die eerste plek namens sy eie ondersteuners optree: die Boeddhistiese meerderheid van etniese Mianmese. Die godsdienstige en etniese minderhede skeel hulle min. Daar is ʼn eie kommissie van ondersoek oor die konflik aangestel, maar dit bestaan veral uit weermaglede en die kommissie se onafhanklikheid word dus bevraagteken.

Dit is ook ʼn vraag of die VN sonder meer gehoor sal gee aan Lee se aanbevelings vir ʼn kommissie van ondersoek. Belangriker as die aard van die oortreding van ʼn staat is sy internasionale status. Toe Mianmar homself onder militêre bewind geïsoleer het, weer eens vergelykbaar met die destydse Suid-Afrika, het die land min vriende gehad. Sedert die “wonderwerk” van die afgelope jare (die hervormingsproses van 2011-2016) wil die internasionale gemeenskap en veral die Weste niks doen wat die ikoniese Suu Kyi in ʼn swak lig plaas of wat die “goeie nuus-verhaal” van demokratisering versteur nie.

Ook teenoor die nuwe Suid-Afrika was en is daar nog steeds ʼn huiwerigheid om vergrype by die naam te noem, omdat Nelson Mandela, net soos Aung San Suu Kyi groot internasionale krediet opgebou het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Boerseun ·

Dankie Sebastiaan. Jy en Jaco kan maar meer gereeld mening stukke plaas.

Paul ·

Wat is die definisie van ‘n “misdaad teen die mensdom”?

Dis ‘n inhoudslose konsep. Dis ‘n bemarkingsfrase. Dit klink vreeslik, maar wat is dit regtig?

Gatiep ·

SA n baken van hoop? Die realiteit is dat liberales die media besit, en die waarheid verkrag.

SA is n baken van liberlisme..en ons sal almal uitgemoor wees teen die tyd dat n liberaal erken dat SA n baken van mislukking is…en ongelukkig het n liberaal nie normale denkvermoeens iets anders as n Utopia is anargie te sien nie. Ek verafsku n liberaal erger as die antichris

Kobus ·

Paul,
Ek weet nie of daar regtig ń definisie bestaan vir “misdaad teen die mensdom” nie. Daar is wel baie voorbeelde daarvan. Die mees afgryslike voorbeeld, in my opinie, is die duisende onskuldige mense wat deur die Katolieke kerk doodgemartel en verbrand was gedurende die inquisition en heksejag era.

Rupert Ashford ·

En daar wys ou Ang San Sue toe nou ook lekker vinnig haar ware kleure. Toe nou ook nie ‘n messias nie.

Danie ·

Demokrasie is vir my as Westerling die voorkeur-stelsel vir lande waar dit kan werk, maar in sommige lande maak dit middelpuntvlietende kragte los wat samelewings uitmekaar kan skeur.

Rupert Ashford ·

Jy is so reg!!! Sommige lande het die “sterk man” nodig om dit te stabiliseer soos Ghaddaffi, Sisi, Asad, selfs oorle ou Satan Woestyn ens. Die grootste gemors in die post-kommunistiese era het gekom van Amerika en die Weste wat “demokrasie” in lande gaan probeer vestig het waar dit glad nie kan werk nie en nou sit ons met ISIS en die opbloei van radikale Islam. En dit alles begin by die liberale geloof dat individuele regte groepregte ALTYD moet troef dan sal alles OK wees. In sommige lande het jy juis die sterk ou nodig sodat die klein minderhede beskerm kan word. En dan praat ons nog nie eers van die “one-man-one-vote-once-only” op die Afrika manier nie.

Rupert Ashford ·

Met ons onlangse ervarings in Suid-Afrika het ek nogal gewonder oor hierdie tannie toe sy so opgehemel is as ‘n baken van demokrasie en menseregte. Lyk my ek was reg…hierdie donkie het hom nie twee keer gestamp nie …

Susanna ·

Doen asb bietjie meer moeite om die geskiedenis van Myanmar op te soek. Ongeveer 50000 Bhuddiste was deur die immigrante van Bangladesh (Rohingyas) vermoor met hul aankoms in die tyd van die kolonialiste. Die Buddhiste weet hierdie bloedbad sal nie eindig voor Islam uit Myanmar gedryf word nie. Die Koran spreek immers “maak dood of word doodgemaak om grondgebied onder Islam te behou ” maw daars geen vrede in Islam nie. ‘n Vriend van Myanmar kan nerens sonder ander Buddhiste heen gaan weens die geweld teenoor non-moslems in sy dorpie nie. Inteendeel, hoe sal jy die bloedbad stopsit mnr Biehl?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.