Midde-oosterse gebeure vang analiste onkant, risiko ook plaaslik

Nie net akademici nie, maar ook die intelligensiewêreld, waaronder die MUSSAD, is om dit sag te stel onkant betrap deur politieke gebeure van die afgelope aantal maande in die Midde-Ooste. In ʼn oogwink is die politieke landskap herdefinieer en is die politieke landskap in verskeie omgewings grootliks ongekarteerd.

Alvin Toffler (1928 -), skrywer van die boeke Future Shock en The Third Wave

Histories gevestigde bewinde waaronder dié in Egipte en Tunisië is deur ʼn golf van politieke verandering van die toneel gevee, met aanduidings dat hef aan nog kan voorlê. In sommige kringe word selfs verwys na die tweede rewolusie in die Arabiese wêreld sedert dekolonisasie. Benewens Tunisië en Egipte is verskeie ander state ook onder die spervuur waaronder Libië, Sirië, Djiboeti en Saoedi-Arabië. Tans woed ʼn gewelddadige burgeroorlog (reeds die afgelope ses maande) in Libië en is sporadiese onluste in veral Sirië waarneembaar. Vrese bestaan dat die geweld ook na ander olieproduserende lande kan uitbrei terwyl die olieprys reeds op baie hoë vlakke is. Skielik kry die volgende woorde van die toekomskundige Alvin Toffler nuwe betekenis as hy dit stel: “For this is the dawn of the Power Shift Era. We live in a moment when the entire structure that held the world together is now disintegrating. A radically different structure of power is taking form. And this is happening at every level of human society”. Die vraag wat teen hierdie agtergrond na vore kom, is: Wat lê ten grondslag van hierdie rewolusionêr georiënteerde veranderinge en wat is die implikasie hiervan vir Suid Afrika?

Golfbewegings soos die huidige politieke onstabiliteit in die Midde-Ooste is nie nuut in die wêreldpolitiek nie. Hiervan getuig die groot aantal rewolusies van die post-Napoleontiese tydperk in Europa, demokratisering in Wes-Europa en ander dele tydens die 19de eeu, staatsgrepe, rewolusies en patrone van politieke onstabiliteit in groot dele van die Derde Wêreld na die Tweede Wêreld Oorlog (dekolonisasie) en meer onlangs die derde demokratiseringsgolf. Laasgenoemde het tydens die middel sewentigerjare in Suid-Europa begin, waarna dit na Latyns Amerika uitgebrei het, die Oosblok se kommunistiese bewinde gedemokratiseer het, na Suid-Oos-Asië versprei het en tydens die negentigerjare tot verskeie veelpartyverkiesings in Afrika waaronder Suid-Afrika (1994) aanleiding gegee het. Wat tans in die Arabiese wêreld gebeur toon in belangrike opsigte ooreenkomste met dit wat in Oos-Europa waargeneem is as onderdeel van die groter derde demokratiseringsgolf. Sosiale en politieke ingenieurswese wat misluk het of nie aan die verwagtinge voldoen het nie, het in die Arabiese wêreld (soos in Oos-Europese state) tot politieke frustrasie gelei, wat uitgeloop het op ontploffings van politieke deelname wat weer momentum verskaf het vir rewolusionêre veranderings in state met die voorkoms van wisselende vlakke van politieke geweld. Kortom, waar politici verwagtinge skep en daar nie aan voldoen word nie, is ʼn resep vir politieke onstabiliteit soos wat tans in Suid-Afrika op ʼn plaaslike vlak waargeneem word. Plaaslike politieke onstabiliteit het in die aanloop tot die 2011-plaaslike verkiesing ʼn hoogtepunt bereik met meer as ʼn 100 insidente en met aanduidings dat die einde hiervan nog lank nie in sig is nie.

Maar terug by die Midde Ooste. Wat hier aan die orde is, is regime-verandering met as fokus Sultanistiese bewinde. Laasgenoemde word gekenmerk aan:

  • Die onbeperkte mag van die leier of Sultan;
  • Geen onderskeid word getref tussen die private en openbare domeine in soverre dit die politiek betref nie;
  • Die afwesigheid van die oppergesag van die reg;
  • Die marginalisering van opposisiegroepe;
  • Paramilitêre groepe in diens van die Heerser of Sultan; en
  • ʼn Benadering van verdeel en heers ten opsigte van die veiligheidsmagte om die gevaar van staatsgrepe uit te skakel.

Die oorlewingstrategie van dié bewinde word soos volg deur Goldstone beskryf: “To keep masses depoliticised and unorganised, sultans control elections and political parties and pay their populations off with susidies for key goods, such as electricity, gasoline and foodstuffs”. Wêreldwye voorbeelde van Sultanistiese bewinde sluit in Iran (Shah Pahlavi), Nicaragua (Samosa), Haiti (Duvalier), die Filippyne (Markos) en Indonesië (Suharto). Die bewinde In Egipte, Libië en Tunisië val binne hierdie kategorie.

Soos die meeste nie-demokratiese bewinde is Sultanistiese bewinde besonder kwesbaar vir politieke, ekonomiese en sosiale verandering. Belangrike faktore wat tot regime verandering by hierdie bewinde bydra sluit in:

  • Staats- en regeringsoneffektiwiteit;
  • Steun vir elites of eerder die gebrek daaraan;
  • Internasionale druk;
  • Die onvermoeë om politieke steun te organiseer en te mobiliseer;
  • Korrupsie en nepotisme;
  • Hoë vlakke van werkloosheid;
  • Verbeterde onderwys en die gepaardgaande verwagting; en
  • Die sosiale media as instrument vir politieke mobilisasie.

In die algemeen is die bewinde uiters kwesbaar vir die kragte van modernisasie. Die woorde van SP Huntington is veral hier van toepassing as hy dit stel: “Revolution is… an aspect  of modernization. It is not something that can occur in any type of society at any period of history. It is… an historically limited phenomenon.”

Samuel P. Huntington (1927-2008), skrywer van Clash of Civilizations

Anders as in Oos Europa, waar die val van die Berlynse muur ʼn simbool van bevryding geword het, is dit op die oomblik nie duidelik wat die uitkoms van hierdie rewolusionêre veranderings prosesse in dele van die Midde Ooste gaan wees nie. Dus, watter spreekwoordelike “muur” hier besig is om te val of dalk opgerig gaan word, is tans onseker. Is dit die finale val van die Westerse (lees veral Amerikaanse en koloniale invloede) of dalk die verstewiging van die “Moslemmuur” wat op ʼn eiesoortige wyse gaan uitdrukking gee aan Huntington se tese van “Clash of civilizations” en ʼn versterking van moslemradikalisme wat Al Qaeda nogmaals op die radarskerm laat opduik? Is dit moontlik dat ʼn proses van demokratisering soortgelyk aan ander dele van die wêreld (as uitkoms van onder meer modernisasie) aan die orde is? Wat wel duidelik is, is dat die veiligheids- en strategiese situasie in die Midde-Ooste (maar ook ander dele van die wêreld) drasties anders daar uitsien as byvoorbeeld ʼn paar maande gelede. Hiervan kan die CIA en die MUSSAD getuig. Konflikte in Afghanistan, Irak en omliggende gebiede is besig om te vererger wat saamhang met ʼn groter ekonomiese en politieke magsverskuiwings vanuit die sogenaamde Weste na die Ooste.

Waarom, soos in die verlede, die onvermoeë van akademici en veiligheidsinstellings om met meganismes soos politieke omgewingsverkennings, “early warning”, politieke projeksies en scenario tegnieke die toekoms korrek te kon interpreteer en voorspel? Die verstaan van hierdie tipe veranderings is dikwels opgesluit in die komplekse interaksie van faktore/determinante binne en tussen sosiale, politieke en ekonomiese kontekste van samelewings, die interaksie van samelewings binne globale kontekste en die rol van postmoderne kommunikasietegnieke as die drywers van faktore en determinante. Die groot vraag vir die strategiese analis is watter spreekwoordelike strooi die kameel se rug gebreek het om ʼn proses te begin wat sy eie momentum opbou en homself voortplant. In ander woorde watter klein klippie raak waar los wat weer ander klippe losmaak, ʼn sneeubaleffek veroorsaak en ʼn dinamiek genereer wat moeilik gestop kan word. Plaaslike regeringsopstande in Suid-Afrika veral sedert 2004 is ʼn voorbeeld van so ʼn tendens binne die Suid-Afrikaanse konteks. Terug in die Midde-Ooste word dit voorlopig aanvaar dat die snellers vir verandering primêr geleë is in die sosio-ekonomiese konteks maar dat politieke faktore (in samehang met eersgenoemde) deurslaggewend was. Armoede, voedseltekorte, die elite-massagaping, korrupsie en nepotisme aangedryf deur verbeterde kommunikasietegnieke (Facebook, Twitter, Mxit ens.) was meganismes om verhoogde politieke mobilisasie te bewerkstellig. Uitgediende eenpartystelsels (vergelykbaar met die ou kommunistiese partye in Oos-Europa voor 1989) met leierskap waarvan sommiges selfs dekades aan bewind was, en gekenmerk is deur korrupsie, nepotisme en magsvergrype was die teiken van verset. Versetbewegings het soos in Oos-Europa bestaan uit die massa mobilisasie van die bevolking met soms meer of minder geweld. In die algemeen was hier nie sprake van klassieke rewolusies in die volledige sin van die woord nie.

Al meer waarskuwings (ook van die kant van die Minister van Finansies – Pravin Gordhan ʼn tydjie gelede) dat Suid Afrika die risiko loop om die dieselfde weg as dele van die Arabiese wêreld te loop maak sin. Eggo’s van politieke onstabiliteite is reeds in enkele Suider-Afrikaanse state waaronder Malawi, Angola en Zimbabwe waargeneem. Suid-Afrika staan nie los van bogenoemde nie. ʼn Werkloosheidsyfer wat (afhangende van die definisie) kan wissel tussen sowat 25% en 40%; die grootste gaping tussen ryk en arm ter wêreld; die aanwesigheid van ʼn kultuur van geweld soos onder meer gesien in opstande teen swak diens lewering; uiterse hoë vlakke van armoede in dele van die land; tussen 8 en 9 miljoen onwettige immigrante wat groter druk plaas op reeds ontoereikende dienslewering; en hoë vlakke van korrupsie en nepotisme beklemtoon die sigbare ooreenkomste tussen Suid-Afrika en sommige Arabiese state-veral op sosio-ekonomiese vlak. Hierbenewens bestaan al hoe meer getuienis dat die regerende ANC besig is om die moreel hoë grond te verloor met ontevredenheid binne eie geledere en daarbuite wat aan die toeneem is soos wat die geval Malema tans illustreer. Waar Suid-Afrika op die vooraand van die Nasionale Konferensie van die ANC (2012) en die nasionale verkiesing van 2014 ook nie meer te vêr is nie, bestaan daar besondere geleenthede vir die uitgebreide mobilisasie en organisasie van steun. In ʼn globale wêreld waarin niemand geïsoleerd staan van wat elders gebeur nie, is hier bepaald rooi ligte wat flikker. Dit is hierdie rooi ligte wat Hosni Mubarak en waarskynlik Moeammar Ghaddafi te laat gesien het. Die belangrike verskil tussen die Suid-Afrikaanse regime en die Sultanistiese bewinde waarna vroeër verwys is, is dat Suid-Afrika ʼn grondwetlike demokrasie is. Dit is daarom so belangrik dat hierdie demokrasie verder gekonsolideer en uitgebou moet word ten einde bogenoemde risiko’s te verminder.

Die post-Polokwane epog in die Suid Afrikaanse politiek is een van politieke onsekerheid wat met groot omsigtigheid hanteer moet word. Die waarskynlike “tipping point” lê opgesluit in die komplekse dinamiek van die ANC-familie – tans moeilik leesbaar en nog moeiliker voorspelbaar. Aspekte van die politieke landskap is tans, soos dié in die Midde-Ooste, ongekarteerd. Lees ons die politieke omgewing reg of wag daar vir talle Suid Afrikaners soortgelyke verassings as dié wat sommige state in die Midde-Ooste getref het? Die risiko is net te groot om dit te ignoreer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

André Duvenhage

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Louis du Plessis ·

André ~ 

1  Dankie vir jou kykie op die Arabiese onrus.

2  ‘n Faktor wat inderdaad tot regimeverandering bygedra het en wat jy noem, maar waarskynlik meer kan beklemtoon, is “verbeterde onderwys”.  Min faktore stimuleer die strewe na inspraak so sterk soos stygende opvoedingsvlakke.  Vra vir kommunistiese partye, wat in Oos-Europa aan bewind was, wat gebeur het toe meer as 95 persent van hulle bevolkings kon lees, skryf en reken! 

3   Jy stel ‘n belangrike vraag: “Is dit moontlik dat ‘n proses van demokratisering… aan die orde is?” Ek dink die antwoord is:   Die Arabiere strewe hartstogtelik daarna. Maar of godsdienstig eensydige Moslem-Arabiere, met min ervaring van intellektuele veeldimensionaliteit, tans werklik demokratiese meningsverskille en partyverskille sal kan verduur sonder om nog meer neuroties en ekstremisties te word, sal ons moet sien.

4  ‘n Kernfaktor wat jy net suggereer, maar wat inderdaad ‘n deurslaggewende oorsaak vir die Arabiese onrus uitmaak, is die gebrek aan meganismes vir vreedsame regeringsverandering.  Dis juis gereelde regverdige en vrye demokratiese verkiesings wat Suid-Afrika, wat jy tereg as ‘n “grondwetlike demokrasie” tipeer, anders maak as dié Moslemstate.  Herhaal:  Suid-Afrika is anders. 

5  Op ‘n feitesending aan Ammam en ‘n paar provinsies van die land, het twee aspekte my na my asem laat snak:  eerstens, hoe gruwelik die mans hulle vrouens en dogters behandel, en tweedens, hoe min sê – met ander woorde demokratiese seggenskap – die gewone Jordaniese burger in sy owerheidstrukture het.  

6  Slotsom.  André, myns insiens is die gebrek aan meganismes vir vreedsame regeringsverandering, ‘n kritieke rede vir opstand.  Selfs al smul ek as inwoner van Marocco, Algerië, Tunisië, Libië, Egipte, Sirië, Saoedi-Arabië, Bahrein en Jemen elke dag aan braaihoender en olywe, maar ek kyk dertig jaar lank vas in die arrogante plooie van Hosni Mubarak of Muammar Gaddafi en hulle kaders, sal ek óf migrasie oorweeg óf vir Allah vra om my te verlos van dié gesigte.  

Met agting

Heinrich Matthee ·

Beste André,
Dankie vir ’n stimulerende artikel. Ek het drie punte van kommentaar:
1. Ek skryf in Augustus 2010, maande voor die gebeure in Noord-Afrika, ’n hoofstuk vir ’n boek wat Koos Malan-hulle iewers vorentoe sal uitbring. Dit is getiteld “Onverwagse ordes en nuwe Afrikaners”.
’n Uittreksel: “’n Tydbom van kansarmes sal ook in die komende vyftien jaar in Asië, die Midde-Ooste en Afrika geskiedenis maak. Soms bloedige geskiedenis, en soms tot binne Westerse stede. Dit sal ook in Suid-Afrika gebeur.”  
Jy sien die uitweg in demokratiese konsolidasie. My voorspelling is dat die jeuggolf binne die ANC en in instellings en gebiede daarbuite nie in die volgende 10-15 jaar die demokrasie gaan konsolideer nie. Wat wel gekonsolideer gaan word, is faksiegevegte en afgunsretoriek, swak dienslewering en afdreigpolitiek.
2. Ek dink nie die CIA het te goed of te sleg gevaar nie. Dis moeilik om die komplekse toekoms te voorspel of buite ons elkeen se blindekolle scenarios te bedink. 
Charlie Allen, ’n hoog gerespekteerde voormalige CIA-analis, noem wel dat nasionale intelligensie-evaluerings opeenvolgende Amerikaanse regerings gewaarsku het:
Egipte en Tunisië is brutale outokrasieë met al die bestanddele vir opstand. Die plofbare situasies wat beskryf is het ook verwys na die jeuggolf van gefrustreerde en dikwels werklose mans onder 25 jaar.
Allen se stelling word ondersteun deur die openbare CIA-publikasie, Global Trends 2015. Dit verwys reeds in die jaar 2000 in die konteks van die Midde-Ooste en Noord-Afrika:
“A high proportion of young people will be destabilizing, particularly when combined with high unemployment or communal tensions.” (Global Trends 2015, p. 20). Dit verwys selfs, as ‘n tweede scenario destyds, na “non-linear developments – such as the sudden rise of a Web-connected opposition.”
Vele ander Egipte-ontleders het al jare klante en besluitnemers gewaarsku dat die oorgangsperiode vanaf die ou pres. Hosni Moebarak na ‘n nuwe regeerder politieke onstabiliteit kan meebring. Ontledings is vir sake- of politieke besluitnemers gestuur, maar die vertroulike bevindings beland nie noodwendig in die media nie.
Sommige beland wel daar: soos Robert Kagan van die Brookings Institution in September 2010: “We are moving into a period of guaranteed instability.” Aladdin Elaasa, wat werk vir ’n Pentagon-verwante instelling, skryf in die Middle East Quarterly van laat 2009 oor “the potential for growing political volatility and abrupt discontinuities in the next 6-18 months.”Stephanie O’Sullivan, senior CIA amptenaar, het in Februarie 2011 getuig die CIA het pres. Obama reeds in Desember 2010 gewaarsku van onstabiliteit in Egipte. Besluitnemers neem nie altyd sulke ontledings voldoende ter harte nie.
3. Ek stem saam met jou waarskuwing oor die risiko van onverwagte ontwikkelings in Suid-Afrika. Maar om te beplan daarvoor, sou besluitnemers moes weet: as daar sulke risiko’s is, wát presies is daardie moontlike risiko’s, watter van die toekomsscenario’s is die waarskynlikste, en oor watter tydperk?
Ons sien daarom uit na die scenario-werk van die Afrikaanse Burgerlike Netwerk. Alle sukses daarmee.
Heinrich

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.