Migrasie: voordelig en onvermydelik?

Vlugtelinge en immigrante neem deel aan ʼn vreedsame protes by ʼn vlugtelingkamp op die noordelike grens in Griekeland. Foto: wire.africannewsagency.com/Petros Giannakouris

Migrasie bly een van die megatemas van die politiek. In Europa is dit waarskynlik dié gonswoord wat mense tans die meeste ontstel. Ook in die VSA is dit ʼn belangrike onderwerp (dink maar aan president Trump se belofte van ’n muur teen Mexiko) en buite die Weste speel dit beslis  ʼn rol in lande se diskoers en is dikwels die oorsaak van interne en eksterne spannings.

Migrasie is baie meer as om vlugtelinge tydelik of permanent in te neem. Voorstaanders en teenstaanders van migrasie argumenteer dikwels verby mekaar. Om vlugtelinge (tydelik) te huisves behoort ’n etiese plig te wees, om samelewings egter deur migrasie te omvorm is ’n aanslag op die inheemse bevolking.

Die argument van die voorstaanders van migrasie is, afgesien van die morele plig om vlugtelinge in te neem, gewoonlik dat migrasie voordelig is vir migrante én die bestemmingslande, en dat dit boonop onvermydelik is en daarom nie gestuit kan of behoort te word nie.

Wat die eerste punt betref, is daar geen eenduidige antwoord te gee nie. Migrante migreer na beter lewensomstandighede en kan vir hulself ʼn nuwe en beter lewe opbou wat tuis nie moontlik is nie. Die land en bevolking wat die migrante ontvang, word bevoordeel deur dit wat migrante saambring: ʼn nuwe kultuur en gewoontes, kennis en nuwe vaardighede, en ʼn groter genepoel. Aldus die argument van die voorstaanders.

Die Hugenotemonument.

Die punt kan nie summier verwerp word nie. Migrasie kan voordelig wees. Die koms van die Hugenote, om ʼn plaaslike voorbeeld te noem, was seer sekerlik voordelig vir Suid-Afrika: ʼn gekultiveerde, gelowige, maklik aanpasbare, vaardige en hardwerkende groep het die reeds aanwesige bevolking aangevul. Vir hulself was dit ook beter om te emigreer na ’n plek waar hulle in vrede en veiligheid en sonder godsdienstige vervolging kon lewe. Ook die VSA en ander “Nuwe Wêreld-lande” is vir seker verryk deur meeste immigrante, alhoewel dit nie noodwendig positief vir die inheemse bevolking was nie, en soms selfs tot hul uitwissing of verknegting gelei het, soos in Latyns-Amerika.

Die uitwerking op die land van herkoms was ook nie altyd positief nie. Waar ontevrede, werklose of oproerige mense uit oorbevolkte en verarmde lande weggetrek het, was dit ʼn verligting vir die land van herkoms, maar dit kon ook tot verdere verarming lei as die produktiefste groepe weggetrek het. In Ierland was dit blykbaar die geval, waar só baie Iere na die VSA geëmigreer het, dat dit vir baie jare ʼn groot terugslag vir die land was. Bygesê kon Ierland ook niks bied om hulle te behou nie. Die Iere is aanvanklik deur die reeds gevestigde inwoners van die VSA eerder as steurnis beleef, maar het later net sulke lojale en produktiewe burgers geword soos die res. Die hedendaagse emigrasie van groot getalle Suid-Afrikaners is ook ʼn verlies vir die land, want dit is gewoonlik die bes opgeleide mense wat gaan. Hulle is meesal ʼn aanwins vir die land van bestemming en integreer ook relatief maklik.

Foto: AP Photo/J. Scott Applewhite

Wat ʼn mens uit die paar voorbeelde kan aflei is dat emigrasie vir immigrante en inheemse mense van voordeel kan wees as die land van bestemming ʼn sterk kultuur van integrasie het, as daar genoeg ruimte en geleenthede vir almal is, en as daar genoeg gemeenskaplikhede is om deel van ʼn gemeenskaplike volk te word. Migrasie is egter beslis nie altyd van voordeel nie, veral nie as die volke wat immigreer nie in die inheemse groep integreerbaar is nie. Hoe kleiner die groep wat aankom, hoe makliker is hulle integreerbaar. Groot groepe is geneig om hul parallelle strukture te vorm en dit bring dikwels spanning met die inheemse groep mee. Wat die handboekvoorbeeld van ʼn immigrantesamelewing, wat die VSA betref, kan geargumenteer word dat die VSA se krag gesetel is in sy komponent van Europese afkoms wat veral in die 18de en 19de eeu geïmmigreer het, en dat latere toevoegings uit die sogenaamde Derde Wêreld wat nie integreerbaar was nie, die VSA eerder verswak het.

Wat die tweede argument betref dat migrasie onvermydelik is: Dit is wel waar dat vandag feitlik geen volk in die grondgebied woon waar dit ontstaan het nie en dat trekke van volke in die geskiedenis baie dikwels voorgekom het. Daar waar migrasie die vorm van ʼn hele volkeverskuiwing aangeneem het, soos die plundertogte van die Germane, Mongole, Turke of Hunne, was dit beslis nadelig vir die bestemmings, en waar moontlik het die inheemse volke weerstand gebied of met grenswalle die migrante probeer keer, soos die Chinese Muur of die Romeinse grensheinings (Roman Limes).

Migrasie was dus “onvermydelik” net as die volke wat binnegeval is, te swak of te dekadent (vervalle) was om weerstand te bied.

Goeie grense kon nie vir altyd opbouende migrasiedruk keer nie, maar het dit soms vir eeue vertraag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

MTSteyn ·

Goeie skrywe, met ‘n paar sterk, onbetwisbare punte, Sebastiaan.

Jou tweede laaste paragraaf maak verwysing na die dekadensie van ‘n volk en hoe dit gesonde weerstand teen immigrasie verhoed. Is dit nie presies wat met die onderspoeling van dekadente Europa gebeur nie; ‘n sterwende drenkeling getref deur ‘n vloedgolf van immigrasie.

Is die nie-dekadente Russe, as ontwakende Christen volk onder Poetin, Europa dus een voor?

Wat van die homogene Oosterlinge, soos Japa, Korea, Sjina, waar immigrasie ‘n tipe vloekwoord is, en nog altyd was?

Sebastiaan ·

MT Steyn, ja, ek reken die Oos-Europese volke, wat relatief onlangs die juk van kommunisme afgeskud het, weet wat hulle het aan hulle eie volkstate en is die Weste vir seker ene voor wat patriotisme en selfbehoud betref. Ook by die Oosterlinge vind die hele “multi-kulti-ideologie” min aanklank.

Marthinus Willemse ·

Die mense van die land van die Rus is in 988 n.C. reeds gekersten, toe prins Wladimir van Kiëf Christendom namens sy onderdane aanvaar het. In 1988 het die ateïs Michail Gorbatjof die Christene toegelaat om 1000 jaar van Christenskap te vier. Die kommuniste het hulle ongenadiglik uitgemoor en onderdruk, maar die Russe het as geheime Christene hul geloof nie laat vaar nie. Dis vandag eerder `n herontwaking.

Celtis Africana ·

” Goeie grense kon nie vir altyd opbouende migrasiedruk keer nie, maar het dit soms vir eeue vertraag. ”
Vir ons as minderheidsgroep midde-in die helhool, is vertropping steeds die antwoord sou ons behoue wil bly as kultuurgroep.
” Birds of a feather, flock together.”
Baie insiggewende artikel!

Paul ·

Ek wens die artikel wil meer mense aan die dink sit, dalk wil hulle dit nie hoor nie.

apie ·

Die 3de Wereld bevolkings se populasiegroei is sodanig dat dit verdubbel elke 25 jaar. Dit veroorsaak oorskot en mense wat dan migreer. Die migrante is nie altyd geletterd nie, dus sal hul bydrae van minder waarde wees soos die tegnologie verbeter, so mens neem aan dat hulle ‘n maatskaplike las sal word en misdadigheid oral sal vererger. Statistiese voorspellings se vir ons die Afrika bevolking gaan die meeste groei in die volgende 25 jaar tot 2.5 miljard in 2050. Teen hierdie tempo kan armoede nie uitgewis word nie. Die meeste mense migreer stede toe, en die vraag is of regerings stedelike infrastruktuur kan aanpas om hierdie mense te akkomodeer. In SA lyk dit nie so nie, dit het ooglopend verswak op alle vlakke, Kaapstad, Pretoria en JHB is nou onder die tien gevaarlikste stede in die wereld. Dus moet jy platteland toe, maar ook nie plattelandse dorpe nie, want swak dienslewering is aan die orde van die dag.

Jerry ·

Birds of a feather, flock together, where ever they feel welcomed and where ever they see a bright future that awaits them!

Willem ·

So bou ons stadig aan die blokkies. Sorry man, maar jy is nou mos nie meer ‘n youngster nie. Dammit.

John ·

Immigrante kom sekerlik byna nooit na ‘n ander land met die oog daarop om dit ‘n beter plek te maak nie, maar eerder om hulself op te hef. Niemand beplan om sy geloof af te sweer of sy kulturele identiteit in die bek te skop nie. En juis daarom is massas inkomelinge eerder ‘n gevaar as aanwins… soos Merkel ook weldra agtergekom het. Nou word klem gele op kwalifikasies en vakmanskap. Om weer onslae te raak van ongewenste elemente is nogal nie ‘n grap nie met die VO deesdae aan die kant van oop grense. Armer lande soos Italie en Griekeland erf nou die probleme in ruil vir geld.

Jan ·

Nee wat merkel was reg van die begin af n agent vir multikulturalisme as het sy haar agenfa slim verberg. Sy het die duitsers regtig vir n lekker slap riem gevang maar hulle sal dit eees agter kom as dit te laat is.

nico k ·

Die skywer en alle kommentare slaag nie daarin om te onderskei tussen verskillende tipe immigrasie nie. (Ek praat van huidige immigrasie, nie 500 jaar terug nie.) Daar is wettige immigrasie, wat tot voordeel van die land is aangesien die mense gekeur word volgens goeie kwalifikasie of goeie geldelike beleggings. Onwettige immigrasie is natuurlik altyd sleg vir die land want dit is altyd arm, ongeleerde mense. Maar dit is baie moeilik om dit te keer. Ek glo nie Amerika se muur teen Meksiko sal help nie. (Hy is natuurlik nog nie gebou nie.) In SA en selfs in die ou SA, het ons die stryd verloor teen onwettige immigrasie. Vlugtelinge, wat voldoen aan die VN se definisie, is heeltemal iets anders. Die gaan bloot daaroor om mense te help wat in hul eie lande nie kan oorleef nie, hoofsaaklik weens oorlog. En om Merkel te blameer omdat sy, soos SA, aan hierdie mense verblyf gee, is bloot omdat mense nie weet waaroor dit gaan nie.

Paul ·

Ek stem, en wat sê jy van AUS en NZeeland, hul natuurlike grense is die kuslyn.

MTSteyn ·

Die vlugtelinge word natuurlik geskep deur oorlogsugtige leiers wat oorloe stook op die voorstoep van dekadente Europa, die gestookte oorloe word daarna mooi opgevolg met allerhande hartroerende storietjies en beelde (onder leiding van ‘n liberale, ewe-dekadente massa media monster) van verdrukte mense wat net ‘n plekkie in die son soek om in vrede en dankbaarheid te leef, en et voila, ons het ‘n vlugtelingskrisis, en die gepaardgaande vernietiging van die nasie-staat.

Die ou bedeling het nooit die stryd teen onwettige immigrasie verloor nie; en as jy na ANC propoganda van vandag luister, wou geen vrede-liewende persoon in SA woon nie, wat nog van hier onwettig in sluip.

Ryk en sterk Oosterse lande, soos Japan, Sjina, Suid-Korea beleef geen vlugteling of immigrasie krisis nie, bloot omdat hulle niemand (vlugteling, immigrant ryk of arm) meer liefhet as hulle self nie. ‘n Puik voorbeeld van naasteliefde, as jy my vra.

Jan ·

Nee wat jys verkeerd daars nie werklik oorlig in daai lande nie dis net akteurs wat verfilm word.hulle wil die weste laat glo dat daar oorloe ens is maar dis vals.merkel weet presies wat sy doen sy was van die begin af n agent vir multikulturalime en dis nie sy wat mislei word nie…dis jy wat mislei word…

Jerry ·

Europa word voorgehou as synde n sterwende drenkeling te wees met die vloedgolf van immigrasie, welwetende dat die situasie beheer word en dat daar werk geskep word in Europese lande, uitgesluit Duitsland se Merkel faktor. Kyk ons egter na die immigrasie kwessie in Suid Afrika, dan kyk ons na n onbeheerbare situasie van miljoene immigrante wat saam met 9 miljoen Suid Afrikaners werkloos is en wie hulself hoofsaaklik tot misdaad moet wend om te kan oorleef omrede die enigste werkskepping wat in SA plaasvind deur middel van misdaad en georganiseerde misdaad geskied. As Europa dus n sterwende drenkeling is dan het SA reeds verdrink en gesterf en is die pogings om werk te skep deur werk en grond weg te vat van mense en vir ander mense te gee geensins werkskepping nie, maar misleidende desperaatheid. Inderwaarheid is die pogings die laaste stuiptrekkings van n land wat reeds gesterf het!

Merkur ·

Massa-immigrasie kan en word doelbewus gebruik om sekere lande te destabiliseer. Ook met die hulp van politici uit die bestemmingslande soos genoemde Merkel en die EU politici in Brussels.
Die Duitse staat verloor meer en meer die beheer oor die eie land. Veral wat sekuriteit betref. Die politiese stabiliteit is op die oomblik broos indien nie reeds verlore nie.
My waarneming van Duitsland vandag is ´n land wat op die vooraand van ´n ineenstorting staan. Ten minste op die vooraand van erg onstabiele tye. Gedeeltelik ook verantwoordelik deur ´n oneerlike finansies politiek, wat deur die massa-immigrasie deur ongeskoolde en integreer-onwillige kultuurvreemde mense, nog meer druk op die ekonomie plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.