Milei en die uitdagings van demokrasie

Javier Milei (Foto: Emiliano Lasalvia/AFP)

In verlede Sondag se finale ronde van die presidentsverkiesing in Argentinië het ʼn duidelike meerderheid van dié land se kiesers die politieke orde op ʼn dramatiese wyse tot orde geroep. Noem die verkiesing van Javier Milei ʼn protesstem, ʼn noodkreet, ʼn laaste demokratiese manifestasie van ʼn desperate volk of bloot net ʼn uiters riskante politieke eksperiment – maar wat waar is, is dat genoeg Argentyne genoeg gehad het van ʼn demokrasie wat nie meer in hul diens staan nie.

Die uitslag en Milei se verkiesing gaan bloot oor die verantwoordbaarheid van die politieke bedeling teenoor die burgers in wie se diens politici, maar ook die stelsel behoort te staan. Mooi teorieë oor demokrasie, die oppergesag van die reg en selfs die grondwetlike orde beteken dadels indien 40% van mense in armoede leef, inflasie op 143% staan, die peso 90% van sy waarde teenoor die dollar verloor het en fabrieke hul produksie staak weens ʼn tekort aan buitelandse valuta om grondstowwe in te voer.

Francis Fukuyama skryf in The Origins of Political Order oor politieke verantwoordbaarheid. Volgens Fukuyama kom dit basies neer op ʼn besef onder regeerders van hul verantwoordelikheid teenoor die mense oor wie hulle regeer en die noodsaak om hierdie mense se belange altyd voorop te stel.

Die idee van politieke verantwoordbaarheid is ʼn sterk onderdeel van liberale Westerse demokrasie wat in die 17de en 18de eeu tydens die Era van Verligting ontstaan het. In die 19de eeu het die liberale demokrasie na die Nuwe Wêreld begin versprei, hoewel dit hoofsaaklik sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog is dat liberale demokrasie oor die wêreld heen versprei het. Fukuyama het teen 1992, uiters naïef, tot die gevolgtrekking gekom dat, met die opkoms van Westerse liberale demokrasie en die einde van die Koue Oorlog en die val van die Sowjetunie, die einde van die geskiedenis ook aangebreek het en dat die liberale demokrasie uiteindelik die wêreld sal oorheers.

Die veronderstelling was altyd dat liberale demokrasie eiendomsreg, vrye handel, die oppergesag van die reg en sterk verantwoordbaarheid deur politici sou daarstel wat gevolglik tot ekonomiese voordeel aanleiding sou gee. In die meeste gevalle het dit ook nog altyd so gewerk en verskeie studies het al getoon dat lande met ʼn gesonde demokrasie dikwels ook geneig is om hoër ekonomiese groei en dus meer welvaartskepping te ervaar.

Die Amerikaanse grondlegger en tweede president, John Adams, het graag verwys na die noodsaak van ʼn regering van wette en nie van mense nie. Adams was ʼn groot voorstander van ʼn grondwetlike demokrasie waarin die verkose ampsdraer altyd op die agtergrond en as tydelike behoeder van die orde moes funksioneer.

Adams sou vandag ongetwyfeld baie ongemaklik gewees het met sy eie land se politiek en die enorme beklemtoning van individue en hul vermoëns in die meeste demokrasieë. Die Amerikaanse obsessie met die charisma en persoonlike gewildheid en aanslag van hul politieke leiers het die afgelope paar jaar toenemend aanleiding gegee tot interessante politieke vermaak, maar swak regerings, wat die demokratiese waardes van die stelsel uitgekalwe het.

Volgens Henry Kissinger is een van die grootste uitdagings waarvoor politieke leiers vandag te staan kom die noodsaak om te verhoed dat die eise van die hede die toekoms oorweldig. Volgens Kissinger moet goeie politieke leiers se persoonlike eienskappe en manier van optrede nie hul vermoë om die samelewing van ʼn toekomsvisie te oortuig en mense met hom saam te neem, benadeel nie.

Winston Churchill het in 1947 sy bekende opmerking gemaak dat demokrasie inderdaad die slegste vorm van regering is, buiten al die ander vorme wat al van tyd tot tyd beproef is. Tot vandag toe bly die vraag – wat is die alternatief?

Toe Fukuyama kort ná die einde van die Koue Oorlog en die val van kommunisme onder die indruk verkeer het dat liberale demokrasie die laaste oorblywende opsie is, het hy nie besef hoe die swakpunte in die mondering van sy geliefde liberale demokrasie teen die 2020’s tot ʼn wesenlike uitdaging van demokrasieë reg oor die wêreld sou lei nie.

Demokrasie en ekonomie kan nie los van mekaar beoordeel word nie. Churchill het ook eens opgemerk demokrasie beteken dat as die deurklokkie in die vroeë oggendure lui, dit waarskynlik die melkman is. In ʼn goed funksionerende demokrasie behoort eiendomsreg, innovasie, vrye handel, kennisoordrag en ʼn gevestigde regsorde tot gesonde ekonomiese groei en welvaartskepping te lei.

Die Turkse ekonoom, Çiğdem Kariş, het in 2020 ʼn studie oor die verband tussen ekonomiese groei en demokrasie gepubliseer. Sy het tot die gevolgtrekking gekom dat demokrasie die enigste bewese politieke stelsel is wat op lang termyn volhoubare ekonomiese groei bly bewerkstellig.

Kariş gaan verder en beklemtoon die wisselwerking tussen gesonde demokratiese bedelings en ekonomiese groei, en hoe die een die ander positief beïnvloed. Indien die een egter verswak, word die ander geweldig blootgestel.

Dit bring ons by Argentinië en die risiko vir demokrasie in dié land. Churchill was ook uitgesproke teen sosialisme. Hy het sosialisme as ʼn filosofie van mislukking, die geloofsbelydenis van onkunde, die evangelie van afguns en die gelyke verdeling van ellende beskryf.

Argentinië was tussen 1852 en 1930 ʼn tipies Westerse liberale demokrasie. Teen 1910 was die per capita-inkomste in Argentinië hoër as in Japan en Italië, en vergelykbaar met die gemiddelde inkomste in Frankryk en Duitsland. Argentinië is as een van die tien rykste lande ter wêreld bestempel. ʼn Militêre staatsgreep in 1930, sosialistiese regerings daarna en ook die diktatuur in die laat 1970’s het die land egter ekonomies ernstig benadeel.

Met die terugkeer na demokrasie in 1982 was die Argentynse ekonomie reeds in die moeilikheid en sedertdien het sosialistiese regerings die uitdagings van reuse-staatskuld, ʼn onvolhoubaar groot en duur staatsdiens en welvaartprogramme, hoë inflasie, lae produktiwiteit, beperkte buitelandse beleggings en op die ou end herhaaldelike bankrotskappe meegebring. Vandag is Argentinië ʼn arm land wat nie sy buitelandse skuld kan terugbetaal nie, met wegholinflasie, rentekoerse van 128% en geweldige armoede en werkloosheid.

Dit is duidelik dat die ekonomiese krisis in Argentinië ook die demokrasie in die land kan bedreig. Dit sou egter dwaas wees om te dink dat Milei se verkiesing juis ʼn bedreiging vir die demokrasie in Argentinië inhou. Sy verkiesing is eerder ʼn reaksie op ʼn diepgaande krisis waar burgers bereid is om ook demokrasie te laat vaar in die hoop op ʼn beter lewe.

Die presidentsverkiesing in Argentinië was in baie opsigte eerder ʼn bevestiging van die bestaande krag van die demokrasie in die land as dat dit, soos wat sommige kommentators beweer het, die begin van die einde van demokrasie in Argentinië beteken. Die verkiesingsveldtog is gekenmerk deur ʼn robuuste debat oor die toekoms van Argentinië. Uiteindelik het radikaal libertariese ekonomiese idees, gekombineer met konserwatiewe en regse politieke beleidsvoorstelle oor alles, van onderwys en welsyn tot aborsieregte, geseëvier oor die gevestigde linkse en sosialistiese orde van die Peronistiese beweging wat Argentinië vir die grootste deel van die afgelope vier dekades regeer het.

Milei se verkiesing staan in skrille kontras met byvoorbeeld die politieke krisis wat verlede jaar in Peru ontstaan het en wat die demokrasie daar grootliks op die agtervoet geplaas het. Dit bevestig egter ook Kariş en talle ander ekonome se punt dat die demokrasie moeilik ʼn gesonde voortbestaan in ʼn omgewing van voortdurende ekonomiese agteruitgang kan hê.

Die demokrasie is die afgelope jare sodanig deur die Peroniste uitgekalwe dat Milei nie net die taak het om die land se ekonomie reg te ruk nie, maar ook om vertroue in die demokrasie te herstel. Sy eienaardige persoonlikheid, status as ʼn buitestander, radikale, soms selfs ekstremistiese politieke idees en sy eksentrieke verlede, sonder enige politieke voertuig in die Argentynse kongres, gaan tot sy opdraande stryd bydra.

Buitestanders is nie sonder sukses nie. In 2017 is Nayib Bukele tot president van El Salvador verkies. Hy was ʼn buitestander in ʼn land wat desperaat was vir ʼn redder om die land se misdaad en ander probleme op te los. Hy het sedertdien groot sukses behaal. Die moordsyfer het reeds met 50% gedaal.

Ook in Europa sien ons hoe daar tans in verskeie lande na ʼn politieke ridder op ʼn wit perd gesoek word. In sulke politieke omstandighede staan eksentrieke individue, buitestanders en persone met vreemde, onkonvensionele idees natuurlik uit. Die soeke na ʼn charismatiese individu is die sentrale tema. In Woensdag se verkiesing in Nederland is meer gepraat oor die persoonlikhede van leiers soos Geert Wilders, Frans Timmermans, Dilan Yeşilgöz-Zegerius, Caroline van der Plas en Pieter Omtzigt as oor die werkbaarheid van hul beleidsvoorstelle.

(Foto: Luis ROBAYO/AFP)

Milei se verkiesing, hoewel demokraties, vry en regverdig, dui op ʼn totale verwerping van die bestaande politieke orde in Argentinië. Die 56% van kiesers wat vir hom gestem het, het basies hul rug op alle bestaande politieke partye en hierdie partye se beleid gedraai deur ʼn totaal onbekende, ongetoetste weg in te slaan. Milei is egter wel ʼn demokraat. Hy mag regs, libertaries en selfs eksentriek wees, maar dit is duidelik dat hy in die demokrasie in Argentinië glo.

Sou Milei se radikale ekonomiese voorstelle slaag, soos om die peso met die Amerikaanse dollar te vervang, Argentinië se sentrale bank te sluit en meer as die helfte van die staatsdepartemente te sluit, kan daar oor vier of vyf jaar van die Argentynse wonderwerk gepraat word. Indien Milei misluk, kan dit ook die einde van die demokrasie in Argentinië beteken.

Dieselfde bedreiging staar Suid-Afrika, maar ook ander ontwikkelende lande met sukkelende ekonomieë en ʼn politieke regeerdersklas wat oor jare die demokrasie en demokratiese instellings sodanig uitgekalwe het dat burgers bereid is om kanse te waag, in die gesig. Volgens die AfroBarometer-peiling van 2021 sal tweederdes (67%) van Suid-Afrikaners bereid wees om verkiesings prys te gee as ʼn onverkose regering veiligheid, behuising en werk kan verskaf. Die kombinasie van ʼn uitgekalfde demokrasie en desperate burgers wat onder die juk van ʼn gestolde ekonomie sukkel, voorspel niks goeds nie.

Uiteindelik sal die Milei-projek een van drie roetes volg. Dit kan ʼn wonderwerk oplewer, wat tot hernude vertroue in Westerse liberale demokrasie kan lei. Dit kan in gebruiklike politieke struweling verval en klein suksesse en nóg mislukkings behaal, of dit kan ʼn reusemislukking wees wat die begin van die einde van demokrasie in Argentinië sal beteken. Dieselfde drie roetes kan vir Suid-Afrika ná volgende jaar se verkiesing voorlê.

Die Britse skrywer, John Dalberg-Acton, bekend as lord Acton, het eens gesê: “Die gevaar is nie dat ʼn bepaalde klas ongeskik is om te regeer nie. Elke klas is ongeskik om te regeer.” Die enigste hoop vir die voortbestaan van demokrasie en die ekonomiese voordele van ʼn Westerse liberale demokrasie sal nie in charismatiese individue lê nie. Dit sal eerder lê in lewenskragtige demokratiese instellings. Juis daarom is die les vir Suid-Afrikaners om nou reeds ons instellings met dringendheid te versterk sodat dit die stormwinde van populisme en ander politieke gevare sal kan weerstaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Schalk ·

Wel, as ek kyk na Suid Afrika is Demokraties dalk nie die antwoord nie maar eerder die alternatief. Die beheerders van enige stelsel is die gevaar. Verskuilde motiewe en drakoniese wette wat rassehaat eerder aanvuur as blus. Politieke leiers met rasgebaseerde uitlatings en valse beloftes. Te veel politieke partye , elkeen met sy eie waardes en idiologie is ook verwarrend en Babels verwant.

Goldy ·

Demokrasie werk net waar mense intelligent genoeg is om basiese politiek en ekonomie verstaan, wat nie hier en baie ander plekke sie geval is nie. En dit werk ook net as misdadigers gekeer word, maar die liberale deel maak dat hulle meer beskerming as slagoffers geniet, dan val die beskawing weer terug na wanorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.