Militante liberalisme se aandeel in opkoms van militante Islam

(Foto: AFP)

Die Taliban het Afghanistan oornag teruggevat ná twintig jaar waarin die Amerikaners met miljarde dollars en duisende soldate vrugteloos probeer het om die land te verwesters. ʼn Kommentator met galgehumor het selfs gesê dat dit lyk of die oorname van die Taliban in Afghanistan gladder verloop het as die oorgang van pres. Donald Trump na pres. Joe Biden!

Die groot vraag is egter nie hoekom die Amerikaners so skielik uit Afghanistan is nie, maar hoekom hulle íngegaan het. Dit is begryplik dat die VSA ná die bloedige aanvalle op die Wêreldhandelsentrum op ʼn skouspelagtige wyse wraak wou neem om toekomstige aanvallers af te skrik. Dit verklaar die rede vir die grootskaalse aanvalle op Afghanistan, maar nog nie die twee dekades lange projek om die land te probeer verwesters nie.

Die Amerikaners se Afghaanse veldtog het nie net militêre doelwitte gehad nie, maar ook politieke-, ekonomiese-, kulturele en selfs godsdienstige doelwitte. Die land moes nie net gestraf word met bomme vir hulle hulp aan Al-Kaïda nie. Hulle wou verder nog demokrasie en kapitalisme invoer, die Afghane se tradisionele kulturele stelsels omkeer, en veral verhoed dat die Taliban as radikale Islamgroep weer die land oorvat.

Die vraag is hoekom die sterkste supermoondheid in die geskiedenis nie besef het dat hierdie doelwitte van die begin af onbereikbaar was nie, en die uiteindelike afloop daarvan onafwendbaar nie?

Davoskultuur

Die Harvard-professor Samuel Huntington het jare gelede die antwoord gegee in die “Davoskultuur” wat veral onder die Westerse elite posgevat het. Elke jaar kom sowat duisend van die wêreld se top-sakelui, politici, bankiers, joernaliste en denkers bymekaar by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland. Hierdie elite van die wêreldelite deel ʼn geloof in individualisme, menseregte, kapitalisme, globalisme, liberale sosiale waardes en ʼn katastrofiese klimaatskrisis. Hierdie “Davosmense” – soos Huntington hul beskryf – beheer bykans alle internasionale instellings, baie wêreldregerings, die massamedia, en ʼn bepalende deel van die wêreld se ekonomiese- en militêre mag. Die Davoskultuur gedryf deur hierdie “onstamde stam” het dus groot en belangrike gevolge vir die mensdom. Dit beteken nie dat hierdie duisend soos ʼn tipe “illuminati” eendragtig in die geheim komplotte smee om die mensdom te beheer nie. Die wêreld met sy skerp mededinging tussen regerings, maatskappye en magsblokke maak dit te kompleks om te beheer. Daar is dus meer sprake van sentrale idees as ‘n sentrale plan, oftewel eerder ‘n kompas as ‘n padkaart.

Globalisme

Maar veral die Westerse “Davosmense” deel bepaalde sienings wat hulle met groot ywer bevorder. Huntington het hulle “Gold Collar Cosmocrats” genoem, wat globalisme aanhang en nasionalisme verwerp. Hulle sienings word ten beste verwoord deur die denker Yuval Harari in sy boek Sapiens:

“Namate die een-en-twintigste eeu ontvou, verloor nasionalisme vinnig veld. Al hoe meer mense glo dat die hele mensdom die regmatige bron van politieke gesag is, eerder as die lede van ‘n spesifieke nasionaliteit. Daarom behoort die beskerming van menseregte en die belange van die hele mensdom die leidende lig van die politiek te wees. Daarom is dit meer van ‘n hindernis as ‘n hulp om byna 200 onafhanklike state te hê. Aangesien Swede, Indonesiërs en Nigeriërs dieselfde menseregte verdien, sou dit nie eenvoudiger wees vir ‘n enkele wêreldregering om hulle te beskerm nie?”

Die vraag is egter hoeveel ander mense hierdie globale elite se ideologie deel? Huntington het geskat dat daar buite die Weste waarskynlik minder as 50 miljoen mense is wat dit aanhang, oftewel 1% van die wêreldbevolking.

Nasionalisme

Die meeste regerings van magsblokke soos China, Indië, Japan, Rusland en die Moslemwêreld verwerp die Westerse liberale Davoskultuur, en ondersteun steeds nasionalisme soos verwoord deur die Israelse denker Yoram Harzony in sy boek The Virtue af Nationalism:

“Nasionalisme is nie een of ander onpeilbare politieke siekte wat lande van tyd tot tyd sonder goeie rede en sonder ‘n goeie doel oorneem nie. Dit is ‘n beginselvaste standpunt wat die wêreld as bes regeer beskou wanneer lande in staat is om hul eie onafhanklike koers te bepaal, hul eie tradisies te kweek en hul eie belange sonder inmenging na te streef. Dit is in teenstelling met imperialisme, wat vrede en voorspoed in die wêreld wil bewerkstellig deur die mensdom soveel as moontlik onder een enkele politieke regime te verenig.”

Bush se “Freedom Agenda”

Ná die 2001-vliegtuigaanvalle op die VSA het pres. George Bush die VSA se dekade lange beleid verskerp om Westerse liberale stelsels op nie-Westerse lande af te dwing. Hierdie pogings om die “Ooste te verwesters”, het net so groot teenreaksie uitgelok as wanneer die Ooste die ondenkbare sou aanpak en die Weste probeer “Islamiseer”! Nie-Westerse lande sien die pogings om hulle te probeer verwesters as ʼn voortsetting van Westerse (ideologiese) imperialisme. In talle gevalle soos in Zimbabwe het ondemokratiese groepe met Westerse hulp die demokrasie misbruik om aan bewind te kom, net om daarna die demokrasie opsy te skuif en die bevolking te oorheers.

Die omverwerping van bose diktators en regimes soos die Taliban in Afghanistan, Saddam Hoesein in Irak, Moeammar Ghaddafi in Libië, en die mislukte poging om die Assad-regime in Sirië omver te werp, het bloot tot groter geweld, ellende en massamigrasie gelei.

Die goue tweeling

Die Amerikaners glo egter dat die Amerikaanse “goue tweeling” van demokrasie en kapitalisme oral kan werk, en dat hierdie stelsel die wêreldstandaard moet wees waaraan almal moet voldoen. Alle lande moet bykans “klein Amerikas” word. Daardie Amerikaners het ’n vaste geloof dat een demokratiese en kapitalistiese suksesverhaal in die Arabiese wêreld sal uitkring en so die hele streek tot hierdie Westerse stelsel sou “bekeer”. Vir hulle is die historiese voorbeeld die gedwonge demokratisering van Duitsland en Japan ná die Tweede Wêreldoorlog.

Obama en Poetin

Ná Bush het pres. Barack Obama voortgegaan om in Midde-Oosterse lande in te meng deur tydens die opstande in verskeie Arabiese lande soos Egipte kant te kies. Waarskuwings van wêreldleiers soos president Wladimir Poetin van Rusland dat dit katastrofiese gevolge kan inhou, het op dowe ore geval.

Die opkoms van Islam

’n Belangrike rede vir die opkoms van militante Islam is gesetel in ’n reaksie op Amerikaans-gedrewe militante liberalisme en -globalisering. Moslems meen dat verwestering en “dekadente” Amerikaanse rolprente, TV, musiek en kleredrag hul tradisionele waardes bedreig.

Bush – en sy voorgangers sowel as sy opvolgers – se projekte om liberale idees soos demokrasie, menseregte, kapitalisme en die regstaat met geweld op nie-liberale Moslemstate af te dwing, het al in lande waar liberalisme ’n vreemde ideologie is tot grootskaalse bloedvergieting en verdrukking aanleiding gegee. Hierdie militante Westerse liberalisme het uiteindelik tot ’n wêreldwye “Weste teen die Reste”-verdeling gelei.

Herleef teenoor oorheers

Die gebeure in Afghanistan is die soveelste bewys dat daar ʼn groeiende gaping ontstaan het tussen die Weste se wil en vermoë om wat hulle sien as universele liberalisme op die wêreld af te dwing. Wat universalisme vir die Weste is, word as Imperialisme deur die Res beleef.

Daarom het Huntington gemaan: “Die grootste verantwoordelikheid van Westerse leiers is om te erken dat ingryping in die sake van ander beskawings die gevaarlikste bron van onstabiliteit in die wêreld is. Die Weste moet nie probeer om ander beskawings na sy eie beeld te hervorm nie, maar die unieke eienskappe van die Westerse beskawing te behou en te vernuwe.”

Daarom is wedersydse erkenning, respek en samewerking tussen verskillende groepe veel beter as om hulle te probeer verwesters. Kom ons fokus eerder op gedeelde belange as op gedeelde sienings.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vrijburger ·

Puik artikel.
“Militante liberalisme” – goeie beskrywing / benaming.

Pieter9 ·

Absoluut korrekte ontleding; nou het die militante liberasliste ‘n bloedbroer bygekry…’wokeness’.

annie ·

… die laaste paragraaf is die kruks van krisisse oraloor en onhaalbaar want ideologiese magsvergrypers beheer. Nader tuis is dit juis wat die Kaaptoeterugsindroom by Afrikaners gaan pootjie. Om die onmoontlike te probeer bereik sal ‘n paar klein opofferings vra: Sê jul ras en taal en alleenreg op Afrikanerskap op; vergeet van domineer; en stel Christelike waardes gelyk aan NWO-wokeness ea ideologieë/gelowe bv Islam. Dit alles vir ‘n lappie niks langs Koeberg…

Anoniem ·

Dit is ‘n puik artikel. Jy kan nie ‘n persoon/land se kultuur van hom wegneem nie. In ons eie land kan jy daagliks die uitwerking van Kapitalisme sien. Die Kapitaliste laat nie die son oor ‘nander se kop skyn nie.

CA ·

Interessante, oortuigende analise. Kan ons dan ook sommer dadelik daardie laaste paragraaf (wedersydse erkenning, respek…) implementeer en nie alewig na die “bose diktator” Ghadaffi verwys nie, maar erkenning toon vir wat hy bereik het – hy het juis Libië se bronne probeer ontwikkel tot voordeel van sy eie mense, eerder as internasionale korporasies. En daarvoor is hy gehaat en uiteindelik vermoor. As Libië happy was met ‘n diktator wie is die Weste om anders te besluit…

Hardekwas ·

Ongelukkig geld dit ook hier, ten koste van minderhede.

CA ·

Ek hoop van harte jy is nie ‘n voorstaander van Westerse intervensie in SA omdat jy nie van die regering hou nie. Teen die tyd dat jy jou fout agterkom is hier net ‘n maanlandskap oor…

groenboer ·

Yuval Harari se boeke is die moeite werd om te lees: of mens nou met hom saamstem of nie, hy het nogal ‘n goeie begrip vir sommige van die strominge in die wêreld, en die gevare wat dit vir almal inhou.

Op Twitter sien ek ‘n snaakse plasing van ‘n Amerikaner: “Send your son to die in Afghanistan. Get a refugee in return. What a great deal for Americans.” Die Amerikaners self is flink besig om gatvol te raak van die neoliberale agenda.

Die ironie van die miltante liberalisme is dit: dit is deurspek van ‘n vernietigende selfhaat, soos verwoord deur die politek korrektes en “social justice warriors.” Dié mense kan nie wag om agteroor te buig voor ander kulture nie en wyd en syd te verkondig hoe boosaardig westerse kultuur is nie. Dieselfdes gaan nou druk op hul regerings plaas om nóg ‘n paar honderd duisend onassimileerbare Moslemvlugtelinge in hul lande te verwelkom. Ons sal maar sien hoe dit vir hulle gaan uitwerk…

Marius ·

Puik artikel Flip. Hier ter plaatse is die liberale demokratiese reënboognasie nog ‘n Amerikaanse eksperiment wat vinnig besig is om skeef te loop. En as die pawpaw die fan strike gaan die Amerikaners weer nêrens te sien wees nie. Hoe gouer ons van hul invloed ontslae kan raak hoe beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.