Millenniër-Afrikaners op die agtergrond             

Deur Johan Koekemoer

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

’n Millenniër is enige iemand wat tussen 1981 en 1996 gebore is, volgens die Pew Research Center. (Die jongstes in hierdie generasie vier vanjaar hul 24ste verjaarsdag en die oudstes hul 39ste verjaarsdag).

Binne die konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing het millenniërs twee kontrasterende wêrelde beleef.

Millenniërs het ’n Wêreldbeker-sokker- en Wêreldbeker-rugbytoernooi ervaar – die een ’n sege en die ander ’n nederlaag. Millenniërs weet hoe dit voel om veilig in ’n parkie te speel, maar ook hoe dit voel om ’n parkie weens onveiligheid soos die pes te vermy. Millenniërs het grootgeword met die val van apartheid, maar ook in die opkoms van ’n nuwe Suid-Afrika die val van Westerse waardes in die naam van Suid-Afrikanisme.

Millenniërs staan vandag in die middel van ’n eeue oue toutrekkompetisie. ’n Toutrekkompetisie waarby mense van ons ouderdom ongeveer 100 jaar gelede betrokke was toe Smuts aan die linkerkant en Hertzog aan die regterkant getrek het. Millenniërs staan vandag weer in die middel en word na links getrek deur die begrip “Suid-Afrikaner” en aan die regterkant deur die begrip “Afrikaner”.

Afrikaners is ’n jong volksgroep met ’n storie wat nie meer so gereeld vertel word nie. Afrikaner-erfenis is in totaliteit uit die kurrikulum van skole verwyder en die gat wat dit gelos het, is met wit skuld toegeplak. Ons Afrikaners se psige het weliswaar in die Weste ontstaan, maar ons voete, longe en hart is net hier in Afrika geplant. Afrikaners is gebore uit die hoofbestanddele van die Westerse erfenis: ’n liefde vir Afrika.

Afrikaners weet hoe om te trek, maar hulle weet ook hoe om te bou. Afrikaners weet hoe om te bid, maar hulle weet ook hoe om te bloei. Die gees van die Afrikaner-tannie wat ploeg, gewere laai, in konsentrasiekampe Psalms sing en koeksisters verkoop om ’n gemeenskap te help bou, word vandag nog waargeneem in die Afrikaners en haar stem word nog gehoor. Afrikaners veg vir meer as honderd jaar reeds vir moedertaalonderrig in ’n taal wat ons self in Afrika gevorm het. Afrikaners maak ook foute omdat Afrikaners ook mense is. Afrikaner-wees is ’n kultuur en nie ’n ideologie nie omrede Afrikaner-wees ’n ruimte skep waaruit enige individu vry kan leef en laat leef.

En tog sukkel millenniërs om in te koop op Afrikaner-wees.

Dit bring my by die sogenaamde millenniër-Afrikaner. Dié groep kan uiteindelik hoofsaaklik verantwoordelik wees vir die val of die opstaan van die Afrikaner-volk. Die rede is, millenniërs is diegene wat Afrikaner-stories gaan oorvertel aan die volgende geslag en as ons nie inkoop op Afrikaner-wees nie, dan gaan ons ons kinders in Engelse skole sit in die naam van Suid-Afrikanisme.

Millenniër-Afrikaners, indien ons werklik ’n verskil in die land wil maak, sal ons vanuit die verhoogagtergrond na die voorgrond moet beweeg. Ons moet self ons storie op wêreldverhoë vertel, maar om dié doel te kan bereik, moet ons self eers ’n paar veranderinge maak.

Hou op om skaam te wees omdat jy wit is of omdat jy Afrikaans. Praat Afrikaans in openbare ruimtes en op sosiale platforms. Lees wyd en lees jou Afrikaner-geskiedenis – ken die goeie en die swak kenmerke van jou kultuurgroep. Waak daarteen om jou geskiedenis te oorvereenvoudig en onthou dat Jan van Riebeeck nie ’n Afrikaner was nie, want Afrikaners is in Afrika gemaak. Luister na mense met ander lewens- en wêreldbeskouings en erken mense se verskille in dié opsig. Moet nooit jou Afrikaner-wees op ander afforseer nie en moet ook nie aanneem ander deel jou lewens- en wêreldbeskouing nie. Afrikaner-wees mag vir my ’n prioriteit wees, maar dit is nie noodwendig waar vir ander nie.

Waak teen chauvinisme. Ek parafraseer NP van Wyk Louw se siening daaroor soos volg: “Chauvinisme is die swart engel van Afrikaners. Wanneer ons ons kultuur opgebou het tot ’n kultuur waaruit ons kan leef, dan besoek die swart engel die domste van die Afrikaners en fluister in hul oor ‘jy is die beste’ en as jy na die engel luister, mag jy maar weet jou dood is naby. Dit is geregverdig en selfs noodsaaklik om trots te wees op ons Afrikaner-tradisies, maar soos NP van Wyk Louw ook gesê het, ons moenie ván ons tradisies leef nie, maar vanuit ons tradisies.

In Carel Boshoff se boek, NP van Wyk Louw en die Derde Afrikaner, haal hy die Franse filosoof, Régis Debray, in ’n voetnota aan met die verwysing dat kultuur op drie maniere binne ’n volk oorgedra word. Kultuur word eerstens oorgedra deur die onderlinge verhale van volksgenote soos die Voortrekkers. Tweedens deur geskrifte soos dié van die Afrikaanse taalpioneer, CJ Langenhoven. Laastens deur videomateriaal – en daar is geen beter geposisioneerde generasie as die millenniër-Afrikaners om die aflosstokkie by die vorige generasie oor te neem om ons verhaal verder te vertel nie.

Ek het geleer dat dit moontlik is om vir iets te staan sonder om teen alles anders te staan. Ek het geleer dat in Afrikaner-wees vir my antwoorde lê op vrae waarmee ek vir jare lank al worstel. Afrikaner-wees verbind my met die land wat ons almal so liefhet. Vertel my jou Afrikaner-verhaal op sosiale media met die volgende hutsmerke: #VertelMyJouAfrikanerStorie #MyAfrikanerStorie #MillennialAfrikanersStaanOp #MASO.

  • Johan Koekemoer is die hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers, ’n vakvereniging verbonde aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Goed wat die skrywer nie noem nie. Hulle erf ‘n planeet wat letterlik aan die brand is. Hulle is die grootste verhuurders generasie ooit (wat net verby gesteek sal word deur die zoomers) want die huise sit by ons oumense vas en daar word nie genoeg bekostigbare behuising ontwikkel nie. Hulle is al deur 2 van die grootste ekonomiese ineenstortings van alle tye (2008 en 2020). Hulle kan nie bekostig om kinders te kry nie. Hulle kan nie spaar nie, 62% van Amerikaanse Millenniëre leef maand tot maand. Hulle is hoer gekwalifiseer as enige ander ouderdomsgroep nog ooit maar word minder betaal as hulle oupas in die 1920s-30s. Hulle het nie tyd of energie om te spander aan hoe en waar hulle in pas. Hulle probeer letterlik net oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.