Min, minder, niks: Is daar hoop vir ons bedreigde spesies?

bedreigde-spesies-01

‘n Armband gemaak van renosterhoring. Dié soort juweliersware is steeds baie gewild in Asië. Foto: Verskaf.

Elke jaar op die derde Vrydag van Mei word ons gevra om ons fokus te skuif na bedreigde spesies wanneer ons Bedreigde Spesie-dag vier. Dit is hartseer dat ons in die eerste plek só ʼn dag moet hê, maar ten minste skep dit bewusmaking wêreldwyd oor die stryd van verskeie spesies en die noodsaaklikheid vir ons om alles in ons vermoë te doen om hulle te bewaar.

Maar wat beteken bedreig nou eintlik? Die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne (IUCN) klassifiseer kwesbare spesies op ’n spektrum wat wissel van bykans bedreig tot uitgewis, met bedreig iewers in die middel. Maar moenie dat hierdie “middel” jou mislei nie – vir ’n dier om in hierdie kategorie geplaas te word, beteken dit dat die spesie se getalle besig is om te daal, daar is probleme wat voortplanting belemmer of hul habitat word bedreig. Eenvoudig gestel, as iets nie gedoen word om hierdie uitdagings die hoof te bied nie, bestaan daar die moontlikheid dat die spesie in die natuur uitgewis kan word.

Ongelukkig het Suid-Afrika ’n hele aantal diere op die bedreigde spesie-lys, soos die Kaapse aasvoël, die Afrika-wildehond en die Knysna-seeperdjie, om maar net ’n paar te noem. En terwyl elkeen van hulle ons aandag verdien, bevind een spesie hom midde-in ’n oorlog… die renoster. Dié dier is gebore met ’n liggaamsdeel wat in groot aanvraag is en die aanslag op die spesie in ons land is genadeloos.

Iets sal drasties moet verander of die renoster sal homself in die uitgewis-kategorie bevind. Ek dink die realiteit van renosters wat kan uitsterf in die natuur, het baie mense hard geslaan met die onlangse dood van Sudan, die laaste noordelike witrenosterbul. Om dit in perspektief te stel: ’n bevolking van meer as 2 000 noordelike witrenosters in 1960 het tot net 15 in 1984 verminder en vandag is daar net twee koeie oor. Natuurlik het ons hier in Suid-Afrika duisende* van die suidelike subspesie, so uitwissing lyk of dit ver in die toekoms lê. Maar die realiteit is dat ons drie renosters per dag** verloor – een elke agt uur as gevolg van stropery. Dit is duidelik nie volhoubaar nie.

Bonné saam met ‘n veldwagter by ‘n renoster se karkas. Foto: Susan Scott/STROOP.

Ek het baie tyd saam met die Krugerwildtuin en die Hluhluwe-iMfolozi-veldwagters deurgebring, sowel as in die hof waar ek gesien het hoe ons staatsaanklaers moet baklei teen gelaaide verdedigingspanne. Daar word ongelooflik baie werk in die loopgrawe gedoen, moet my nie verkeerd verstaan nie – baie meer as wat ons onsself kan indink. Maar renosters is weerloos, so teen die tyd dat

stropingsbendes op hulle toeslaan, is dit te laat.

Baie moet verander buite die parke waar hulle bly. Nie net op gemeenskapsvlak nie, maar ook waar die aanvraag vir renosterhoring vandaan kom. Tydens my verfilming in Asië vir STROOP***, het ek gesien hoe naarstigtelik mense op soek is na duur renosterhoring-juweliersware.

Ek het ook kankerpasiënte ontmoet wat die horing in poeiervorm sluk om hulle met hul chemoterapie te help. Dit lyk ook nie of die aanvraag afneem nie – ’n nuwe studie wat vroeër die maand verskyn het, het bevind renosterhoring “word toenemend gebruik as ’n simboliese gebaar om die familielede van terminaal siek pasiënte te troos. Verder is die horings veronderstel om ’n finale bron van plesier aan die siek familielid te verskaf en te demonstreer dat hul families alles moontlik gedoen het om hulle te help.”

bedreigde-spesies-03

Bonné het Asië besoek om self uit te vind waarvoor die lande se mense renosterhorings gebruik. Foto: Verskaf.

Die pogings om hierdie spesie van uitwissing te red, het ’n bykomende en ander tipe oorlog tot gevolg… die omstrede debat oor die wettiging van handeldryf in renosterhoring. Dit skep groot konfrontasie tussen verskillende lande, nieregeringsorganisasies en aktiviste. Vir sommige word handeldryf fanaties benader met miljoene wat in die veldtog ingepomp word om hulle kant van die debat vuurkrag te gee. Baie voel dit is die enigste werklike manier om die renoster te red, terwyl ander argumenteer dat dit renosterstropery bloot net sal laat toeneem en basies verseker dat renosters voortaan net in dieretuine en op privaat plase te siene sal wees. Hierdie aangeleentheid sal volgende jaar in die kollig wees by die volgende CITES CoP18 (Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora) in Sri Lanka waar die 182 lidlande sal vergader om oor die lot van die renoster te besluit. Dit is bevestig dat die Suid-Afrikaanse regering ’n voorstel ter tafel gaan lê vir die wettiging van internasionale handeldryf in renosterhoring wat vir seker sal sorg vir hewige debatvoering by dié konvensie.

Maar tot dan, woed die geveg op die grond steeds voort.

Of jy ’n liefde het vir renosters, die Afrika-wildehond, die Knysna-seeperdjie of enige ander bedreigde spesie, die goeie nuus is dat jy ook ’n stem vir hulle kan wees. Ons is almal op sosiale media, dit is gratis en ’n maklike platform om te gebruik. Hou hulle lewendig deur hul stories te laat lewe. Afrika is bekend vir sy ryk wildlewe en mense van oor die wêreld heen kom hierna toe om ons erfenis te beleef. Dit sal ’n skande wees om eendag wakker te word en te besef dat daar net twee oor is van ’n spesie, soos in die geval van die noordelike witrenoster.

Notas: 

[*18,413 suidelike witrenosters in Suid-Afrika volgens die IUCN se laaste verslag in April 2015]

[**Nasionale statistiek soos saamgestel deur die Departement van Omgewingsake: 2013 – 1,004; 2014 – 1,215; 2,015 – 1,175; 2016 – 1,054; 2017 – 1,028]

[***STROOP – die dokumentêre film oor die renosterstropingskrisis, vrystelling in 2018]

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LB ·

Wanneer maak hulle ‘n film oor die ander bedreigde spesie nl. die Afrikaner en wit ras in Suid-Afrika?

E.K. die eerste ·

Dan is daar nog al die plantspesies wat ook bedreig word – dis al vir my asof mense dink net diere kan uitgeroei word. Alles werk saam in die natuur en dis ongelooflik hoe min mnese omgee. Ons het van die mooiste en interessanste plante wat se voortbestaan regtig erg bedreig word.

André Christof ·

Jy doen enorme werk, do so voort. Ek lees elke berig van jou. Ontplof met jou inligting waar jy die aarde beskerm met jou raakvat en die realiteit in die mens se kop inprent, jy moet gééneen spaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.