Min opsies vir VSA na bloedige aanval in Kaboel

(Foto: Sandy Huffaker/Getty Images/AFP)

Die Engelse gesegde lui dat jy nooit ʼn hond wat lê moet skop nie, want een of ander tyd sal hy opstaan en terug byt. Pres. Joe Biden van die VSA het Donderdagaand soos die hond wat wil terug byt geklink in sy reaksie op die selfmoordbomaanval Donderdag by die Kaboel-lughawe in Afghanistan waarin 13 Amerikaanse soldate en byna 100 Afghaanse burgers dood is. Met min opsies tot sy beskikking is dit egter onseker presies hoe Biden daarin gaan slaag om terug te byt.

Die VSA het nie net die oorlog in Afghanistan verloor, meer as twee biljoen (tweeduisendmiljard, of in Engels “two trillion”) dollar vermors, duisende Amerikaanse soldate en Amerikaanse veiligheids- en ander kontrakteurs se lewens opgeoffer en Afghanistan in groter chaos agtergelaat nie – die Islamitiese terreurgroepe het met Donderdag se aanval bewys dat hulle die magtige VSA in die laaste dae van sy onttrekking uit Afghanistan sal verneder en dat hulle sal sorg dat elke laaste druppel Amerikaanse bloed wat hulle nog op Afghaanse grondgebied kan laat vloei, deur hulle bloeddorstige aanvalle gestort sal word.

Biden het Donderdagaand gesê dat sy regering die individue wat vir die aanval by die lughawe verantwoordelik was, sal jag en hulle vir die aanval sal laat boet. Met daardie woorde klink hy baie soos oudpres. George W Bush wat in November 2001 dieselfde belowe het en wie se oorloë in die Midde-Ooste die dood van baie meer Amerikaanse soldate tot gevolg gehad het as die getal sterftes in die aanvalle op 11 September 2001 in die VSA.

Die Amerikaanse president Joe Biden het Donderdagaand in ʼn toespraak ook onderneem om voort te gaan met die ontruimings (Foto: Drew Angerer, AFP)

In ʼn vernederende, byna rampspoedige vraag- en antwoordsessie met joernaliste Donderdagaand kon Biden nie daarin slaag om te sê presies hoe hy op die aanval in Kaboel gaan reageer nie. Hy het wel gesê die feit dat daar verlede jaar byna geen aanval op Amerikaanse soldate in Afghanistan was nie, was juis weens sy voorganger, Donald Trump, se ooreenkoms met die Taliban.

Hoewel die Taliban Donderdag se aanval veroordeel het en dit duidelik is dat ʼn filiaal van die Islamitiese Staat-terreurgroep vir die aanval verantwoordelik was, moet aanvaar word dat Afghanistan toenemend in ʼn teelaarde vir terreur sal ontaard en dat Westerse lande, en in die besonder die VSA, gereed moet wees vir terreuraanvalle wat vanuit Afghanistan op Westerse teikens beplan sal word. Die Taliban, self ʼn terreurgroep, beskik oor uiters beperkte vermoëns om Afghanistan deeglik te regeer en om ander terreurgroepe teen te werk.

Donderdag se aanval is uitgevoer deur Isis-K, ʼn filiaal van die Islamitiese Staat wat in 2015 in die Khorasan-provinsie (daarom die K na Isis) van Afghanistan deur voormalige lede van die Taliban opgerig is. Isis-K het die afgelope paar jaar sterk gegroei deur lede in Pakistan te werf, en die afgelope tyd het dié groep gereeld wrede aanvalle in Afghanistan geloods. Dit is veral die Sjiitiese Moslem-minderheid wat vroeër vanjaar en verlede jaar onder hulle aanvalle deurgeloop het.

Amerikaanse en Britse troepe by die lughawe in Kaboel. (Foto: MOD / AFP)

Met sowat 1 000 Amerikaanse burgers wat steeds in Afghanistan gestrand is en duisende Afghane wat vir die Amerikaanse weermag gewerk het en wat steeds die land wil verlaat, is dit onduidelik of daar steeds met die ontruimingspogings voortgegaan kan word. Die veiligheidsrisiko’s is tans baie groot en die meeste Westerse lande het reeds hulle ontruimingsoperasies beëindig.

Soos wat meer inligting oor Donderdag se aanval bekend word, raak dit ook meer en meer duidelik dat die Amerikaanse regering die onttrekking uit Afgahnistan swak beplan en nog swakker uitgevoer het. Terwyl die Amerikaners eers toegelaat het dat hul enorme Bagram-lugmagbasis noord van Kaboel in die hande van die Taliban val, het die Amerikaners by die Kaboel-lughawe staatgemaak op die Taliban om persone wat die lughawe wou binnekom, te deursoek. Dit het duidelik misluk en ʼn selfmoordbomaanvaller het die lughawe Donderdag suksesvol binnegegaan.

Die Taliban is tans in besit van 85 miljard dollar se Amerikaanse wapentuig, insluitende 75 000 Amerikaanse weermagvoertuie, meer as 200 Amerikaanse weermagvliegtuie en helikopters en meer as 6 miljoen Amerikaanse vuurwapens wat alles deur die Amerikaners aan die weermag van Afghanistan gegee is of wat met die Amerikaanse weermag se onttrekking agtergelaat is.

Terwyl die Taliban dus oor oorgenoeg Amerikaanse wapens beskik om ʼn volgende oorlog te veg, verkeer Afghanistan in totale chaos met weinig stabiele regeringstrukture, wat die perfekte omgewing vir Islamitiese terreurgroepe soos Isis en Al Kaïda skep om te organiseer.

‘n Lugskoot van die gebied rondom die Kaboel-lughawe (Foto: AFP)

Hoe reageer die VSA dus op Donderdag se aanvalle? Die Amerikaners het nie veel van ʼn ander keuse as om Afghanistan finaal druipstert te verlaat nie. Daar is ʼn sterk moontlikheid dat daar enige oomblik verdere terreuraanvalle kan plaasvind.

Met die gevaarlikste leiers en vegters van terreurgroepe wat die afgelope twee weke uit tronke in Afghanistan losgekom het en die Taliban wat nou beheer oor bogenoemde gevorderde Amerikaanse wapentuig geneem het, is dit nie juis vir die VSA ʼn opsie om Afghanistan weer binne te val en die Taliban, Isis en ander terreurgroepe met konvensionele oorlogvoering te probeer oorwin nie.

Die afgelope twee weke se gebeure, en in die besonder Donderdag se aanval, bevestig dat Afghanistan nou die voorste tuiste vir Islamitiese terreurgroepe geword het. Die gevolg hiervan is dat meer terreuraanvalle waarskynlik op Westerse teikens regoor die wêreld beplan sal word. Islamitiese terreurgroepe het ook die vermoë om die Midde-Ooste en Sentraal-Asië verder te destabiliseer.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charl ·

Wat ‘n gemors ! Tipies Yank, neuk altyd in ‘n ding in met daai tipiese Amerikaanse meerderwaardigheids fanfare net om hul alies te sien ! Toegegee, hulle doen dit dalk in belang van ‘n vrye wereld sonder terreur ens. maar… met onderliggende motiewe. Kabul lyk vir my meer na nog ‘n ”Custer’s last stand”.

koos ·

“Much of the social history of the Western world, over the past three decades, has been a history of replacing what worked with what sounded good” – Thomas Sowell

Perdevy ·

Biden weet nie of dit oggend of aand is nie. Hou gerus op met die leuens dat hy tot enigiets sinvols in staat is.

piet ·

So die Afghaanse weermag sit met al hierdie VSA wapentuig wat aan hulle gegee is maar hulle kan nie hulself beskerm nie. Lyk vir my maar na ‘n ruggraatlose spulletjie. Hulle is so useless dat die Taliban sommer die plek oorvat in ‘n paar dae en die wapentuig buit. Useless.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.