Minder klem op feite, meer op persepsies

donald-trump-vs-hillary-clinton

Foto: Youtube.com

Wanneer dié stuk verskyn, sal die vuilste en onaangenaamste Amerikaanse presidentsverkiesing in menseheugenis amper verby wees. Dat die magtigste – en een van die vryste – state in die wêreld tot dié dieptes kon daal, gaan ongetwyfeld die onderwerp wees van tientalle akademiese en joernalistieke ontledings in die jare en selfs dekades wat voorlê.

’n Kenmerk van die veldtog was wat geleerdes noem “post-feitelike politiek”. Met ander woorde, politiek waar die feite nie werklik saak maak nie, maar waar persepsies en gevoelens álles is.

Die onafhanklike Amerikaanse webwerf PolitiFact het byvoorbeeld die uitsprake van die twee presidentskandidate, die Demokraat Hillary Clinton en die Republikein Donald Trump, regdeur die veldtog aan die bewysbare feite getoets, en dit blyk dat geeneen van die twee hulle regtig aan die waarheid hou nie.

Clinton, so het PolitiFact bevind, het in 26% van haar uitsprake gelieg, en nog 24% was net half waar. Altesame 24% was waar en 26% meestal waar.

Dit blyk dus dat Clinton maar ’n taamlik tipiese politikus is vir wie sý of háár waarheid belangriker is as die objektiewe waarheid.

Maar Trump vat die koek. Altesame 70% van sy uitsprake was leuens, 15% half waar en net 14% waar en 1% hoofsaaklik waar.

Terwyl hierdie woorde geskryf word, is die uitslag nog nie bekend nie. Maar ondanks veral Trump se rekbare omgang met die waarheid, het miljoene mense nietemin vir hom gestem. Waarom?

Iets soortgelyks kon ’n mens sien met die Brexit-referendum in Brittanje vroeër vanjaar, waar 52% van die kiesers vir wegbreek van die Europese Unie (EU) gestem het.

Een van die belangrikste elemente in die “Brexiteers” se propaganda was byvoorbeeld die bewering dat hul land £350 miljoen per week aan die EU betaal. Die “remainers” het daarop gewys dat dit hoogs misleidend is, dat dit nie naastenby die finansiële voordele wat Brittanje uit sy EU-lidmaatskap kry in ag neem nie, maar dit het nie gehelp nie.

Ook op die Europese vasteland is die eerbied vir feite by talle politici – die een meer as die ander – aan die afneem.

Dis nie dat die kiesers dit nie raaksien nie; hulle is nie almal onnosel nie.

Twee voorbeelde: Ondanks Trump se belofte dat hy ’n muur langs die grens met Mexiko gaan bou en dié land daarvoor laat betaal, meen 62% van diegene wat vir hom wou stem dat dit ’n simpel, onuitvoerbare idee is. Ondanks sy tirades oor die instroming van “miljoene” vreemdelinge wys ’n peiling van die Pew-Instituut dat net 33% van die kiesers sy oortuiging deel, terwyl 59% meen die immigrante versterk die land weens hul harde werk en talente.

En tog het ’n groot deel van daardie 62 en 59% vir hom gestem. Hoekom?

Die Amerikaanse sosioloog prof. Arlie Hochschield (sy was voor haar aftrede by die Berkeley-kampus van die Universiteit van Kalifornië, ’n liberale vesting, maar woon nou in die kliphard konserwatiewe Republikeinse deelstaat Louisiana) bied ’n verklaring wat baie sin maak. In ’n onderhoud met die Nederlandse kwaliteitblad NRC Handelsblad vertel sy:

“Die vrysinnige dogmas van die elites aan die kuste oorheers die landwye waardestelsel: homoseksualiteit moet aanvaar word, en so ook ander godsdienste. Afwyking van dié kulturele norm word as agterlik of rassisties afgemaak.

“In Louisiana voel die mense dit. Hulle weet presies dat hulle deur hoog opgeleide en suksesvolle mense gesien word as rednecks. Terwyl hul redenering logies is. Jy het jou werk verloor en word nie gehelp nie, maar die land laat inkommers in.

“As jy vraagtekens plaas of klamp jy jou vas aan jou identiteit, word jy as rassisties afgeskilder. Dit is mense wat redeneer vanuit tradisie, die plaaslike gemeenskap, hul familiegroep. Die elite gaan respekloos daarmee om.”

Trump, sê Hochschield, “het hulle bevry van hul skaamte”. Dit gaan dus nie om geldige feite, objektiewe waarhede of bewysbare leuens nie. Vir miljoene mense – in die VSA en Europa – is dit nie vreeslik relevant nie.

Dit gaan nie oor die vraag of Trump Amerika se redder is en of Clinton nou regtig so korrup is nie. Dit gaan oor twee dinge.

Die eerste is dat etniese identiteit regoor die Weste ’n belangrike sosiologiese faktor geword het wat die gedrag van gemeenskappe kan verklaar. Dis ’n faktor wat lank verwaarloos is in kringe waar die liberalisme – op sigself ’n respektabele denkraamwerk – ’n godsdiens geword het, waar die individu álles en die gemeenskap níks is.

Natuurlik moet ’n mens nie saam met Adolf Hitler sê “jý is niks, jou vólk is alles” nie. Maar etniese identiteit is besig om weer ’n faktor van betekenis te word.

Die tweede saak wat hiermee saamhang, is die ekonomie. Reeds sedert die jare tagtig, die era van pres. Ronald Reagan van die VSA en premier Margaret Thatcher van Brittanje, is die vrye mark tot alles-saligmakende ideologie verhef. Dit was ’n noodsaaklike korreksie op die sosiaal-demokrasie, wat individuele inisiatief ontmoedig en ekonomiese groei gedemp het.

Maar terselfdertyd het dit in die praktyk meegebring dat diegene aan die onderkant van die samelewing – die minder intelligentes, die armes, dié wat minder kanse in die lewe het – uitgesak het. Die verskil tussen arm en ryk in ’n land soos Amerika het grootliks toegeneem.

Die Amerikaanse droom het vir baie wittes in ’n Amerikaanse nagmerrie verander. En terwyl hulle dit steeds moeiliker kry, sien hulle ’n regering wat moeite doen vir arm swartes en Latino’s en wat onwettige immigrante toelaat.

Dis mense wat weerstand teen die elite begin toon. Dis ’n soort klasse-opstand teen die establishment van sowel die Demokratiese as Republikeinse Party, wat hulle albei in die steek gelaat het.

Dit gaan dus minder om die feite en meer om gevoelens en persepsies. Dis ’n verskynsel wat ook in mindere of meerdere mate voorkom in Europa.

Die implikasie hiervan is dat die leemte wat Trump – ondanks sy eie arrogansie en gebreke – in Amerika blootgelê het, nie sal weggaan nie, ongeag wie vandeesweek tot wenner van die verkiesing uitgeroep word. Dis ’n oop sweer wat dringend aandag verg van pres. Barack Obama se opvolger.

Moet geen fout maak nie; ek is geen sosialis nie, inteendeel. Maar soms is die groot kapitaliste die grootste vyand van die kapitalisme. En die verbete liberaliste van die liberalisme.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico K ·

Dit wil lyk dat met die uitslae wat al hou meer na Trunp gaan, asof kiesers meer stem vir die beginsels van die party. (Terwyl albei kandidate maar swak is.) En dalk is die mense moeg vir die liberale beleid van die Demokrate en word daar gemeen dat die regering nie genoeg doen vir die ekonomie van die land nie. En buitendien, ten spyte van al Trump se praatjies weet ons dat daar niks regtig sal verander nie. Obama was ook gegroet met groot entoesiasme en wat het hy nou eintlik verander?

Frans C ·

Maak nie saak wat jou politieke siening is, daar is net een waarheid in politiek en dit is
‘Charity begins at home’. America sit met ‘n enorme handelstekort omdat invoere -uitvoere ver oorskry.

In die lig daarvan is dit duidelik dat Amerika dit nie langer kan bekostig om ander organisasies te ondersteun nie.Sy bydrae tot die United Nations is $3biljoen meer as 185
ander state se bydrae.Sy bydrae tot Nato is 22%.

Soos in Suid Afrika is dit veral die gemeenskappe waar bv staalfabrieke gesluit is wat Trump ondersteun.Of Trump dit kan omswaai is ‘n andersaak want in die globale gemeenskap word alhoemeer van ‘outsourcing’ gebruik gemaak soos ook die ANC dit doen.

hans ·

Ek wonder net of afrika gaan juig of huil as een van die twee wen.

Johan ·

Ek weet nie of die Maroela se kommentaar bydraw iets werd is nie.
Dis so ‘n regte “soap box” bydraes waar enigeen hulle mening kan lig wat deur min gelees sal word.
Maar daar gelaat, die artikel is die rede waarom die VSA binnekort ‘n ander bestuur gaan hê.
Die media het in Amerika toe nie die helangrike invloed gehad wat hulle vir hulself toegeëien het nie.
Ek neem aanstoot dat die skrywer na politici verwys as “elite”. Is dit ‘n naam vir persone wat hulself help uit voordele wat hulle geen reg op het nie? Soos by ons? Hier sal mense iets oorkom as jy Zuma as elite beskou.
Nes die halwe waarhede ensovoorts waarvan die skrywer melding maak is sy artikel deurspek daarvan. Hy haal die oorsese media aan asof dit die bybel is.
Rn so word nuttelose joernalistiek voortgesit.
Wat ‘n mors van tyd om dit te lees.
In Amerika het die man in die straat gepraat. So ook met Brexit.
Put it in your pipe and smoke it.
Dis tyd dat joernaliste doen wasrvoor hulle goed is – om feite te rapporteer.
Hou jou mening vir jouself asseblief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.