Misdaad in Suid-Afrika is ʼn oorlog; publiek sal misdadigers self moet stopsit

ian-cameron

Ian Cameron is hoof van gemeenskapsveiligheid by die burgerregte-organisasie AfriForum. Foto: Twitter.com

Deur Ian Cameron

In ʼn verslag, “Hoe om die oorlog teen misdaad in Suid-Afrika te wen”, wat AfriForum en die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) in 2016 bekendgestel het, het die veteraan-ondersoekende joernalis Rian Malan in vele bevindinge gewys hoe armer die gemeenskap, hoe groter die kans dat daardie gemeenskap die wet in eie hande sal neem. Daarteenoor: Hoe meer geld die gemeenskap het, hoe meer privaat sekuriteit sal aangestel word.

Volgens syfers wat verskaf is deur die sentrum vir risiko-analise (CRA), groei die privaatsekuriteitindustrie eksponensieel vinniger as die polisiediens in Suid-Afrika. Die getal sekuriteitsbeamptes wat amptelik in diens van privaat instansies is, is al meer as 500 000.

rol-en-groei-van-privaatsekuriteit

Grafika: Verskaf.

Die grafiek skets ook ʼn prentjie dat die staat nie voldoen aan die vraag na hulp met veiligheid nie. Die groeiende prentjie van die privaatsekuriteitsindustrie is een wat maar tot kommer mág lei. Die groei stabiliseer nie en neem aanhoudend toe – dit wil sê misdaad neem steeds nie af nie en die industrie is nie die alleen-antwoord teen misdaad nie. Dit skets ʼn prentjie van die burgerlike samelewing wat in vrees leef.

Ons moet verder vra of ʼn kruppel vervolgingsgesag wat sukkelend aanstrompel, miskien ook ʼn impak op misdaadsyfers het. Die onlangse toename in transitorooftogte regdeur die land dui daarop dat gewoontemisdadigers steeds op straat, of terug op straat is. Moenie ʼn fout maak nie: Misdaad op ʼn Suid-Afrikaanse standaard is ʼn ekonomie en werkgewersindustrie op sy eie. Dus kry misdadigers ook spreekwoordelike bevordering en verbeter hulle keer op keer met dit waarmee hulle besig is.

’n Opname in 2011 deur Statistieke Suid-Afrika wys dat meer as 62% van mense in Suid-Afrika bang is om uit te gaan as dit donker is. Daar word tans meer as 18 000 mense per jaar in die land vermoor.

Ons begin al klassifiseer wat ʼn slegte moord en ʼn beter een is.

Waar lê die middelgrond en wat mag burgery doen?

ʼn Groot gedeelte van die oplossing lê beslis in gemeenskappe. Gemeenskappe in Suid-Afrika het die volste reg om hulself teen misdaad te organiseer. Die gereg in Suid-Afrika het genoeg ruimte om misdaad self binne die wetlike raamwerk te kan bekamp. Bygesê, drukgroepwerk is van uiterste belang om te sorg dat die vervolgingsgesag en die polisie herstel en versterk – sonder hulle mag dit in sekere gevalle net ʼn half gewonne stryd wees.

Die polisie moet volgens die Suid-Afrikaanse Polisiewet met alle organisasies, ongeag of hulle deel van die gemeenskapspolisiëringsforum is of nie, skakel as dit beteken dat misdaad op ‘n wettige wyse bekamp gaan word.  Volgens die beleidsraamwerk van gemeenskapspolisiëring moet almal wat ʼn goeie, wettige bydra kan maak as vennote in die teenmisdaadsgeveg geag word.  Die doel van gemeenskapspolisiëring is juis om ʼn meer pro-aktiewe poging aan te wend om misdaad te verhoed. Dit kan slegs gedoen word as daar sterk vennootskappe tussen al die betrokke instansies is, asook eensgesindheid om misdaad te wil verjaag.

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisiewet stipuleer ook dat die polisie alle organisasies moet aanvaar wat op ʼn wettige wyse tot misdaadvoorkoming en -bekamping bydra.

Die regering se onvermoë om misdaad op ʼn nasionale vlak te bekamp sal beteken dat mense toenemend self gaan optree, wat hulle natuurlik mag doen, solank dit volgens die wet gedoen word. In ʼn onlangse gesprek met die voormalige KZN-Valkebaas, generaal Johan Booysen, het hy aan my genoem dat “crime intellingence” in baie opsigte nou eerder “crime incorporated” is.

Ons moet verstaan dat elke beampte op grondvlak nie self die probleem is nie, maar dat die oorheersende politieke inmengery in die spesifieke polisieorgaan wat ons misdaadintelligensie wil noem, tans glad nie optimaal funksioneer nie.  Sonder misdaadintelligensie kan die sindikaatoorheersing in die land nie lamgelê word nie – die land se burgery word eerder lamgelê.

Minder as 5% van die polisie se begroting word op misdaadintelligensie bestee. Ek wil sover gaan as om te sê amper 50% moet daarop bestee word. Taxi’s wat Gauteng vir amper 12 ure tot ʼn stilstand bring, is niemand anders as die wetstoepassinginstansies se skuld nie. Dit dui op oningeligte operasionele beamptes wat deur misdaadintelligensie in kennis gestel moes gewees het. Pro-aktiewe optrede sou hierdie anargistiese oggend van kant gemaak het nog voor dit werklik gebeur het.

Met sterk gemeenskapstrukture kan inligting wat gedeel word soveel meer doeltreffend wees. Dus kan die gemeenskap ʼn toenemende groot rol speel in die gebruik en bestuur van inligting, veral waar die staat versuim, of waar die staat verantwoordelik gehou moet word om op te tree.

Die voormalige minister van sport – nou ons minister van polisie – Fikile Mbalula, het sy begrotingsrede vir 2017 afgesluit met: “We fight criminality with ferocity of a cornered bull and agility of a cat.” Maar moet die bul dan juis nie in ʼn hoek wees nie? Dit moet tog ʼn bul wees wat bo-oor kriminele en hul aktiwiteite voortstorm. Mbalula het baie gefokus op ʼn geliefkoosde woord in die staat, spesifiek onder die ANC, naamlik “transformasie”. Wel, geagte minister Mbalula, die polisie is pap getransformeer.

Nou gaan gemeenskappe die misdaadoorlog in Suid-Afrika sélf moet omdraai, want met aktiewe gemeenskapstrukture kan ons weer wen.

Ek haal my hoed af vir elke polisiebeampte in Suid-Afrika wat elke dag vasbyt. Ongeag politieke druk, inmengery en invloed byt hulle vas om steeds ʼn impak op die grond te maak. Dit is ʼn voorreg om saam met julle te kan werk.

Dalk is dit nou tyd om ons benadering te verander en ’n bietjie anders na misdaad en die bekamping daarvan te kyk.

Konvensionele misdaadbekamping kan nie meer werk teen niekonvensionele misdaad nie. Misdaad in hierdie land het ʼn vierde generasie oorlog geword.

  • Cameron is hoof van gemeenskapsveiligheid by die burgerregte-organisasie AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Johann Marx ·

Waarom sal die regering iets aan misdaad doen? Hulle sal nie, want elke (gedwonge) uitgawe, hetsy voorkomend of om die gevolge van misdaad te herstel, genereer vir hulle 14% BTW. As ek beroof word van ‘n voertuig betaal my versekering die markwaarde van die voertuig uit. Die bank gryp eerste die uitstaande bedrag, so hulle’s nie gepla nie. Die vervangingsvoertuig kos miskien R100 000 meer as wat ek by die versekering gekry het, en die bank is maar te bly om dit WEER te finansier. Die dief kry tussen R15-R25 000,00 vir sy “werk”…..en as ek my gesteelde voertuig vervang (teen +/-R450 000,00) kry die regering R55 263,16 sonder dat hulle ‘n vinger hoef te gelig het….Die manier om die regering te motiveer om misdaad begin bekamp, is om alle misdaadverwante uitgawes teen 0% BTW aan te slaan, want op die oomblik genereer misdaadverwante BTW miljarde vir die guptastan!

Eish ·

U maak n reuse fout. Hul is nie in staat tot so n berekening nie. Die voordeel wat die regering te beurt val is bloot n onverklaarbare inkomste.

Awie Opperman ·

Baie goeie idee Johann, maar daar is ook die nagenoeg R92,000 se invoerbelasting wat jy betaal indien jy ‘n nuwe voertuig koop, wat jy buite rekening gelaat het. Enige misdaad verwante transaksies moet vry van enige belastings wees, ongelukkig sal dit nooit gebeur nie, want dit sal veroorsaak dit iemand aanspreeklik sal wees al is dit dan net aan die minister van finansies. Die regering kan imo eerder enige privaat sekuriteit onkostes belastingaftrekbaar maak.

MCH ·

U slaan die bal in totaliteit mis indien u enigsins die mening toegedaan is dat die SAPS net omdat dit in wetgewing beliggaam is, organisasies moet aanvaar wat bydra tot misdaadbekamping. Die onlangse loodsing Van Nehemia en die reaksie van die SAPS se streekskommissaris in die Vrystaat verwys. Lede in die Vrystaat word gedreig met dissiplinere optrede sou hul enigsins betrokke raak by die inisiatief. Dit is om sulke redes dat privaatsekuriteit sal bly groei teen ongekende tempo. Die SAPS wil, met enkele uitsonderings nie saamwerk nie. Hel man, ons bly in n land waar n pizza vinniger by jou huis uitkom as die SAPS. Tweedens is hul in n toestand van totale onvermoë in getransformeer. Derdens is die oorgrote meerderheid lede korrup en deel van misdaadsindikate. Vierdens beskik die oorgrote deel van bestuur eenvoudig nie oor die kwalifikasie of ervaring om sy stoel vol te sit nie. Vyfdens is daar openlike haat van die regerende meerderheid teenoor blankes wat deursyfer na die optrede van die SAPS. Die enigste wyse om die misdaadgolf te bestry is deur selfhelp. Die enigste wyse om voorkomend op te tree is deur selfhelp.

Cas ·

Is dit moontlik dat ‘n burgerlike organisasie soos Afriforum sy eie sekuriteitsmaatskappy kan begin.? Self die opleiding doen en lede se salarisse betaal. Moontlik bestaan daar reeds so iets.

Kannaland ·

Na my mening is dit die beste korttermynopsie wat ons het, dit saam met ander opsies.

Deidré ·

Ek vermoed dis moontlik, maar meer mense sal hul gewig & geld agter AfriForum moet plaas. Hoe vinniger die ledetal uitbrei en mense begin staan, hoe gouer kan ons ‘n streep in die sand trek, en sê tot hier toe en nie verder nie!

Melanie ·

Afriforum dankie vir wat julle doen.Die polisie aan die anderkant weet nie so mooi,my seun was aangeval in 2010 tot nou toe het daarvan niks gekom nie.God dank hy was nie geskiet nie,alhoewel sneller getrek was.Ons hemelse Vader se hand was oor hom.

tamboti ·

Ons raak baie dinge gewoond in die NSA, moenie verbaas wees dat misdaad ook ‘n aanvaarde en baie lonende “vennoot’ van die huidige regering word nie (hulle sukkel lank reeds om wettiglik genoeg finansies te genereer, om nie eers te praat van die amptenare se ernstige probleem om tussen reg en verkeerd – misdaad – te onderskei nie )
Voeg daarby ‘n goeie skoot regstellende aksie of “radikale transformasie” en feitlik enige onregmatige optrede kan verdedig of gemotiveer word.
Die enigste vraag is: WIE IS DIE VOLGENDE SLAGOFFER?
As onse regering enigsins ernstig was met die bekamping en uitwissing van misdaad, sou hul lankal ‘n spesiale noodtoestand met spesiale optrede teen misdadigers ingestel het met volle samewerking van gemeenskap, weermag, sekuriteit, reserviste en kommando’s.

PHILIP KILIAN ·

Die aanhoudende, vrugtelose gekerm oor die land se vrot misdaad situasie raak vervelig. Alles is bekend en niemand kom vorendag met ‘n positiewe wat-nou plan nie. Dit lyk of ons almal net sit en wag vir iemand om iets te doen, terwyl die status quo van die land se slim skelms, wat baat uit misdaad, voortbestaan. Die intelligensie en kundigheid van onse mense is regtig in staat om die misdaad patrone te identifiseer en volhoubare planne in werking te stel. Al ons plase kan onder ‘n net, wat al nouer trek, vasgebind word, en met kundige tegnologie pro-aktief, asook met onmiddelike reaktiewe optrede ons mense beveilig. Ian Cameron werk aan so ‘n plan. Ek voel dat ons Boere self die PLAN moet maak.

John ·

Een van ons grootste probleme is die onderlinge swak verhoudinge in boeregemeenskappe… ‘n eeue oue probleem. Eers nadat die bure in bloed le, word daar besoek afgele. Groot ‘brag’ en kompetisie is ‘n onding. Dit moet met wortel en tak uitgeroei word. Kommunes is deur die Jode uitgetoets. Steek daar kersop.

Jan ·

Dankie Afriforum,Prof Zinn en dr Johan Burger vir al jul navorsing.Dit is vannaand ons 69ste aand met ons Groenlig Misdaadvoorkomings projek en dit gaan wonderlik.Vir die eerste keer ooit kan ons bewys dat ons aksies misdaad gestop het in sekere gebiede en met meer as 50% laat daal het in ander.Dit als deur die gemeenskap se aksies.Indien ons nie misdaad het nie hoef ons nie oor Saps te kla nie.Ons het wel nog n styl bult om te klim maar ten minste klim ons al.Ons wil graag die eerste landelike gemeenskap wees in die Land wat heeltemal misdaad vry bly.

Ken2 ·

Dit is baie goeie nuus. Ek sal graag meer oor hierdie projek wil lees, so Maroela skryf asseblief vir ons ‘n artikel hieroor.

Emma vd Berg ·

250 woorde is te min om die harde bal van misnoe in my binneste te te ontrafel aangaande die korrupsie en die net ‘ sit en wag op die onverdiende volgende salaris’. Dit gaan ooral so!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.