Misdaad, die ondier wat gryns en wag

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Teen die tyd dat hierdie rubriek verskyn, is die jongste van my gereelde besoeke aan Suid-Afrika al weer amper verby. Ek deel ’n paar waarnemings met die lesers.

Wat ’n mens baie bekommerd maak, is die feit dat ek – omdat ek met tussenposes hier is – die agteruitgang duidelik kan sien. Dit gaan uiteraard om die gewone dinge soos slaggate in die paaie wat (altans in Gauteng) steeds meer word, maar ook om ander, belangriker dinge.

Elke keer as ek hier kom, is die plakkerskampe meer en groter. Dis stedelike woestyne langs die paaie wat steeds groter bronne van onstabiliteit vorm.

Wat dit betref, het ek ’n interessante ervaring gehad. Ek moes ’n geleentheid in die Pretoriase middestad bywoon, en ná afloop moes ek na die OR Tambo-lughawe vir my vlug na Kaapstad ry.

Toe raak my GPS mal. Ek ry nog so ewe op die snelweg van Pretoria na die lughawe, toe sê my GPS ek moet afdraai. Ek dog nog wat op aarde, maar die affêre is tog gekoppel aan satelliete, en dalk is daar probleme op die pad, laat ek maar so maak.

Só gesê, só gedaan. En daar lei die masjientjie my al hoe dieper in ’n plakkerskamp in; weet nie watter een nie. Mense, dis dónker Afrika daar.

Ek besluit toe: Ek kan nou verder in kringe ry en die risiko loop dat ek uiteindelik aangeval en uitgehaal word, of ek kan nóú stop en die pad vra.

Binne ’n ommesientjie is ek deur maklik 30 mense omring. Baie nuuskierig en baie vriendelik. Een van hulle, duidelik behoorlik intelligent, het my haarfyn vertel hoe en wat.

Ek het hulle vertel waar ek woon, in Nederland. Hulle wou alles weet hoe ryk die mense daar is, hoe dikwels dit reën (toe ek sê byna elke dag, was hulle minder beïndruk).

Maar dit daar gelaat. Ek kon weer sien hoe ’n ekologiese ramp só ’n plakkerskamp is, en hoe uitsigloos die mense se lewe is – die meeste sonder opleiding, sonder rigting, sonder hoop.

En dís die mense met wie ’n land gebou moet word. Dis mense wat veel erger daaraan toe is sedert die land in 1994 oorgeneem is deur die ANC, ’n party wat net in rykdom en mag belangstel en vere voel vir die miljoene mense sonder werk, sonder toekoms en sonder ’n horison.

Wat dinge erger maak: Ek het verskeie gesprekke met kenners oor die veiligheidsituasie in die land gehad, en hulle vertel almal dat Suid-Afrika in ’n soort oorlog van lae intensiteit betrokke is. Dis geen ortodokse oorlog tussen erkende state nie, en ook nie tussen ’n erkende regering en ’n rebellebeweging nie.

Die skrikwekkende groei van misdaad, gevoed deur die armoede in die soort plakkerskamp wat ek gesien het (terloops, as lid van die leër se reserwemag het ek dit vroeër ook dikwels gesien), kom teenswoordig op ’n soort oorlog neer. Dit gaan naamlik nie slegs meer om misdaad nie; dit het ook ekonomiese en politieke elemente.

Om mee te begin, hang baie mense in die townships se bestaan af van wat hulle – hetsy direk of onregstreeks – met misdaad verdien. Die bendes gedra hulle dikwels soos ondernemings, met ’n soort struktuur en ’n bestuur, met “generaals” wat strategiese besluite neem en “soldate” wat die vuil werk doen.

Maar daar is meer. Hierdie georganiseerde misdaad skakel op ’n magdom verskillende maniere in by die georganiseerde politiek, veral by elemente van die ANC, die EFF, die BLF en moontlik ander groepe ook.

Daar is plek-plek ’n informele verstandhouding tussen die misdaad-“generaals” en politici dat laasgenoemdes op die allerminste anderpad kyk sodat die bendes hul gang kan gaan. Die politici word uiteraard daarvoor vergoed.

Twee belangrike nuanses is hier nodig.

Ten eerste is daar geen Berlynse muur tussen die politici en die bendeleiers nie. Soms is hulle dieselfde persone.

Tweedens, verreweg nie alle politici is met misdadigers deurmekaar nie. Heelparty wil niks daarvan weet nie en hou hulle ver daarvandaan.

Op die hoogste vlak het die geskiedenis van Jacob Zuma, die familie Gupta en Bosasa vir ons gewys hoe die misdaad, die politiek en die ekonomie (in die vorm van die georganiseerde sakelewe) in Suid-Afrika in mekaar verstrengel is. Zuma was nie self ’n “generaal” nie; sy sakke is deur die – as ’n mens dit só kan noem – misdadigersakemanne gevul gehou sodat hulle hul gang kon gaan.

Erger nog, hulle het Zuma besit. Húlle het dikwels besluit wie in die kabinet mag sit; Zuma het maar netjies gedoen wat vir hom gesê is.

Daardie verstrengeling loop van die hoogste kringe af ondertoe tot op straatvlak in die plakkerskamp waar ek vasgeval het. Gelukkig is ek weg voor een van hulle die idee kon kry om dié whitey van sy besittings (of lewe!) te bevry.

Baie is gemaak van Cyril Ramaphosa se begeerte om korrupsie aan te pak. Sedertdien wil dit lyk of hy, dalk in beperkte mate, ook deel van die probleem was.

Ook is sy mag in die ANC nog glad nie onbetwis nie. As hy te vinnig te veel probeer doen, trap hy op te veel “generaals” se tone en kan hy blitsvinnig sy kop verloor.

Vra jy watter rigting moet Suid-Afrika inslaan, is die antwoord maklik: Massiewe beleggings in onderwys en opleiding, werkverskaffing en die bevordering van ’n sosiale gewete.

Maar dis duisend maal makliker gesê as gedaan. Terwyl dié verstrengeling tussen misdaad, die ekonomie en die politiek voortduur, sal dit in geeneen van die drie elemente se belang wees om dit af te skaal of te beëindig nie.

Die alternatief is dat die “eerlike” element in die Suid-Afrikaanse samelewing (nierassig gedefinieer) hulself maar so veel moontlik in geografiese steunpunte moet konsentreer en terugtrek.

Ek is van nature ’n optimis. En ek sien ook in dat ons in 1994 geen ander alternatief gehad het as om apartheid af te skaf nie.

Maar ons sal moet spook dat dit bars as ons sake wil omdraai. Die goeie Vader sal ook sorg, maar net as ons ons plig doen.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
mini

ek sien daagliks mense hier wat nie kan lees en skryf nie…. ons problem is dat as n leier ongeleerd is hy sal nie sy volgenling wil he moet slim wees nie…. onderwys in zim is beter as sa…. Mugabe het altyd seker gemaak skole in zim is goed….dis nou veglyk met die staatskole hier….

Oud onnie

Van Zimbabwe gepraat. Met die probleme daar het destyds baie onderwysers hier kom werk. Hulle het goeie werksetiek en gee oor die algemeen om vir hul werk. In ‘n gesprek het ‘n vrou gesê dat hulle goed geleerd is, want “the British taught us.” Ironies dat Mugabe altyd ‘n mondvol gehad het oor juis die mense wat vir sy opvoeding verantwoordelik was. Klink nie altyd so nie, maar hy is ‘n geleerde man. Ons mooi land is op die afdraand. Die situasie is hopeloos. Om nie in ‘n depressie te verval nie, moet mens maar net jou eie oë binne… Lees meer »

Deon

SA het klaar gefaal. Zuma en sy kaders het net te veel skade aangerig. Ons is lankal by die omdraaipunt verby. Nugter weet wat vorentoe gaan gebeur. Met die swart jeug wat die strate invaar gaan die 1976 onluste nog soos ‘n piekniek lyk. Moontlik gaan ‘n gek generaal of korporaal ‘n staatsgreep uitvoer, wie weet.

Jerry

Die regering is veronderstel om onwettige immigrante aan te se om die land te verlaat voor die verkiesing ten einde n bietjie meer politieke stabiliteit te verseker, maar die teenoorgestelde vind plaas, dis kommerwekkend. Mense is veronderstel om tydens misdaad en politieke onstabiliteit kort voor die verkiesing tuiniers aan te se om nie voor die verkiesing, tydens die verkiesing en kort na die verkiesing terug te keer nie. Gewapende reaksie veiligheidsdienste wie mense in diens het wat nie eiesoortige is nie en wie moontlik revolusionere ideologiee aanhang se dienste moet opgeskort word. Gemeenskappe en mense moet persoonlik verantwoordelikheid neem vir… Lees meer »

Dries du Toit

Dr Scholtz dit is voorwaar verblydend dat jy gesien en erken het dat SA in n vreeslike gemors is. Maar dat jy se dat ons geen keuse gehad het om apartheid af te skaf nie is ook n baie debateerbare feit. As jy wel glo dat ons nie n keuse gehad het nie dan beteken dit mos maar dat die onregte in hierdie land teen die witmense ook maar net n ding is waarvoor ons geen keuse gehad het nie.