Misdaad, die ondier wat gryns en wag

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Teen die tyd dat hierdie rubriek verskyn, is die jongste van my gereelde besoeke aan Suid-Afrika al weer amper verby. Ek deel ’n paar waarnemings met die lesers.

Wat ’n mens baie bekommerd maak, is die feit dat ek – omdat ek met tussenposes hier is – die agteruitgang duidelik kan sien. Dit gaan uiteraard om die gewone dinge soos slaggate in die paaie wat (altans in Gauteng) steeds meer word, maar ook om ander, belangriker dinge.

Elke keer as ek hier kom, is die plakkerskampe meer en groter. Dis stedelike woestyne langs die paaie wat steeds groter bronne van onstabiliteit vorm.

Wat dit betref, het ek ’n interessante ervaring gehad. Ek moes ’n geleentheid in die Pretoriase middestad bywoon, en ná afloop moes ek na die OR Tambo-lughawe vir my vlug na Kaapstad ry.

Toe raak my GPS mal. Ek ry nog so ewe op die snelweg van Pretoria na die lughawe, toe sê my GPS ek moet afdraai. Ek dog nog wat op aarde, maar die affêre is tog gekoppel aan satelliete, en dalk is daar probleme op die pad, laat ek maar so maak.

Só gesê, só gedaan. En daar lei die masjientjie my al hoe dieper in ’n plakkerskamp in; weet nie watter een nie. Mense, dis dónker Afrika daar.

Ek besluit toe: Ek kan nou verder in kringe ry en die risiko loop dat ek uiteindelik aangeval en uitgehaal word, of ek kan nóú stop en die pad vra.

Binne ’n ommesientjie is ek deur maklik 30 mense omring. Baie nuuskierig en baie vriendelik. Een van hulle, duidelik behoorlik intelligent, het my haarfyn vertel hoe en wat.

Ek het hulle vertel waar ek woon, in Nederland. Hulle wou alles weet hoe ryk die mense daar is, hoe dikwels dit reën (toe ek sê byna elke dag, was hulle minder beïndruk).

Maar dit daar gelaat. Ek kon weer sien hoe ’n ekologiese ramp só ’n plakkerskamp is, en hoe uitsigloos die mense se lewe is – die meeste sonder opleiding, sonder rigting, sonder hoop.

En dís die mense met wie ’n land gebou moet word. Dis mense wat veel erger daaraan toe is sedert die land in 1994 oorgeneem is deur die ANC, ’n party wat net in rykdom en mag belangstel en vere voel vir die miljoene mense sonder werk, sonder toekoms en sonder ’n horison.

Wat dinge erger maak: Ek het verskeie gesprekke met kenners oor die veiligheidsituasie in die land gehad, en hulle vertel almal dat Suid-Afrika in ’n soort oorlog van lae intensiteit betrokke is. Dis geen ortodokse oorlog tussen erkende state nie, en ook nie tussen ’n erkende regering en ’n rebellebeweging nie.

Die skrikwekkende groei van misdaad, gevoed deur die armoede in die soort plakkerskamp wat ek gesien het (terloops, as lid van die leër se reserwemag het ek dit vroeër ook dikwels gesien), kom teenswoordig op ’n soort oorlog neer. Dit gaan naamlik nie slegs meer om misdaad nie; dit het ook ekonomiese en politieke elemente.

Om mee te begin, hang baie mense in die townships se bestaan af van wat hulle – hetsy direk of onregstreeks – met misdaad verdien. Die bendes gedra hulle dikwels soos ondernemings, met ’n soort struktuur en ’n bestuur, met “generaals” wat strategiese besluite neem en “soldate” wat die vuil werk doen.

Maar daar is meer. Hierdie georganiseerde misdaad skakel op ’n magdom verskillende maniere in by die georganiseerde politiek, veral by elemente van die ANC, die EFF, die BLF en moontlik ander groepe ook.

Daar is plek-plek ’n informele verstandhouding tussen die misdaad-“generaals” en politici dat laasgenoemdes op die allerminste anderpad kyk sodat die bendes hul gang kan gaan. Die politici word uiteraard daarvoor vergoed.

Twee belangrike nuanses is hier nodig.

Ten eerste is daar geen Berlynse muur tussen die politici en die bendeleiers nie. Soms is hulle dieselfde persone.

Tweedens, verreweg nie alle politici is met misdadigers deurmekaar nie. Heelparty wil niks daarvan weet nie en hou hulle ver daarvandaan.

Op die hoogste vlak het die geskiedenis van Jacob Zuma, die familie Gupta en Bosasa vir ons gewys hoe die misdaad, die politiek en die ekonomie (in die vorm van die georganiseerde sakelewe) in Suid-Afrika in mekaar verstrengel is. Zuma was nie self ’n “generaal” nie; sy sakke is deur die – as ’n mens dit só kan noem – misdadigersakemanne gevul gehou sodat hulle hul gang kon gaan.

Erger nog, hulle het Zuma besit. Húlle het dikwels besluit wie in die kabinet mag sit; Zuma het maar netjies gedoen wat vir hom gesê is.

Daardie verstrengeling loop van die hoogste kringe af ondertoe tot op straatvlak in die plakkerskamp waar ek vasgeval het. Gelukkig is ek weg voor een van hulle die idee kon kry om dié whitey van sy besittings (of lewe!) te bevry.

Baie is gemaak van Cyril Ramaphosa se begeerte om korrupsie aan te pak. Sedertdien wil dit lyk of hy, dalk in beperkte mate, ook deel van die probleem was.

Ook is sy mag in die ANC nog glad nie onbetwis nie. As hy te vinnig te veel probeer doen, trap hy op te veel “generaals” se tone en kan hy blitsvinnig sy kop verloor.

Vra jy watter rigting moet Suid-Afrika inslaan, is die antwoord maklik: Massiewe beleggings in onderwys en opleiding, werkverskaffing en die bevordering van ’n sosiale gewete.

Maar dis duisend maal makliker gesê as gedaan. Terwyl dié verstrengeling tussen misdaad, die ekonomie en die politiek voortduur, sal dit in geeneen van die drie elemente se belang wees om dit af te skaal of te beëindig nie.

Die alternatief is dat die “eerlike” element in die Suid-Afrikaanse samelewing (nierassig gedefinieer) hulself maar so veel moontlik in geografiese steunpunte moet konsentreer en terugtrek.

Ek is van nature ’n optimis. En ek sien ook in dat ons in 1994 geen ander alternatief gehad het as om apartheid af te skaf nie.

Maar ons sal moet spook dat dit bars as ons sake wil omdraai. Die goeie Vader sal ook sorg, maar net as ons ons plig doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

mini ·

ek sien daagliks mense hier wat nie kan lees en skryf nie…. ons problem is dat as n leier ongeleerd is hy sal nie sy volgenling wil he moet slim wees nie…. onderwys in zim is beter as sa…. Mugabe het altyd seker gemaak skole in zim is goed….dis nou veglyk met die staatskole hier….

Oud onnie ·

Van Zimbabwe gepraat. Met die probleme daar het destyds baie onderwysers hier kom werk. Hulle het goeie werksetiek en gee oor die algemeen om vir hul werk. In ‘n gesprek het ‘n vrou gesê dat hulle goed geleerd is, want “the British taught us.” Ironies dat Mugabe altyd ‘n mondvol gehad het oor juis die mense wat vir sy opvoeding verantwoordelik was. Klink nie altyd so nie, maar hy is ‘n geleerde man.
Ons mooi land is op die afdraand. Die situasie is hopeloos. Om nie in ‘n depressie te verval nie, moet mens maar net jou eie oë binne ‘n radius van drie en ‘n half meter om jouself hou en dankbaar wees dat dit met jou nog goed gaan. Die probleme buite is net te oorweldigend.

Heinrich ·

Ek hoor jou oud-onnie, maar ek voel ook baie keer so. Wat ek ook weet is dat die mense wat by Bloedrivier was het ook gedink dis hopeloos en oorweldigend. Ons moet weet waar ons hulp vandaan kom.

Deon ·

SA het klaar gefaal. Zuma en sy kaders het net te veel skade aangerig. Ons is lankal by die omdraaipunt verby. Nugter weet wat vorentoe gaan gebeur. Met die swart jeug wat die strate invaar gaan die 1976 onluste nog soos ‘n piekniek lyk. Moontlik gaan ‘n gek generaal of korporaal ‘n staatsgreep uitvoer, wie weet.

Jerry ·

Die regering is veronderstel om onwettige immigrante aan te se om die land te verlaat voor die verkiesing ten einde n bietjie meer politieke stabiliteit te verseker, maar die teenoorgestelde vind plaas, dis kommerwekkend. Mense is veronderstel om tydens misdaad en politieke onstabiliteit kort voor die verkiesing tuiniers aan te se om nie voor die verkiesing, tydens die verkiesing en kort na die verkiesing terug te keer nie. Gewapende reaksie veiligheidsdienste wie mense in diens het wat nie eiesoortige is nie en wie moontlik revolusionere ideologiee aanhang se dienste moet opgeskort word. Gemeenskappe en mense moet persoonlik verantwoordelikheid neem vir eie beveiliging ten einde veiligheidsbewustheid en paraatheid op te skerp, maar dit gebeur nie, dis kommerwekkend. Eiesoortige mense met eiesoortige ideologiee moet mekaar beskerm tydens onstabiele en misdadige politieke onsekerheid en onstabiliteit, maar dit gebeur nie, dis kommerwekkend. Ons het nog absoluut geen lesse geleer regdeur die geskiedenis van Afrika nie. “Hulle” bewaak ons eiendomme en ons mense asof “hulle” tronkbewaarders is en ons mense die bandiete of dalk “sitting ducks”! Indien iets verkeerd loop voor, tydens of kort na die verkiesing dan is hulle reeds binne die woongebiede en net soos wat “hulle” met asblik trollies woongebiede leegdra net so kan hulle AK 47’s inbring. Die strate in ons woongebiede behoort aan “hulle”, nie aan ons nie, in watse gekkeparadys woon ons mense? Beoefen julle waaksaamheid en paraatheid vir hierdie verkiesing, dan is julle sommer reg vir die res van die jaar!

Dries du Toit ·

Dr Scholtz dit is voorwaar verblydend dat jy gesien en erken het dat SA in n vreeslike gemors is. Maar dat jy se dat ons geen keuse gehad het om apartheid af te skaf nie is ook n baie debateerbare feit. As jy wel glo dat ons nie n keuse gehad het nie dan beteken dit mos maar dat die onregte in hierdie land teen die witmense ook maar net n ding is waarvoor ons geen keuse gehad het nie.

Carl Jordaan ·

Ons wat hier bly, kom nie die verotting so agter as hulle wat n tyd weg was nie. My vraag is, wat lê vir ons voor? wat wag vir die land? Is daar n lig aan die einde van die tonnel, wat nie die lig is van n aankomende trein nie? Wie is die ons? want baie Suid Afrikaners sou dalk nie saamstem nie, baie dink dit gaan besonder goed, baie wil die pad van Afrika loop.

JAN ·

Baie dankie Dr dat jy NIE op Oramia was nie. Ook nie op Kleinfontein nie.
Jy sou die horries gekry het oor daai plakkerskampe. 9000 hektaa van > R500 miljoen.. Groei eksponensieel. Orania het geen grensdrade nie. Geen misdaad.
Beter as Holand.

Stoffel ·

Jan, dink net, ‘n Volkstaat van 20 000 vierkante km aan die Weskus wat meer as 2 000 Oranias kan bevat. Daar is onsaglike potensiaal vir so ‘n ontwikkeling.

Vlakvark ·

Dankie Leopold.
Ou Vlakvark sien geen manier hoe Suid-Afrika weer op sy bene kan kom met so ‘n skerp ongebreidelde bevolkingsaanwas nie. Die insae verg geen vooraf kennis oor kernfisika nie. Suiwer logika. Google Map gerus elke dorp en stad en sien toenemende aantal plakkerskampe. “The ANC is not in a state of control of SA.” Skrikwekkend.

Dries du Toit ·

Dit is lankal nie meer vlug as jy hierdie gemors verlaat nie. Ons het kinders en kleinkinders om groot te maak. As ek vertroue het in die Afrikaner om saam met ons n lewe te kon uitkap in hierdie land dan was dit n ander saak. Ons sal kyk hoeveel van daai Afrikaner gaan sy kruisie maak en by watter party. Dan sal ons weet of ons nog hoop het

Christiaan Jooste ·

Ek lees graag Dr Scholtz se bydraes en hierdie een het weereens nie teleurgestel nie. Dankie daarvoor. Die gewaarwording van agteruitgang in ons land is inderdaad ‘n feit wat ons as landburgers elke dag beleef. En die verband tussen die misdadiger en die politici is ook nie vergesog nie. Wat meer kommerwekkend is, is dat daar op hierdie stadium geen uitsig op herstel en vervolging is nie, ondanks al die onthullings voor kommissies. Ek hou nie my asem op dat dit wel gaan gebeur nie. Oor die beëindiging van apartheid. Ek stem saam dat die stelsel nie so onverpoosd kon voortgaan nie en dat dit tot ‘n val moes kom. Die teleurstelling is egter dat so baie, verblind deur “Madiba-magic” nie die ANC kon eien vir die magsbehepte en korrupte party wat hy is nie. Wanneer ons dit erken kan ons mooi dink hoe lyk die pad vorentoe. Soos dit vir my lyk is dit dat ons minder van die staat moet verwag en meer deur die burgerlike organisasies selfvoorsienend moet word. Dan sal ons nie net oorleef nie, maar leef

Piet ·

Hi Leopold, jy moet darm baie geld verdien om so te kan rondrits. Ek kon dit nog nooit bekostig om oorsee te gaan nie, was nognooit eers op n vliegtuig, maar geniet dit terwyl jy kan.

Andreas ·

Party van ons wil ander met kennis verryk, ander hou daarvan om in ‘n spieël te kyk. En dit is nie op julle gemik nie.

Jerry ·

Sonder om uitsonderinge te maak is Suid Afrikaners en onwettige immigrante steeds teen n waansinnige tempo besig om die koei leeg te melk en te plunder deur elke denkbare en ondenkbare tipe mìsdaad onder die son. Van grond, water, plante, diere regdeur tot by mense word bloot doodeenvoudig vernietig deur sistematiese selfverrykende misdadige uitwissing. Hoe optimisties n mens ookal wil wees oor die toekoms van SA, dit word vinnig gedemp deur die realiteite van daaglikse omgewings en sosiaal ekonomiese agteruitgang en verval. Vanaf 1994, voor staatskaping en na staatskaping het SA nie een tree vorentoe gegee na ekonomiese en sosiaal maatskaplike vooruitgang nie, slegs agteruitgang is te bespeur. Die enigste werklike vooruitgang wat te bespeur is, is hoe skatryk en oenskynlik onaantasbaar die ANC elite geword het. SA gaan een van die mooi dae net doodeenvoudig tot stilstand kom en niemand sal dan meer instaat wees om SA weer aan die gang te kry nie! Kyk n mens na die groter prentjie van misdaad en die sosiaal ekonomiese verval wat elke dag vererger dan besef jy dat die eerlike realistiese mense is die mense wat pessimisties is oor n toekoms in SA! Terwyl die ANC aan bewind is in SA is agteruitgang en verval so aan die orde van die dag dat diegene wat daardeur gyselaar gehou word, dit nie eers meer agterkom nie en in so n mate dat hulle optimisties raak oor selfs die geringste beloftetjie geluidjie wat gemaak word, al is dit n vals noot!

Vlakvark ·

Goeie Suid-Afrikaners is in ‘n skaak situasie. Die res is slawe van die ANC se sosialisties-egalatoriese-kommunistiese National ‘Democratic’ Society Animal Farm waar die klein elite hulself verryk ten koste van die stemvee. Tragies.

Jerry ·

Revolusionere misdaad is soos n ondier wat gryns en wag en kom soos n dief in die nag. Misdaad regeer in gekkeparadyse en plekke waar “evil truimph, not because good people do nothing, but because good people do it all wrong”! In n gekkeparadys word die verlede se ongeskrewe lesse geleer, geignoreer en selfaangesteldes se boekekennis en populere idees, word op staatgemaak. In n gekkeparadys word gekke gyselaar geneem en gehou, terwyl hulle selfs meedoen aan die agteruitgang en verval van n voormalige paradys. Gekke en dwase bly optimisties wanneer misdaad hulle kundigheid en slim planne met n goue handdruk by hulle vat en die teenoorgestelde implementeer as die misdaadplan vir gelykmakende verandering! Gyselaars (skoenmakers wat hulle nie by hulle lees hou nie) in n gekkeparadys laat dus onbewustelik/leierloos toe dat misdaad “truimph” en daarom is TATA (intog en uittog) onvermydelik, letterlik en figuurlik!

Frans C ·

Almal wat natuurlik gaande is oor die nuwe bedeling is mi blind vir die feit dat SA agteruit geboer het sedert die ANC aan bewind gekom het het feitlik alle ekonomiese aanwysers agteruit geboer.
So bv was die Rand/dollar wisselkoers in 1994 R3.55 teenoor R14.01.Die Britse Pond kon aangekoop word teen R5.44 teenoor vandag R18.35.Dit is natuurlik nie ‘n goeie ding om in die verlede te leef nie.Dit is egter so dat in 1980 die Rand/dollar koers so gelyk het R0.81-1981, R0.79, 1982 -R0.98,1983- R1.12 .

Gedurende die ergste jare van Apartheid het ek egter nooit onveilig in swart woongebiede gevoel nie.Jy sal sukkel om presiese syfers oor bv moord gedurende apartheids jare in Suid Afrika te kry.Dit is egter beraam op 7000 per jaar ,terwyl dit tans onder die ANC bykans verdriedubbel het.

Dit was duidelik dat die ANC daarvan bewus was dat dit besig was om die stryd teen die Apartheidregime te verloor en toe soos dit maar deur alle vryheidsbewings gedoen is,Suid Afrika onregeerbaar te maak eerstens deur swart mense by geweld deur betogings in te sleep, waar veral die jeug ‘n groot intimiderende faktor was en dat dit veral ouer mense was wat deurgeloop het.

Dit was duidelik dat die NP op punt gestaan het om te kapituleer en daar haastige
planne beraam is om veral die groeiende regse beweging deur slegmaking te stuit.

Besluit self hoe veilig jy tans voel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.