Misdaad kán met goue driehoek verslaan word

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Collin Scott.

Buys het die toespraak tydens die AfriForum-veiligheidsberaad op 6 Mei 2017 gelewer:

Op 7 Oktober 1969 het die rustige stad van Montreal in Kanada in ʼn nag van misdaad, geweld en terreur ontplof. Hierdie gebeure word bykans 50 jaar later steeds deur polisiemagte bestudeer om lesse uit die verband tussen misdaad en wetstoepassing te leer. Die destydse staking van die polisie en die brandweer in Montreal is ná dekades steeds die beste voorbeeld van hoe ʼn wêreld sonder ʼn sterk polisiemag sal lyk. Die dreigende staking oor griewe wat oor ʼn lang tyd opgebou het, is nie ernstig deur die stadsvaders geneem nie. Geen voorsorg is getref toe die staking begin het nie. Daar kon tog eintlik niks in die slaperige Montreal van 1969 skeefloop nie.

Maar toe nou nie. Die gewoonlik rustige en wetsgehoorsame stad het bykans in vlamme opgegaan! Toe 16 uur van misdaad en wanorde uiteindelik deur die haastige inroep van die weermag en provinsiale polisie en ʼn parlementêre noodsitting van Quebec beëindig is, het die rook letterlik oor die stukkende stad gehang. Tien banke is beroof, meer as 100 winkels is geplunder, 12 brande het gewoed, miljoene dollar se skade is aangerig en sowat 40 vragte glas was nodig om winkelvensters te herstel.

Die belangrikste les hieruit is treffend opgesom deur lord William Rees-Mogg, voormalige redakteur van die Londense Sunday Times. Hy het gesê dat die “logika van geweld is dat geweld net in toom gehou kan word deur die vrees vir groter geweld”. Daardeur het hy bedoel dat misdadigers net afgeskrik word as hulle weet dat die polisie groter geweld teen hulle sal gebruik as wat hulself teen hul slagoffers gebruik. Geweldsmisdaad kan dus net deur geloofwaardige afskrikking voorkom word. Daardeur bedoel ek nie dat daar nie ook ander oorsake soos sosio-maatskaplike of demografiese redes vir misdaad bestaan wat ander oplossings verg nie. My punt is bloot dat niemand veilig sal wees as die wil en vermoë om burgers veilig te hou, nie bestaan nie.

Burgerlike betrokkenheid

Wat beteken dit vir Suid-Afrika? Die jarelange wanbestuur van die polisiediens deur die regering het veroorsaak dat die polisie nie meer ʼn groot genoeg afskrikking vir misdadigers inhou nie. Dit is die grootste rede vir die gewelds- en misdaadplaag wat ons samelewing so teister. Wetsgehoorsame burgers bly toegesluit in tronke van heinings, tralies en mure terwyl misdadigers vry buite rondloop en roof, steel en plunder.

Maar ons kan nie net die polisie verwyt nie. Ná 1994 het daar ʼn soort vrywillige en “eensydige ontwapening” plaasgevind. Mense het in massas hul wapens gaan inhandig, en nie meer hul kinders geleer om wapens te hanteer nie. Dis asof hulle gedink het dat wettige selfverdediging in die nuwe bedeling uit die mode geraak het of nie meer nodig sou wees nie. Daarom het die verswakking van die polisie en die eensydige ontwapening van die burgery tot ʼn soort onverklaarde “misdaadoorlog” deur geweldsmisdadigers gelei. Hierdie kriminele het soos roofdiere op die grootliks ongewapende en meestal weerlose burgery toegesak. Elke dorp en stad en straat en plaas het ʼn soort “Montreal 1969” geword.

Die Nederlandse denker Bob Goudzwaard het dekades gelede al gesê dat die Afrikaner se geskiedenis ʼn stryd om oorlewing was, en nie ʼn stryd vir oorheersing nie. Burgerlike betrokkenheid in veiligheid is niks nuuts nie omdat Afrikaners nog altyd hulself beskerm het. Ons het ook nie net na ons eie veiligheid omgesien nie, maar nog altyd, van die Voortrekkertyd af, vennootskappe met ander groepe in die land aangegaan. Lees maar oor die Voortrekkers se alliansies, pres. Paul Kruger se diplomatieke betrekkinge en die ou weermag se vennote. Hoeveel van julle het nie byvoorbeeld saam met Unita in Angola geveg nie! Die voortgaande verswakking van die staat se vermoë om sy burgers veilig te hou maak dit noodsaaklik dat die gemeenskap nou weer saamstaan om hulself te beskerm.

Wêreldwye verskynsel

ʼn Gemeenskap wat saamstaan om sy eie veiligheid te verseker is ook nie net ʼn Suid-Afrikaanse verskynsel nie. Die Israelse militêre strateeg Martin van Creveld sien geweldsmisdaad as ʼn wêreldwye probleem en stel dit soos volg: “Namate misdaad toeneem en die vermoë van state en regstelsels om hul burgers te beskerm afneem, bestaan die gevaar dat misdaad in ʼn lae intensiteit “oorlog” ontwikkel, volgens rasse-, godsdienstige, sosiale en politieke grense. “Staatsveiligheidsdienste sal waarskynlik gaandeweg vervang word deur groeiende private veiligheidsdienste en selfs stedelike gemeenskappe wat beter in staat en toegerus sal wees om die bevolking te beveilig.”

Misdaad en terreur

Van Creveld waarsku ook dat die bestaande grense tussen misdaad en terreur (oorlog) sal vervaag en selfs kan verdwyn, iets wat reeds in lande soos Libanon, Peru, Sri Lanka, en Colombia gebeur het. Volgens hom kan geweld net afgeskrik word deur oorweldigende mag. Let wel dat ek die klem lê op afskrikking deur mag, en nie deur die gebruik van mag nie, want as jy die mag het, hoéf jy dit nie te gebruik nie. Niemand is lus om ʼn groot gewapende gemeenskap aan te val nie.

Die bekende skrywer Robert Kaplan waarsku in sy boek The Coming Anarchy oor die wêreldwye toename in geweldsmisdaad. Hy sê dat namate staatsmag kwyn, en daarmee saam die staat se vermoë om kwesbare groepe te beskerm afneem, bevolkings en kultuurgroepe regoor die wêreld al meer op hulself aangewese gaan wees. Persoonlike veiligheid gaan vir mense baie belangriker as politieke vraagstukke word. Burgerlike betrokkenheid by gemeenskapsveiligheid kom algemeen voor in die VSA, Indië, Brittanje en Nieu-Seeland. In talle arm lande sonder sterk polisiemagte handhaaf tradisionele owerhede doeltreffend wet en orde.

Dit ís nou maar so, in die woorde van die Britse veiligheidskenner John Keegan, dat die “gety van konflik” van die armes na die rykes vloei. Gemeenskappe het die reg én die plig om hulself op enige wettige manier te beskerm, volgens ons Grondwet, wetgewing en die internasionale reg.

Goue driehoek

Die goue driehoek van ʼn veilige samelewing, is oral ter wêreld ʼn sterk polisiemag, doeltreffende private sekuriteit en ʼn goed georganiseerde burgery. Ons sal veilig kan slaap as ons beter georganiseerd is as die misdaadbendes. Indien een van hierdie drie bene nie goed werk nie, vergroot dit die las op die ander twee. Gelukkig is Suid-Afrikaners histories nog altyd betrokke in die beskerming van ons eie gemeenskappe. Dis nie ʼn nuwe ding nie. Dink maar aan die geskiedenis van die burgermagte, polisiereserviste, kommando’s, burgerlike beskerming en buurtwagte. Wettige, werkende, opgeleide en toegeruste buurtwagte wat in vennootskap met die polisie en private sekuriteit werk, is die beste afskrikking teen die misdaadvlaag wat die land teister. Weerbaarheid is die enigste antwoord op weerloosheid. Die groot voordeel is dat nuwe tegnologie en kommunikasietoerusting besig is om die wêreld van misdaadvoorkoming onherkenbaar te verander. Die militêre geskiedenis is nie verhaal van oorwinnings deur meerderhede nie, maar deur beter tegnologie. Tegnologie gee vir wetsgehoorsame burgers ʼn mededingende voordeel bó misdadigers. Die ontwikkelings wat ek die afgelope maande by AfriForum en ons vennote gesien het, gee my moed dat misdaad verslaan kan en gaan word.

Die goue driehoek se grootste waarde lê in misdaadvoorkoming. Hier is drie goue reëls van die Chinese militêre wysgeer Sun Tzu van toepassing: “Die voorkoming van geweld en bedwinging van die vyand is beter as om ʼn geveg te wen.” Daarom moet buurtwagte in staat wees om deur sigbare magsvertoon en weerbaarheid inderwaarheid “minimum geweld” toe te pas, sodat dit nooit nodig sou wees om “maksimum geweld” – naamlik wettige wapengeweld ter selfverdediging – te gebruik nie. Maar onthou ook Sun Tzu se tweede goue reël: “Die geskiedenis leer ons om nie staat te maak dat die vyand nie gaan aanval nie, maar dat ons reg is om te wen wanneer hy kom.”

Winston Churchill het tereg gesê jy kan nie kies dat daar nie konflik gaan wees nie, jy kan net kies om te wen wanneer dit kom. Dit sluit aan by Sun Tzu se derde reël: “Wen voordat jy veg”, waarmee hy bedoel dat jy die omstandighede moet skep wat die vyand se nederlaag sal verseker.

Vyf sirkels

Vir my behels die skep van hierdie omstandighede wat afskrik of ʼn oorwinning verseker die vestiging van “vyf veiligheidsirkels” om jou. Die eerste is om jou woongebied en straat (plaasdistrik), die tweede is om jou erf, die derde om jou huis, die vierde om jou slaapgedeelde, en die vyfde jou persoonlike bewapening.

Tienpunt-veiligheidsplan

Voordat ek by my siening van ʼn tienpunt-veiligheidsplan uitkom, wil ek dit duidelik stel dat ons geen politieke doelwit met ons buurtwagstrategie nastreef nie. As radikale politici ons dreig moet ons hulle glo en daarvoor beplan, maar met die klem op veiligheid eerste en laaste. Dit gaan eerste en laaste om ʼn veilige toekoms te verseker vir ons lede, ons gemeenskap en vir die breër bevolking. Dit is so dat ons in ʼn land leef waar geweld soos ʼn veldbrand kan versprei, soos die xenofobiese aanvalle of wat in Coligny gebeur het. Die gevaar van ʼn “oorspoel”-effek van diensleweringsproteste moet ook nie buite rekening gehou word nie.

  1. Besef dat misdadigers ʼn onverklaarde “misdaadoorlog” voer, en beplan daarvoor.
  2. Goue driehoek van SAPS, sekuriteit en buurtwagte kan die stryd teen misdaad wen.
  3. Bewapen jouself (wettig) en leer om wapens veilig en doeltreffend te gebruik.
  4. Veiligheid deur netwerk van weerbaarheid: Help om jou buurtwag goed te organiseer.
  5. Sluit vennootskappe: SAPS, GPF’s, sekuriteit, swart gemeenskappe, media ensovoorts.
  6. Verhoudinge: Wedersydse erkenning en respek is die regte en veilige ding.
  7. Hou aan veg vir die hervorming van SAPS.
  8. Bevorder ekonomiese beleid wat werk skep en aan ander oorsake aandag gee.
  9. Verband tussen demografie en misdaad: Konsentrasie bevorder veiligheid.
  10. Skep eilande van veiligheid, die see gaan altyd rof wees.

Goeie organisasie, deeglike opleiding, nuwe tegnologie, aktiewe gemeenskapsteun en samewerking met die polisie en private sekuriteit gee aan buurtwagte ʼn klinkklare voorsprong bo kriminele bendes. AfriForum en die Solidariteit Beweging gaan ons mense nie alleen laat nie. Ons gaan op die voorpunt van die stryd teen die misdaadplaag veg tot ons saam die stryd gewen het. Gemeenskapskrag is sterker as misdaadmag. Kom ons vat mekaar se hande, vorm ʼn landswye veiligheidsnetwerk van staal en maak ons strate en ons gesinne veilig. Ons kan saam die stryd teen misdaad wen!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Boerseun ·

Flip, meeste van ons boere doen did al reeds sonder julle hulp. Wat ek sal graag wil sien is dat julle met julle geldjies ontvang van die Afrikaner n private speur en intilligensie diens verskaf. Ons het oud polisie manne wat help maar kort meer ouens en voltyds en dit kos geld wat die individuale streke nie het nie. Ek sal aansluit by Afriforum as julle n privaat sekutiteits en intilligensie mag skep en onderhou.

·

Boerseun 007. Klink net nie reg nie. As jy intilligensie diens soek-kry Google. Dit kos dieselfde as Afriforum se fooi. Ons ander is steeds tevrede met Afriforum.

humor ·

Ag nee magtig man wat se boerseun is jy wat voorwaardes stel. Jy moes al lankal aangesluit het. n Mens help bou mos aan n saak. Dat die meeste van ons boere al reeds paraat is , is n masiewe leuen. Vat jou kar en ry van plaas tot plaas en jy sal gou agterkom dat 80% van die boere nog nie paraat is nie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Tertius ·

Die ontbinding van SAPS eenhede soos SANAB, Moord en Roof en KBE onder die leiding van Selebe, die eertydse kommissaris van Polisie, waarvan ons almal weet onder die direkte invloed van georganiseerde misdaad in SA was, het die stryd teen misdaad in SA ‘n sterk nekslag toegedien. ‘n Voorstel is dat verband tussen die groot aantal siviele eise teen die Polisie en die afwesigheid van Spesiale eenhede wat ontbind is ondersoek moet word. Dit wil voorkom of daar van onbekwame lede van die Polisie op stasie vlakke verwag word om ten koste van ‘n ongehoorde aantal siviele eise die leemtes van Spesiale eenhede te vul deur take te verrig waarvoor daar genoegsame bekwaamheid is nie.

Akademi Buktu ·

Een van die belangrikste aspekte in die groei en bekamping van misdaad word deurlopend oor die hoof gesien – die leiersrol wat POPCRU gespeel het om die polisie in ‘n staat van onbeholpenheid te plaas. Dit het gebeur deur o.a. die aanstelling van onbevoegde mense in leiersposisies te manipuleer en onbevoegdheid te verskans deur dit bitter moeilik te maak om slegte personeel af te dank.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.