Misdaad teen die mensdom – ʼn Verhaal van twee foto’s

Die hel het omtrent losgebars toe oudpresident FW de Klerk onlangs verklaar het dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie.

Sy latere terugkibbel op die onderwerp het wel, interessant genoeg, vir hom net soveel vriende as vyande gewen as sy verklaring dat dit nie was nie – nul.

As daar wel nugter na die gebeure tydens die apartheidsera gekyk word, moet ons erken dat ons beoordeling daarvan, agterna beskou, allermins gebalanseerd is.

Ek het al die voorreg gehad om ’n aantal aanbiedings aan studente te doen en het begin deur twee foto’s aan hulle voor te hou. Die een is die bekende foto van Hector Pieterson en die ander ’n minder bekende foto van ’n slagoffer van die Amanzimtoti-bomaanval.

Toe ek aan die studente (oorwegend wit en Afrikaans) die foto van Hector Pieterson gewys het, kon hulle binne sekondes vir my verskeie feite oor die foto opnoem wat insluit:

  • Die naam van die slagoffer
  • Die datum van die gebeurtenis
  • Die agtergrond van wat daar gebeur het

Hulle kon die gebeure verduidelik asof hulle self daar was. Toe ek hulle egter die foto van die Amanzimtoti-bomaanval wys, was daar geen reaksie nie. Hulle het glad nie kennis gedra van die gebeure nie.

Beide gebeure is ’n tragiese oomblik in ons geskiedenis wat op film vasgevang is, maar slegs een van die foto’s was aan hulle bekend. Die laaste foto is terloops geneem in ’n straat wat vandag as Andrew Zondo-straat bekendstaan. Die straat is vernoem na die persoon wat bovermelde bomaanval op 23 Desember 1985 uitgevoer het. Twee volwassenes en drie kinders is in die aanval dood. Bronne oor die aantal beseerdes verskil.

Dit is maklik om die aanname te maak dat een deel van die geskiedenis swaarder weeg as ’n ander – selfs dat een kind se dood belangriker is as dié van ’n ander. Waarom anders word skole en universiteite se leerplanne so opgestel dat ’n eensydig prentjie van die geskiedenis geskets word?

As ons egter na die ondersoeke na en vervolging van voorvalle voor 1994 kyk, is die eensydigheid selfs duideliker. Die voormalige minister van verdediging, generaal Magnus Malan en die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse weermag, generaal Jannie Geldenhuys en verskeie ander generaals en lede van die veiligheidsmagte is in die KwaMakhutha-saak aangekla. Volgens die Stigting vir Gelykheid voor die Reg het die saak meer as R40-miljoen gekos. Almal is vrygespreek.

Die voormalige minister van wet en orde, Adriaan Vlok, en die voormalige hoof van die polisie, generaal Johan van der Merwe en drie ander voormalige lede van die veiligheidstak is aangekla. So ook kolonel Gideon Nieuwoudt en drie ander in die Pebco Drie-saak. Kolonels Willem Coetzee, Anton Pretorius en kaptein Frik Mong word tans vervolg weens die beweerde moord op ’n lid van umKhonto weSizwe.

Daar word tans miljoene bestee aan ondersoeke wat poog om vas te stel wat tot die dood van die anti-apartheidsaktiviste dokter Neil Aggett en Ahmed Timol gelei het. Enige redelike mens sal seker verstaan dat dié ondersoeke die geliefdes sal help om afsluiting te vind nadat hulle vir soveel jare sonder antwoorde moes leef. Ongelukkig kry daardie families nie werklike antwoorde nie, want almal wat regstreeks by bogenoemde voorvalle betrokke was, is reeds dood. Die enigste persoon van belang in die Timol-saak, en wat nog leef, is ’n voormalige klerk, Jan Rodriguez wat nou alleen vir die moord op Ahmed Timol tereg staan. Met reg kan daar gevra word of hierdie ondersoeke steeds ’n soektog na die waarheid is en of dit in ’n heksejag ontaard het.

’n Verdere geldige vraag is: indien hierdie ondersoeke werklik oor afsluiting gaan, waarom is daar nie berusting gesoek vir die families wie se geliefdes op 20 Mei 1983 dood is toe ’n motorbom gedurende spitstyd voor die Nedbankpleingebou in Kerkstraat, Pretoria ontplof het nie? Of vir die familie van die kerkgangers wat in die St. James-kerk in Kaapstad met AK47’s en handgranate koelbloedig vermoor is, of vir die familie van diegene wat dood is in ’n bomontploffing twee dae voor Kersdag in Amanzimtoti nie?.

Dalk is dit omdat die foto’s van daardie gebeure minder bekend is. Dit pryk nie in geskiedenisboeke of by prominente uitstallings nie. Dit vorm nie deel van ’n skoolkurrikulum of universiteitsleerplan nie. Dit was nie in die Time-tydskrif of Huisgenoot nie.

Dit tel nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Luister ·

‘n Mens wil huil van magteloosheid. Ons sal maar altyd aan die kortste end trek. Ons is klaar geoordeel en skuldig bevind.

chrismar ·

Dit is die hoofstroommedia se onderrok wat uithang,want dit is hulle wat oor die jare ongebalanseerde en fopnuus publiseer om die massas se opinies te vorm en nie self deeglike ondersoekende joernalistiek toepas nie.Hulle is eerder meningsvormers wat in diens van hulle base en borge optree en is glad nie onafhanklik in dit wat hulle publiseer nie,

Schalk ·

En sonder om polities te raak kan ek getuig dat die weermag , vloot en mediese korps reddingspogings , onbaatsugtige lewe in gevaar stel operasies bygestaan en self gelei het met geen diskriminasie teen geslaag , ras of enige ander vorm van bevooroordeling nie. Ons almal was geraak deur die politieke gebeure en die nagevolge. As mens nie berus en aanvaar nie gaan jy altyd ‘n onvoldoende persoon wees. Maak innerlike vrede en beweeg aan. Om ‘n klip heen en weer te gooi maak skerwe en veroorsaak nuwe bloei wonde.

Jsgroen ·

Die 1969 aardbewing wat Tulbagh en omgewing getref het is ‘n goeie voorbeeld waarvan u praat.

Tino ·

Die een aan bewind skryf die geskiendenis boeke en dit wys maar net hoe die propaganda vir politieke gewin misbruik word. Nes Mandela ‘n held uitgemaak is na hy die een was wat ‘n bom geplant het waar mense dood is. Beteken dit dat moord in die naam van vrydheid dus geregtig is?

Frans ·

Deur ‘n besluit van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies no 1761 6 November 1962 word apartheid verklaar as ‘n misdaad teen die mensdom.

Om ‘n ogie oor die die toestand te hou word ‘n spesiale komitee gestig bestaande uit Algeria, Costa Rica, Federation of Malaya, Ghana, Guinea, Haiti, Hungary, Nepal, Nigeria, Philippines en Somalia.

Almal lande met bedenklike burgerregte. Tussen 5 en 7 Julie 1962 vind die massa moorde van Oran in Algeria plaas.Die dodetal en vermistes word beraam op so laag as 95 tot so hoog as 453.Van die slagoffers sluit in ‘gemengde mense’ die sogenaamde ‘Pieds-Noirs’ -‘swart voete’.mense gebore in die tydperk van Franse oorheersing van 1830 tot 1962 en wat terugkeer na Frankryk na onafhanklik wording in 1962.Na beraming is sowat 800 000 verskuif na Frankryk.

Maria M S ·

James, baie dankie vir jou berig, dis inderdaad só dat óns, as witmense van S A, se geskiedenis en gebeure wat groot getalle van ons volksgenote uitgewis het, DOELBEWUS nie aan die groot klok gehang word nie. Die bewys daarvan word baie duidelik weergegee in jou berig oor aanbieding aan n groep (meerderheid wit) studente.
Ek wil egter hierdie tragiese onkunde onder ons jong volksgenote voor nóú se ouers se deur lê. Ek beleef dikwels dat daar nie in dié ouerhuise oor die onregte teenoor ons gepraat mag word nie, want “my kind gaan skool saam met hulle” en netnoumaar sê hy iets inkriminerend en het ons moeilikheid!
MAAR, HULLE GESKIEDENIS, uit húlle verwronge oogpunt, mag aan dié ouers se kinders opgedis word vir die waarheid!
Lamsakkige ouers, vertel vir julle kinders die WAARHEID, staak om jou kind se geskiedenis van hom te weerhou!! Jy’s dit aan jou kind verskuldig, anders word hy identiteitloos groot!

N S : James het by Radio Pretoria gewerk.

J ·

Selektiewe moraliteit?

Helen Zille noem dit FAUX RAGE. (Kamma woede)?

Ek noem dit sommer PROPAGANDA … waarmee die aandag afgelei word van die ‘misdade van die dom-mens’ … ?

J ·

Daar is GEEN MISDAAD wat aan Apartheid toegedig word, wat nie deur die huidige regime herhaal is nie.

Werksreservering = BEE /AA
Diskriminasie teen Wittes is algemeen … selfs in die parlement.
Wit joernaliste en polisiemanne word openlik aangerand.
Witmense word in die media verneder en selfs geteister.
Grondgrype.
Plaasmoorde,
Massamoorde soos by Marikana en Esidemeni.

“Die pot kan nie die ketel verwyt nie … as albei swart is!”

Benn ·

My ouers, broer en Oumie was daar toe dit gebeur het. My Mams het jare daarna nog gekoes en haar kop vasgehou as sy ‘n harde geluid hoor. Hulle was die gelukkiges wat kon wegstap.

koos ·

Google “Quattro camp” wat in Zambië was. Daar is ook ‘n boek geskryf deur twee swart outeurs wat hierdie ANC monstrositeit oorleeef het (dit was ‘n ANC strafkamp vir swart mense wat verdink was dat hulle spioene was, sonder enige verhoor). Moenie vir my sê die wonderlike Mandela het niks daarvan geweet nie. In die boek word genoem dat Joe Modise die kamp besoek het. Tot sy eer is gevangenes weerskante van die pad aan die bome vasgemaak om hom te verwelkom. Na die tyd is hulle net so gelos.
Weet verseker, eendag gaan die ANC heroes jou smeek vir ‘n bietjie water want hulle is aan die anderkant van die diep kloof.

Johan Venter ·

Jacob Zuma was mos daardie jare hoof van die ANC se militêre intelligensie.

Pieter J ·

ń Baie oulike artikel. Daar moet baie meer van hierdie gebeure aan die groot klok gehang word. Kan van hierdie fotos en berigte nie iewers in ń museum geplaas word wat deur baie buitelanders besoek word nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.