Misdaadintelligensie het die nuwe modewoord geword

Argieffoto

Deur Jeannette Gnade

Minstens drie van die voorlopers in die ANC se presidentswedloop gebruik deesdae die woord “misdaadintelligensie” om elke hoek en draai. Dit is glo die enigste manier waarop regte misdadigers uitgevang kan word. Hul modus operandi moet bestudeer word, en daar moet vasgestel word of daar bepaalde patrone is wat deur reeksmisdadigers gevolg word.

Verlede naweek het die minister van polisie, Fikile Mbalula, te velde getrek teen wat hy noem “die voortgesette piekniek” in die hoofkantoor van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid. Op tipiese Mbalula-styl het hy die nuwe waarnemende misdaadintelligensiehoof, King Bhoyi Ngcobo, gewaarsku dat hy van nou af gereelde inspeksies kan verwag.

Die polisieminister het hom ook skerp uitgespreek teen parlementslede wat die gedenkdiens vir ontslape polisielede by die Uniegebou bygewoon het. Hy sê hulle hou hulleself besig met beuselagtighede terwyl die misdaadwêreld die land oorneem. Mbalula het ook aangekondig dat hy voortaan ’n polisieuniform gaan dra om die midaadstryd te lei.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa was ook teenwoordig op dié gedenkdiens. Hy is die jongste slagoffer van ’n smeerveldtog wat nie net hom nie, maar ook sy familie benadeel. Hy hou die staatsagentskappe verantwoordelik vir die diefstal van sy persoonlike e-posse waarin hy aan onetiese gedrag verbind word. Almal in die land besef dit is deel van die vuilspel in die aanloop tot die ANC se verkiesingskonferensie oor drie maande. Selfs die konserwatiewe faksie in die ANC het gevra die regering moet probeer vasstel of die departement van staatsveiligheid by dié skandaal betrokke is.

Niemand ontken die afmetings wat misdaad in die land aanneem nie, maar wat van politieke misdaad? Miskien moet die polisieminister juis sy misdaadintelligensie-eenheid inspan om dié soort misdaad op te los voordat hy die veronderstelde elite-eenheid op die strate loslaat. Dit is onaanvaarbaar dat die ANC se leierskapstryd toegelaat word om die laaste stukke morele weefsel in die land te vernietig. Wie kan regtig vertroue hê in politici met sulke swak leierseienskappe?

Die huidige president se tweetermyn-bewind is van die begin af deur skokke en skandale gekenmerk. Selfs misdadigers ken die verskil tussen goed en kwaad – daarom dat hulle in die nag toeslaan of op dié tye dat niemand dit verwag nie. Politieke leiers weet tog van beter. Hoekom is dit so belangrik vir die president om sy gewese vrou voor te stoot in die ANC se opvolgstryd? Waarom slaan die ANC-Vroueliga ’n dreigende houding in teen twee vroue wat hulle ook as kandidate beskikbaar gestel het? Misdaadintelligensie kan help om misdaad af te weer, maar niks kan meer aan die ANC se verlies aan karakter gedoen word nie. Dít is onherroeplik gesteel…

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Die afrikaanse woord vir ‘intelligence’, is ‘inligting’ en nie ‘intelligensie’ nie. Intelligensie het iets met verstand te doen en dit is iets waarvan daar nie veel in die SAPS is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.