Miskenning nie goeie bestuur van polariteit

Heel gereeld word mens in besigheid en die openbare domein gekonfronteer met probleme wat lyk asof daar nie ʼn oplossing voor is nie.  Die slegte nuus is dat baie van hierdie probleme nie oplosbaar is nie, die goeie nuus is dat mens die vaardighede kan aanleer om dit beter te identifiseer en te bestuur.

Hierdie probleme ontstaan omdat dit gereeld polariteite is, hulle is voortdurend in konflik met mekaar en is daar nie werklik ʼn reg of verkeerd nie.  Van die bekende polariteite wat bestaan is aspekte soos:

  • Die individu of die span
  • Sentralisasie of desentralisasie
  • Rigiede strukture of buigbare strukture
  • Outokratiese bestuur of deelnemende bestuur
  • Beplanningsgedrewe of aksie gedrewe

Met die verloop van tyd is daar tendense of neigings om meer te konsentreer op byvoorbeeld desentralisasie om ʼn bietjie later net weer te begin met ʼn nuwe neiging of tendens van sentralisasie.  Die rede is eenvoudig omdat sentralisasie en desentralisasie beide positiewe en negatiewe kenmerke het.  Wanneer die negatiewe kenmerke van sentralisasie in praktyk ervaar word, word die positiewe eienskappe van desentralisasie as oplossing voorgestel net om later agter te kom dat die oplossing van die negatiewe kenmerke van desentralisasie die positiewe kenmerke van sentralisasie is. So ontstaan daar ʼn deurlopende verskuiwing tussen die twee pole van sentralisasie en desentralisasie.

Wanneer polariteite goed bestuur word, is dit nie meer die een of die ander nie, maar beide:

  • Die individu en die span
  • Sentralisasie en desentralisasie
  • Rigiede strukture en buigbare strukture
  • Outokratiese bestuur en deelnemende bestuur
  • Beplanningsgedrewe en aksie gedrewe

Die uitdaging is om die voordele van beide in jou organisasie of samelewing te inkorporeer en in die proses die negatiewe te vermy.  Dit verg aandag en deurlopende bestuur, maar is die voordele daarvan reusagtig.  Die voordele strek wyd en word gemeet dienooreenkomstig die tipe polariteit, dit kan enige iets wees van verhoogde effektiwiteit, werknemer tevredenheid, winsgewendheid ensovoorts.

Polariteit bestuur leer mens vaardighede om meer oopkop te dink oor sake en ook meer inklusief te funksioneer sonder om ʼn oordonderende stempel op alles te wil afdruk.  Dit is nie altyd so maklik om ʼn oplossing te implementeer soos wat jy dit sien nie, want jy kan moontlik in ʼn polariteit wip trap.

Die ANC het in ʼn polariteit wip getrap rakende die bestuur van ʼn multi-kulturele land. In werklikheid is Suid Afrika ʼn etnies-diverse land, maar word die land meer en meer as etnies-homogeen bestuur.  Ons het begin met die gedagte van reënboog nasie met ʼn leuse van eenheid in diversiteit tot waar ons vandag sit met die afrikanisering van Suid-Afrika met ʼn leuse van eenheid ten koste van diversiteit. Hierdie wyse van doen het tot gevolg dat die veelheid van kulture gedwing word om meer en meer dieselfde te raak ten koste van wie en wat hulle is.  Vir die Regering van die dag is dit vir die positiewe redes van homogene-etnisiteit ʼn voor die handliggende antwoord, maar vir die diversiteit van ons kulture en minderheidsgroepe is dit soos ʼn doodsklok wat lui.

Die antwoord is om die positiewe aspekte van ʼn etnies-diverse land te identifiseer en jou kulturele groepe te bemagtig om hulle eie etnisiteit uit te kan leef en verder te ontwikkel, maar terselfdertyd ook te fokus op die positiewe aspekte wat ons as verskeidenheid van groepe saambind en dit ook verder te ontwikkel.  Die een ten koste van die ander is nie ʼn oplossing nie en sal ons met mekaar laat stoei totdat ons mekaar die ruimte gee om onsself te wees, met die wil om ook saam as Suid-Afrikaners te bou aan ʼn land vir ons nageslagte.

*Die boek wat my kop oopgemaak het vir polariteite en ook die wyer toepassing van die vaardighede van polariteit bestuur is die van Barry Johnson (Ph.D.) “Polarity Management – identifying and managing unsolvable problems”. Ek het dit ook geraadpleeg in die skrywe van hierdie blog.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Henk Schalekamp

Henk Schalekamp is voorsitter van Solidariteit Beleggingsmaatskappy en dien op die rade van Akademia, Sol-Tech, Solidariteit Eiendomme en Solidariteit Finansiële Dienste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Klink na ‘n oopkop benadering:

Die polariteit benadering kan dan heelwat praktiese toepassings hê as in ag geneem word hoeveel tyd, geld en energie aan die volgende spandeer word en ook konflik veroorsaak:

–  Hoekom kan daar nie ‘n Pietersburg en Polekwane of Pretoria en Tswane wees nie – ‘n stad of dorp wat amptelik twee verskillende name het.  Die naam Tswane het ons op skool in die tagtigs in die vak Noord Sotho geleer dat dit die naam is wat Sotho’s Pretoria noem.  Ons het ook Morena Boleka geleer – punt is, waarskynlik meeste “nuwe” name vir Afrikaans/Engelssprekendes is nie nuut vir die ander inheemse taal gebruikers nie. Probleem is, om erkenning nou net aan die nuwe name te gee.
– Swart Ekonomise Bemagtiging het bloot ras in gedagte en persentasies van velkleur word gedruk om prioriteit te hê bo meeste ander besigheidsbeginsels soos ondervinding, opleiding en bloot die keuse om besigheid te doen/mense in diens te neem/aandeelhours te hê met die mense met wie jy wil. Hoeveel werknemers moet ‘n besigheid hê wat SEB afdwingbaar maak?

Daar is ‘n baie groter baklei en toe-ëiening vir bloot die swart ras as wat toegegee sal word in Suid-Afrika en dit sal vir lank regverdig word dat dit alles is om die aksies van die verlede reg te stel waar die wit mens die swart mens ontneem het – ‘n baie geloofwaardige benadering. 

Interessant as ek terugdink toe ek ‘n tiener was hoe byvoorbeeld die gevaar van kommunisme gebruik is om bykans alles te regverdig – dis gebruik om die werklike onregte weg te steek of te regverdig sodat die land nie ‘n kommunistiese land word nie – ook ‘n baie geloofwaardige benadering.

Dit laat my wonder hoe vandag se regverdiding gaan uitdraai.

Louis du Plessis ·

 Henk ~
 
1  Jy lê jou vinger op ‘n kritieke faktor:  die bestaan van pole, dus polariteit, en jy pleit oortuigend om oop te wees vir die waarde van elke pool, wat inderdaad soms gunstig en soms ongunstig kan wees. 
 
2   Ter steun aan jou pleidooi, maak ek graag ‘n sprong uit die gebied van bestuur na twee ander gebiede:  natuurkunde en sielkunde. 
 
2.2  Reeds in die eerste mikrosekondes ná die kosmiese oerknal, meer as 13 miljard jaar gelede, het polariteit homself laat geld.  Spanning tussen pole speel so ‘n deurslaggewende rol in elkeen van die vier oudste kosmiese kragte dat ‘n menslike verstand hulle sonder polariteit nie eers kan voorstel nie:  swaartekrag, sterk en swak kernkrag en elektromagnetisme. 
 
2.3  Van natuurkunde na sielkunde:  Die eerste boek wat ek op my iPad-tablet afgelaai en dwarsdeur gelees het, is ‘n werk deur ene Lucy Huskinson met die titel “Nietzsche and Jung – the whole self in the union of opposites”.  Huskinson ontrafel die aard van polariteit in die menslike gees deur te kyk na teenstellings in die psige – na spanning, kompensering, chaotiese interaksie, ewewig, die integrasie van dryfvere, die ontwikkeling van onderdrukte en onbewuste inhoude, en die karakter van indiwiduasie, kreatiwiteit en die herwaardering van waardes.  Sy toon aan dat twee van die diepste westerse psigologiese denkers – Friedrich Nietzsche en Carl Jung – albei, op ‘n uitgeproke manier, die noodsaak vir ‘n ryp gees benadruk van:  openheid vir teenpole van enig aard.  Eensydig beteken dus agterlik.  Sy voer aan dat die voortreflikste menslike karakter wat elkeen visualiseer – die jungiaanse self en die nietzscheaanse Uebermensch – juis dié persoon is wat die mees gevaarlike en spanningsvolle teenstellings gelyktydig kan huisves.   

3  Soos jy so suiwer formuleer: “Wanneer polariteite goed bestuur word, is dit nie meer die een of die ander nie, maar beide.”  

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.